Press "Enter" to skip to content

Sola Scriptura, maar wie se Scriptura?

Johan Retief het onlangs ‘n boek geskryf, “Die slegte nuus van die evangelie: My reis na verlossing”.  Hy beskryf in die boek sy reis van ‘n al groter wordende ontnugtering.  Hy vertel van die proses waardeur hy gegaan het om af te reken met die Christelike godsdiens. Verder, maak hy ook verskoning dat hy deel gehad het aan die “indoktrinasie en misleiding van mense”.

Dit is geen verrassing nie, dat Johan in sy boek, die gesag van die Skrif bevraagteken. Hy vra verskeie kere: 

Sola Scriptura? Watter ‘Scriptura’?”

Retief 2022:107, 111–116

Sola Scriptura is ‘n latynse slagspreuk van die Protestante, wat beteken dat die Skrif die finale gesag is. Geen pous of kerklike tradisie staan bo God se Woord nie.

Die probleem vir Retief is, dat daar egter verskillende Christentradisies bestaan en elkeen het ‘n “ander Bybel”, ‘n “ander Scriptura”. Retief se vraag is dan:

Moet ons dus aanvaar dat God een Bybel vir die Protestante, ’n effens groter een vir die Katolieke, en nog ’n effens groter Bybel vir die Grieks-Ortodokse Kerk gegee het?

Retief 2022:116

Ek lei af dat die verskil waarvan Retief praat, onder andere verwys na die teenwoordigheid van die apokriewe boeke in die Katolieke en Grieks-Ortodokse Bybels, maar die afwesigheid daarvan in meeste moderne Protestantse Bybels. So, wie se Bybel is die regte Bybel? Die Bybel sonder die apokriewe boeke, of die Bybel mét die apokriewe boeke? Of dalk die Bybel met méér apokriewe boeke?

Ons moet ‘n paar historiese gebeurtenisse in ag neem om te verstaan waarom sommige Bybels wel die apokriewe bevat en ander nie.

1. Die Ou- en Nuwe-Testamentiese apokriewe2

Die Hebreeuse Ou-Testament en die apokriewe boeke

Die Bybel was uiteraard nie altyd een volledige, gedrukte boek nie. Voor die 1400’s en die Gutenberg Pers en Gutenberg Bybel, was daar net verskeie versamelings boekrolle en perkamente.

Die Jode het ‘n versameling dokumente gehad, wat as die Joodse Tanakh bekendstaan. Die Tanakh bestaan uit:

  • Die Torah, oftewel die vyf boeke van Moses;
  • Die Nev’im wat bestaan uit die profete;
  • Die Ketuvim wat bestaan uit die geskiedkundige en wysheidsboeke soos Psalms en Spreuke.

Die Tanakh stem grotendeels ooreen met dit wat Christene vandag die “Ou-Testament” noem. Die grootste verskil is die verskil in plasing van die boeke binne die versamelings. Rut word bv. in die Ou-Testament op sy kronogiese plek tussen Rigters en 1 Samuel geplaas.

In die Tanakh vorm die boek Rut deel van die Ketuvim. In die tyd van Jesus (en definitief teen 100nC) was daar onder die Jode grotendeels eenstemmigheid, dat die Torah, die Nev’im en Ketuvim gesaghebbend is.

In die derde eeu tot begin eerste eeu voor Christus ontstaan daar ook ‘n Griekse vertaling van die Hebreeuse Ou-Testament, genaamd die Septuagint (LXX). Met hierdie vertaling is heelwat boeke by die Tanakh ingesluit. Hierdie boeke wat ingesluit is, word die Ou-Testamentiese apokriewe boeke genoem.

Die woord “apokrief” kom van die Griekse apo + krupto, wat “verborge” beteken. Die boeke word die verborge boeke genoem, omdat die outeurs van die boeke onbekend is of omdat daar groot onsekerheid oor die skrywers van die boeke is.

Protestante ag nie die Ou-Testamentiese apokriewe as gesaghebbend en God-geïnspireerd nie, omdat dit volgens hulle nie deel uitgemaak het van die Hebreeuse Tanakh (oftewel, ons Ou-Testament) nie. Protestante lees wel die Ou-Testamentiese apokriewe, hoewel ons dit nie as bindend op ons gewete beskou nie en ons nie ons geloof daarvolgens rig nie.

Sommiges erken egter wél die Ou-Testamentiese apokriewe as gesaghebbend (soos Retief indirek opmerk):

Die Grieks-Ortodokse Kerk aanvaar die Griekse vertaling van die Hebreeuse Ou-Testament, die Septuagint. Gevolglik beskou hulle ook die apokriewe daarin, as deel van die Ou-Testament.

In 1546 met die Sinode van Trente het die Rooms-Katolieke Kerk besluit dat die Ou-Testamentiese apokriewe ook as gesaghebbend aanvaar word. Hulle noem die boeke die “deuterokanonieke boeke”, wat beteken hulle is “tweede aanvaar as gesagvol”. 

Daar is egter selfs onder die Katolieke en die Grieks-Ortodokse tradisies nie konsensus oor wátter apokriewe almal ingesluit word nie. Die Grieks-Ortodokse aanvaar meer apokriewe boeke as die Katolieke.

Daar is nog heelwat te sê oor die Ou-Testamentiese apokriewe, maar kom ons beweeg aan na die Nuwe-Testamentiese apokriewe boeke.

