Press "Enter" to skip to content

Is dit werklik hoe Dopperkerke ‘n verskil maak en wil maak?

Repliek op opmerkings van ds. Charl van Rooy in ‘n artikel van Netwerk24

Dit was met groot opgewondenheid wat ek die artikel “Dis hoe Dopperkerke ‘n verskil maak en wil maak” van Vrydag 6 Januarie 2023 op my Netwerk24-toep raakgesien en begin lees het. Hierdie opgewondenheid was ongelukkig van korte duur en is vervang met ‘n diepe kommer. ‘n Kommer omdat die verskil wat Dopperkerke maak en kan maak, volgens ds. Charl van Rooy in die verwerping van dit wat ons as gereformeerdes nog al die jare glo en bely op grond van God se Woord, lê. 

Lesers kan dalk vra waarom ek nie die saak persoonlik met ds. Van Rooy opneem nie. Waarom op ‘n openbare platvorm antwoord? Waarom nie die weg van Matteus 18 volg nie? Sou ds. Van Rooy se opmerkings in ‘n persoonlike gesprek teenoor my gemaak word, sou ek dit persoonlik met hom uitgeklaar het. Ds. Van Rooy se opmerkings is nie in ‘n persoonlike gesprek gemaak nie, maar op ‘n openbare platvorm. Sy opmerkings is opmerkings wat aan die groot klok gehang is. Die openbare opmerkings vereis ‘n openbare antwoord.

Die moontlikheid bestaan dat ds. Van Rooy verkeerd aangehaal is. Tog het daar reeds ‘n hele paar dae na die publisering van die artikel verbygegaan, sonder enige verklaring van ds. Van Rooy se kant af dat hy enigsins verkeerd aangehaal is.

Met hierdie skrywe gaan ek nie op elke punt van die artikel ingaan nie. Ek wil graag in hierdie skrywe op twee sake uit die artikel fokus, nl. die uitsprake gemaak oor vroue in die amp van ouderling/predikant (VIDA) en uitsprake gemaak oor God se soewereiniteit en voorsienigheid.

Die GKSA stap al ‘n baie lang pad met die VIDA-saak (langer as 30 jaar). ‘n Lang pad omdat ons in ons manier van doen, ruimte laat om die lig van die Woord van God te laat skyn op sake, en mekaar vanuit die Woord van God oor sekere sake te oortuig. In al die jare wat die GKSA oor VIDA gepraat het, het die GKSA nog altyd by die belydenis gebly dat God net sekere mans roep om in die amp van ouderling/predikant te dien. Ja, daar is sommige wat nie saamstem nie, maar hulle kon nog nie op grond van die Skrif duidelik wys dat vroue wel in die amp van ouderling/predikant mag staan nie, terwyl die roeping van bekwame manne duidelik geleer word in die Woord van God.

Ek maak ‘n punt daarvan om dit te noem, aangesien die artikel sê: “Van Rooy meen die kerke wat teen die vrou in die amp gekant is, is in die minderheid. As al die gemeentes sitting in die algemene sinode gehad het – wat hy sê met ‘n digitale sitting moontlik is – ‘het ons lankal vroue in die amp gehad.’”

Tog het al die gemeentes “sitting” in die Sinode, aangesien ‘n gemeente na die klassis toe afvaardig, die klassis na die streeksinode en die streeksinode na die Sinode. Op hierdie manier neem die kerke dan almal saam besluite volgens die Skrif, gereformeerde belydenisse en -kerkreg. Die kerke wat saam vergader oor die VIDA-saak het ook elke keer tot die duidelike gevolgtrekking gekom dat God nie vroue in die amp van ouderling/predikant wil hê nie. 

Verder laat ds. Van Rooy dit klink of die VIDA-saak eenvoudig oor meerderheid van stemme gaan. As die meerderheid ten gunste van iets is, moet dit gebeur. Iemand wat al bietjie dieper gedink en gelees het oor die saak vanuit ‘n gereformeerde oogpunt, sal besef dat ons nie hier met ‘n meerderheidssaak te doen het nie, of selfs ‘n saak waarin elke gemeente vryheid het om te doen wat hulle wil nie, maar ‘n saak van gehoorsaamheid aan die Woord van God. Wat sê God in sy Woord oor VIDA? Die stem van die meerderheid is nie noodwendig die stem van God nie. God het Homself duidelik in sy Woord geopenbaar.

