Press "Enter" to skip to content

Maand: Junie 2018

Werk: straf of seën?

Hierdie tyd van die jaar is meeste mense moeg. Baie van ons sien uit na die vakansie. Ons is moeg gewerk en voel nie altyd asof dit wat ons doen waardeer word nie. Waarom is werk so moeilik? Word ons dalk met werk gestraf? Hoe behoort ons as Christene werk te sien? Is al verantwoordelikheid wat ons by die werk het om so nou en dan iemand te vertel Wie Jesus is?

Werk voor die sondeval

In die begin was daar werk. Ons lees van die eerste vers van die Bybel af oor werk. God werk. Hy skep. Hy het die hemel en aarde geskep. Hy het alles goed geskep. Hy berei die skepping voor. Hy voorsien in oorvloed. Dan skep Hy die mens na sy Beeld. Omdat die mens na God se Beeld geskep is, wys die mens iets van God. Omdat God werk, werk die mens ook. Die mens is geskep om te werk.

Die Here plaas Adam in die tuin van Eden. Daar gee Hy vir die mens alles wat hy nodig het. Hy plaas nie die mens in die tuin om agteroor te sit nie. Hy plaas hom daar om te werk. Hy gee vir die mens werk. Die mens moet bewerk en bewaak. Hy moet in die skepping werk. Hy moet dit wat God geskep het bewerk en verder ontwikkel. Dit is waarvoor die mens geroep word: Om dit wat God in die skepping ingeskape het te ontgin en te ontwikkel.

Wanneer mens werk, is dit diens aan God. Wanneer jy jou werk tot God se eer doen, is jy besig om Hom te verheerlik. Reeds van die begin af was dit God se bedoeling dat mens nie net moet werk nie. Rus is ook nodig. Wanneer ons net aanhou werk, sonder om te rus, dan is ons besig om ’n afgod van werk te maak. Maar rus sonder werk is leeg.

Die mens is gemaak om te werk. Ons het geestelik nodig om te werk. Daarom is dit so moeilik wanneer jy jou werk verloor. Nie net het jy die bekommernis oor hoe jy gaan vir jouself en jou gesin gaan sorg nie, maar jy begin in jou eie waarde twyfel. Jy begin wonder of jy goed genoeg is.

Ons is gemaak om te werk – daarom is elke werk ’n roeping. Mens sê maklik dat om ’n predikant of ’n onderwyser te wees ’n roeping is. Dit is reg. Maar elke werk is ’n roeping. Of jy nou ’n ingenieur, argitek, rekenmeester, petroljoggie, professor, huisvrou, kunstenaar, of wat ook al is – dit is ’n roeping. Ons noem dit nie verniet jou beROEP nie.

Die invloed van die sondeval op werk

God het werk as ‘n seën gemaak, waarom voel dit dan soms soos ‘n straf? As gevolg van die sondeval. Die sondeval het die mens in sy hele wese geraak.  Met die sondeval spat die mens se beeldskap aan skerwe. Daar kom afstand tussen die mens en God. Die mens het die dood gebring. Fisies en geestelik. ’n Lewe weg van God. Die sondeval raak nie net die mens nie, maar sy werk en die skepping ook.

Weens die sondeval verander werk. Werk word moeilik. Werk is pynvol. Dit put mens fisies en emosioneel uit. Mens moet hard werk. Met groot inspanning werk. Verder is daar dorings en dissels – moeilike, ongewenste dinge wat mens se werk moeilik maak.

Ons sien hierdie dinge in ons werke. Weens die sondeval is ons werk dikwels sonder vrug. Ons het hierdie wonderlik visie van wat ons wil bereik – maar ons kom nie altyd daarby uit nie. Ons kan iets hoe goed doen en beplan, maar soms val dinge net inmekaar a.g.v. ’n klomp redes. Ons gee ons alles vir iets – om net te sien hoe dit inmekaar stort.

Weens die sonde lyk dit asof werk soms nutteloos is. Ons moet dieselfde dinge oor en oor en oor en oor doen – net om dit die volgende dag weer te doen.

Weens die sonde is werk selfsugtig. Werk gaan nou vir mense daaroor om hulself te bevorder, om self meer te kry, om hul eie behoeftes te bevredig. Al doen jy iemand in. Al trap jy op iemand. Al maak jy ander seer. Solank jy jou eie koninkrykie kan bou.

Werk gaan nie meer oor die verheerliking van God nie, maar oor aanbidding van jouself. Verder openbaar werk na die sondeval ons afgode. Mense werk nie meer vir God se eer nie, maar hul eie voordeel. Om hul afgode te aanbid. Of dit nou geld, besittings, werk self, of trots is.

Werk kry betekenis in Christus

Jesus Christus het gelowiges losgekoop van die sonde en dood. Hy het ons vrygemaak. Hy verander ons deur sy Gees. Hy herstel die mens se beeldskap. Hy maak dat die mens weer tot God se eer kan lewe. Hy maak dat ons werk nie nutteloos is nie, maar groot waarde het. Hy maak dat ons werk ewigheidswaarde het.

