Press "Enter" to skip to content

GEE AG OP MEKAAR SE VIRTUELE VERHOUDING MET GOD

In ons haastigheid om seker te maak dat ons ‘n virtuele platform het waarvan af ons vir (aanvanklik) drie weke kon bedien, het ons nooit gestop en ‘n paar belangrike vrae gevra nie. 

Die meeste predikante en hul vrouens het gespartel om vinnig vertroud te raak met ‘livestreams’, YouTube en allerhande klankgrepe en opnames en skielik was daar op die lugweë ‘n absolute ooraanbod van oordenkings, dienste en allerhande ander geestelike aptytwekkertjies.

In ons haastigheid om te sorg dat die bediening van die Woord virtueel sou kon aangaan; het ons gefokus op bandwydte en die koste van data.  Dinge soos die beligting van ons studeerkamers en watter mikrofoon die beste klankgehalte sou gee, het skielik belangrik begin word.

Ons het begin werk aan die geestelike dieet van die skape wat aan ons opgedra is, want ons is herders, wat in opdrag van die Opperherder, moet omsien na die kudde. Daaglikse oordenkings, twee eredienste op ‘n Sondag, Bybelstudie oor Zoom en katkisasie.  Inderdaad was daar baie harde werk agter al hierdie uitsendings.

Dit is immers net drie weke.  Dit gaan tog sekerlik niks aan my saligheid doen as ek vir drie weke nie kerk toe gaan nie?

Moenie verkeerd verstaan nie, die elektroniese bediening het ‘n leemte gevul wat andersins onbedien gelaat sou word.  Met matigheid kan dit waarskynlik ook in die toekoms ‘n rol speel.

Maar hoe langer die grendeltyd aangegaan het, en die ‘tydelike’ oplossing so ‘n effense permanente geurtjie begin kry het, het die onafwendbare gesprekke oor die aard van eredienste telkemale opgeduik.

Toe word die vrae gevra:

  • Wat is ‘n erediens?
  • Wat behoort alles teenwoordig te wees om iets ‘n ‘erediens’ te kan noem?
  • Is ‘n virtuele diens – werklik ‘n ‘erediens’?

Veral die vraag na die virtuele erediens het vuurwarm debatte ontketen – veral in my kerkverband (Die Gereformeerde Kerke in Suid-Afrika).  Vanuit die virtuele eredienste het ‘sitkamer sakramente’ plaasgevind en Nagmaal is verskeie kere (deur sommiges- nie almal nie) oor ‘n lewendige stroom aan allerhande kerkgangers bedien. 

Elders is hierdie gedagtes geopper, en sonder om dit alles te herhaal, wil ek net die belangrikste argumente teen virtuele eredienste aanhaal:

  1. Kerkgangers is nie blote ‘brains on a stick’ wat soos ‘n geheuestokkie in ‘n rekenaar, ‘inligting by die kerk kom aflaai nie’.  Deur die kerk so te vergeestelik, kom die eenheid van die kerk nie tot sy reg nie, en is dit nie ‘n verkondiging van die Triomferende kerk wat God sáám, voor sy troon, gaan aanbid in die hiernamaals nie.
  2. Ons bely dat die gemeenskap van gelowiges gereeld saamkom, in vlees en bloed.  Daarvan is daar oorgenoeg Skrifgetuienis- o.a Handelinge 2:42; Psalm 84 e.a. Ons bely in Sondag 38 van die Heidelbergse Kategismus dat ons gehoorsaam aan die vierdie gebod is as ons ywerig saam met die gemeente saamkom.  ‘n Argument dat die vroeë kerk byvoorbeeld nie die virtuele fasiliteite gehad het wat ons vandag het nie, en dat dit dus nie Zoom, Skype of YouTube in berekening kon bring nie, is die handboek -voorbeeld van ‘n strooipop argument.  Eerstens maak dit asof God nie geweet het só ‘n tyd kom nie, en beteken dit dus dat sy bepalings rakende die eredienste bloot net tot daardie tyd gespreek het en dus tydgebonde is.  Daarteenoor leer Gereformeerdes dat die Skrif is wel tydgerig, maar nie tydgebonde nie.  [In wese sê ons as ons ‘n ‘eietydse vertolking’ van die eredienste soek, dat ons slimmer as God probeer wees]. Tweedens het die kerk selfs wanneer hulle deur die briewe van die apostels bedien is – nooit die eredienste opgeskort nie -veral nie in tye van bloedige vervolging nie.
  3. Virtuele sakramentsbediening bly ‘n noodwendige (en noodlottige!) gevolg van virtuele eredienste.  Hierdie tekens en seëls bekragtig God se beloftes aan sy kinders, dit is iets wat die gemeente saam vier en wat die gemeenskap aanmekaar bind.  Terwyl dit die individu se geloof wel versterk, bly dit versterking in die konteks van die verbond van God – gemeenskaplik. Interessant dat Paulus juis in 1 Korintiërs 11 teen individualisme by die Nagmaal waarsku, omdat die onderlinge eenheid van die liggaam deur faksievorminge en eensydige, sondige Nagmaalspraktyke verskeur word.  Die sakramente hoort by die eredienste, dit verkondig sigbaar wat die Woord verkondig – en dit kan allermins oor ‘n rekenaarskerm plaasvind.

Dus: Virtuele eredienste is ‘n weerspreking.

Maar as hierdie argumente nie genoeg is nie, kan ons selfs verder gaan.

Daar is telkens in hierdie grendeltyd – wêreldwyd – navorsing gedoen oor die effektiwiteit van virtuele uitsendings.  ‘n Studie in die VSA deur die Barna groep het aangedui dat na ‘n aanvanklike toename in ‘virtuele bywoning’ deur lidmate, daar ‘n drastiese afname in kykertalle was.

48% van die kerkgangers het gemeld dat hulle in die laaste vier weke geen ‘aanlyn-kerk’ ‘besoek het nie.

Minder as die helfte van die oorblywende 52% het aangedui dat hulle hul plaaslike gemeentes se dienste gevolg het, met 23% wat aangedui het dat hulle ingeskakel het by dienste van ander gemeentes.

En hoewel dit nie Suid-Afrikaanse navorsing toon nie, kan ons maar die aanname maak dat die patroon homself hier sou herhaal. 

Vergeet ook nie dat daar heelparty van die ouer lidmate is, wat vanweë die aard van die tegnologie – uitgesluit word van virtuele bediening. Hulle is aangewese op Radiobediening, in baie opsigte afgesluit van die samelewing omdat hulle risikogevalle met die opdoen van die virus is.

Verder word daar op plaaslike bodem deur die vakbond Solidariteit weekliks navorsing gedoen word oor die welstand van hul lede (Afrikaanssprekendes wat werk).  Dit verteenwoordig normaalweg ‘n goeie steekproef van die situasie in Suid-Afrika.

In hierdie grendeltyd het beduidend meer gesinne ‘n kontantvloeikrisis ontwikkel.  Daar is meer en meer kommer oor werkloosheid en in ‘n groter getal gesinne moes mense met net ‘n gedeelte van hulle normale salaris oor die weg kom.

Die emosionele impak van hierdie voortslepende grendeltyd -onsekerheid word met elke week erger, met die algemene gemoedstoestand wat in hierdie laaste week tot ‘n nuwe laagtepunt gesak het.  Dit het uiteraard ‘n besondere negatiewe uitwerking op die gesin, met intense kommer oor die toekoms en die uitwerking van die virus op ons gemeenskappe.

Maar baie interessant:meer as die helfte van die mense in hierdie studie het aangedui dat hulle geloofslewe besonder negatief geraak word in hierdie tyd.

Boonop is daar ekonome wat grootskaalse werksverliese voorspel en rapporteer blitslyne (hotlines) rekordstygings in oproepe van mense met emosionele nood.

Dit is asof die afsonderingstyd ‘n toetsaak vir swak kerkbywoning geword het, ‘n striemende bewysstuk teen ‘self-feeding’, ‘n broodnodige ‘wakker-skrik’ oomblik vir ‘n sluimerende kerk.

Want, wat hieruit duidelik is, is dat selfs al kan ek in my pajamas in my sitkamer op die TV sit en ‘kerk’, dit so maklik as ‘die druk van ‘n knoppie is’, daar baie lidmate is wat dit nie doen nie.

Selfs al kan ek as predikant elke halfuur ‘n oordenking publiseer en met fanfare onder die gemeente instuur – is daar geen waarborg dat hulle daarna luister nie!

Wat help die virtuele ‘kerk’ as ons nie weet of dit ons lidmate werklik bereik nie?

Die navorsing wys vir ons onteenseglik – in die woorde van die Ingelsman: “We are losing the plot.

