Press "Enter" to skip to content

Vier kenmerke van geestelike volwassenheid

Soos ons met die vorige plasing gesien het, is dit te verwagte en normaal dat elke nuwe bekeerling jonk in die geloof sal wees. Ongelukkig gebeur dit baie dat Christene nooit hulle babaskoene ontgroei nie! Dit kan gebeur dat iemand vir baie jare ‘n Christen is, maar nie geestelik opgroei om volwassenheid te bereik nie. 

Die Hebreërbrief spreek hierdie einste probleem aan:

“Want terwyl julle teen hierdie tyd reeds leraars moes gewees het, het julle nou weer nodig dat iemand julle die grondbeginsels van die uitsprake van God leer, en het julle weer behoefte aan melk, en nie vaste kos nie. Elkeen wat melk gebruik, is immers onervare ten opsigte van die boodskap van regverdiging, want hy is ‘n suigeling. Maar vaste kos is vir volwassenes, vir hulle wat oor die aanvoeling beskik, deur gewoonte geoefen, om te kan onderskei tussen goed en kwaad.”

Heb. 5:12-14

Die lesers van die Hebreërbrief het nie geestelik gegroei soos hulle moet nie, met die gevolg dat die geestelike vastekos nou vir hulle baie moeilik is om te “verteer”.

Maar hoe sou die Bybel dan wel iemand beskryf wat geestelik besig is om op te groei en volwassenheid te bereik? Hier is vier kenmerke:

1. Kinderlike afhanklikheid

‘n Mens sou dink dat geestelike volwassenheid beteken om al hoe meer onafhanklik van die Here te wees. Nie so nie. Hoe dieper ‘n mens se verhouding met die Here gaan, hoe meer besef jy jou afhanklikheid van Hom! 

Geestelike volwassenheid beteken dat ons kinderlike vertroue op die Here sal toeneem, soos wat ons begrip van Hom verdiep:

“Amen, Ek sê vir julle, as julle nie verander en soos kindertjies word nie, sal julle beslis nie in die koninkryk van die hemele ingaan nie.”

Matt. 18:3

Let mooi op: die Here beveel ons nie om kinders in ons begrip (kennis van Hom) te wees nie, maar ons moet soos kinders op Hom vertrou en ons geheel aan Hom oorgee.

Dit bring ons dan nou by die tweede kenmerk van geestelike volwassenheid:

2. Vaardig met die Woord

Daar is net een manier om geestelik te groei en dit is wanneer ons insig in die Skrif verdiep. Ons begrip van God moet toenemend groei.

Hebreërs 5 (hierbo aangehaal) sê die lesers moes al leraars wees! In ander woorde, hulle moes al soveel begrip van die Christelike leerstellings gehad het, dat hulle dit vir ander kan leer.

Geestelike volwassenheid beteken ons weet wat die Woord sê, maar ons weet ook hoe om die Woord te gebruik. Dit moet vir ons ‘n mikpunt wees om so vaardig te wees met die Woord, dat ons uiteindelik ook iemand anders vanuit die Skrif antwoorde en rigting kan gee!

Geestelike volwassenes weet hoe om met die tweesnydende swaard van die Woord te werk (Heb. 4:12).

Nou ‘n derde kenmerk van geestelike volwassenheid:

3. Bedien ander

Geestelik volwasse mense wil navolgingswaardige mentors wees. Paulus sê bv. in 1 Korinthiërs 11:1 dat hy so ‘n navolgingswaardige mentor is.

Geestelike volwassenes wil ander Christene “onder hulle vlerk neem”. Hulle wil ander bedien met die gawes wat die Here se Gees vir hulle gegee het. Dit doen hulle nie uit verwaandheid nie, maar uit liefde vir die Here en Sy kinders!

Geestelike volwassenes het ‘n besonder sagte plek vir hulle mede-broers en susters. Hulle wil vir ander Christene bid, sorg, en Bybelse leiding gee!

Met dit gesê, weet die geestelike-volwassene dat hy/sy ook steeds altyd meer by ander kan en moet leer. Om leergierig te wees is kenmerkend van ‘n nederige, dienende Christen wat al hoe meer geestelik opgroei:

“Gee aan ‘n wyse, en hy word nog wyser; deel kennis mee aan ‘n regverdige, en sy geleerdheid neem toe. Die begin van wysheid is ontsag vir die Here, en kennis van die Heilige is insig.”

Spr. 9:9,10

Nou ‘n laaste kenmerk:

4. Groei in heiligheid

Om geestelik te groei beteken eenvoudig om toenemend soos Jesus te word. Dit hou in, dat ons daagliks die ou mens afsterf en in die nuwe lewe met Christus lewe.

Die Here se groot oogmerk met ons, is dat ons heilig sal wees:

“Want dit is God se wil dat julle heilig moet leef.”

1 Thess. 4:3

Dit is ‘n genadewerk wat Hy met Sy Heilige-Gees onophoudelik in ons doen en waarvoor ons moet werk en soek.

Geestelike volwassenheid beteken nie dat ons êrens aan diekant van die hiernamaals sondeloosheid sal bereik nie, maar dat ons deur die krag van die Gees die sonde met berou en bekering sal bestry, om uiteindelik ook daaroor te triomfeer. 

Hierdie vier kenmerke was nie ‘n volledige lys van kenmerke nie, maar dit noem wel, vir nou, ‘n paar baie belangrikes.

Be First to Comment

Lewer Kommentaar

This site uses Akismet to reduce spam. Learn how your comment data is processed.