Press "Enter" to skip to content

Die Huwelik (6): Geslagskwessies

“Ons glo en bely dat God die huwelik slegs ingestel het tussen een man en een vrou.”

Hierdie is die laaste episode in die reeks oor die huwelik. Die tema van die episode is “geslagskwessies”, met ‘n fokus op homoseksualiteit. Lees gerus deur die “minuut-merkers” hier onder vir ‘n oorsig oor die episode.

Minuut-merkers:

6:40  Hoe word geslag bepaal volgens die Skrif?

7:24  Verskil tussen geslag en gender

10:20 Identiteitskrisis na die sondeval

14:55 Wat sê die Skrif oor homoseksualiteit?

16:55 Jesus praat dan nooit self teen homoseksualiteit nie…?

22:23 Is homoseksualiteit die “ergste” sonde wat daar is? Wat maak hierdie sonde anders?

26:30 Is homoseksuele mense welkom in die kerk? Hoe help ons iemand wat hiermee sukkel?

30:03 Word ‘n mens so gebore? Is daar ‘n homoseksuele-geen?

 

10 Comments

  1. Louis Louis

    Beste Marnix

    Baie dankie vir ‘n mooi, bemoedigende antwoord, wat ‘n meer gebalanseerde perspektief op die saak gee. Ek kan nie help om medelye te he met mense wat regtig met hul geslagsidentifikasie sukkel nie (ek gaan nie verder daarop ingaan nie, en volstaan met wat ek geskryf het). Soms kan ons onnadenkend mense seermaak deur nie fyn genoeg onderskeid te tref wanneer ons praat nie. Veral wanneer dit oor sake gaan wat baie privaat is en wat ons liewer onder vyeblare bedek.

    Dankie vir jul mooi, opbouende werk.

  2. Louis,

    Dit is duidelik dat jy goeie navorsing gedoen het oor die verskeie geslagsafwykings en a-tipiese geslagsdifferensiasie (soos jy dit self noem). Ek gee graag ’n paar gedagtes van my kant af:

    1) Ek lei uit jou kommentaar af, dat jou vrae hoofsaaklik gaan oor intersex (=engels)-gevalle en die versoening daarvan met die Bybelse swart-wit kategorieë van man en vrou. Ek betwis nie die verskynsel van biologiese geslagsafwykings en differensiasies nie. Bv. hermafroditisme kom voor, hoewel dit nie die norm is nie. (Miskien wil ek hier op die kantlyn ook noem, dat ons nie iets wat abnormaal is moet verhef tot die normale nie. Ons moet ingedagte hou dat die norm binêre geslagtelikheid is: man en vrou). By intersex-verskynsels is dit waarskynlik wys om te wag dat die babatjie eers ouer word, sodat hy/sy self besluite kan neem oor sy geslag. Hy/sy moet dan (verkieslik met raad en bystand van ander) ’n besluit neem oor watter geslag hy hom-/haarself (intern/psigies) voel. Geslag word deur jou chromosome bepaal en by die verskyning van bv. hermafroditisme is daar wel ’n “interne” geslagtelikheid (man/vrou), maar daar is ’n eksterne afwyking. Iemand wat gebore word met ’n bepaalde geslagsafwyking kan gewoonlik mettertyd identifiseer met of man of vrou. Ons lewe in ’n gevalle wêreld en die bewyse daarvan is oraloor: selfs aan ons eie liggame. A-tipiese geslagsdifferensiasie is ’n bewys hiervan (nie weens die persoon se eie sonde of die sonde van sy ouers nie, maar die sondeval – sien in die verband Johannes 9).