Daar is geen meganisme om met elektroniese media die opdrag van die Here te gehoorsaam om ‘ag te gee op mekaar nie’ (Hebreërs 10:24).  Die liggaam van gelowiges is so aangewese op mekaar dat – as een veragter in die geloof – dit ‘n effek het op die hele liggaam.  Ons moet mekaar oppas, sorg dra dat die gemeenskap van gelowiges tot sy reg kom en mekaar aanspoor tot goeie werke en liefde.  Dit beteken dat die kerk die eredienste sal eerbiedig en in haar verbintenis aan Christus mekaar in die Woord opskerp. 

Wat duidelik uit die Hebreërbrief is, is dat waar die eredienste versuim word, daar vind stagnering in geloof plaas.  Daar veragter die kudde.  Daar is elke skaap individueel kwesbaar en binne bereik van die vyand wat met gemak die enkeling kaf kan draf.

Dit is te verwagte dat waar elkeen maar moet ‘self-sien-kom-klaar’ met wat ek hierdie Sondag gaan maak, daar nie verantwoordbaarheid aan mekaar omdat ons aan God verantwoordbaar is nie, elkeen afsonderlik, individueel my eie geestelike dieet bepaal, los van ‘n Bybelgesentreerde gemeente, dit ‘n fantastiese resep vir chaos is. Boonop versuim ‘n raad van ouderlinge hul plig om na die kudde om te sien as hulle verlief neem met so ‘n situasie (Handelinge 20:20).

Met alle respek aan almal wat bly skerm vir virtuele bediening – ons flous onsself as ons dink dit het enige langtermynpotensiaal.  Om nuut te wil dink oor die kerk en dan daarmee internetbediening te bedoel, is om met alle deernis en nederigheid – vir elke individu te sê: Jy is op jou eie.  Dit is om jou hande in onskuld te wil was, en die wat in hul sondige laksheid verder terugsak, vir die hel agter te laat.

Ons kan nie behoorlik na mekaar omsien – as ons nie mekaar gereeld sien nie.  Ons kan nie mekaar in die geloof bystaan, as ons dit oor die internet moet doen nie.  Ons kan nie op mekaar ag gee as ek op my eie behoeftes fokus nie.

Nadat daar nou ‘n afkondiging is wat ‘n beperking stel op die hoeveelheid mense wat by ‘n samekoms kan opdaag, is daar opnuut debat ontketen.

Vir baie blyk dit baie moeite te wees om al die gesondheidsmaatreëls in plek te kry, en ander voel dit sou koue pligpleging wees om nou met dienste te hervat. Gelukkig is daar diegene wat ‘n hunkering na die samekomste het. 

Behoede ons egter dat Covid-19 die liggaam sal verdeel. 

Die probleem is net: wanneer ons in die kerk aan Christus se woorde dink: “Wie agter My wil aankom moet homself verloën, sy kruis opneem en My volg…” dan wil ons dit al te dikwels met groot goed identifiseer – vervolging, swaarkry, finansies ens.  Maar nie Coronavirus nie. Asof die koste dan te hoog, een treë te ver, een trappie te hoog is.  Die kosteberekening is gedoen en ons kan nie. Nie nou nie.  (Ek het my bedenkinge oor of die regering ‘n beperking mag plaas op die samekomste, maar dit vir eers daar gelaat).

Ons moet in ons ‘eietydse denke’ oor die kerk, raaksien dat die Coronavirus bepaalde foute in ons denke rakende die kerk ontbloot het.  Die virtuele bediening is van meet af op die individu gerig en bevorder nie gemeenskaplike groei nie, maar verbruikersmentaliteit waar die ‘geestelike produkte’ van verskillende gemeentes teen mekaar afgespeel word.

Dus:

  • Samekomste behoort so gou moontlik te hervat, ter wille van die groei van die liggaam.
  • Kerkrade behoort met bekwame spoed ‘n dokument saam te stel en openbaar te maak, waarin hul belydenis rakende hierdie sake klinkklaar gestel word.  Op plaaslike vlak behoort elke kerkraad met die gemeentes van ander kerkgenootskappe gesprek te voer en saam getuienis te lewer aan die owerhede op plaaslike gebied.
  • Ouderlinge behoort in gehoorsaamheid hulle regeertaak met ywer en erns te hervat – dit beteken o.a. pligsgetroue huisbesoeke des te meer in hierdie onsekere tyd.
  • Diakonieë moet ywerig hul lidmate besoek en na die welstand van die lidmate navraag doen.  Waar daar moontlik in hierdie tyd besondere nood kan ontstaan is dit dalk ‘n goeie idee vir diakonieë om saam te dink oor hoe die uitdagings aangepak kan word.
  • Die lidmate moet opnuut van hul gawes bewus gemaak word en op hul eie roeping om met hul medegelowiges gewys word.  Die belangrikheid van die woordjie ‘mekaar’ moet vir ons in hierdie individualistiese tyd weer vooropgestel word.

Net ‘n opregte vraag:  Gaan ons wag vir ‘n inenting- want die ramings is dat dit vir 18 maande tot twee jaar by ons kan wees, of tot die geskatte 45 000 dood is totdat ons gehoorsaam word?

One Comment

  1. Johan Hanekom Johan Hanekom

    Ek ondersteun ds. Jan-Louis Lee volkome.
    My kommentaar se opskrif:
    Grendelstaat – Coronavirus ʼn Gerieflike verskoning?
    Ek lees u skrywe uit n voor – tydens en na die grendelstaat uitkyk. Soos u inleiding van u skrywe was ons almal net so opgewonde oor die virtuele verkondiging van die woord. Baie het sekerlik soos ek triomfantlik gevoel dat niks die verkondiging van God se woord kan stuit nie – dankie tog vir die moderne tegnologie.
    Soos die tyd egter aangestap het, het die ontnugtering ingetree. Eers het almal gepraat oor die verdoemende gevolg van die virus, oor wie gaan dit oorleef of nie, daarna die impak op die wêreld en ons land se ekonomie. Hierna die een na die ander geklike konflik tussen die regering, politieke partye, besighede, groepe en instansies. Opgeblaas deur die media en myns insiens lankal nie meer oor die virus nie, maar ʼn behepte magsvertoon. Deur alles heen was die kerk se stem stil. Die wat van my verskil en sê dat daar was wel geluide was, wel, was dit nie hard en duidelik genoeg nie. In Grendelstaat 5 het ons die reëls gelate aanvaar. Grendelstaat 4 gemor toe die Regering inmeng met barmhartigheids werk en ge-opper dat die Kerk mos ʼn noodsaaklike diens is. Planne is gemaak maar nie aksies geneem nie. Ons het met versugting uitgesien na Grendelstaat 3 onder die indruk dat die Regering vanselfsprekend die Kerk sal toelaat om met verrigtinge (met beperkings) voort te gaan. Helaas nie. Eers nadat verskeie gelowe ʼn versoek aan die regering gerig het, het die President nadat hy die Moslems om verskoning gevra en vir die ongerief wat hul moet verduur n paar krummels onder die tafel ingegooi. Dit was asof die regering half verbaas was en gedink het: Waarom kerm julle so? Julle het mos die internet en virtuele geriewe. Wel as ek kerm, kerm ek Ps. 42 in sy geheel maar vernaam vers 5. As ek my lewe voor my laat verbygaan, dink ek daaraan hoe ek opgetrek het na die woonplek van God. Voor ʼn skare uit, na sy huis toe geloop het met gejuig en lofsang- n skare wat feesvier.
    In kommentaar van u 5 voorstelle aan die einde van u skrywe:
    Ek hoop werklik dat elke leser die kern en erns van die vyf punte sal insien. Behalwe dat elkeen afsonderlik virtuele dienste se geldigheid van die tafel afvee is dit gesamentlik die gom wat gemeentes bymekaar hou.
    Ek praat as ouderling wat voor die grendelstaat weet hoe moeilik dit is om sommige gemeentelede by die kerk te kry, betrokke te wees en huisbesoek te doen, willens en wetens dat dit ʼn ergernis vir sommige lidmate is. Die ontsteltenis van hoe argloos party lidmate en selfs party kerkraadslede teenoor die toe-deur beleid staan en erger nog die virtuele dienste promoveer. Dit is een van die pligte van die kerkraad om toe te sien dat die gemeente eredienste bywoon. Hoe sal ons die begeerte by lidmate kweek oor die internet of telefoon? Dit is nie net die herders van gemeentes wat die euwel moet beveg nie. Elke gelowige moet hom daarvoor beywer, veral moet kerkrade predikante se hand sterk in die geveg deur eensgesinde gehoorsaamheid aan hul roepings. Almal praat oor die onherstelbare skade aan die ekonomie wat deur die grendelstaat teweeg gebring word. Hoe groot is die skade aan die Kerk? Onherstelbaar? Ek glo dit nie. Opdraande wel. Hoe groot die opdraand is word bepaal deur tyd wat dit gaan vat om vas te trap en ons te laat geld.
    Waar begin mens? Vanaf hierdie platform? Is daar voorstelle?
    Groete.
    Johan

Lewer Kommentaar

This site uses Akismet to reduce spam. Learn how your comment data is processed.