Press "Enter" to skip to content

Stephan Joubert se onbybelse siening van God se soewereiniteit

In ‘n onlangse skrywe deur Stephan Joubert op e-Kerk se webtuiste sê hy:

“Daardie idees dat alles met ’n rede gebeur en dat alles vooruit bepaal is, kom uit die Griekse mitologie. Zeus en sy drie helpergodinne, bekend as die Moirae, het presies so opgetree.”

Daar is twee groot probleme met Stephan Joubert se skrywe aangaande God se soewereiniteit wat indruis teen die Bybel en ons gereformeerde belydenis. Dit is ‘n baie ernstige aanklag dat Stephan Joubert impliseer dat God se soewereiniteit vergelyk kan word met Griekse mitologie.

Eerstens, met sy skrywe ontken Stephan Joubert God se soewereiniteit in alle sake, van die kleinste tot die grootste. Die vrae wat ons moet vra is: “Is daar dinge en plekke buite God se beheer? Wat beteken God se soewereiniteit?” Oorlede RC Sproul het gesê,

“There is no maverick molecule if God is sovereign. If He cannot control the tiniest bits of the universe, then we cannot trust Him to keep His word.”

Ons glo dat God, nadat Hy alle dinge geskep het, dit nie laat vaar of aan die toeval of geluk oorgegee het nie (Johannes 5:17; Hebreërs 1:3) maar dit volgens sy heilige wil so bestuur en regeer dat in hierdie wêreld niks sonder sy beskikking gebeur nie (Psalm 115:3; Spreuke 16:1; Spreuke 16:9; Spreuke 16:33; Spreuke 21:1; Klaagliedere 3:37-38; Efesiërs 1:11-12; Jakobus 4:13-15; NGB Artikel 13). Met ander woorde, die Bybel leer dat God alles, van die beweging van die kleinste molekule tot die grootse wêreldgebeurtenis, voorbeskik het in Sy raadsplan en dat Hy seker maak dit gebeur dienooreenkomstig. Alles is deur God beskik om te gebeur ooreenkomstig Sy eie wil en nie gebaseer op die vooruitskouing van menslike keuses nie. Alle gebeurlikhede word deur God bestuur sodat alle keuses, goed en sleg, gemaak word ooreenkomstig Sy raadsplan sonder dat die mens van ‘n vrye keuse ontneem word. Ons praat dus nie hier van absolute vrye wil nie maar eerder van beperkte vryheid binne God se raadsplan. Mense maak keuses binne die raamwerk van God se wil sodat Sy raadsplan uitgevoer sal word.

Dit bring natuurlik die vraag by ons op, “Is God dan die outeur van sonde?” Gewis nie, dit bely ons in ons gereformeerde belydenisskrifte (NGB Artikel 13). God is nie die outeur van sonde nie. Maar hoe God alles beskik en laat gebeur sonder dat Hy ooit skuldig is aan enige sonde of boosheid maak Hom juis God en vêr bo ons verstand. Ons bely dit as volg in ons gereformeerde belydenis: “Sy mag en goedheid is immers so groot en onbegryplik dat Hy sy werk baie goed en regverdig beskik en uitvoer, selfs al handel die duiwels en goddelose mense onregverdig” (Job 1:21; Jesaja 10:5-7; Jesaja 45:7; Amos 3:6; Handelinge 2:23; Handelinge 4:27-28). Daarom moet ons ook nie, gedryf deur nuuskierigheid, verder ondersoek instel na God se handelinge – wat bo ons menslike verstand is nie.

Ons moet met blydskap aanvaar en bely dat God gans anders is en Sy weë nie volledig gepeil kan word nie. As gelowiges moet ons aanvaar daar is ‘n grens waar ons nie God se soewereiniteit presies kan verklaar nie maar dit beteken nie dit is nie waar nie (Deuteronomium 29:29). Deur die geloof wat God in ons gewerk het deur die wedergeboorte sien ons dit in die Skrif en glo ons dit omdat God so sê. Ons buig in nederigheid voor Hom neer as die onsienlike, alwyse, onfeilbare, onpeilbare, en soewereine God (1 Timotheüs 1:17; Romeine 11:33-34). Soos Paulus skryf, “Wie het iets aan Hom gegee dat Hy dit sou moes vergoed? Want uit Hom en deur Hom en tot Hom is alle dinge” (Romeine 11:35-36).