Hoe doen Hy dit? Wanneer Hy deur sy Gees in jou werk, verander Hy die doel en fokus waarmee jy werk. Wanneer die Heilige Gees in jou werk maak Hy dit vir jou moontlik om te besef dat jou werk nie oor jouself gaan nie – maar oor diens aan God. Hy dit vir jou moontlik om te besef dat jou werk nie oor jouself gaan nie, maar oor diens aan ander. Dat jou werk nie oor jou koninkrykie gaan nie, maar oor God se Koninkryk.

Jesus Christus gee aan werk ware betekenis. Hy maak dat ons werk diens aan God is en dat ons in ons werk en besig wees iets van God se skoonheid en orde wys. Dat ons in ons werk wys waarheen God met die wêreld op pad is.

Ja, ons werk is steeds moeilik. Dit vra steeds groot inspanning. Ons misluk dikwels in dit wat ons wil bereik. Maar in Christus het ons werk betekenis. In Hom is ons werk waardevol. Omdat ons deur ons werk getrou en tot die beste van ons vermoëns te doen, God so aanbid. Ons werkplek is nie net die plek waar ons geld maak om te lewe nie. Ons roeping by die werkplek stop nie daarby om ander van Jesus Christus te vertel nie. Dit is ook belangrik. Ons werkplek is in Christus ’n plek van aanbidding. ’n Plek waar ons sy Koningskap en liefde en orde wys deur die manier hoe ons ons werk getrou en met groot ywer doen.

Wanneer ons ons werk vir Hom doen, wanneer Hy ons daarin deur sy Gees lei, gaan ons nog moeg word, gaan ons nog onsself inspan, gaan ons nog teleurgesteld word, maar ons weet die ewige rus wag op ons. Ons weet daar kom ’n tyd wanneer ons werk nie meer pyn en inspanning gaan wees nie.

In Christus het ons werk betekenis en ons het ware rus in Hom. Hy lei ons deur sy Gees. Hy maak dat werk vir ons ’n seën is. Omdat ons daardeur God aanbid en sy Naam grootmaak. Omdat ons kan werk en weet die Here voorsien. Omdat ons daardeur iets van God se grootheid en orde kan wys.

Omdat jou werk in Christus ware betekenis het, omdat jou werk aanbidding van God is, moet jy dit tot die beste van jou vermoë doen. As erediens aan God. As diens aan ander. Daarom wys jou iets van God se liefde in die manier hoe jy werk en ander benader. Daarom gaan werk nie net vir jou oor die wins nie – maar ook oor mense. Daarom gee jy ook jouself vir God by die werk – daarom soek jy ook in jou werk jou lewe buite jouself in Christus.

Wanneer jy weer oorwerk en onderwaardeer voel, onthou: In Jesus Christus het jou werk betekenis. Jy is waardevol vir Hom. Hy gee jou die voorreg om God te verheerlik met jou werk. Hy gee jou die geleentheid om ander te dien met jou werk. Is werk ‘n straf of ‘n seën? Dit is seën uit die hand van die Here!

Gerhard is tans predikant by die Gereformeerde Kerk Komatipoort

Vergewe, maar moet liefs nie vergeet nie!

Die afgelope paar weke is Jacaranda FM pal in die nuus. Oor die verkeerde redes. Martin Bester se konserte word gekanselleer en Tumi Murake is ‘n sensasie wat enersyds aangeval word vir haar uitlatings, maar andersyds geprys word vir haar dapperheid.

So is daar ‘n rassespanning in die land wat elke nou en dan opvlam, maar nes dinge tot bedaring kom, is daar weer die kleinste kooltjie wat die veldbrand van voor af aansteek. En dan is dit derms uitryg van vooraf – erger as die vorige keer. Van die doodskis-saak in Middelburg, tot die SPUR sage wat voortsleep, tot ‘n boikot van Jacaranda…

Verstaan my mooi, ek maak dit nie af as niks nie. Ek wil nie maak asof die land se geskiedenis nie gebeur het nie, en ek wil glad nie maak asof ek die ins en outs van elkeen se verhaal ken en verstaan nie.

Maar ek is moeg. Moeg bekommer oor die politieke strominge in die land, betogings en boikotte en naakte haat. Moeg vir die ras-kaart om elke nou en dan gespeel te word. Moeg om te moet wonder oor wanneer my herkoms teen my gebruik gaan word. Moeg om te wonder of ek en my kinders ‘n toekoms in die land het.

My vraag- en vergewe my as ek dan nou ‘n besondere komplekse saak oorvereenvoudig – Watter plek beklee vergifnis in die Suid-Afrikaanse samelewing? Ons sê ons vergewe, maar die houvas van die verlede op ons denke en dade is van dié aard dat ons dit net NOOIT afgeskud kan kry nie, maar eerder op ons kinders oordra.

Ek weet nie baie nie; soos my relaas tot dusver getuig – maar wat ek wel weet is dat geen samelewing op die trant kan aangaan nie.  ‘n Drukkoker kan net vir só lank druk opbou totdat die deksel afskiet…

Jesus Christus leer ons daarteenoor van vergifnis, vergifnis van dié aard dat dit selfs onmoontlik lyk om gehoor te gee aan sy bevel. Oor en oor en oor. In Matteus 18 vra Petrus ‘n vraag wat in daardie dae redelik belangrik was:

“Here, hoeveel keer moet ek my broer vergewe as hy iets verkeerds teen my doen? Selfs sewe keer?” (Matteus 18:21).