Die Nuwe-Testament en die Nuwe-Testamentiese apokriewe

Die sewe-en-twintig Nuwe-Testamentiese boeke is almal reeds teen die einde van die eerste eeu na Christus geskryf.

Aangesien meeste boeke en briewe van die apostels vroeg na Christus se hemelvaart geskryf is, kon Christene maklik verifieer watter outeur, watter boek of brief geskryf het.

Daar het later, veral vanaf die tweede eeu na Christus, boeke en briewe ontstaan wat baie soos die Nuwe-Testamentiese boeke gelees het. Dit staan vandag as die Nuwe-Testamentiese apokriewe bekend.

Behalwe dat die Nuwe-Testamentiese apokriewe heelwat later geskryf is, is dit ook dikwels onder pseudonieme geskryf. Die ware outeurs kan nie bepaal word nie. Baie van die boeke en briewe het ook meer op verbeeldingryke interessanthede ingegaan. Die leerstellings en vertellings in die Nuwe-Testamentiese apokriewe boeke is dikwels nie versoenbaar met die gesaghebbende eerste-eeuse Nuwe-Testamentiese boeke nie.

Iets wat belangrik is om te weet met betrekking tot die Nuwe-Testamentiese apokriewe, is die feit dat geen Christentradisie díé apokriewe as God-geïnspireerd beskou nie.

2. Die “dun” Protestantse Bybel en die “dikker” ander Bybels

Meeste Protestante beskou veral die Ou-Testamentiese apokriewe as sinvolle geskiedkundige inligting, om die wêreld van die Bybel beter te verstaan. Die apokriewe is dus nie iets wat Protestante nie mag lees nie. Interessant genoeg, het die Hervormer, Martin Luther se Duitse vertaling van die Bybel (1534) ook die apokriewe boeke bevat, maar dit dan in ‘n duidelike aparte afdeling geplaas.

Een van die mees oortuigende redes waarom Protestante nie die apokriewe as gesaghebbend beskou nie, is die feit dat die Ou-Testamentiese apokriewe nêrens in die Nuwe-Testament direk aangehaal word nie.

Dit is so, dat sommige Nuwe-Testamentiese tekste verwys na buite-Bybelse bronne. Sommige tekste verwys ook na alombekende Joodse tradisies van daardie tye, wat in sommige apokriewe opgeskryf is. Tog is daar hoogstens vae verwysings, maar geen direkte aanhalings uit die apokriewe nie.

Aan die ander kant weer, haal Jesus en die apostels baie gereeld direk aan uit die Tanakh (Ou-Testament), wat die gesag daarvan wel bevestig.

3. Mense-verskille en die Waarheid

Om terug te keer na Johan Retief se opmerking oor “watter ‘Scriptura’ ” vir ons moet geld.

Daar is inderdaad wesenlike teologiese verskille tussen bv. die Protestante en die Katolieke. Daar is ook verskillende sieninge oor die (hoofsaaklik Ou-Testamentiese) apokriewe boeke.

Daar is egter ook noemenswaardige oorenkomste in wat die Protestante, Katolieke en Grieks-Ortodokse beskou as gesaghebbende Woord van God. Tog lyk dit nie vir my of die ooreenkomste tussen die “verskillende Bybels” iets is wat Retief in sy argument oorweeg nie.

Dit nou gesê weet ons ook, dat mense se onderlinge verskille oor ‘n bepaalde saak nie daardie saak waar of onwaar maak nie. Iets is nie eers waar as almal saamstem dat dit waar is nie. Iets kan waar wees terwyl mense verskil daaroor.

As twee mense bv. verskil oor die werking van gravitasiekrag, maak dit nie ‘n verskil aan die feit dat daar wel so iets soos gravitasiekrag is nie. Net so, moet Retief rekening hou met die feit, dat mense se verskille rondom God se ‘Scriptura’, nog geen bewys is dat God geen gesaghebbende ‘Scriptura’ daargestel het nie.

Sodra jy die objektiwiteit van Waarheid verwerp, beland jy noodwendig in die tragiese spiraal waarin Johan Retief homself bevind.

Ons kan berus by die feit dat God wél duidelik gepraat het – in die ou tyd op baie maniere deur die profete, maar “in hierdie laaste tye het Hy met ons gepraat deur sy Seun” (Heb. 1:1). Die Here het Homself openbaar aan alle mense in Sy vleesgeworde Woord, Jesus Christus (Joh. 1:1). Hy en Hy alleen is die Waarheid (Joh. 14:6), maar die mense het Hom verwerp en gekruisig (Hand. 2:23). God het Hom egter opgewek om Regter te wees en eendag die wêreld regverdig te oordeel (Hand. 17:31). Deur te glo in Hom, die Waarheid, die Christus, word ons voor God geregverdig en vrygespreek (Hand. 13:38,39).


Grafika: https://www.evidenceunseen.com/world-religions/roman-catholicism/the-apocrypha/

  1. Retief, J. 2022. Die slegte nuus van die evangelie: My reis na verlossing.
  2. Van der Watt, J. & Tolmie, F. 2005. Apokriewe Ou en Nuwe Testament. Verlore boeke uit die Bybelse tyd. p.11-15.

Be First to Comment

Lewer Kommentaar

This site uses Akismet to reduce spam. Learn how your comment data is processed.