Press "Enter" to skip to content

As die samelewing verkrummel, wat kan ‘n Christen doen?

As Christene weet ons, dat die aarde en sy volheid aan die Here behoort (Ps. 24:1). Elke deeltjie van hierdie skepping en ons lewe in hierdie skepping is Syne en onderhewig aan Sy gesag. Die manier hoe ons werk, ons kinders opvoed, ons diere versorg en ons politieke beskouings…alles word deur die Christelike wêreldbeskouing bepaal

So as ons dan die verval in ons samelewing sien, wat staan ons as Christene te doen? Hoe moet ons maak, as die fondamente van die samelewing onder ons verkrummel (Ps. 11:3)? 

Hier is drie gedagtes om die vraag te beantwoord:

1. Sien die groter prentjie!

As ons veral die boek Handelinge deurlees, word die “groter prentjie” baie duidelik. Alles gaan oor die Koninkryk van God! Die Here Jesus Christus se lewe op aarde en opstanding uit die dood, is die middelpunt van die mensegeskiedenis! Ek en jy sien maar net ‘n klein deeltjie van die groter prentjie. Vanuit ons perspektief val alles uitmekaar, maar vanuit God se perspektief val alles in plek. 

Jesus gaan nie weer kom om alles te vernietig en van voor af te begin nie. Hy gaan weer kom om Sy hele skepping te vernuwe! Michael Horton sê dit goed:

“Resurrection, not annihilation, is God’s plan: redemtion, not rejection, of creation.”1

2. Hou aan goed doen!

Wanneer die fondamente onder ons ingee, is wegkyk nie vir ons ‘n opsie nie. Vrees mag ons ook nie laat vlug uit die kantore, skole, hofsale, raadsale of parlemente nie. Ons stem saam met Dawid en ons antwoord ook: “By die Here skuil ek; hoe kan julle dan vir my sê: ‘Vlug soos ‘n voël na die berge, want kyk, die goddeloses span ‘n boog…” (Ps. 11:1,2)

Ons moet nie moeg word om goed te doen nie (Gal. 6:9)! Martin Luther wys ons daarop, dat God nie ons goeie werk nodig het nie, maar ons naaste het!2 By Luther leer ons ook hoe ons ons beroep moet aanpak: Doen alle goeie werk, goed. Dit is wat Christelike werk is!3.  

3. Moet nie kompromieë aangaan nie!

Iets waarvoor Christene in hierdie tye verval moet waak, is om kompromieë aan te gaan. As die druk op ons as Christene meer word, kan dit gebeur dat ons stukkie-vir-stukkie van ons geloofsbasis wil weggee. Stelselmatig kom daar groot weersprekings in dit wat ons glo en dit wat ons uitleef. So word ons lou voor God en irrelevant in die wêreld waarin ons as Christene leef.

Die toegewings wat ons soms wil maak lyk klein en nie vreeslik noemenswaardig nie. Miskien lyk dit aanvanklik selfs prysenswaardig en goed! Dit het egter ingrypende gevolge. Dink maar aan Sadrag, Mesag en Abednego van wie ons lees in Daniël 3. Al wat hulle moes doen, was om net hulle knieë vir ‘n oomblik te buig voor ‘n beeld as hulle die musiek hoor. Dit is al. Dit is tog nie so erg nie? Almal doen dit – al die geleerdes, al die bekendes? Maar, die drie vriende wou nie. Hulle kon nie!

Moet nie kompromieë aangaan nie. Hou aan goed doen en hou die “groter prentjie” van God se Koninkryk in die oog. Dit is wat ons as Christene kan doen in hierdie tye wanneer die fondasies van ons samelewing verkrummel.


Dele van die artikel is oorgeneem en aangepas vanuit Stonestreet en Peterson se gesprek: “Being Christian when Civilization collapses”. https://breakpoint.org/being-christian-when-civilization-collapses/. Toegang verkry op 31 Mei 2022.

1Horton, M. 2022. Recovering our sanity: How the Fear of God conquers the Fears that divide us. p.165.

2Veith, GE. 2011. God at Work (Redesign): Your Christian vocation in all of life. p. 28.

3Sayers, Dorothy L. 1004. Letters to a Diminished Church: Passionate Arguments for the Relevance of Christian Doctrine. p. 132.

Be First to Comment

Lewer Kommentaar

This site uses Akismet to reduce spam. Learn how your comment data is processed.