Ons is dus tevrede daarmee dat ons dissipels van Christus is om slegs te leer ken wat Hy aan ons in sy Woord geopenbaar het, sonder om die grense daarvan te oorskry (1 Korinthiërs 4:6). Die leer van God se soewereiniteit is ‘n groot troos vir ons as gelowiges aangesien niks buite God se beheer staan en aan toeval oorgelaat is nie. As ons goeie Hemelse Vader heers God oor elke molekule, en beskik Hy oor elke keuse, sodat geen haar van ons kop val en geen mossie sterf sonder dat Hy daaroor beskik het nie (Mattheus 10:29, 30).

Tweedens, Stephan Joubert beperk God se soewereiniteit tot menslike keuses en ruimtes. Hy sê:

“Daarom kan ek kies om Hom te dien. Of nie. Daarom moet ek reg kies. Dan eers kan ek bely dat my tye in Sy hand is.”

Hierdeur impliseer Stephan dat iemand se lewe eers in die hand van God is as hy God kies. Dit beteken daar is ruimtes en keuses buite God se wil waaroor Hy nie beheer het nie. Dit beteken ook God is afhanklik van menslike keuses om Sy raadsplan uit te werk. Die stelling herinner mens aan die tipiese vrye-wil teologie van die Arminiane waar God afhanklik is van menslike keuses om Sy wil uit te voer. Dit impliseer ook dat God se wil teengestaan kan word. Die Skrif leer egter dat God se raadsplan nie teengestaan kan word nie en tot uitvoering sal kom in die fynste besonderhede (Job 42:2; Jesaja 46:9-13). Elke mens se hart is soos ‘n waterstroom in God se hand (Spreuke 21:1). God gebruik omstandighede om dit lei ooreenkomstig Sy welbehae. Daar is nie ‘n ruimte, hoe klein ook al, waar God nie teenwoordig en in beheer is nie (Psalm 139:1-16). Elke keuse wat deur ‘n gelowige of ongelowige gemaak word, goed of sleg, was deur God voorbeskik om Sy goeie wil uit te werk. God bestuur alle gebeure op so manier dat Hy nooit skuldig is aan sonde, of dat die mens ‘n robot is nie, terwyl Hy presies bepaal wat sal gebeur. Terwyl die mens vrylik kies om te sondig, is God honderd persent in beheer en bestuur Hy elke gedagte, begeerte en keuse om Sy voorafbeskikte raad uit te werk. Die wil van God is egter onveranderd en is voor die grondlegging van die wêreld vasgelê deur Hom (Efesiërs 1:11; Jesaja 46:9-11).

God pas nie by omstandighede aan met die verloop van tyd nie. Hy het nie ‘n plan B wat verander na gelang van omstandighede nie. Jesus was bv. nie ‘n plan B nadat God se plan A gefaal het nie. Die siening staan bekend as “Open-Theism.” Dit het populêr geword in die 90s en poog om ‘n gee-en-neem verhouding tussen God se soewereiniteit en die menslike wil te bewerkstellig. John Frame weerlê die siening in die artikel. As ek Stephan Joubert se skrywe reg verstaan dan neig dit baie hierna – “Daarom moet ek reg kies. Dan eers kan ek bely dat my tye in Sy hand is.” Stephan beskou die klassieke gereformeerde siening van God se soewereiniteit as fatalisme – “Dit is fatalisties, want dit verander God tot die Outeur van alles wat sleg is.” Die Bybel probeer nie ‘n verskoning maak vir die enigste lewende God “WAT IS” nie. Toe Moses vir God vra wat moet hy vir die mense sê wie God is, was God se antwoord dood eenvoudig, “EK IS” (Eksodus 3:14). God alleen is die bron van alles sonder dat Hy die Outeur van sonde is – “Want deur Hom leef ons, beweeg ons, bestaan ons” (Handelinge 17:28). Hy gee en neem lewe (Job 1:21; 1 Samuel 2:6). Die mens wik maar God beskik (Spreuke 16:1-9). Job se verhaal is ‘n klassieke voorbeeld van die uitwerking van God se wil.

Goeie voorbeelde van God se onveranderde raadsplan is die val van Satan, die sondeval van die mens, die kruisiging van Jesus onder Pontius Pilatus, die verloëning van Jesus deur Judas, en Josef se wegvoer na Egipte. Al die gebeure is deur God voorbeskik en het gebeur omdat God seker gemaak het dit gebeur presies soos Hy dit gewil het. ‘n Gebeurtenis soos Jesus se kruisiging en die verloëning deur Judas was selfs lank voor die tyd al voorspel in die Bybel. Wie het seker gemaak dit gebeur presies soos dit voorspel was? Wie het seker gemaak dat Pontius Pilatus Jesus sou laat kruisig? Wie het seker gemaak dat Judas Jesus sou verloën – sodat die Skrif vervul kan word? Was daar ‘n kans dat Jesus nie gekruisig sou word en Judas anders sou kies? Nee, God het dit beskik daarom sou dit gebeur. Nie weens toeval nie, maar deur God se wil. Al het Pontius Pilatus gekies om Jesus te kruisig, was dit God wat dit beskik en bestuur het om te gebeur ooreenkomstig Sy raadsplan sonder dat Hy ooit skuldig was aan sonde.

God het alle dinge vooraf beskik: goed en kwaad, val en verlossing, die slawerny en die uittog uit Egipte, rebellie en bekering. God het die wat gered sou word voor die grondlegging van die wêreld bestem daartoe (Openbaring 13: 8), wat beteken dat hy ook die sondeval moes voorbeskik het. Hy het sondige keuses beskik soos die verkoop van Josef (Genesis 50:20), die verharding van Farao se hart (Eksodus 4:21), die Dawidiese volkstelling (2 Samuel 24: 1), die Assiriër (Jesaja 10: 5-19) en Babiloniese invalle (Habakuk 1: 5-11), en die grootste van almal, die kruisiging van sy eie Seun (Handelinge 4:26-28). Nie net dit nie, maar die Bybel is duidelik dat selfs die val van die dobbelsteen deur God bepaal word (Spreuke 16:33), en dat God alles doen wat hy wil (Psalms 115: 3). Dan is daar natuurlik nog belangrike Ou-Testamentiese frases soos “Gaan uit die mond van die Allerhoogste nie kwaad sowel as goed nie?” (Klaagliedere 3:38), “Die goeie wat van God kom, die aanvaar ons, maar die slegte – moet ons dit nie ook aanvaar nie?” (Job 2:10), “Ek is die Here wat voorspoed bewerk en onheil skep” (Jesaja 45:7), en “As daar teenspoed in ‘n stad is, het die Here dit nie gedoen nie?” (Amos 3:6), om nie eens te praat van die omvattende “die Een wat alles volgens Sy wil en raad laat gebeur” nie (Efesiërs 1:11).

Die Skrif praat herhaaldelik van ‘n God wat alle dinge orden, insluitend alle menslike keuses, hetsy goed of sondig. Lees gerus die Heidelbergse Katigusmus Sondag 9 en Sondag 10, die Nederlandse Geloofsbelydenis Artikel 13 en Artikel 14, en die Westminster Confession Hoostuk 3 (blaai af tot by hoofstuk 3) vir ‘n Bybelse uitleg van God se raad en soewereiniteit.

Verdere leestof:

5 Comments

  1. B R Torlage B R Torlage

    “Dan eers kan ek bely dat my tye in Sy hand is.” Ontken Joubert hiermee dat God in beheer is? Volstrek nie – as hy dit bedoel het, sou hy gesê het: “Dan eers is my tye in Sy hand”. Die klem lê hier op wanneer ‘n mens kan aanspraak maak op God se beskerming: VOOR of NA bekering? (Tensy julle die verbondsteologie so vêr druk dat bekering (implisiet of eksplisiet) nie meer nodig is nie?) Israel het ook so ‘n teologie gehad, waar die verbond net bestaan het uit die Here se verantwoordelikheid om sy verbond na te kom, en hulle (Israel) Hom as’t ware daarmee afgepers het om Jerusalem/Juda/tempel ongeskonde te laat bly. Volgens hulle was die Babiloniese ballingskap ‘n onmoontlikheid.

    Ek bespeur ‘n sweem van teologiese snobisme in sommige sinne wat ek hier lees. Gaan dit vir julle oor Christus Jesus, of is dit kerkisme wat die bo-toon voer?

    Doen aan ander…

    • Jaco De Beer Jaco De Beer

      Teenoor Stephan se siening staan die God van die Bybel in wie se hande gelowiges en gelowiges soos klei is (Rom. 9:19-23). God het Faroa opgehef en hom verhard om Sy wil te doen sodat God verheerlik kon word. “Dit berus dus nie by die mens wat wil en hom inspan nie, maar by God wat Hom ontferm” (Rom. 9:16). God is nie afhanklik van die mens se keuses nie. Hy skep die wil, begeerte en lewe om Sy raadsplan self uit te werk.