    2) Die probleem rondom a-tipiese geslagsdifferensiasie was nie die fokus van ons gesprek nie en daarom dink ek ervaar jy ook dat ons onvoldoende antwoorde op die gebied gee. Die doel van ons episode was die sg. LGBTQ – agenda, wat al hoe meer te voorskyn kom en as die nuwe norm aanvaar word. Met “LGBTQ-agenda” bedoel ek, soos ons op die episode sê, die idee dat biologiese geslagtelikheid geskei kan en moet word van jou subjektiewe gender of “geslagservaring”. Jou goeie wetenskaplike navorsing dui aan dat daar biologiese afwykings kan wees, maar jy bevestig juis die feit, dat geslagtelikheid deur jou chromosome (anatomie) bepaal word. Waar daar ’n afwyking in jou XX, XY-chromosome is bring dit juis verwarring oor jou geslag. Die LGBTQ-agenda is nie soseer gebasseer op biologiese of anatomiese afwykings nie, maar hulle propageer ’n leefstyl van (soos die Bybel dit noem) porneia en voer aan dat alle vorme van seksualiteit reg en goed is en niemand mag met hulle daaroor verskil nie.

    3) Afwykende geslagtelikheid bring nie ’n nuwe geslag tot stand nie. Daar is steeds net twee geslagte, soos die Here dit ook openbaar in Sy Woord: man en vrou. Louis, ek dink ons moet beslis met alle deernis onsself indink hoe moeilik dit moet wees, wanneer iemand met so ’n afwyking gebore word. Ek dink die implikasies en komplikasies daarvan is legio. Ek kan my nie voorstel hoe moeilik dit vir sy/haar ouers moet wees nie. Ek kan my ook nie voorstel hoe moeilik dit vir so ’n persoon moet wees in ’n wêreld soos hierdie nie. Miskien het ons as gelowiges nog nie genoeg aandag aan hierdie probleem gegee nie? Nie genoeg uitgereik en gepraat met hierdie persone wat sulke dinge beleef nie? Dalk was ons vir te lank stil hieroor…mag die Here ons die wysheid gee om hierdie moeilike saak voortaan gehoorsaam aan Sy Woord en liefdevol te hanteer.

    4) Die LGBTQ-agenda gaan nie hoofsaaklik oor intersex-verskynsels nie, maar dit gaan daaroor dat ’n persoon se anatomie (geslagtelikheid) en “gender” geskei moet word, sodat dit hom/haar/hulle vrystaan om hulleself seksueel te oriënteer soos hulle wil en nie soos God hulle gemaak het nie. Ten diepste gaan die LGBTQ-agenda oor rebellie teen God, terwyl iemand wat bv. hermafrodities gebore word, nie daarvoor gekies het nie. Hy/sy is so gebore. Aanhangers van die LGBTQ-agenda wat die sonde van porneia vier, uitleef en aanmoedig leef in sonde.

    5) Persone wat met geslagsafwykings gebore word, is steeds geskape na die beeld van God. Ons identiteit lê nie in ons geslag nie, maar in Christus.

  3. Louis Louis

    Geliefdes in die Here
    Hierdie is ‘n opregte poging om antwoorde op uiters relevante vrae wat tans vuurwarm is, te verkry. Spreuke 27:5 sê “‘n Openlike bestraffing is beter as liefde wat onsigbaar bly.” Ek sal ‘n openbare bestraffing vat, hoewel ek hoop dat julle dit in julle sal vind om te antwoord soos wat hierdie navraag bedoel is: in opregtheid en in liefde.
    Die Scriptura-span was dapper genoeg om toe te tree tot die debat oor geslagtelikheid. Dit is hul standpunt dat daar slegs twee geslagte is. Dit word so uit die Bybel gemotiveer met verwysing na die skepping van Adam en Eva, na die skepping van man en vrou. Dit word gestel dat “die Skrif vir ons sê ‘daar is net een ding soos geslag, jy is óf manlik óf vroulik en … daar is nie ‘n gender of geslagsidentiteit [nie]’.”
    Na my kennis en ervaring is daar ongetwyfeld a-tipiese geslagsdifferensiasie by sommiges (wenk: nie ‘n geslaglose massa nie). Dit staan vas as harde wetenskaplike feit, nie as “psychobabble” nie. Julle kan my vorige kommentare lees, en ook gaan lees oor ander toestande soos androgeen-sensitiwiteit-sindroom. Hoe versoen ons die standpunt van die Scriptura-span met die wetenskaplike feite aangaande biologiese geslag? Eintlik wil ek weet hoe om die Skrif met die wetenskap en my ervaring te versoen.
    By nadere beskouing van die argument van die Scriptura-span, blyk dit dat die debat oor homoseksualiteit julle dwing om ook die idee van a-tipiese geslag te ontken. Nadat die verskil tussen biologiese geslag en geslagsidentiteit verduidelik is, word opgemerk:
    “so dit maak die hele debat rondom homoseksualisme, laat dit klínk asof hier ‘n klomp wetenskaplike redenasie en studie plaasgevind het om nou vir ons te sê dat daar eintlik ‘n verskil is tussen die twee terwyl die Skrif vir ons sê daar is net een ding soos geslag, jy is óf manlik of vroulik en … daar is nie ‘n gender of geslagidentiteit, hierdie sosiale konstrukte wat ons geskep het, is ‘n totale nuwe idee wat ook nie in die Skrif te vinde is nie, en wat ek, om dit reguit te sê, ek dink ons moet dit radikaal verwerp.”
    Ook word gesê:
    “En dit is hoekom ons in die reeks oor die huwelik hieroor praat, want die probleem is, dat sou ons… ‘n vloeibare soort geslag voorstel of toelaat… sou dit vir ons ‘n werklikheid wees, dan verdwyn die bruid en die B/bruidegom, en dan verdwyn die gesin, en dit is ‘n kritiese punt om te sê daar is nét twee geslagte, God het Adam geskep en … hy die twee geslagte … gemaak om soos ‘n legkaart letterlik by mekaar te pas.”
    Daar word dan verwys na ‘n identiteitskrisis en daar word gesê dat die wêreld ‘n absolute dryf het om ‘n geslaglose massa te skep, daar moet geen lyne meer wees nie en die wêreld is in ‘n absolute rebellie teen alles van God, van die Woord, en dan word daar gesê dat “die hele identiteitloosheid… identiteitskrisis… is nie deel van hoe God dinge geskep het nie”.
    Dit is duidelik dat julle dit het teen radikales met agendas, maar, in alle liefde en met die grootste respek as medesondaar en klein feilbare mens, vra ek: Is julle nie ook besig om te oorvereenvoudig en swart-en-wit-kategoriserings toe te pas wat moontlik die Skrif geweld aandoen nie? Is die erkenning van a-tipiese geslagsdifferensiasie regtig ‘n rebellie teen God? Is erkenning daarvan dat daar “ontmandes” is wat deur God só geskape is, óf deur mense só gemaak is (Matt 19:12), ‘n rebellie teen die Skrif? Kan ons mense wat nie geredelik in die kategorie van manlik of vroulik tuisgebring kan word nie, hul identiteit in Christus, as skepsel van God, ontsê? Ons kan seermaak, en ons kan baie seermaak as ons ons op God beroep om ons standpunte te onderskryf.
    In Hebreërs 4:12 lees ons:
    Die woord van God is lewend en kragtig. Dit is skerper as enige swaard met twee snykante en dring deur selfs tot die skeiding van siel en gees en van gewrigte en murg. Dit beoordeel die bedoelings en gedagtes van die hart.
    Hoewel die Gees in ons werk, is ons met sonde bevlek. Die tweede deel van die antwoord op Vraag 70 van die Heidelbergse Kategismes sê dat, om met die bloed en Gees van Christus gewas te wees, beteken “… om deur die Heilige Gees vernuwe en as lede van Christus geheilig te wees sodat ons die sonde hoe langer hoe meer afsterwe en godvresend en onbesproke lewe.” Ons sit nog met ‘n siel met ‘n klomp sosiokulturele bagasie. Dit is bitter moeilik om te onderskei tussen die dinge wat ons weens ons sosio-kulturele agtergrond, opvoeding of individuele vooroordele en voorkeure onaanvaarbaar vind en dít wat die Gees van ons verwag. En tog word ons daarvan verseker dat God se woord só skerp is dat dit tussen siel en gees kan indring. Om ons self te ondersoek in die lig van die Skrif is fyn werk. Dit is, by wyse van spreuke, neurochirurgie (“tussen gewrigte en murg”). Dit is doenbaar, mits ons ook die bedoelings en gedagtes van ons harte in die lig van die Skrif ondersoek. Soos met die strandvastige hand van ‘n goeie chirurg. Nie wild en wakker nie.
    Die gedeelte uit Hebreërs 4 wat hierbo aangehaal is, vervolg só (vers 13).
    Daar is ook niks in die skepping wat vir God onsigbaar is nie; alles lê oop en bloot voor sy oë. En aan Hom moet ons rekenskap gee.
    Dit herinner ons dat ons aan God gaan rekenskap gee van dit wat oop en bloot voor sy oë lê. Moet ons, mag ons ons oë sluit vir ‘n deel van sy skepping wat oop en bloot voor ons oë lê?

  4. Louis Louis

    Die liefde is geduldig…

  5. Aleksjander Aleksjander

    Diversiteit op álle gebiede is onbetwisbaar, maar dit wil voorkom of God nie voel Hy moet voorsiening maak daarvoor nie. Neem die aggressie kontinuum. Soveel mense op die aarde soveel vlakke van aggressie. Ook so gebore of so gemaak (die nature /nurture debat). Maar God sê nie díe een mag soveel slaan, of liggies moor en daardie een soveel nie. Net : jy mag nie doodslaan nie. Dieselfde met die begerigheid kontinuum. Hierdie een mag nie meer steel as daardie een omdat hy dalk ‘n geen van jaloersheid gekry het, of armer is, of selfs honger nie. Of ‘n enkel ma met sewe kinders nie. Nee :jy mag nie steel nie.
    Wat wel waar is is God se liefde oordek alles, bedek alles.

  6. André Coetzee André Coetzee

    Wat is normaliteit? Meeste kondisies loop op ‘n Bell kurwe. Van waansinnig kranksinnig aan een kant tot meedoënloos normaal aan die ander kant met’ normaal’erens in die middel, en die grense skuif soos wat die definisies verskil. Dieselfde met intelligensie. Van klipdom tot supergeniaal, albei met hulle eiesoortig probleme. Nie noodwendig makliker vir die slimme as die domme nie.
    Daars mense wat sonder arms en bene gebore word en ander met spina bifuda….. Maar dis die uitsonderings. Seksualiteit en gender is dieselfde. Maar (een) man en (een) vrou is die norm. Of nie?
    Aleksjander

  7. Louis Louis

    Ek verstaan die Scriptura-span “poog om soveel moontlik interaksie met [hul] lesers en luisteraars te hê”. My vorige kommentaar was dalk ‘n bietjie te langdradig om interaksie te bewerkstellig. Kom ek probeer weer. Die hele reeks oor die huwelik is boeiend en, soos al die ander bydraes, baie relevant. Soos julle self sê is die onderwerp van “Geslagtelikheid” ‘n warm een en een wat wêreldwyd belangriker raak. Die wêreld volg hierdie debat met arendsoë. Daar is sekerlik radikale elemente met bedenklike agendas, maar om geloofwaardigheid te behou en die liefde van Christus uit te straal, moet ons nugter bly en die feite in die oë kyk terwyl ons biddend na antwoorde uit die Skrif soek.
    Soos in my vorige kommentaar verduidelik, is die voorkoms van a-tipiese geslagtelikheid ‘n voldonge feit. Daar is bv mense wat as dogtertjies grootgemaak word oor hulle soos dogtertjies lyk, maar wat eintlik biologies manlik is. Niemand verstaan waarom hulle ongelukkig is in daardie rol nie. Later, met puberteit, ontwikkel hulle sekondêre manlike eienskappe omdat hulle liggame manlike hormone vervaardig in lyn met hul biologiese geslag. Hulle ware biologiese geslag word dan ontdek. Die konsep van gender verduidelik dan waarom “sy” altyd ongemaklik gevoel het in “haar” rol as “vrou” omdat “sy” eintlik biologies ‘n man is, “haar” brein soos ‘n man s’n ontwikkel het, “haar” liggaam nou manlike hormone voortbring, ens. Wat sê jy dan, uit die Skrif, vir so ‘n persoon? Of vir sy ouers?
    So is daar mense wat tweeslagtig is. Kan jy werklik vir die ouer van so ‘n kindjie sê “jy is óf manlik óf vroulik”? Moet so ‘n kind en sy/haar geliefdes dan aflei dat aangesien God die mens as Adam en Eva gemaak het, hulle nie deur God geskape is nie? In Mattheus 19:12 lees ons: “Daar is mense wat nie kan trou nie omdat hulle van hulle geboorte af so is, ander is deur mense so gemaak, en ander het self so gekies ter wille van die koninkryk van die hemel. Wie dit kan doen, laat hy dit doen.” Die grondteks praat van sulke mense as “ontmandes”, “eunugs”. Dit kan duidelik nie bloot letterlik bedoel gewees het nie, want iemand soos Paulus wat ter wille van die koninkryk van die hemel gekies het om nie te trou nie, het homself tog nie kastreer nie. Is dit nie ‘n erkenning deur Jesus self dat daar mense met a-tipiese geslag is nie? Het Jesus nie in die vorige verse miskien eerder na die norm verwys, en in vers 12 na die uitsonderings nie? Wie is ons om rigied te wees wanneer Jesus uitsonderings maak?
    In die program oor enkellopendes word baie duidelik begrip en simpatie vir die besondere besorgdhede en probleme van enkellopendes uitgelig. Moet ‘n mens nie ook jouself probeer indink in die intense beproewing wat mense beleef wat nie geredelik onder die norm van óf manlik, óf vroulik inpas nie? Moet ons soos die wêreld met hulle spot en hulle laat hang in die niemandsland tussen hemel en aarde, as mense wat nie deur God geskape is nie, en wat geen skrifgefundeerde identiteit het nie? Moet ons gewoon kies: Óf om hulle soos die wêreld met vooroordele te vervloek, óf om ons by dié met radikale agendas te skaar en ‘n soort geslagteloosheid voor te staan? Mag ons ontken dat hulle bestaan? Soos Elie Wiesel eenmaal opgemerk het: “the opposite of love is not hate, but indifference; for at a minimum, to love or hate someone is to have intense emotions toward them.”