Die godsdienstige leiers van die dag het geleer dat dit genoeg is om jou naaste tot soveel keer as drie maal te vergewe.  Petrus se voorstel is reeds, volgens die destydse opvatting – baie meer genadig.

Selfs sewe maal.

Jesus se antwoord sou beslis, in die lig hiervan – ‘n groot skok veroorsaak het. Sewentig MAAL sewe.  Die punt is dan nou nie dat ‘n mens gaan boekhou van elke klein oortreding en fout van jou naaste en tot by 490 kom en dan ophou vergewe nie.

Sy punt word duidelik wanneer Hy dan die beeld gebruik van ‘n k(K)oning wat sy boeke nagaan en agterkom dat ‘n amptenaar hom ‘n geweldige bedrag skuld. Uiteraard is Matteus 18 se teks nie bedoel om eksegetiese gimnastiek mee gespeel te word nie – maar om die groter gedagte van ‘n onnoembare skuld en ‘n geweldige genadige vergifnis te teken.

Nietemin – letterlik staan daar in Matteus 18 dat die man die koning 10 000 talente geskuld het.  Dit kom neer op geld wat ‘n gewone dagloner soos hy 60 miljoen dae sou vat om te verdien.

Dít is sy skuld.  En sy pleidooi om vergifnis, sy versoek om uitstel dat hy alles sal betaal is lagwekkend.  Hy sal nooit kan nie. Tog skeld die koning uit loutere genade hom kwyt van die skuld.

Wanneer die amptenaar dan sy mede-amptenaar vir skuld van 600 000 keer KLEINER nie wil vergewe nie; word hy in die tronk gegooi om gemartel te word tot hy sy skuld betaal het.

Die betekenis is eenvoudig: Ons staan voor ‘n Almagtige God, wat met sy oë die fynste besonderhede van ons lewens ken.  Wat ons korrupte harte daagliks deursoek, wat weet wat ons dink – wat ons selfs vir mekaar wegsteek.  Wat na regte ons in die verdoemenis en oordeel waarin ons onsself gewerp het, moet laat.  Maar Hy het nie. Hy sal nie.

En nou staan dinge- weliswaar groot verskille- tussen mense. Tussen kulture, en dit bring skeiding en agterdog en pyn. Wanneer gaan ons omdraai en besef dat NIKS, ja inderdaad nie eers die sg. nalatenskap van apartheid genoegsame rede is om haat te bly aanblaas en koester nie. Dan kan ons nie luister na stemme wat sê dat daar eers restitusie in die vorm van die onderdrukking van die blanke moet wees voor alles nou OK is nie.

Dan kan ons nie die haat en rassisme en agterdog wat soos ‘n onkeerbare plaag deur ons samelewing spoel, langer verduur nie.Dit is nie wat praktiese Christenskap beteken nie. Vergifnis beteken nie dat die geskiedenis nie gebeur het nie.

Dit beteken dat om Christus te omarm, ek van my gewaande reg tot vergelding sal afstand doen. Dit beteken dat ek geënt in Christus- die strydbyl begrawe en besef dat alles wat ek het, genade is. Dat dit in ‘n oogwink van my weggeneem kan word.

Vergewe. Vergeet. Punt.

Jan-Louis is tans predikant by die Gereformeerde Kerk Brits

Lote in God se wingerd

“Ek is die ware wynstok” – Johannes 15:1

Jesus met sy dissipels oppad
Jesus is saam met Sy dissipels stadig maar seker oppad na die tuin van Getsemane, waar Hy sy laaste oomblikke sou deurbring voor die kruisiging. Oppad daarheen is Jesus gedurig besig om Sy dissipels voor te berei op dit wat wag.

Soos wat hulle in die rigting van die Olyfberg en die tuin van Getsemane stap, stap hulle verby en moontlik ook tussendeur verskeie wingerde. Soos wat hulle stap, is dit asof Jesus se beeld van ‘n wingerd, druiwe en lote heel natuurlik in die gesprek opkom. Ons weet dit is natuurlik nie toevallig dat Jesus hierdie beeld gebruik nie, want elke Woord wat Hy sê is die gewigtige Woord van God self!

Die wingerdstok en sy lote
By ‘n prieel, is daar gewoonlik een of twee stewige stamme wat uit die grond opkom en dan oor die prieel groei. In ‘n wingerd is daar ‘n wingerdstok/druiwestok, waaruit al die takke (lote) groei. En aan die lote groei die druiwe. Jesus sê, Hy is daardie stam, daardie stok van die wingerd, wat uit die grond kom en waaruit al die lote uitspruit.

God se nuwe wingerd
Die beeld van druiwe, wyn, wingerde en lote is ook glad nie vir die dissipels ‘n nuwe gedagte nie.

Jesus het sopas tydens die afgelope pasga-fees die Nagmaal ingestel waar hulle wyn gedrink het (Matt. 26). Jesus het daar verduidelik dat die wyn sy bloed voorstel. Hy, die egte Druiwestok, se bloed sal vloei, soos druiwe-wyn vloei. Maar, buiten dit, was die beeld van ‘n wingerd vir die Jode (Israeliete) ‘n nasionale simbool – hulle trots.

Op grond van Jesaja 5:7 het die Jode hulleself gesien as “die wingerd van die Almagtige”! Bloot die feit dat jy ‘n Jood was, het hulle gedink, beteken daarom dat jy aan God behoort. Jou identiteit as Israeliet, het hulle gedink, het hulle gered. Israel het hierdie selfvoldane idee gehad dat hulle outomaties verloste kinders van God is.

Hulle het hulle egter doof gehou vir die res van Jesaja 5, want daar sê die profeet dat die Vader die wingerd omgespit en versorg het en Hy het verwag dat dit goeie druiwe sal voortbring, maar, die wingerd Israel, het net suur druiwe voortgebring.

Jesaja profeteer dat die Israeliete ‘n mislukte wingerd was, omdat dit nie die vrug gedra het wat dit moes nie! Daarom sou God die wingerd vernietig en hulle in ballingskap wegvoer (wat ook gebeur het in die tyd van Jesaja).

Na hierdie verwoesting van die mislukte wingerd, sou daar ‘n tyd kom waar die Vader ‘n nuwe, goeie wingerdstok sal plant met lote wat baie goeie vrugte sal dra. Met Jesus se “Ek-is” uitspraak in Joh. 15:1, verklaar Hy dat Hy daardie einste, goeie wingerdstok van die Vader is! Hy is die begin van God se nuwe, goeie wingerd!

Wie is in God se wingerd?
Jesus sê “Ek is die ware wingerdstok”. Sy bloed moes soos wyn vloei, sodat almal wat dit drink en glo dat Hy God is, deel kan wees van die ware Wingerd!

Dit is hoekom ons hier oor-en-oor Jesus se oproep hoor: “Bly in My”. Daar is net een egte wingerdstok. Daar is net een ware wingerd van God. Die wingerd van God is nie net die Jode nie. Die wingerd van God is nie nét een spesifieke ras of volk nie. God se wingerd is net die wat soos ‘n loot in Jesus Christus ‘ge-ent’ is.

Ons mag nie hierdie gedagte koester dat ons om een of ander redeoutomaties die wingerd van God is nie! Jesus stel die voorwaarde as Hy sê: “bly in My” – dan eers is jy deel van God se wingerd. Die Kerk is God se wingerd. Die ware Kerk is hulle wat werklikwaar in Christus bly.

Terloops, hier sien ons so duidelik: alle gelowe is nie dieselfde nie. Alle paaie lei nie na die hemel nie. Net die wat in Jesus Christus alleen glo, is in God se wingerd.

Loot-wees is nie outomaties nie
Ondersoek vandag jouself en toets jou hart: is daar by jou die gedagte, dat jy om een of ander rede outomaties in God se wingerd is?

Dalk dink jy, dat jy outomaties deel is van God se wingerd, op grond van (om ‘n paar voorbeelde te noem):

  • jou velkleur
  • die gemeente waarin jy is
  • die feit dat jou oupa ‘n ouderling in die kerk was
  • jou goeie bydrae in die samelewing ens.

Die enigste voorwaarde om in God se wingerd te wees, stel Jesus self is om in Hom, die Wingerdstok te bly. Dit is net sulkes wat ware Christus-lote is.

Marnix is tans predikant in die Gereformeerde Kerk Graaff-Reinet.

Hoe om jou kind van God te leer

“Hoor, Israel, die HERE onse God is ‘n enige HERE. Daarom moet jy die HERE jou God liefhê met jou hele hart en met jou hele siel en met al jou krag. En hierdie woorde wat ek jou vandag beveel, moet in jou hart wees; en jy moet dit jou kinders inskerp en daaroor spreek as jy in jou huis sit en as jy op pad is en as jy gaan lê en as jy opstaan.” – Deuteronomium 6:4-7

Deut. 6:7| “Jy moet dit inskerp by jou kinders…”

Die Here sê hier aan die Israeliete, dat hulle nie net die wet in hulle eie gedagtes moet vaslê nie, maar hulle moet so toegewyd wees en so leef dat hulle dit ook inskerp by hulle kinders! Ons kinders moet weet en leer van God se verbond met ons. Die Woord moet by ons kinders ingeskerp word.

Wat beteken dit om die Woord in te skerp?

Wat die Bybel hier bedoel met “inskerp”, is soos wanneer iemand met ‘n hamer en ‘n bytel woorde op ‘n stuk klip of op ‘n stuk marmer inkap en ingrafeer. Jy kan jou net indink hoe harde werk dit moet wees. Om woorde in klip te kap, vat lank. ‘n Mens moet herhaaldelik die byteltjie heen en weer skuif, saggies kap, soms harder kap. Geduldig vorm mens die woorde. Dit is fyn, herhalende en geduldige werk om woorde in klip te sit.

Meeste van ons was al in ou begraafplase, waar daar nog stokou grafstene staan, van honderde jare gelede. Sommige van die stene het al omgeval en ander het al gebreek. Maar meestal is baie van die woorde en sinne op hierdie grafstene nog baie leesbaar. As jy bietjie die stof afblaas en met jou hand die vuilgoed wegvee, staan die woorde nog net so duidelik daar soos die dag toe dit ingekap is! Kyk byvoorbeeld ook na ou monumente wat uit klip gekap is (iets soos die Sfinks in Egipte) – dit staan vir jare en jare!

Nou om die woorde van God in te skerp by jou kinders, is soos om woorde in so ‘n granietblok in te grafeer. Dit is fyn, geduldige werk. Om die woorde van God by jou kinders in te skerp, beteken letterlik om die woorde te herhaal. Om dit oor-en-oor te sê. Die kind leer deur herhaling.

Soos met ‘n hamer en byteltjie moet ouers herhaardelik die woorde van die Here in die gedagtes van hulle kinders ingrafeer. Dit is harde en moeilike werk. Maar, as die woorde daar is, is dit dáár! Spreuke 22:6 sê dit: “Gee leiding aan ‘n jongmens oor hoe hy moet leef, en hy sal ook as hy al oud is nie daarvan afwyk nie.”

Hoekom moet ons die Here se woorde by ons kinders inskerp?
Want die Here se verbond moet stand hou van geslag tot geslag! Is dit nie wonderlik nie, dat die Here nie net Sy verbond met Abraham gesluit het nie, maar ook met ons en ons kinders en al die gelowiges na ons!

Dit is nie net ons wat vir die Here moet luister en liefhê nie, maar ook ons kinders. En as ons nie Sy Woord en wet by hulle inskerp nie, hoe sal hulle vir Hom leef?

Die Here se Naam moet geloof en geprys word vir ewig en ewig – hiervoor moet Sy Woord in die mond en hart van ons kinders leef!

Is jy as ouer lief vir die Here? Leef jy in toewyding vir die Here, soos wat Deut. 6:4,5 dit van ons vra? Skerp dan Sy Woord by jou kinders in!

Hier in Deut. 6:7 gee die Here Sy kurrikulum. En jy is die Onderwyser! Katkisasie is nie iets wat die kerk uitgedink het nie! Die Here beveel dit. Hier staan dit, in Deut. 6:7! Katkisasie begin by die huis.

Hoe moet ek, prakties, die Woord by my kind inskerp?
Baie prakties sê die Here hoe hierdie inskerping moet plaasvind, verder in vers 7:

“Jy moet…met jou kinders daaroor praat as jy in jou huis is en as jy op pad is, as jy gaan slaap en as jy opstaan.”

Jy moet met jou kinders daaroor praat! Praat met jou kinders! Waaroor? Oor die Here! Oor Sy Woord! Oor Sy wet! Oor dit wat jy vandag van Hom geleer het; hoe Hy in jou lewe werk! Praat oor Sy Woord, praat oor Hom!

Praat as jy in jou huis is, sê vers 7 – dit is formele onderrig.
Wys vir jou kinders die Here se hand in die natuur en die wetenskap. Praat oor die manier waarop hulle hulle skoolwerk moet doen; en baie belangrik in vandag se tyd: weet wat jou kind in die skool van God leer, as hulle enigsins iets van Hom leer!

Vers 7 gaan verder en sê praat met jou kinders as jy op die pad is – dit is informele onderrig.
Praat met jou kinders oor die Here en Sy Woord wanneer julle êrens heen ry, of stap of wanneer julle saam as gesin om die etenstafel kuier. Informele gesprekke is ‘n wonderlike geleentheid om die Here se woord by jou kind in te skerp.

Dan praat die Here ook van roetine onderrig in vers 7
“Praat met jou kinders…as jy gaan slaap en as jy opstaan”. Ons kan dit ook huisgodsdiens noem. Jy moet in jou huis roetine geleenthede hê waar julle saam praat rondom, oor en van die Here se Woord. Roetine huisgodsdiens is ‘n kragtige (en een van die enigste) manier om die Woord van die Here by jou kinders in te skerp.

As jy die Here liefhet, met jou hele hart, siel en al jou krag – skerp dan Sy Woord in by jou kinders, deur formele, informele en roetine onderrig.

Marnix is tans predikant in die Gereformeerde Kerk Graaff-Reinet.

My 2 sent oor Angus Buchan se 1 miljoen

1. Oom Gamaliël en Angus
Oom Angus is weer in die nuus. Baie mense gons oor die massa-gebedsdag wat sal plaasvind op 22 April.

Oor Buchan as persoon, wil ek nie veel sê nie. Ek het heelwat positiewe dinge gehoor van die MMC, en ek het ook al heelwat negatiewe reaksies raakgelees. Ek het goeie goed gehoor van die “nederige oom Angus” en ek het ook al gehoor dat hy ‘n “valse profeet” is.

Ek dink die wysheid van Gamaliël in Handelinge 5:38,39 is hier van toepassing: “…bly af van hierdie manne en laat hulle staan; want as hierdie voorneme of hierdie werk uit mense is, sal dit vernietig word; maar as dit uit God is, kan julle dit nie vernietig nie—dat dit nie miskien bevind word dat julle selfs teen God stry nie.”

Ons moet ook Filippense 1:15-18 in ag neem: “Sommige preek Christus wel ook uit afguns en twis, maar ander ook uit welwillendheid: die eerste verkondig Christus uit naywer, nie met suiwer bedoelinge nie, met die mening om aan my boeie verdrukking toe te voeg; maar die ander uit liefde, omdat hulle weet dat ek bestem is tot die verdediging van die evangelie. Maar wat maak dit? In alle geval, op allerlei wyse, of dit onder ‘n skyn of in waarheid is, word Christus verkondig; en hierin verbly ek my en sal ek my ook verbly.”

So as dit God self is wat hierdie dinge in mense se harte werk – as dit die Almagtige is wat een miljoen mense saamroep, laat ek dan die laaste een wees wat in Sy pad staan.

En as dit uit mense is en nie van God nie; as Angus ‘n valse profeet is en as Buchan met allerlei valse voorwendsels en idees die biddag byeenroep, dan berus ek my op die sekere feit dat “dit vernietig sal word”.

So voor ons moddergooi op Facebook en skares in oproer bring, moet ons eers geduldig wees en kyk of die MMC en die biddag-byeenkoms die toets van die tye sal deurstaan.

Onthou: “…elkeen se werke sal aan die lig kom” (1 Korintiërs 3:13).

As oom Angus jou bloed laat kook, ontspan. Hy sal nooit magtiger as God self word nie. God is steeds in beheer.

As oom Angus jou nuwe rolmodel is en jy verwag alles wat goed is van hom af, dan het jy sopas ‘n nuwe afgod bygekry, met die naam “Buchan”.

Dit vir eers daar gelaat. As jy wil gaan na die biddag, gaan. As jy wil bly, bly. Dit is nie nou waaroor ek ‘n eier te lê het nie.

2. Wat van 23 April?
Almal gons oor Saterdag 22 April, maar wat van Sondag die 23e?

Dít is waaroor dit vir my gaan: wat gebeur ná 22 April?

Ek wonder, gaan jy 23 April in die kerk onder die erediens wees? En 30 April? En 7 Januarie 2018?

Hoe gaan jou “Facebook-comments” lyk op 24 April, wanneer jy lees van nog ‘n moord?

Wat gebeur ná 22 April?

Ja, die gebed van gelowiges het groot krag. In Handelinge 12 het hulle saam in gebed volhard, en meteens roep Rhodé opgewonde, dat Petrus voor die deur staan – ‘n engel het hom uit die tronk bevry!

Ons moet saam bid en ernstig vir die Here om genade smeek! Ek erken en bely dat dit net God is wat ons kan red uit die ellende waarin ons land verkeer! Ons wat glo dat God vir ons alles ten goede laat meewerk, moet sonder ophou bid!

Die wat glo, moet bid en die wat bid, moet glo (Lees ook die artikel: “Leer ons om te bid”).

En in dieselfde asem sê ek: onhou ook Hosea 6:6: die Here “…het ‘n behae in liefde en nie in offerande nie, en in kennis van God meer as in brandoffers.”

3. Gebed en bekering
Ek haal Hosea aan, want gebed en bekering gaan saam soos vinkel en koljander – die een kan nie sonder die ander. Liefde vir God, kennis van God – dit is wat ons gebede vir God aanneemlik maak.

Een man wat God ken en Hom liefhet, se gebed is vir God meer aanneemlik, as 1 miljoen gebede van liefdelose mense wat weier om God te ken.

Nee, ek sê nie almal wat biddag toe gaan is liefdeloos nie of ken God nie. Inteendeel, ek dink daar sal heelwat ware gelowiges teenwoordig wees op 22 April.

My punt is dit: ons moet besef dat ons nie kan bid vir genesing, sonder berou nie. Ons kan nie vra en pleit vir ‘n mooi toekoms, maar nie terugdraai van ons “bose weë” nie.

2 Kronieke 7:14: “As Ek die hemel gesluit hou sodat daar geen reën is nie, of as Ek die sprinkaan beveel om die land kaal te vreet, of as Ek pes onder my volk stuur, en my volk oor wie my Naam uitgeroep is, toon berou en bid en vra na my wil en draai terug van hulle bose weë af, sal Ek luister uit die hemel en hulle sonde vergewe en hulle land laat herstel.”

As die Here ‘n wonder in hierdie land bewerk, dan sal dit die wonder van bekering wees. Bekering van ons harte. Toon berou en bid! Vra na sy wil en draai terug van jou bose weg af! En wat dan? Dan, sê die Here sal Hy luister uit die hemel en die sonde vergewe en die land herstel.

Is die kennis en liefde van God vir jou belangriker as ‘n rooskleurige toekoms?

Soek en dien jy die Here in gebed 22 April, maar ook 23 April in die kerk en elke dag daarna?

22 April is ‘n massa-gebedsdag, maar sal daar ook massa-bekering wees?

Die Here het ‘n behae in liefde en nie noodwendig in massa gebedsdae nie, en in kennis van God meer as in MMC.

Marnix is tans predikant in die Gereformeerde Kerk Graaff-Reinet.

Handige webblaaie vir gelowiges

Vir persoonlike- of groep-Bybelstudie:

Aanlyn boeke, artikels en kommentare:

Aktuele artikels, videos en preke:

Artikels, vrae en klankprogramme oor die huwelik, verhoudings ens.:

Antwoorde op verskeie geloofsvrae/berading:

Weet jy van nog webblaaie wat hier gelys moet word? Los ‘n boodskap met die skakel hieronder!

Marnix is tans predikant in die Gereformeerde Kerk Graaff-Reinet.

Depressiewe Gelowige

“Waarom is ek so in vertwyfeling en waarom kerm ek so?” (Psalm 42)

Depressie onder gelowiges is nie ‘n vreemde verskynsel nie. Inteendeel, vandag se leefstyl vereis so baie van ‘n mens, dat depressie al hoe meer in die lewe van gelowiges figureer. Baie belangrik: hierdie opstel gaan nie oor kliniese depressie bespreek nie, maar eerder die diep teneergedruktheid of “geestelike depressie” van ‘n gelowige wat perspektief verloor het as gevolg van die een of ander kortsigtige en kleingelowige benadering.

Wat is die geestelike depressie wat gelowiges beleef?
Miskien sou ‘n mens eerstens vra: kan gelowiges depressief raak? Die antwoord daarop is ongetwyfeld: Ja! Die Skrif gee vir ons talle voorbeelde van gelowiges wat geestelik depressief geraak het. Dink maar aan Job en die digter wat in Psalm 42:1 skryf: “Soos ‘n hert wat smag na waterstrome, so smag my siel na U, o God!”. Of Psalm 25:16: “Sien my in genade aan, Here, want ek is eensaam en verstote”. Of, nog duideliker, Prediker 2:17: “Daarom het ek die lewe gehaat, want die werk wat onder die son gedoen word, het my mishaag, omdat alles tevergeefs is en ‘n gejaag na wind”. Ja, gelowiges raak depressief (soms dikwels in hul lewe).

Met hierdie geestelike depressie wat gelowiges beleef, word nie kliniese depressie bedoel nie. Die depressie wat gelowiges so dikwels beleef is eerder ‘n teneergedruktheid, bitterheid of uitsigloosheid wat gelowiges beleef. Dikwels sê ‘n mens dan in sulke tye: “ek het perspektief verloor”. Hierdie gevoel gaan dikwels gepaard met ‘n hartseer en ontmoedige gevoel en ‘n magteloosheid en gewoonlik verloor ‘n mens self entoesiasme en lus vir die lewe. Die Bybel verskaf verskeie redes waarom depressie ‘n gelowige kan oorweldig (Manser, 2009): Omstandighede; vrees vir ander; vrees vir mislukking; ernstige skuldgevoelens oor sonde; ‘n gevoel van nutteloosheid of ‘n verlange na God se teenwoordigheid ensovoorts. Hoe moet gelowiges hierdie geestelike depressie hanteer? Hoe kan gelowiges weer uit die gat van geestelike depressie klim? Om hierdie vrae te beantwoord, word Psalm 42 nou bespreek.

Die geestelike depressie van die Koragiet
Die opskrif in die ‘33/’53 vertaling is heel gepas: heimwee na God. Die digter van hierdie Psalm was ‘n Koragiet (sien die oorsig oor die Psalm in Addendum A). Dit wil sê hy was lid van die koor wat in die tabernakel moes sing (2 Kron 20:19). Verder is daar nie meer inligitng oor die digter nie. Al wat verder duidelik word, is dat die Koragiet verlang na die Here. Hy smag na God (42:2). Die Psalm is ook ‘n “onderwysing”. Dit wil sê, die lied was bedoel om iets aan die hoorders te leer, terwyl dit daar in die tabernakel gesing word. Die Koragiet sukkel om die Here te vertrou te midde van al die moeites wat hy beleef (42:10). Hy wil voor God verskyn en sy smart aan God bekend maak, want Hy voel die Here is nie meer met hom nie. Daarom vra hy dat God hom nie vergeet nie (v9,10).

Die geestelike depressie van die Koragiet kan dus soos volg beskryf word: hy voel alleen in sy hartseer en onderdrukking van ander.

Die Koragiet se hantering van sy eie geestelike depressie
Soos wat ‘n mens deur die Psalm lees, beleef ‘n mens hoe die Koragiet met sy alleenheid en depressie worstel. In sy onderwysing by wyse van hierdie Psalm leer ‘n mens hoe die digter sy geestelike depressie hanteer:

Hy vra: “Hoekom?”
Is dit nie maar die natuurlike reaksie van enige mens in tye van swaarkry nie? Hy vra: “Hoekom?” So ook die Koragiet (‘n mens vergeet so dikwels dat die mense van die Bybel ook maar net mense was!).

Selfs gelowgies vra in tye van depressie: “Hoekom ek?” of, soos in die woorde van v10: “Waarom vergeet U my?” en “Waarom gaan ek in die rou deur die vyand se verdrukking?”
Dit is tog belangrik om raak te sien, dat die Koragiet deurentyd in gesprek is met God. Hy worstel met God ja, hy het allerlei vrae vir die Here, ja, maar hy keer nie sy rug op Hom nie! Hy dors na die Here, en weet dit is net die Here wat sy dors sal les.

Dit is normaal vir gelowiges om vir die Here te vra: “Hoekom?”, maar gelowiges moet onthou – God is goed! Daarom bevestig die digter ook God se goedheid vir homself: Hy bevestig vir homself God se goedheid In v8 druk die Psalmdigter sy swaarkry uit: dit voel vir hom asof die een golf na die ander oor hom slaan. Maar dan moet hy homself in hierdie tyd van depressie herinner: God is goed! Daarom volg v9 met ‘n maar. “Maar die HERE sal oordag sy goedertierenheid gebied”. In hierdie tyd van depressie leer die Koragiet: slegte omstandighede maak nie van God ‘n slegte God nie. “Die Here sal weer op ‘n dag sy trou laat blyk” (’83 vertaling). Hy onthou die goeie ou dae Die Koragiet kan getuig van God se goedheid, want hy herinner homself aan die “goeie ou dae”. V5 sê: “Hieraan wil ek dink en my siel uitstort in my: hoe ek gewoond was om voort te trek met die skare, hulle gelei het na die huis van God, met die stem van jubel en lof – ‘n feesvierende menigte!” In hierdie tyd van depressie dwing die digter homself om terug te dink aan die dae waar hy gelukkig was in die diens van die HERE.

Hy sing en bid
Tog erken hy dat dit nou nie meer goed gaan met hom nie. Dit voel vir hom asof sy siel binne-in homself omvou. Hier in v6, 12, vind ons ‘n goeie beskrywing van die gevoel van depressie en neerslagtigheid. Dit voel asof ‘n mens se siel neergebuig is; in jouself omgevou is en jy is onrustig. Daarom soek die digter weer hoop en rustigheid; hy wil nie meer kerm en kla nie! Al waar hy rustigheid vind is in die nag, wanneer hy sing en bid (v9). Hy sing en en roep om hulp. Hy dra sy gedagtes en smarte aan die Here op. Steeds is dit duidelik: die Koragiet draai nie kwaad sy rug op God nie, maar verlang na Hom en soek na Hom. Die Koragiet dors na die Heer (v1). ‘n Mens kry amper die gedagte dat die digter onophoudelik by die Here kerm!

Hy weet, die enigste plek waar hy rustig kan wees, is by die Here.
Selfs in die nag, wanneer alles om hom die stilste en die alleenste is, dan sing hy en bid tot die Here, die God van sy lewe.

Hy spreek tot sy eie siel
In die refrein van die Psalm vind ons elke keer hierdie gedagte: die Koragiet praat met homself (v6,12). Hy herhaal dit twee keer: hy preek vir homself! “Wat buig jy jou neer, o my siel, en is onrustig in my? Hoop op God…” Die Koragiet gooi nie sy hande omhoog en laat sy gedagtes maar die oorhand kry nie. Nee, voortdurend is hy in gesprek met homself: waarom is jy teneergedruk? Waarom kerm jy? Waarom is jy bitter? Wees stil! Hoop op God! Dit is asof die digter hier met sy sondige menslike natuur in gesprek tree, en aktief beheer daaroor neem.

Sy sondige mense-aard maak hom teneergedruk en depressief – hy wil alles laat vaar. Tog, neem hy beheer van sy siel – hy verkondig die verlossing van God aan homself!
Gelowiges van vandag se hantering van geestelike depressie
Psalm 42 leer dat die geestelike depressie wat gelowiges vandag beleef dikwels te danke is aan ‘n tekort aan hoop. Dikwels hoop ons nie meer op God nie. ‘n Mens raak verstrengel deur skuldgevoelens, vrese, omstandighede of vrees vir ander. Ons raak selfs hopeloos wanneer ander heeltyd jou geloof of jou God probeer aftakel (“Waar is jou God?” v4). Die Koragiet leer met Psalm 42 dat dit deel is van die mense-natuur, om te vra: “hoekom?”. Maar ‘n mens moet steeds met die Here in gesprek bly oor die dinge wat jou kwel. Dikwels luister jy te veel na jou sondegevalle self en praat te min met jouself. Jy heers nie oor jou gedagtes nie. Die Koragiet leer dat jy die verlossing van Christus aan jouself moet verkondig. Ons moet heers oor ons menslike natuur. Ons moet beheer neem van die geestelike depressie. Herinner jouself daaraan dat God waarlik goed is – dink aan die “goeie ou dae”. Bly in gesprek met God – sing en bid tot die Here; soek Hom op. Dors na die Here en smag na Hom!

Wanneer jy in ‘n tyd van geestelike depressie verkeer, kan jy maar ondersoek instel: jy het heelmoontlik jouself laat verval in ‘n toestand van hopeloosheid. Omstandighede maak jou hopeloos. Mislukking maak dat jy moed opgee oor die toekoms. Ernstige skuldgevoelens oor sonde maak dat jy vergeet dat Christus jou enigste hoop is – die “verlossing van jou aangesig” (42:12). Ja, dit gebeur soms, dit is deel van ons gevalle natuur en daarom moet ons in sulke tye ons “neergebuigde siel” aanspreek: waarom is jy depressief/teneergedruk/bitter? Hoop op God. My slegte situasie maak nie van God ‘n slegte God nie. Christus is die “verlossing van my aangesig en Hy is my God!” (42:12).

Marnix is tans predikant in die Gereformeerde Kerk Graaff-Reinet.

WhatsApp WhatsApp