      Daar is geen, “dan eers” by God nie.” God handel ongeag die mens se wil want Sy wil kan nie teengestaan word nie (Job 42:2). “Al die bewoners van die aarde word as niks gereken; Hy doen met die hemelse leër en die bewoners van die aarde wat Hy wil. Daar is niemand wat sy hand kan afweer of vir Hom kan vra nie, ‘Wat het U gedoen?’” (Dan. 4:32). “Ek is God, en daar is geen ander nie, God, en daar is niemand soos Ek nie – Ek wat van die begin af die afloop aankondig, van lank gelede af dit wat nog nie gebeur het nie; Ek wat sê, ‘My raadsbesluit sal standhou; alles wat Ek wil, sal Ek uitvoer,’ Ek wat uit die ooste ‘n roofvoël roep, van ‘n ver land af iemand roep vir my raadsbesluit. Ja, Ek het dit aangekondig; Ek sal dit beslis laat gebeur. Ek het dit gereedgemaak; Ek sal dit beslis uitvoer” (Jesaja 46:10,11).

  2. Herman van der Linden Herman van der Linden

    Twee stellings is word in Stephan se artikel gemaak: (1) Ek kán of kan nié kies om Hom te dien (uitoefening van my keuse), en (2) my tyd is in God se hand eers ná ek vir God gekies het.

    Ons glo dat God ons eers gekies het. Hy kom eers na ons, en nie ons na Hom sodat ons nou aanneemlik vir God is nie. God kies ons nie op grond van ons geloof nie, maar deur die geloof. Geloof wat Hy in ons werk, op so ‘n manier dat ons in Hom begin glo. Dit doen Hy deur sy Heilige Gees wat die geloof in almal werk wie Hy vantevore gekies het. Hy doen dit heeltemaal op sy eie.

    Maar dit is ook waar dat Hy dit nie sonder ons doen nie. Die manier waarop die Gees werk is dat Hy (die Gees) dit doen deur die Woord. Die Gees betrek sy Woord en die verkondiging daarvan om daardie geloof dan te werk.

    Vergelyk Paulus se woordverkondiging in Efese. Paulus sê nie: Daar is verkiesing en verwerping. Jammer vir jou as jy nie gekies is nie, of geluk dat jy uitverkore is. Paulus sê: “Glo in die Here Jesus Christus en jy sal gered word.” So het Paulus ooral gepreek. En wanneer die mense dan tot geloof kom, bedank hy hulle nie dat hulle so goed gekies het en dat hulle soveel beter as die ander is nie. Nee, Paulus begin sy brief deur te skryf: “Geseënd is die God en Vader van onse Here Jesus Christus … soos Hy ons in Hom uitverkies het voor die grondlegging van die wêreld …”

    Deur genade is ons gered, en dit kom alleen van God, maar terselfdertyd sê Hy: “Deur geloof”. Alleen deur geloof kan ons seker weet ons is gered, en so ook deur geloof alleen kan ons Hom loof wie ons van ewigheid af lief gehad het en daarom ons van die donkerheid in die lig gebring het.

    God het ons al vantevore gekies, en daarom is ons tyd in sy hande ook van ewigheid af, en nie eers vanaf die tyd dat ons Hom gekies het nie.

    • Jaco de Beer Jaco de Beer

      Dankie vir jou kommentaar Herman. Stem heelhartig met jou saam.

  3. neelsmalan neelsmalan

    Baie dankie, Jaco! Ons kry te doen met die dwaalleraars van die laaste dae. Maar die Gees sê uitdruklik dat in die laaste tye sommige van die geloof afvallig sal word en verleidende geeste en leringe van duiwels sal aanhang 1Tim4v1. Ek onthou dat Adrio Konig dekades gelede ook ontken het dat God in volkome beheer is. En toe was hy ook nie alleen nie. Ek dink ons moet ons as mense se vermoe om sondige besluite te neem waarvoor ons, en nie God nie, verantwoordelik is, verklaar daaruit dat God die mens na sy beeld en gelykenis geskape het (Gen1v26), en met ons as mens sy verbond van liefde en genade opgerig het (vgl Gen2v16en17: En die HERE God het aan die mens bevel gegee en gesê: Van al die bome van die tuin mag jy vry eet, maar van die boom van die kennis van goed en kwaad, daarvan mag jy nie eet nie; want die dag as jy daarvan eet, sal jy sekerlik sterwe.

Leave a Reply

This site uses Akismet to reduce spam. Learn how your comment data is processed.

WhatsApp WhatsApp
%d bloggers like this: