Press "Enter" to skip to content

Doen dit tot my gedagtenis

Een keer, elke drie maande is dit die gebruik[1] dat gemeentes Nagmaal vier.  Dit gaan gewoonlik gepaard met huisbesoeke, vergaderings en gemeente-etes.  Die kerk is gewoonlik dan ook voller, hoewel daar by baie deesdae ‘n louheid en tamheid oor Nagmaal begin posvat het en baie lidmate dit as opsioneel begin beskou.

Die kern van die probleem lê heel waarskynlik by ‘n wanbegrip van wat die sakrament is en hoe geweldig belangrik dit in die lewe van die gelowige is.

Ons bely oor die sakramente[2] dat God dit ingestel het omdat hy met ons stompsinnigheid en swakheid rekening hou.  Hy beseël daarmee sy beloftes aan ons en dit dien as tekens van sy goedheid en genade teenoor ons.  Boonop voed dit, en hou dit ons geloof in stand (parafrase van NGB, art 33). 

Dit kan vergelyk word met ‘n onderwyser wat ‘n moeilike begrip by wyse van ‘n skets aan ‘n klas verduidelik: wat enigsins onduidelik was in die teorie, word nou sigbaar aan hulle verduidelik sodat hulle sal begryp en verstaan.  Maar nog meer konkreet is die sakrament-  omdat dit ‘n belofte van die Almagtige is van ‘n diep geestelike saak:  dat ek verlos en bevry, sonder skuld voor God mag verskyn.

Die Nagmaal bedien aan my in besonder twee weldade: 

  • Vergifnis deur Christus se lyde en sterwe
  • Vereniging met sy liggaam deur die werking van die Heilige Gees.

Ons vier dit gereeld – omdat, in teenstelling met die doop, wat ‘n eenmalige waarborg is dat ons aan Christus behoort, waarvan die werking dwarsdeur die lewe van die gelowige heen voortduur, die Nagmaal ‘n telkens terugkerende waarborg is dat Christus ons voortdurend versorg as gelowiges, dat Hy ons nooit loslaat nie. 

Hy belowe dit immers in Johannes 6:37: “Al wat die Vader My gee, sal na MY toe kom; en Ek sal hom wat na My toe kom, nooit uitwerp nie…” en dan weer in vers 39: “En dit is die wil van die Vader wat My gestuur het, dat al wat Hy My gegee het, Ek daarvan nie sal verloor nie, maar dit opwek in die laaste dag…”

Die doop sê dus dat jy ‘n kind van God is, en die Nagmaal sê Hy sorg dat jy sy kind bly.  Daarom gebruik ons die Nagmaal TOTDAT Hy kom, maar in besonder OMDAT Hy weer kom. 

Ons word egter beveel om die Nagmaal te gebruik – wie gedoop is, moet Nagmaal vier! Jesus Christus beveel sy liggaam met Herderlike bewoënheid om die brood te eet en die beker te drink, omdat Hy MY wil verseker en versterk:  ‘Doen dit tot my gedagtenis’ – 1 Korintiërs 11:24.  So gesien is die Nagmaal nie ‘n blote verskynsel op die kalender nie, en ook nie opsioneel nie: my geloof word sigbaar versterk.  Dít is hoe die Here wil hê ons moet hieroor dink.


[1] Die woord ‘gebruik’ word hier ingespan; maar dit wil daarmee nie te kenne gee dat Nagmaal bloot “ ‘n gebruik” is nie.  Dit gaan eerder oor die praktiese van die besluit om dit driemaandeliks te vier.

[2] Sakrament: Sigbare teken en seël – doop en nagmaal.

Be First to Comment

Lewer Kommentaar

This site uses Akismet to reduce spam. Learn how your comment data is processed.