Press "Enter" to skip to content

Die Nuwe Gereformeerde Kategismus oor Menslike Seksualiteit

Vandag se revolusie in die teologie handel nie oor die leer van die regverdigmaking deur geloof alleen nie, maar oor seksuele identiteit. Ons post-Freudiaanse wêreld handhaaf sonder enige noemenswaardige teenkanting, dat seksuele identiteit die belangrikste waarheid oor ’n mens is. Onder die banier van LGBTQ+ hang egte menswees daarvan af om jouself onder een van hierdie letters te identifiseer en om heelhartig diegene wat hulself as sulks identifiseer te prys. Die Amerikaanse Mediese Assosiasie sê vir ons dat geestesgesondheid daarvan afhang om dit wat jy begeer uit te leef; en dat entoesiastiese ondersteuning van diegene wat doen wat reg is in hul eie oë, ’n selfmoordvoorkomingstrategie is. Die Bybelse skeppingsgeskiedenis word as ’n ouwêreldse narratief gesien wat geen bindende krag het nie, waar daar vandag in die Verenigde State honderde pediatriese geslagsklinieke is waar tieners alreeds met hul eerste besoek testosteroonterapie ontvang. Dít sonder ouerlike toestemming óf die aanbeveling van ’n terapeut.

In kontras met die wêreld se mensbeeld, verstaan ’n Bybelse antropologie dat na Adam se sondeval (Genesis 3), ons, as sy nageslag, ’n sondige natuur het wat elke mens dwing om lief te wees vir goed wat God haat. As niks die uitlewing van ons wil terughou nie, sal ons sondige drange ons kop eerste in ’n aantal geestelike, morele en fisiese gevare dompel. Niemand is uitgesluit van die erfsonde en die gevolge daarvan nie. Die Skrif is duidelik dat ons vir sowel ons aangebore as ons werklike sondes verantwoordelik is (Psalm 5:6, Romeine 1:18, Deuteronomium 27:15, Hebreërs 9:27). Om verantwoordelikheid vir ons eie sonde te neem, is moeilik, maar noodsaaklik, en vanweë die wyse waarop die wêreld, die vlees en die duiwel teen ons saamspan, is dit moeilik om te weet waar om te begin.

Dit is hier waar Christopher Gordon se ‘Die Nuwe Gereformeerde Kategismus oor Menslike Seksualiteit’ aan die kerk ’n tydige en pastorale gids gee. Ek het geen twyfel dat hierdie middel van dissipelskap die eer aan God sal gee en deur die Here gebruik sal word om van diegene wat deur seksuele sonde gevange is, te bevry nie. Drie-en-twintig jaar gelede toe ek in ’n lesbiese verhouding was en terselfdertyd besig was om die Bybel te lees, sou ek baie nut uit ‘Die Nuwe Gereformeerde Kategismus oor Menslike Seksualiteit’ geput het. Ek weet dat ek nie alleen in die behoefte aan hierdie kategismus is nie.

~ Rosaria Butterfield

DRUK hier om die PDF af te laai

Be First to Comment

Lewer Kommentaar

This site uses Akismet to reduce spam. Learn how your comment data is processed.