Press "Enter" to skip to content

Drie kenmerke van geestelike onvolwassenheid

 Dit is te verwagte en normaal dat elke nuwe Christen ‘n “geestelike baba” sal wees. Dit is egter baie problematies en kommerwekkend as ‘n Christen nie verder geestelike groei nie! Dit gebeur dat Christene vir baie jare lank gelowiges is, maar hulle bly geestelike kleuters. Dit is juis hieroor wat die skrywer van Hebreërs 5 waarsku:

“Hoewel julle teen hierdie tyd self reeds onderrig behoort te gee, het julle weer nodig dat iemand julle in die grondwaarhede van die woord van God moet onderrig. ’n Mens moet julle met melk voed en nie met vaste kos nie.”

Heb. 5:12

Wat is kenmerkend van ‘n geestelike kind?

1. Onervare

Hebreërs 5:13 wys onder andere dat geestelike kinders nog onervare is in die “woord van geregtigheid”. Met ander woorde: onervare in die basiese Christelike leer van ons verlossing deur geloof in Christus.  Geestelike onvolwassenes is onhandig met die Woord, en sukkel om basiese Christelike beginsels en leerstellings te artikuleer, en leer nog om dit te verstaan.

Vir hierdie rede, sê Paulus ook in Efesiërs 4, val geestelike kinders maklik vir elke ander lering. Hulle kan maklik rondgeslinger word van een dwaalleer na ‘n ander.

Alle nuwe Christene is onervare. Dit is normaal – geen skande daarin nie! Ons moet egter verder gaan en groei in Christelike ervaring! Daarom moet jong Christene hande vol gesonde, Bybelse lering ontvang, sodat hulle stewig en sterk mag opgroei.

2. Onvermoë om te onderskei

Geestelike onvolwassenes het veral ‘n onvermoë om te onderskei tussen reg en verkeerd (Heb. 5:14). Hulle het nog nie ervaring daarin nie en het dit nog nie ‘n gewoonte gemaak nie. Hulle is onseker oor wanneer iets reg of verkeerd is. Wysheid ontbreek. 

‘n Mens kan verwag dat daar nog heelwat wêreldse maniere van dink en doen in die geestelike onvolwassene se lewe kan wees, totdat hy/sy geleer het om te onderskei wat behou moet word en wat afgelê moet word.

Mense wat nog jonk is in die geloof, moet deur mede-gelowiges gelei en geleer word. Jesus gee immers die opdrag:

“…leer hulle om alles te onderhou wat ek julle beveel het.”

Matt. 28:20

3. Noodsaaklikheid om te leer

Geestelike kinders het dikwels baie onbeantwoorde vrae. Hulle is onseker oor baie dinge en moet daarom ‘n stewige dieët uit die Woord van God ontvang, en ook onder die waaksame oog van getroue Christen-leiers wees. Ouderlinge speel hierin ook ‘n baie belangrike rol!

Ironies genoeg, sê Paulus in 1 Korinthiërs 8:1-3, dat sommige geestelike onvolwassenes nogal geneig kan wees om te dink dat hulle baie weet! Vir so iemand is daar nog baie groeiwerk oor:

“Ons weet dat ons almal kennis het. Kennis maak verwaand, maar liefde bou op. As iemand meen hy het kennis van iets, het hy nog nie die kennis wat ’n mens behoort te hê nie.”

1 Kor. 8:1-3

Gelowiges moet mekaar opbou

Dit is ‘n paar kenmerke van geestelike onvolwassenheid. Ons moet in die kerk na mekaar omsien, sodat elkeen geestelik sal groei om uiteindelik geestelike volwassenheid te bereik:

“…totdat ons almal kom tot eenheid in geloof en in kennis van die seun van God, en tot ‘n volwassenheid wat in ooreenstemming is met die volgroeide gestalte van die volheid van Christus.”

Ef. 4:12-13

Lees hier verder, oor vier kenmerke van geestelike volwassenheid.

Be First to Comment

Lewer Kommentaar

This site uses Akismet to reduce spam. Learn how your comment data is processed.