  8. Louis Louis

    Eerstens wil ek julle bedank vir die bespreking van ‘n baie netelige saak. Dit is jammer dat die kerk dikwels laat toetree tot die bespreking van aangeleenthede waaroor leiding noodsaaklik is. Nuwe idees onstaan weens leemtes in die oues, die wêreld gee antwoorde, die pendulum swaai wild, en die kerk antwoord reaktief. Die benoudheid oor die radikale rigting waarin die openbare debat gaan, maak dit maklik vir ons om nie met die nodige verantwoordelikheid te werk te gaan en gesonde oordeel aan die dag te lê nie. Om die mens te veroordeel. Om liefdeloos te wees, of om liefdeloos oor te kom.
    Alles wat ek hier skryf, skryf ek onder die besef van hoe feilbaar ons as mense is en hoe ons slegs deur die genade tot enige goed instaat is. As my woorde oorkom as kritiek, weet dat ek intens bewus is van die feilbaarheid van my interpretasies, van die gebrek aan perspektief wat ek weens my beperkte blootstelling aan ‘n veelfasettige saak het, en van hoe maklik dit is om verwarring te saai of ander met my woorde seer te maak. Ons lewe, nuutgemaak deur God, is egter nie doelloos nie. Ons word aan ervarings onderwerp om daaruit te leer, en, as kroon van die skepping is ons die vermoë gegee om te kommunikeer; Ons hoef nie almal deur dieselfde smeltkroes te gaan om wyser te word nie, maar kan uit ander se ervarings leer deur die gawe van kommunikasie. Binne die raamwerk van God se Woord, en as Christus se enkele liggaam. Om te swyg wanneer jy moet praat is potensieel net so skadelik as om jou oorhaastig tot veralgemenings en maklike resepte te wend. Die troos vir ‘n gelowige is egter dat God self ons swakhede met sy liefde bedek sodat ons saam in diepe nederigheid voor Hom staan en vra vir sy leiding. Voortdurend. Ons kan nooit ophou soek nie, juis weens ons sondige aard. So kan daar in ons oorvereenvoudigings en swart-en-wit kategoriserings ook sondigheid skuil. Wanneer ‘n opvatting baie diep in ‘n gemeenskap se psige nesgeskop het — ‘n gemeenskap wat histories sigself as ‘n Christelike gemeenskap beskou het – en ongemak met aspekte van die opvatting groei weens veranderende werklikheid/kennis/ervaring, kan dit besonder uitdagend wees om die beginsel van die aanpaksels te skei. Om die melodie tussen al die geraas te hoor. Enige idee, enige goeie idee, kan in mensehande verwring word, hare groei, stertjies bykry en op die ou end ‘n monster word. Terwyl daar ongetwyfeld ‘n sekere orde in die skepping is wat deur God daargestel is, moet ons nie die gesofistikeerdheid van die moderne mens se geleefde, verwikkelde werklikheid en kennis ontken of miskyk nie. Die moderne wêreld is ‘n veel meer gekompliseerde plek, maar nooit te gekompliseerd vir Hom wat dit alles gemaak het nie. Ou geykte waarhede soos deur die kerk (en die samelewing) verkondig, kan ook met sonde bevlek wees. Om werklik betekenisvol by te dra tot enige eietydse debat is ernstige introspeksie nodig. Soveel van ons opvattinge oor geslagtelikheid is oorvereenvoudig. Alle wetenskap staan in diens van God, en alle valse “wetenskap” sal mettertyd aan die kaak gestel word. Daaroor kan ons rustig wees.
    Dit is ‘n feit dat meeste mense biologies óf manlik óf vroulik is. Ons moderne beskouing van biologiese geslag berus op chromosoomsamestelling. Ons het 23 pare chromosome. Van hierdie pare lyk 22, die sogenaamde outosomale chromosome, dieselfde by ‘n vrou of ‘n man. Die 23ste paar is die geslagschromosome. As jy twee X-chromosome het, is jy biologies vroulik, en as jy een X- en een Y-chromosoom het, is jy biologies manlik. So maklik soos dit. Vir meeste mense, ja. Maar dit was nog nooit so maklik vir almal nie. Chromosomale mutasies van die geslagschromosome is algemeen. Turnersindroom is die gevolg van monosomie van die X-chromosoom (45X). In plaas van twee X-chromosome of ‘n X- en Y-chromosoom, het so ‘n persoon slegs een X-chromosoom. Die sindroom word gekenmerk aan ‘n steriele vroulike fenotipe, kort van gestalte met ‘n velweb tussen die nek en die skouers. ‘n Persoon met Klinefeltersindroom, weer, beskik oor twee X-chromosome en ‘n Y-chromosoom (XXY). So ‘n persoon het dus al die geslagschromosome vir ‘n man en ‘n vrou. Die sindroom word gekenmerk aan ‘n steriele manlike fenotipe en ‘n lang en skraal liggaam met borsontwikkeling.
