Press "Enter" to skip to content

Ware bekering beteken om Christus werklik te ken

17DIT sê en betuig ek dan in die Here, dat julle nie meer moet wandel soos die ander heidene ook wandel in die verdwaasdheid van hulle gemoed nie —

18mense wat verduisterd is in die verstand en vervreemd van die lewe van God deur die onkunde wat in hulle is vanweë die verharding van hulle hart;

19wat ongevoelig geword het en hulle oorgegee het aan die ongebondenheid om in hebsug allerhande onreinheid te bedrywe.

20Maar julle het Christus nie so leer ken nie,

21as julle ten minste van Hom gehoor het en in Hom onderrig is soos die waarheid is in Jesus:

22dat julle, wat die vorige lewenswandel betref, die oue mens moet aflê wat deur die begeerlikhede van die verleiding te gronde gaan,

23en dat julle vernuwe moet word in die gees van julle gemoed

24en julle met die nuwe mens moet beklee wat na God geskape is in ware geregtigheid en heiligheid. (Efesiërs 4:17-24)

Wanneer Paulus sy brief aan die Efesiërs skryf, dan het hy baie te sê oor die donker, onbekeerlike leefwyse van die heidene wat na die dood lei.

Efesiërs 4:17 sê die heidene wandel in die ‘verdwaasdheid van hulle gemoed’.

Daardie woord beteken tevergeefsheid, dit dra die gevoelswaarde van sinneloosheid.   Dit is leë gedagtes wat tot niks lei nie.

Dit koppel sterk aan ‘n skadelike, dodelike tipe gedrag.

Dit kom daarop neer dat die verstand van die heiden verdwaas is, en dat hy in onkunde God en sy genade verwerp.  Maar hierdie is nie ‘n per abuise verwerping van God nie.  Dit is nie iets wat per toeval gebeur, iets wat ‘n verskoonbare gebrek aan kennis is nie.

God openbaar Homself – so beaam Paulus dit elders in die Romeinebrief, duidelik en sigbaar dat die skepping en geskiedenis soos groot letters in ‘n boek is waaruit sy krag en almag DUIDELIK geken en gelees kan word (Romeine 1, NGB art 2).

Verwerp iemand dus vir God, dit sê die apostel duidelik: dan is hy van alle veronstkuldiging ontneem – want God se bestaan, sy soewereiniteit – is so duidelik soos daglig.

Boonop gaan hierdie gebrek aan kennis gepaard met harte wat verhard is teen God, teen sy wil (Efesiërs 4:18).  Hier roep ons as voorbeeld die optrede van die Farao in herinnering wat met die verharding van sy hart homself in die verdoemenis gedompel het.

Weereens is dit interessant om na die wortel van die woord ‘verhard’, te gaan kyk.  Dit beteken iets in die lyn van ‘dikker word’, om onsensitief vir gevoel te word, of hardkoppig te wees.

Verwerp iemand dus vir God, dit sê die apostel duidelik: dan is hy van alle veronstkuldiging ontneem – want God se bestaan, sy soewereiniteit - is so duidelik soos daglig! Click To Tweet

So teken Paulus die heiden se lewenswandel in Efesiërs 4:19 – ongevoelig vir enigiets, oorgegee aan onreinheid.  Dit is die afdraende pad waar jy dink dat geen mens, en ook nie God jou kan bind nie.

Die heidene se onsedelikheid – veral in Efese – was legendaries.  Tempelprostitusie, dronkenskap –noem maar op.

Growwe afgodaanbidding was aan die orde van die dag.

Donkerder as die swartste nag – dit is die heiden se oorgawe aan sy ‘aanbidding’, so erg dat egbreek, hoerery nie meer as immoreel beskou word nie.  Daar is maar een wet- en dis die wet van eie plesier.

‘n Mens sou vergewe word as jy by die aanhoor van hierdie woorde sou dink dat dit geskryf is oor die bose tyd wat nou ontvou:

  • ‘n Tyd waarin sonde ‘n taboe gedagte geraak het. Dis ‘n ‘terloopse oepsie’ wat ek gemaak het.
  • ‘n Tyd waarin die mantra van ‘liefde’ gepropageer word, want God aanvaar mos alle mense net soos wat hulle is.
  • Homoseksualiteit, saambly, ‘n kerkloosheid, belangeloosheid oor my medegelowiges, ‘n individualistiese tydsgees waar ek vir myself bepaal wat werk of nie werk nie, word die realiteit waarin ons leef.

“Maar dit is nie hoe julle Christus leer ken het nie…”

Efesiërs 4:20

Paulus beaam emfaties:  Julle het nie Christus leer ken, die vreugde van verlossing gesmaak, gesien hoe kragtig Hy bekering bewerk in die harte van mense …

net sodat julle kan bly voortleef soos stomme heidene nie.

Nee, julle het breedvoerig lering ontvang van Christus.

Julle is intens bearbei deur sy geroepe en gestuurde diensknegte.

Julle het in diepte onderrig ontvang.

Laat ons mooi besef wat die punt van hierdie betoog is, want dit is ‘n besondere belangrike spyker wat ingeslaan moet word:

  • Die Almagtige God van hemel en aarde het hulle geloof geskenk deur sy Gees.
  • Deur God se genade buig die Heilige Gees daagliks hulle wil om sodat dit belyn word met God se wil.
  • Hulle is volgelinge van Christus en NIE MEER volgelinge van die verleiding wat na die dood lei nie.

Dus: Hou dan op om te lewe soos julle vroeër gelewe het.

Die pad wat lei na die verderf, as ‘t ware daardie afgrond wat die heiden tegemoet stap (Psalm 1) – dit is nie meer julle pad nie.

Die Bybel teken hierdie daad van bekering as die uittrek van ‘n vuil kledingstuk. En daardie vuil kledingstuk word eenkant toe gegooi.

Sou dit vergesog wees om die besmeerde kleed van Jesaja 64:4 e.v hieraan te koppel?  Daardie eie geregtigheid, eie plan wat die mens maak om homself te verlos wat hy dan voor God probeer ophou as weg tot saligheid?

Ja, gooi weg die verkeerde lewenswandel, dit wat jou afgod geword het.  Draai om.   Jy is dood vir die lewenswandel wat na die verderf lei. Trek dit uit, gooi dit eenkant toe.  Sterf dit af.

Wat ook al jou afgod geword het – drank, onsedelikheid, oneerlikheid…

Dit wat jou skei van God.

Jy is dood vir die lewenswandel wat na die verderf lei. Trek dit uit, gooi dit eenkant toe. Sterf dit af. Click To Tweet

Met Efesiërs 4:20 in gedagte beaam ons hiermee:

  • Christus se bloed is nie vir my vergiet sodat ek in ‘n onheilige lewe kan bly voortstuur nie, maar juis dat ek dit deur sy genade kan oorwin.
  • ‘n Voortploeter in die ellende van sonde, is om Christus se genade te vertrap.
  • ‘n Voortleef in onheiligheid, onherkenbaar as gelowige en eerder wêreldgelykvormig te wees- is om Christus van voor af vas te nael aan die kruishout op Golgota.
    • Dit is ‘n houding wat in sataniese arrogansie sê: Ek ag Christus so gering, sy offer so niksseggend, so goedkoop – eintlik kragteloos, dat ek na Hom sal luister AS of WANNEER dit my pas.
    • En dan, wanneer ek besef dat ek nou nie eintlik leef soos dit hoort nie, dan het ek darem nog die skuiwergat dat ek myself weerhou van die Nagmaal; dan eet en drink ek darem nie ‘n oordeel oor myself nie.

Eindelik is so ‘n “Christenskap” ‘n verloëning van Christus.  Boonop lei dit tot ‘n lastering van God se Naam deur die heidene wat rondom ons leef.

Tog is ‘n gewisse sondebesef ‘n swaar las om te dra.  Dikwels lei sondebesef tot intense depressie.  Martin Luther het selfs geworstel met die gedagte van sy eie sonde.

Die Here eis egter nie ‘n skuldgevoel nie; maar opregte berou en standvastige bekering.

En dis die wonderlike nuus wat elkeen van ons dan vanuit Efesiërs moet hoor:  Die Here werk in die harte van sy kinders.

Hy begelei hulle, skenk hulle bekering en vergewe hulle ten volle vir hulle sondes.

Teenoor daardie verharde harte van die heidene, gee die Here harte van vlees, nuwe harte, wat rein en heilig is.

As die vuil kledingstuk dan weggegooi is, en ek van my eie geregtigheid gestroop is om my lewe buite myself in Christus te soek, dan besef ek die wonderlike:

Ek trek ‘n nuwe kleed aan.  Paulus sê in Efesiërs 4:24 dat ons die nuwe mens moet aantrek.  Eintlik: ‘laat julle met die nuwe mens beklee’.

Christus se geregtigheid word ‘vir ons aangetrek’.  Daarop roem ons. Daarop bou ons, as erfgename van die volle geregtigheid, afgesonder as God se eiendom wat nog elke dag voort bly stry en wag op die wederkoms.

 

(Kliek hier vir Radio Scriptura se potgooi oor Bybelse Bekering)

Jan-Louis Lee

Jan-Louis is tans predikant by die Gereformeerde Kerk Brits

Be First to Comment

Lewer kommentaar

This site uses Akismet to reduce spam. Learn how your comment data is processed.

%d bloggers like this: