Press "Enter" to skip to content

Perspektief: Julie 2023

In Perspektief gesels Scriptura oor twee films naamlik Sound of Freedom en Barbie, asook oor die beplande Nasionale Gesondheidsversekeringsfonds. 

00:00 Perspektief: Julie 2023
01:36 Film Sound of Freedom
13:25 Barbie kinderfliek
29:27 Nasionale Gesondheidsversekeringsfonds

Skrifverwysings:
1 Joh 2:15-17, Luk 8

Aanbieders:
Gerhard van Rhyn, Marnix Boersema, Jaco de Beer

3 Comments

  1. Minette van Vuuren Minette van Vuuren

    Ek is ‘n gereformeerde wat die Barbie fliek gaan kyk en geniet het.
    Alhoewel ek nie met alles in die film saamstem nie (soos met meeste films), is daar wel waarhede in die fliek aangeraak en dwing die fliek jou tot nadenke. Dit is wat die film juis so goed maak. Dit spreek etiese kwessies in ons samelewing aan en gee stof tot nadenke.
    Of jy met al die inhoud saamstem of nie, ten minste praat mense daaroor. Ek en my vriende het gesprekke oor kwessies wat ons nooit voorheen gehad het nie en dit help ons om gereformeerde denke rondom sekere goed te vorm, kritiese denke toe te pas deur die inhoud van die boek (film) te beoordeel en nie die omslag nie.
    Ek glo dat ons as gereformeerdes versigtig moet wees om nie die negende gebod te oortree deur verkeerde inligting te versprei sonder om ordentlik navorsing te doen nie. Daarom voel ek dit nodig om net ‘n paar punte uit te wys wat in die gesprek vals aangebied is.
    1. Die Barbie fliek is nie super-feministies nie. Daar word wel feministiese kwessies aangespreek. As speelpop het Barbie nie ‘n romantiese belangstelling in Ken nie. Die feit dat daar net Barbies in Barbieland regeer is omdat die filmmakers Barbieland maak om te wees soos wat dogtertjies met Barbies speel… en die feit is dat dogtertjies Barbies bo Kens verkies.
    In die film gaan Barbie juis na die Regte Wêreld om hulp te kry om die glitch in Barbieland reg te stel.
    Dit is werklik jammer dat die resensente nie die moeite gedoen het om die film self te kyk nie!
    Die fliek is uit ‘n vroulike oogpunt gemaak en spreek wel temas (euwels) aan waarmee vroue in ‘n manswêreld te make het.
    2. Daar is nie ‘n transgender barbie nie. Die film beeld dit ook nie uit nie en promoveer dit ook nie!
    3. Die resensente het duidelik nie ‘n benul wat in die film aangaan nie. Die plot is nie om mans en vrouens teen mekaar op te steek nie. Die plot gaan oor Barbie wat besef haar perfekte wêreld is toe nie so perfek nie en dat daar iets mooi is in die manier hoe regte mense emosies beleef.
    Barbie gaan deur ‘n eksistensiële krisis oor die “doel” waarvoor sy gemaak is.
    4. Die fliek val nie die tradisionele vorm van die huwelik aan nie aangesien daar nie regtig ‘n romantiese verhouding is waarop daar gefokus word nie.
    Kantnota: God stel die onderdanigheid aan mekaar en dan natuurlik die vrou onder die man en die man wat lief is vir die vrou in by die huwelik en trek dit deur na die kerk toe. Hierdie beginsel word nêrens in die film ondermyn nie.
    Die film lig wel euwels uit waarmee vroue in die samelewing gekonfronteer word.
    5. Daar is nie eksplisiete sekstonele in die film nie! Om dit te beweer is werklik skandelike lastering.
    Barbie verwys een keer daarna dat sy en Ken nie geslagsdele het nie, want hulle is poppe. En ek dink ons kan almal dankbaar wees dat poppe dit nie het nie.
    6. Barbie is nie gerig op 7-8 jariges nie! Dis vir meisies my ouderdom (23) wat met Barbies gespeel het toe ons 6 jaar was maar nou al ‘n dieper verstaan van die lewe het.
    Ouers moet mooi na bemarking, ouderdomsperk ens gaan kyk voordat hulle net aanneem ‘n fliek is vir kinders bedoel omdat die plakkaat helder pienk is.
    As ouers hierdie film met hulle kinders 13 jaar en ouer sou kyk is dit ‘n gulde geleentheid om met jou kind oor verskeie kwessies te praat sodat jy hulle weerbaar kan maak vir die wêreld waarin hulle leef.
    Ek dink ‘n mens moet baie versigtig wees om uit ander se mond te praat en nie jou eie nie. Jy gaan positiewe en negatiewe kommentaar oor die fliek kry, maar ek glo nie om net die negatiewe kommentaar uit ekstremistiese bronne aan te haal, is die regte manier nie. As die resensente nie die film wil kyk nie is dit reg so, maar dan kan hulle dit nie resenseer nie. Ek sou voorstel om ‘n gereformeerde te kry wat die fliek se inhoud krities kan waarneem en beoordeel om daaroor te gesels.
    Ek belowe, deur die Barbie film te gaan kyk gaan jou nie in ‘n super feminis verander nie. Dit mag jou dalk net dwing om regtig na te dink oor jou opinie oor dinge, selfs al sou jy niks van die fliek hou nie.
    En verder wil ek net stel dat ons as gereformeerdes versigtig moet wees om iemand tot die verderf te veroordeel omdat hulle na ‘n film soos Barbie gaan kyk het.
    Ten slotte, as jy die Barbie-fliek gaan kyk het en nie daarvan gehou het nie, is dit reg so. Ten minste kan ons dan die inhoud bespreek. Maar om ‘n film nie te kyk nie en dan valse inligting aan te haal oorskry die reels van etiese kritiek.

    • Jaco de Beer Jaco de Beer

      Hallo Minette.

      Hier is ‘n Christen resensie wat jou dalk mag help. Dalk werp dit meer lig op ons waarksuing oor die film.

      https://youtu.be/a42Yh6Njj1E

      Groete!

    • Jaco de Beer Jaco de Beer

      Hier is nog ‘n resensie wat nog meer lig werp op die onbybelse en ongesonde aard van die film.

      https://youtu.be/0ERSL0nXuwU

      Rakende jou opmerking dat daar onwaarhede in ons resensie is soos dat daar nie ‘n trans-barbie in die fim was nie, sien die resnsie hierbo by 7:50. Sien ook die resensie by 8:50 oor seksuele eksplisiete materiaal.

Lewer Kommentaar

This site uses Akismet to reduce spam. Learn how your comment data is processed.