Dopperkerke gaan nie ‘n verskil maak deur weg te beweeg van die gesag van die Woord nie. Of mense hierdie gesag nou aanvaar of nie. Dopperkerke gaan ‘n verskil maak deur in ‘n donker wêreld by die waarheid van die Woord te hou in alle sake.

Dit gaan die natuurlike gevolg hê dat ons nie baie gewild in die wêreld gaan wees nie. Dit gaan die natuurlike gevolg hê dat ons nie deur die tydsgees meegesleur gaan word nie, maar daarteen gaan stelling in neem. Dit gaan die natuurlike gevolg hê dat ons by tye alleen sal staan teen ‘n oormag. In hierdie donker wêreld het mense die lig van die Woord nodig. Hoe gaan ‘n kerk ‘n verskil maak deur die lig van die Woord te demp, eerder as om dit te laat skyn?

Dit is op hierdie punt wat die twee sake wat ek graag in hierdie skrywe aanraak, bymekaar kom. Deur dit te laat klink asof God nie oor alles regeer nie, is ʼn mens ook besig om die lig van die Woord te demp.

Ds. Van Rooy meen dat ons God se betrokkenheid by die wêreld verkeerd verstaan. “Dis die ontnugtering van die ouens: Hulle het grootgeword met die teologie van dit is God wat al hierdie slegte goed laat gebeur, en dan sê mense: Maar ek wil nie in so ‘n god glo nie. Ek stem vir geen oomblik daarmee saam dat God die een is wat Covid gestuur het, of wat ‘n oorlog of een of ander ellende laat gebeur nie.”

Sy woorde klink baie mooi en amper troosryk. Maar as mens bietjie daaroor gaan dink, besef mens hoe troosteloos ‘n wêreld is waar God nie oor alles regeer nie. Doen ʼn mens nie afbreek aan God se almag deur te sê dat daar sekere dinge is wat nie van Hom af kom nie?

Dink bv. aan ‘n gedeelte soos Habakuk 3. In vers 5 staan (2020-vertaling): “Voor Hom loop pessiektes, op sy spore volg plae.” In Habakuk 3 word dit duidelik gemaak dat die Here oor die volke en die skepping regeer. 

Dink bv. ook aan ‘n gedeelte soos Eksodus 12 wat oor die 10de plaag gaan waarmee die Here die Egiptenare getref het. In vers 12 staan: “Ek sal daardie nag deur Egipteland gaan en alle eersgeborenes in Egipteland tref, mens en dier. Oor al die gode van Egipte sal Ek oordele voltrek. Ek is die HERE.” Dit is God wat die plae gestuur het.

Ds. Van Rooy verwys na Matteus 10:29 en verkies die 2020-vertaling wat sê: “sonder julle Vader”, teenoor die lesing van die 1983-vertaling wat sê: “Sonder die wil van julle Vader”. Sê dit nie maar dieselfde ding nie? Ds. Van Rooy se verklaring laat dit klink asof God nie regeer nie, maar wanneer iets gebeur, kan Hy daarop reageer.

God openbaar Homself in die Woord as die God wat geskep het en steeds onderhou, dus dat Hy voorsien.

Oor God se voorsienigheid bely Doppers, op grond van die Woord, in Sondag 10 van die Heidelbergse Kategismus: “Wat verstaan jy onder die voorsienigheid van God?” Antwoord: “Dat die almagtige en oralteenwoordige krag van God waardeur Hy hemel en aarde en al die skepsels asof met sy hand nog onderhou en so regeer dat lower en gras, reën en droogte, vrugbare en onvrugbare jare, voedsel en drank, gesondheid en siekte, rykdom en armoede en alles ons nie per toeval nie, maar uit sy Vaderhand toekom.”

God se voorsienigheid maak Hom nie die Outeur van die sonde en die kwaad nie, maar dit maak dit duidelik dat Hy ook daaroor regeer. Dit verras Hom nie.

Deur te sê dat God nie Covid of ‘n oorlog of ander ellende laat gebeur nie, sê ds. Van Rooy daar is dinge waaroor God nie regeer nie. Dinge waaraan Hy nie iets kan doen nie. Dat daar sekere sake is wat buite-om God se almag gebeur. Maar darem kan Hy ons troos wanneer dit gebeur. Inderwaarheid verwerp hy God se voorsienigheid en almag. Hy ontken God soos Hy Homself in Sy Woord aan ons openbaar.

Die GKSA gaan nie ‘n verskil maak deur die lig van God se Woord te demp nie. Die GKSA gaan nie ‘n verskil maak deur besluite te neem op grond van die tydsgees en nie op grond van God se Woord nie. Die GKSA gaan nie ‘n verskil maak deur God se almag en soewereiniteit te bevraagteken en Hom ‘n “gemaklike” en “aantreklike” God vir die wêreld te maak nie. Die GKSA gaan dalk meer gewild in die wêreld met hierdie dinge wees; daar mag dalk selfs ʼn groot oplewing in lidmaatgetalle wees, maar die GKSA gaan dan nie meer die naam kerk kan dra nie.

Ek hoop van harte dat ds. Van Rooy verkeerd aangehaal is in die artikel. Indien hy wel akkuraat aangehaal is, het hy ‘n streep deur sy bevestigingsformulier getrek. Sê hy nie eintlik dat die “Dopperkerke” ‘n verskil sal maak deur nie meer God se Woord as hoogste gesag te aanvaar nie, deur nie meer gereformeerd te wees nie en deur nie meer gehoorsame kerk te wees nie?

As die Here se kerk is ons geroep om in die lig van sy Woord te leef en om die lig van sy Woord in ‘n donker wêreld tot sy eer te laat skyn. Wanneer ons dit doen, sal die gemeentes van die GKSA ‘n verskil maak. Ons kan dit doen met die troos dat Hy voorsien en oor alles regeer.

Ds. GP van Rhyn
Gereformeerde Kerk Komatipoort

13 Comments

  1. Corrie du Toit Corrie du Toit

    Ek wil ‘n waaskuwing rig aan ons predikante en ander teoloë en kenners.

    Die groot hartseer in hierdie gesprek is, dat as enige kerk/geloof saak aangeroer word, kry ek as leek verskillende antwoorde van teoloë. Selfs binne dieselfde kerkverband.

    Dus ek kan nie die antwoord van ‘n teoloog vertrou nie. En selfs al is ‘n predikant verkeerd sal hy met groot arogansie sy saak uit die Bybel probeer regverdig.

    Voorbeelde:
    VIDA
    Nagmaal – kelkie en beker (Die kruis word later ‘n bysaak)
    Sang – (Groen psalmboek en swart psalmboek )
    Doop – groot vs. klein
    Gay as predikant
    en so kan ek aangaan.
    Kyk ook na sommige beswaarskrifte wat op sinodes dien.

  2. Andries Venter Andries Venter

    Ai Ds. Ek het na baie jare van worsteling en skrifondersoek tot die gevolg trekking gekom dat dit meer gevaarlik is om vir iemand te se “Die Here het die deur in jou gesig toe gemaak” as om dalk te fouteer na die ander kant toe. ek dien nou sowat 4jr saam met 2 susters as ouderling en kan werklik getuig hoe die Vader hulle gawes in Sy kerk gebruik. As ek dan verkeerd is dan is dit ‘n sonde wat teen my sin in my oorgebly het. Ek ken maar net ten dele, sien n raaisel in n spieel. Kan ons mekaar (nie sonde nie) regtig nie verdra nie? Selfs die sinode kon sedert 1988 nog nooit eenstemmigheid kry nie. Is die ‘n saak wat ons saligheid raak? Nee! Belangrik – Ja! maar verseker nie iets waaroor ons die kerk moet skeur of ophou om mekaar te probeer vind nie.

    • Gerrie van Rhyn Gerrie van Rhyn

      Br. Andries, baie dankie vir die saamgesels! Ek stem heeltemal saam dat ons daarteen moet waak om te fouteer. Ons moet seker wees oor wat die Here in sy Woord sê. Ek is van mening dat die Here baie duidelik vir ons in die Woord leiding gee oor VIDA.

      Dit gaan nie oor verdra/nie verdra nie – maar gehoorsaamheid aan die Here se Woord. Ons word tog opgeroep om Hom saam gehoorsaam te dien. Maar liefde beteken dat ons genoeg vir mekaar omgee om die moeilike dinge te sê, saam daaroor te besin en dan berusting te vind by wat God in sy Woord sê.

      En so graag soos ons sou wou gehad het dat God in sy Woord vryheid oor VIDA, dink ek nie dit is die geval nie.

      Oor die stelling oor die sinode wat sedert ’88 nog nooit eenstemmigheid gekry het nie – hoewel dit telkens deur verskillende mense op verskillende maniere by verskillende sinodes op die agenda geplaas is om na die saak te kyk, bly die GKSA se standpunt al die jare steeds dieselfde – al is daar sommige wat daarmee verskil.

      Ek stem heelhartig saam dat die kerk nie moet skeur nie – daarom is dit so belangrik dat ons almal voor die gesag van die Woord buig – ook oor die dinge waarmee ons dit dalk anders sou wou hê as wat die Here dit gee.

      En ja – ons moet altyd in liefde mekaar probeer vind. Maar liefde staan nie los van waarheid nie.

      Weereens dankie.
      Groete daar

    • Petrus Petrus

      Andries,
      Ek stem saam met jou. By ons ook susters as ouderlinge – verrig hul roeping in hierdie verband met groot ywer en getrouheid!

  3. Carel Jansen Carel Jansen

    Ek stem met Gerrie saam oor VIDA en ek verskil van my goeie vriend, Ds v Rooy. Maar bietjie meer gekwalifiseerd. VIDA is nie ‘n saak van belydenis nie. Calvyn in Boek 4 van sy Institusie praat van die Hoofsake van die Geloof en noem hy dan: Dat daar net een God is, dat Jesus Christus Seun van God is, dat daar net een Middelaar tussen God en mens is, “en soortgelyk” (die vertaling “ensovoorts” is nie korrek nie). Net so het die NGB in sy inleiding dieselfde term: Hoofsake van die Geloof/Leer (die Capita Doctrinae). Let dat op in NGB art 31 oor die ampdraers nie die fokus op geslag plaas nie. Immers VIDA kan op geen wyse gelykgestel word met of vergelyk word met die belydenis van Een God (art 1), die Bybel as Woord van God (art 5 – 7) en soortgelyk soos in die NGB bely word nie. Ek is en bly oop vir oortuiging, maar kon tot dusver nie uit die Skrif oortuig word vir vrou in die amp van predikant en ouderling nie. Dat die meerderheid sal bepaal … Die feite is dat ons Sinodes vanaf ongeveer 1976 nog elke keer gewoon meerderheidstem gebruik het om oor sake te besluit (en daarvoor dan KO art 31 – ” wat met meerderheid van stemme besluit is” gebruik) EN dan sou meerderheid van 7 stemme genoegsaam wees om teen VIDA te besluit (ek het daardie stemme moes tel). Maar ons, GKSA, gooi mutuo consensu (algemene instemming) by die agterdeur uit (KO art 86) KO art 31 kan ons nie losmaak van art 68 nie. Want art 86 is gebou op die Skrifbeginsel van een God, een Here, een geloof (bv Efes 4:5 & 6). Ons in GKSA het al lankal meerderheid van stem as bepalende metode gebruik vir besluitneming. Algemene instemming is eintlik instemming met God se Woord en met die belydenis. Dis ons (verkeerde) manier van doen wat maak dat ons bykans 40 jaar met hierdie VIDA stoei. Om Ds v Rooy oor sy siening te kruisig, met die argument van gehoorsaam aan God se Woord, het nie ‘n praktyk wat in die GKSA gewortel en welig groei, verreken nie. Hierdie praktyk wat ons oor meer as 40 jaar DOEN is net so onskriftuurlik. Oor God se almag en regering, dink ek nie dat die verwysing na die 10 plae in Eksodus die skopus (Prof GCP vd Vyver in die 1970’s: ” Broeders, die belangrikste teks is die konteks.”) van die Godsopenbaring verreken nie. Om daaruit gewoon af te lei dat God die pessiektes (soos Covid) stuur, dink ek nie is korrek nie. Ek dink veral aan A Kuyper in EVoto Dordraceno oor die HK Sondag 52:127 waarin hy dan spesifiek verwys na Dawid wat die volk getel het. Vraag is: wie het Dawid aangehits, die Here of die duiwel? (as jy 2 Sam 24:1 met 1 Kron 21:1 vergelyk). Die repliek op Ds v Rooy hieroor is na my mening nie billik nie. En die antwoorde van Ds v Rhyn neig ietwat na simplisties. Ek dink ook aan Rom 1 as die Here sê dat Hy die mens oorgee aan die verhardheid van sy hart. Wie sou dan oorsaak wees van MIV en Covid? Hoe werk dan die almag en regering van die Here hierin? Die noodsaak is dat ons ook na ons kerklike vaders moet luister. In baie opsigte het hulle met dieselfde Skrif en belydenis, baie dieper oor hierdie sake geworstel. En met goed gefundeerde en gebalanseerde antwoorde gekom. En aanvaar Ds v Rhyn oor getrou wees aan God se Woord en ek loop saam met hom daarin (mag ons altyd daarin mekaar as broers erken en waardeer) . Vir my is 2 ononderhandelbares: Skrif en belydenis. Oor of ons enige verskil maak in die wêreld … hier is ‘n feit: die totaliteit van GKSA se lidmate is minder as die inwoners van Emba. Meeste sal nie weet wat of waar Emba is nie. Tereg. Hoe weet die wêreld waar is GKSA? Sal die regering in SA weet van die GKSA? In hierdie opsig kies ons om onsself te identfiseer as “Gideonsbende” (wat gewoon verdraaiing van die Skrif is). Ons gebruik ekonomie, demografiese verskuiwing, en ‘n klomp redes waarom kerke in GKSA toemaak. Opmerklik dat ons hiervoor NIE die Skrif gebruik nie. Die Skrif leer my dat Christus kerke toemaak (lees net Openbaring 2 & 3). Dit bring die vrae van getrouheid aan Gods Woord en God se regering na vore. Ek sou tog wou vra dat ons, met al die bona fide, onsself ondersoek of ons reaksies wel ook erkenning wys van eie gebreke, ook my eie gebrek aan insig wat ‘n inperkende invloed het op my onderskeidingsvermoë.

    • Gerrie van Rhyn Gerrie van Rhyn

      Ds Carel Jansen, baie dankie vir jou weldeurdagte en deeglike antwoord. Ek neem dit ter harte.

      Ek dink daar kom ‘n verskil in siening in oor of VIDA ‘n belydenissaak is of nie. Inderdaad is dit nie een van die Capita Doctrinae nie, maar ons bely in NGB Artikel 30 dat “betroubare persone gekies word ooreenkomstig die voorskrif wat die apostel Paulus in die brief aan Timoteus daarvoor gee (1 Tim. 3).” En wat lees ons in 1 Tim. 3? Dat die ampsdraers manne is wat aan bepaalde vereistes moet voldoen. Ek sou redeneer dat hierdie wel ‘n belydenissaak is, aangesien ons belydenis die Woord hieroor nasê. Verder is my aanvoeling dat mens iewers gaan afwyk van NGB 2-7 as mens VIDA d.m.v. sosio-historiese eksegese wil inlees in die Woord. Ek weet daar is baie geskryf en gesê dat die verskillende sienings se verskil eers by hermeneuse inkom, selfs eksegese, maar ek glo mens moet nog ‘n stappie terug gee. Dit is dan op hierdie vlak wat ons gesprek met mekaar moet lê – bely ons dieselfde oor die Woord van God?

      Rakende die opmerking oor Dawid en wie hom aangehits het om die volk te tel: Selfs die duiwel kan homself nie beweeg as God dit in sy soewereiniteit nie toelaat nie.

      Ek stem saam met die stelling oor die GKSA se manier van doen. Maar net omdat dit ook verkeerd kan wees, beteken nie outomaties dat mens nie kan reageer op ds. Charl nie.

      “Die antwoorde van Ds van Rhyn neig ietwat na simplisties” Dit mag dalk die geval wees, maar ek glo dat die Woord baie duidelik is oor God wat oor alles regeer. Is een van ons as mense se groot probleme nie juis dat ons dinge te ingewikkeld wil maak eerder as om te glo en te vertrou wat God sê nie?

      Ek stem heelhartig saam dat ons na die kerkvaders moet luister – ons het die voorreg om op baie reuse wat voor ons gekom het, se skouers te staan. En ek weet ek het nog baie leeswerk en groeiwerk wat voorlê – maar dit beteken nie dat ek nie nou al kan seker wees van wat ek glo, of dat ek nie nou al ‘n antwoord kan gee op stellings wat oënskynlik teen dit wat ons bely staan nie. Ek kan nie en mag dan nie stilbly nie. Soos in my kort repliek genoem, hoop ek van harte dat ds Charl verkeerd aangehaal is. Maar sy openbare opmerking verg ‘n openbare reaksie.

      Ds. Carel, ek glo almal moet mooi luister na wat jy sê oor die Here wat kerke toemaak en dan indringende vrae vra oor die GKSA, baie van ons se kerkverband.

      Baie sterkte en seën met jou bedieningswerk in die gemeente. Weereens dankie vir die saamgesels – jy gee beslis baie stof tot nadenke.

      Groete
      Gerrie

  4. Bertus van Vondel Bertus van Vondel

    Dankie ds.Gerrie.
    Ja net wanneer ons vashou aan die Bybel as God se. geopenbaarde woord vir alle tye, kan ons op die smal pad bly. Baie sterkte en die Here se seën toegewens .
    Bertus, broer in Christus

  5. Gerrie van Rhyn Gerrie van Rhyn

    Baie dankie vir al die opbouende kommentaar, ek waardeer dit opreg.
    Mag ons aanhou om vas te hou aan die waarheid van die Woord wat ons bely.

    Groete en seën,
    Gerrie

  6. Magda Groot Magda Groot

    Baie dankie vir die antwoord. Ek het ook die Netwerk24 artikel gelees en gedink dit kan mos nie reg wees nie! Miskien verstaan ek iets verkeerd en was baie teleurgesteld in die GKSA dat so ‘n boodskap die wêreld in gestuur word.

  7. Arie Roos Arie Roos

    Ds Van Rhyn, ek is die Here baie dankbaar vir manne soos jy wat standpunt inneem en opstaan vir die waarheid van God se Woord. Mag Hy nog manne soos jy skenk in die GKSA, dit sal die GKSA tot groot seën wees.

    Hou so aan broer!

  8. Jan le Grange Jan le Grange

    Baie dankie vir die skrif getroue antwoord God regeer oor alles niks gebeur buite Sy almag nie Hy is die Alfa en die Omega en niks ontgaan Hom nie , niks gebeur buite God se raadsplan nie . Dankie ds. Gerrie van Rhyn.

  9. Magda Meyburgh Magda Meyburgh

    Dankie vir die antwoord!

  10. Jan Jan

    Dankie Broer Gerrie, die GKSA maak ñ verskil in die wêreld. Maar nie die verkil wat die “wêreld” wil hê nie. Hou aan met die goeie werk.
    Ons is dankbaar vir julle bediening .

Lewer Kommentaar

This site uses Akismet to reduce spam. Learn how your comment data is processed.