Press "Enter" to skip to content

Hoe om jou kind van God te leer

“Hoor, Israel, die HERE onse God is ‘n enige HERE. Daarom moet jy die HERE jou God liefhê met jou hele hart en met jou hele siel en met al jou krag. En hierdie woorde wat ek jou vandag beveel, moet in jou hart wees; en jy moet dit jou kinders inskerp en daaroor spreek as jy in jou huis sit en as jy op pad is en as jy gaan lê en as jy opstaan.” – Deuteronomium 6:4-7

Deut. 6:7| “Jy moet dit inskerp by jou kinders…”

Die Here sê hier aan die Israeliete, dat hulle nie net die wet in hulle eie gedagtes moet vaslê nie, maar hulle moet so toegewyd wees en so leef dat hulle dit ook inskerp by hulle kinders! Ons kinders moet weet en leer van God se verbond met ons. Die Woord moet by ons kinders ingeskerp word.

Wat beteken dit om die Woord in te skerp?

Wat die Bybel hier bedoel met “inskerp”, is soos wanneer iemand met ‘n hamer en ‘n bytel woorde op ‘n stuk klip of op ‘n stuk marmer inkap en ingraveer. Jy kan jou net indink hoe harde werk dit moet wees. Om woorde in klip te kap, vat lank. ‘n Mens moet herhaaldelik die byteltjie heen en weer skuif, saggies kap, soms harder kap. Geduldig vorm mens die woorde. Dit is fyn, herhalende en geduldige werk om woorde in klip te sit.

Meeste van ons was al in ou begraafplase, waar daar nog stokou grafstene staan, van honderde jare gelede. Sommige van die stene het al omgeval en ander het al gebreek. Maar meestal is baie van die woorde en sinne op hierdie grafstene nog baie leesbaar. As jy bietjie die stof afblaas en met jou hand die vuilgoed wegvee, staan die woorde nog net so duidelik daar soos die dag toe dit ingekap is! Kyk byvoorbeeld ook na ou monumente wat uit klip gekap is (iets soos die Sfinks in Egipte) – dit staan vir jare en jare!

Nou om die woorde van God in te skerp by jou kinders, is soos om woorde in so ‘n granietblok in te graveer. Dit is fyn, geduldige werk. Om die woorde van God by jou kinders in te skerp, beteken letterlik om die woorde te herhaal. Om dit oor-en-oor te sê. Die kind leer deur herhaling.

Soos met ‘n hamer en byteltjie moet ouers herhaardelik die woorde van die Here in die gedagtes van hulle kinders ingrafeer. Dit is harde en moeilike werk. Maar, as die woorde daar is, is dit dáár! Spreuke 22:6 sê dit: “Gee leiding aan ‘n jongmens oor hoe hy moet leef, en hy sal ook as hy al oud is nie daarvan afwyk nie.”

Hoekom moet ons die Here se woorde by ons kinders inskerp?
Want die Here se verbond moet stand hou van geslag tot geslag! Is dit nie wonderlik nie, dat die Here nie net Sy verbond met Abraham gesluit het nie, maar ook met ons en ons kinders en al die gelowiges na ons!

Dit is nie net ons wat vir die Here moet luister en liefhê nie, maar ook ons kinders. En as ons nie Sy Woord en wet by hulle inskerp nie, hoe sal hulle vir Hom leef?

Die Here se Naam moet geloof en geprys word vir ewig en ewig – hiervoor moet Sy Woord in die mond en hart van ons kinders leef!

Is jy as ouer lief vir die Here? Leef jy in toewyding vir die Here, soos wat Deut. 6:4,5 dit van ons vra? Skerp dan Sy Woord by jou kinders in!

Hier in Deut. 6:7 gee die Here Sy kurrikulum. En jy is die Onderwyser! Katkisasie is nie iets wat die kerk uitgedink het nie! Die Here beveel dit. Hier staan dit, in Deut. 6:7! Katkisasie begin by die huis.

Hoe moet ek, prakties, die Woord by my kind inskerp?
Baie prakties sê die Here hoe hierdie inskerping moet plaasvind, verder in vers 7:

“Jy moet…met jou kinders daaroor praat as jy in jou huis is en as jy op pad is, as jy gaan slaap en as jy opstaan.”

Jy moet met jou kinders daaroor praat! Praat met jou kinders! Waaroor? Oor die Here! Oor Sy Woord! Oor Sy wet! Oor dit wat jy vandag van Hom geleer het; hoe Hy in jou lewe werk! Praat oor Sy Woord, praat oor Hom!

Praat as jy in jou huis is, sê vers 7 – dit is formele onderrig.
Wys vir jou kinders die Here se hand in die natuur en die wetenskap. Praat oor die manier waarop hulle hulle skoolwerk moet doen; en baie belangrik in vandag se tyd: weet wat jou kind in die skool van God leer, as hulle enigsins iets van Hom leer!

Vers 7 gaan verder en sê praat met jou kinders as jy op die pad is – dit is informele onderrig.
Praat met jou kinders oor die Here en Sy Woord wanneer julle êrens heen ry, of stap of wanneer julle saam as gesin om die etenstafel kuier. Informele gesprekke is ‘n wonderlike geleentheid om die Here se woord by jou kind in te skerp.

Dan praat die Here ook van roetine onderrig in vers 7
“Praat met jou kinders…as jy gaan slaap en as jy opstaan”. Ons kan dit ook huisgodsdiens noem. Jy moet in jou huis roetine geleenthede hê waar julle saam praat rondom, oor en van die Here se Woord. Roetine huisgodsdiens is ‘n kragtige (en een van die enigste) manier om die Woord van die Here by jou kinders in te skerp.

As jy die Here liefhet, met jou hele hart, siel en al jou krag – skerp dan Sy Woord in by jou kinders, deur formele, informele en roetine onderrig.

Be First to Comment

Lewer Kommentaar

This site uses Akismet to reduce spam. Learn how your comment data is processed.