    Voordat die mens van chromosome geweet het, is daar oor geslag geoordeel deur op die waarneembare, uitwendige geslagsorgane te let. (Trouens, wie van ons dring hedendaags aan op chromosoonanalise om te weet of ons telg ‘n seuntjie of ‘n dogtertjie is?) As die baba ‘n penis het, is dit ‘n seuntjie, en as die baba ‘n vagina het, is dit ‘n dogtertjie. So eenvoudig soos dit. Maar baie dinge kan a-tipies verloop wanneer die kind in die moederskoot saamgeweef word. Trouens, ons het baie geleer oor die impak van biologiese geslagsdifferensiasie op die geslagsidentiteit van die mens deur a-tipiese geslagsdifferensiasie te bestudeer.
    Tydens ‘n swangerskap kan geslagshormoonafwykings, genetiese afwykings of blootstelling van die fetus aan sekere hormone van die moeder tot a-tipiese geslagsdifferensiasie lei. Om maar een voorbeeld te noem: 5-α-reduktase-gebrek. Hierdie gebrek beïnvloed die manlike ontwikkeling voor geboorte en tydens puberteit. ‘n Persoon met hierdie gebrek is biologies manlik, aangesien ‘n X- en ‘n Y-chromosoom in elke sel teenwoordig is. Hulle het ook manlike gonades, naamlik testes. Wanneer biologiese geslagsdifferensiasie in utero plaasvind, speel hormone ‘n baie belangrike rol. By die ontwikkeling van die manlike geslagsorgane speel dihidrotestosteroon ‘n deurslaggewende rol. Indien daar op die kritieke tydstip tydens swangerskap te min dihidrotestosteroon aanwesig is, word die voorgeboortelike vorming van die manlike geslagsorgane in die wiele gery. Individue met 5-α-reduktase-gebrek produseer te min dihidrotestosteroon. By geboorte lyk die uitwendige geslagsorgane van hierdie individue dikwels soos dié van ‘n vrou. Tussen 80 en 99% van hierdie individue se testes het nie deur die inguinale kanaal neergedaal om hul normale plek in die skrotum in te neem nie. Dit is dus nie uiterlik waarneembaar nie. In ander gevalle kan die geslagsorgane nie duidelik geëien word as manlik of vroulik nie. Soms lyk dit asof die persoon net ‘n besondere klein penis het (mikropenis) met die opening van die uretra aan die onderkant van die penis. Meeste kinders met hierdie gebrek word grootgemaak as dogtertjies, ofskoon hulle biologies manlik is. Wanneer puberteit aanbreek, is daar ‘n verhoging in manlike geslagshormone en ontwikkel die kind dan sekere manlike sekondêre geslagseienskappe soos ‘n diep stem en gespierdheid en die vergroting van die penis. Hulle begin nooit menstrueer nie. Hulle het nie noodwendig baie liggaamshare of ‘n baard nie. Stel jou voor deur watter soort sielewroeging en pyn so ‘n mens tydens puberteit moet gaan, veral as die persoon as ‘n dogtertjie grootgemaak is. Van kleins af word “sy” vertel dat sy ‘n dogtertjie is, word daardie rol vir haar voorgehou, word daar van haar verwag om te konformeer om ‘n rol aan te neem wat vir haar moontlik heeltemal onnatuurlik voel. Daar is heelparty bekende persoonlikhede op die vroue sportarena met hierdie toestand. En dan is daar nog die rare toestand van werklike tweeslagtigheid: persone wat gebore word met weefsel van albei geslagte se gonades (testes en eierstokke).
    En nou het ek nog net gepraat oor biologiese geslag. Kan ons werklik sê, selfs al gaan dit slegs oor die mins omstrede omskrywing van geslag, naamlik biologiese geslag, dat daar net twee geslagte is? En dat God net twee geslagte geskape het. En dat almal daarby inval? Tot watter mate is die geslagsrolle wat die Skrif vir ons neerlê te versoen met die steriotipe verwagtinge wat ons as gemeenskap aan die twee tipiese geslagte koppel? Net soos wat ons nie dit wat duidelik indruis teen die geopenbaarde Wil van God moet goedpraat nie, moet ons nie die diversiteit wat God geskape het, minag nie, en moet ons baie versigtig wees om nie ons eie, mensgemaakte konstrukte aan ander op te dwing as komende van God nie.

  9. Hendrik Hendrik

    Baie dankie vir ‘n baie TYDIGE hulpmiddel. Seën en sterkte

    • Marnix Boersema Marnix Boersema

      Baie dankie vir jou terugvoer, Hendrik – ons waardeer dit!

Comments are closed.

WhatsApp WhatsApp
%d bloggers like this: