Press "Enter" to skip to content

‘n Dopper moet sy Bybel lees

Dit pynig my intens dat die Gereformeerde Kerke se belydenis oor homoseksualiteit sonder meer as homofobies afgemaak word.

‘n Mens kan Francois Lion Cachet se opiniestuk, ‘n Dopper kan ook gay wees’, (Rapport, 5 Julie 2020) opsom in die volgende woorde: strooipoppe en ‘sweeping statements’.  Lion Cachet maak van sy eerste sin, tot sy heel laaste woord twyfelagtige aannames gepaardgaande met growwe veralgemenings en kom daarom heel logies tot verkeerde gevolgtrekkings, sonder dat hy êrens werklik die moeite doen om sy standpunt te begrond.

Sy siening kom kortom hierop neer: As jy die Skriftuurlike leer van seksualiteit en geslagtelikheid handhaaf, is jy homofobies. 

Dit is besonder treffend dat die NG kerk geloof word vir die gesprekke oor menswaardigheid en aanvaarding vir LGBTQI+ persone, maar die ‘Dopperkerk’ staan in die beskuldigdebank en moet volgens hom ‘ten volle aansluit’ – nie net by die reënboognasie nie, maar by die mismaakte reënboog van geslagtelike rebellie en haat teenoor God. 

Vanuit die staanspoor neem Lion Cachet ‘n hoër morele posisie in, volgens hom is sy voorveronderstellings en vertrekpunt korrek, enige ander siening is verkeerd. En om dit te staaf, noem hy sy Dopper-wortels.

Ja, inderdaad was prof Jan Lion Cachet (sy oupa se oupa) ‘n groot gees in die geskiedenis van ons kerke.  Saam met ds Dirk Postma en Totius – beide genoem in sy opiniestuk – het  die lewe en werk van prof Cachet ‘n pioniersgestalte in die Gereformeerde Kerke ingeneem.

As tweede professor aan die Teologiese Skool (toe in Burgersdorp) het hy ‘n daadwerklike invloed op die vorming van die GKSA gehad. As prediker, sendeling en professor was prof Cachet ‘n kragtige instrument in die hand van die Here, wat sy gawes en vermoëns onverskrokke tot die eer van die Here gebruik het.  Waar hy egter self oor sy besluit om deel van die Gereformeerde Kerk te word skryf, dui hy dit aan as ‘n besluit wat geneem is omdat hy verlang het na die suiwere leer (van die Woord).  Uit hierdie begeerte is die roeping om predikant te word gebore en is hy deur ds. Postma self opgelei.

Hierdie kort paragraaf kan onmoontlik die volle waarde van prof Lion Cachet se bydrae teken; maar dit is geskiedenis om op trots te wees.  Vandag nog dra die Teologiese Biblioteek in Potchefstroom sy naam.  ‘n Mens sou natuurlik baie oor die dienswerk van sy oupa kon skryf, maar die tyd ontbreek.

Nietemin – hierdie stamboom maak allermins van Francois Lion Cachet ‘n Dopper. Soos die Jode van ouds op hulle afstamming van Abraham geroem het, roem Lion Cachet op sy afstamming van manne wat met ‘n liefde vir God en die Woord die goud daarvan gemyn en met sorg aan die kudde bedien het. 

Hy staan skaamteloos op die skouers van reuse, en vertrap hulle nalatenskap. Waarskynlik is hierdie stuk genealogiese inligting vir ons ingesluit om sy verhewe posisie aan te dui, asof hy wil sê: “Ek mag julle kritiseer, want ek is een van julle!” Trouens noem hy homself die verlore seun van die Gereformeerde Kerk (dit terwyl die verlore seun juis tot inkeer gekom en na sy vader toe teruggekeer het).

Net so min as wat my Ierse herkoms van my ‘n Ier maak, is hy ‘n Dopper – selfs al het hy so ‘n wonderlike geestelike erfenis.  Eintlik behoort hy des te meer van beter te weet.  Soos Timoteus van ouds deur Paulus aangemoedig is om te bly by dit wat hy geleer het, omdat hy weet van wie hy dit geleer het (2 Timoteus 3:14), is die Dopperbloed wat so volop deur sy are vloei eerder ‘n aanklag teen hom as ‘n platform vanwaar hy sy dwaling kan spuug.

Die volgende verkeerde aanname is sy strooipopaanval op die dogma van die kerk, wat onversoenbaar is met sy wêreldbeeld (as sou dit in die pad gestaan het van sy predikantskap. Dit blyk glad nie ‘n probleem vir hom te wees dat hy ooglopend ‘n krisis met die Skrif het nie). Volgens hom skeur hierdie dogma gesinne uitmekaar, dit is wreed en openbaar die onverkwiklike aard van Doppers wat mense se lewens verwoes. Later is dit skadelike dogma wat ‘n skaakmat -posisie ten opsigte van die verhouding met die NWU veroorsaak.

Gereformeerde Dogmatiek is niks anders as die Skrifleer oor bepaalde sake nie.  Oor homoseksualiteit is daar in die Gereformeerde Dogmatiek en Etiek baie geskryf; en daarom is daar nie veel debat daaroor te voer nie; want die Skrif is besonder duidelik oor die saak.  Oor die pastorale hantering van lidmate wat met homoseksualiteit worstel, kan ons heeldag praat – maar die kruks van die saak is dat homoseksualiteit deur die Skrif aangedui word as ‘n sonde.

Gereformeerdes glo onverbiddelik in die waarheid van die Woord, en probeer waar daar praktyke in ons lewens is wat onversoenbaar is met God se openbaring (dus: dogma wat hande en voete in die normale gang van die lewe kry) ons lewens daarby aanpas.  Ons lewens word nie ingerig na gelang van wat op hierdie stadium op die silwerdoek draai nie, nie Moffie nie, nie Cool Runnings of Driving Miss Daisy nie.

Dit is die mens wat moet aanpas, nie God nie, nie die Skrif nie.

Die Skrif leer ons ook duidelik dat daar in die kerk tog huigelaars is, wat uiterlik deel vorm van die kerk, maar nie werklik met hart en siel die Here liefhet nie. Dikwels hou mense vas aan ‘n struktuur, leef volgens ‘n klomp ‘moets en moenies’ (soos die Fariseërs in die tyd van Jesus, los van ‘n lewende verhouding met God).

Om daarom ‘n dwarsklap na die kerk te gooi en ongekwalifiseerd die Doppers as homofobies en liefdeloos af te maak, is om met een konstante werklikheid nie rekening te hou nie: die mensehart is korrup en die bron van alles wat sleg is.  Ons vlug met ons sonde na die Here toe, nie as lisensie om ongebreideld daarin te leef nie; maar met die wete dat Christus ons van die slawerny daarvan verlos het. Dit is die wonderlikste besef: dat al is my geloof swak, al het ek gesondig, al het ek teruggesak in my rebellie – God is genadig en vergewe my.  Maar belangrik: Hy tel my uit my sonde op, om met ‘n lus om in liefde voor sy aangesig te leef en nie sodat ek voortploeter in die modder van eiegeregtigheid en selfregverdiging nie.

Dit is dus jammer dat Lion Cachet die erfsonde ontken, want soos ‘n kaarthuis tuimel die res van sy argumente daarmee inmekaar.  Ontken die Skrif, ontken jou sondige natuur, ontken jou sondige lewenswyse.  Dit is juis in Romeine 1 waar die natuurlike gevolg van die ontkenning van God se openbaring gestel word: geslagtelike rebelle en onsedelikheid:

28En omdat hulle dit nie die moeite werd geag het om God in erkentenis te hou nie, het God hulle oorgegee aan ’n slegte gesindheid, om te doen wat nie betaam nie:

29hulle is vervul met allerhande ongeregtigheid, hoerery, boosheid, hebsug, ondeug; vol nydigheid, moord, twis, bedrog, kwaadaardigheid;

30nuusdraers, kwaadsprekers, haters van God, geweldenaars, trotsaards, grootpraters, uitvinders van slegte dinge, ongehoorsaam aan die ouers…”

Die ‘ensovoorts’ van Lion Cachet se swak verbloemde ad hominem aanval op ‘n Teologiese student (wat met die druk van ‘n knoppie dadelik identifiseerbaar is) is dus dinge wat alle mense mee worstel, en dit is alles rebellie teen God. (Dit val my tog op om te vra wat het die Dopperdagboek-Facebook groep nou enigsins met die prys van eiers uit te waai). 

Ja, die tannie in die voorste ry wat skinder van haar buurvrou en die man twee rye verder agtertoe wat swig voor die pornografie-afgod, die man wat sy werkers swak behandel en sleg betaal, die broeder wat met ‘n onaardse gevloekery sy sinne bemes ens. ens., lewe ewe rebels voor die aangesig van die Here. 

Die verskil is: niemand  gaan ‘n vlag verf vir skinder en leuens nie; niemand gaan in ‘n optog loop om jou vrou te mag slaan nie en beslis gaan niemand ‘n veldtog loods om diefstal te wettig nie. Hy stel tereg: gays is sigbaar – wêreldwyd en toenemend in ons tyd word die reënboog, in rebellie teen God, gewapper om dit wat contra naturam is; te normaliseer. Jy is helaas verkeerd, my vriend, as jy dink dat Doppers net na Nataniël kyk as verwysingsraamwerk.  Ongelukkig word hierdie dwaling in ons kele afgedruk, word ons gekonfronteer daarmee die oomblik as ons ons neuse by ons voordeur uitdruk.   En omdat ons onwrikbaar in die waarheid van die Skrif glo, wys ons homoseksualiteit af.

Let wel: homoseksualiteit, en nie homoseksueles nie. Daar kan by iemand die geneigdheid tot homoseksualiteit wees; maar as gelowige kind van God stry hy/sy daarteen.  Dit is wanneer daar nie meer gestry word nie; dit aanvaar word, dit beoefen word – waar gelowiges ‘n krisis ontwikkel.  Soms is dit ‘n lewenslange stryd, maar daarvoor gee ons Vader ‘n oorvloed van genade.

Waar die fout in die stuk begaan word, is die denke dat die kerk mense probeer verander.  Dit is net God, wat in sy genade ‘n mens tot inkeer en verandering kan bring. Waar daar individuele voorvalle is van liefdeloosheid tot homoseksueles; is dit werklik hartseer en verkeerd – soos ook duidelik in die uiteensetting van die GKSA se siening van homoseksualiteit uitgestippel word.  Hulle is ons broers en susters, wat ons in liefde ontvang, maar wat baie beslis gewaarsku moet word oor hul sonde – net soos enige ander lidmaat wat in sonde leef, gewaarsku word.

Net God kan verandering bring; God gee lewe – en daarom kan ons nie gelate die sonde aanvaar nie.  Dit is juis liefdeloos om gelowiges wat sê dat hulle Jesus Christus liefhet, toe te laat om in hul sonde te lê.

Dit is net so onstellend dat die leer van intersectionality by die korthare ingesleep word, saam met die Black Lives Matter beweging – wat eintlik ‘n baie pragmatiese en wêreldse siening van die kerk probeer propageer.  Intersectionality is nes ‘n ongebreidelde voortleef in homoseksualiteit, ‘n dwaling wat uit die hel uit aangesteek word, en ons moet dit hand en mond beveg; want dit leer mense om in ‘n slagoffermentaliteit voort te leef.  Dit stel die idee voor dat jou menswaardigheid bepaal word deur die diskriminasie wat jy in die verlede beleef het, en volgens hierdie rangorde word jou waarde in die samelewing bepaal.  Bo-aan hierdie hiërargiese struktuur is die Swart Transgender vrou en heel onder aan, die gehate Heteroseksuele Wit man (Straight White Male).  As dit nie rassisme aanwakker en haat aanblaas nie; dan weet ek darem nie. Boonop is menseregte onversoenbaar in die kerk: Dit gaan nie oor die regte van mense of oor wat mense wil doen nie – maar wat God openbaar en sy eer (dus: dogma wat hande en voete in ons lewens kry).

Vandaar dat Lion Cachet blykbaar soos De Mist van ouds glo dat die plig van die kerk is om morele burgers vir die staat te kweek.  Die enigste werklikheid wat ‘n teologiese student wat dit op die kansel waag, homself mee moet vereenselwig, is die gebroke menslike hart en natuur, en hoe God Homself prysgegee het in sy Seun om ons daarvan te verlos. Enigiets anders is gebou op wankelmoedige fondamente en sal nie die toets van die tyd deurstaan nie (soos wat wêreldwyd met al die genitief-teologieë gebeur). Die kerk is nie ‘n staatsdepartement nie, maar ‘n ambassade in die buiteland wat die koms van die ware koninkryk (en Koning!) verkondig.

Net een en ander oor die verhouding met die NWU.  As Alumnus is ek bekommerd oor dit wat by die eens trotse PU vir CHO  aan die gebeur is.  Ek sou eerder vra of die GKSA nog langer bande met ‘n instansie kan hê wat studente soos Lion Cachet produseer wat duidelik die Bybelse leer verwerp?

One Comment

  1. Maarten Snyman Maarten Snyman

    Na aanleiding van die skrywe oor homoseksialiteit is dit interessant hoe daarop gereageer word binne die GKSA. Inderwaarheid is dit sonde, maar wanneer. As twee mans mekaar liefhet sien ek werklik nie die sonde as sodanig nie,maar wanneer die daad ter sprake is, ja. Dis net soos dans, niks mee verkeerd nie, maar deur dans kom sonde, ek hoef nie verder daarop in tegaan nie. Kom ons vat liewer hande GKSA, en bid vir so iemand, moet hom/haar nie verstoot nie, want dit kan of kon jou ook oorgekom het.

Comments are closed.

WhatsApp WhatsApp
%d bloggers like this: