Press "Enter" to skip to content

Regeer God ook wanneer nare dinge in ons lewens gebeur?

Daar is nie ʼn leerstuk wat ons meer gereeld en dieper aanraak as dit wat die Bybel ons leer oor die voorsienigheid van God nie.

Die Gereformeerde belydenisskrifte verduidelik dat God se voorsienigheid beteken dat Hy in en oor alles regeer.

“Ons glo dat die goeie God, nadat Hy alle dinge geskep het, dit nie laat vaar of aan die toeval of geluk oorgegee het nie, maar dit volgens sy heilige wil so bestuur en regeer dat in hierdie wêreld niks sonder sy beskikking gebeur nie…Hierdie leer bied onuitspreeklike troos as ons daardeur geleer word dat niks per toeval oor ons kan kom nie, maar alles deur die beskikking van ons goeie hemelse Vader oor ons kom. Hy waak oor ons met vaderlike sorg, en heers so oor alle skepsels, dat sonder die wil van ons Vader, nie een haar van ons kop – hulle is almal getel – en ook nie een mossie op die aarde sal val nie.” (Mat 10:29, 30; NGB art 13)

En…

Heidelbergse Kategismus, Vraag 27 vra:

“Wat verstaan jy onder die voorsienigheid van God?”

Antwoord:

“Die almagtige en oralteenwoordige krag van God waardeur Hy hemel en aarde en al die skepsels asof met sy hand nog onderhou en so regeer dat lower en gras, reën en droogte, vrugbare en onvrugbare jare, voedsel en drank, gesondheid en siekte, rykdom en armoede en alles, ons nie per toeval nie, maar uit sy Vaderhand toekom.”

Sommige mense redeneer:

“Ek stem vir geen oomblik daarmee saam dat God die een is wat Covid gestuur het, of wat ‘n oorlog of een of ander ellende laat gebeur nie.”

Wanneer Calvyn oor die voorsienigheid van God skryf formuleer hy dit so in sy institusie:

“As iemand onder rowers veral of onder wilde diere, of as daar onverwags ’n wind opkom en hy skipbreuk ly, of as iemand se huis of ’n boom omval en hy gedood word, of as iemand in die woestyn ronddwaal en hy vind uitkoms in sy nood, of as iemand wat op die golwe rondgeslinger is, ’n hawe bereik en die dood wonderbaarlik net met ’n vingerbreedte ontduik, sal die mens se vleeslike rede alle voorspoed en teenspoed aan die noodlot toeskryf. Maar elkeen wat uit die mond van Christus geleer het dat al die hare van sy hoof getel is, sal verder gaan soek na ’n rede daarvoor en besluit dat alles wat gebeur, deur die verborge raadsplan van God geregeer word.”

God se groot verlossingsplan in en deur alles wat gebeur

Soms worstel mense met die vraag: Waarom laat God toe dat baie slegte en nare dinge gebeur? Is Hy, die almagtige God, dan nie in beheer nie?

In die verhaal van Josef se lewe kry ons ‘n ontsaglike vertroostende voorbeeld van hoe mense wik, maar GOD beskik, in die deurvoering van sy reddingsplan. Toe sy broers hom aan slawehandelaars verkoop het, het hulle gedink: Nou is ons ontslae van hom. Nou het ons sy drome finaal vernietig.

Ag tog…

Hulle het nie die vaagste benul gehad van wat God hulle laat doen nie.

Die goddelike ironie is dat juis dit wat hulle doen om Josef se drome te vernietig, God se manier is om juis sy raadsplan deur te voer.

Hulle wou Josef vermoor, maar God gebruik dit juis om hulle eie redding te waarborg.

Volgens Genesis 45:5 sê Josef:

“God het my voor julle uit gestuur om lewens te red.”

En volgens Genesis 50:20:

“Julle het kwaad teen my beplan, maar God het dit vir iets goeds in gedagte gehad, met die doel om te doen wat vandag gebeur – om ‘n groot volk aan die lewe te hou.”

Dit is die verstommende tipiese patroon in God se groot verlossingsplan. Hy gebruik die sonde van die vernietigers en maak dit die instrument van hulle eie redding.

Ongelooflik hoe God dinge onderstebo draai.

God doen dit keer op keer: Josef, Job, Daniel, Ester, Jesus…

Die Bybelse leer oor God se voorsienigheid is deel van die hart van die evangelie.

Spreuke 19:21:

“Daar is baie planne in ‘n mens se hart, maar die raad van die Here – dít kom tot stand.”

De Bruyn verduidelik:

“Daarom kan ons alleen waarlik geduldig wees in teëspoed as ons glo, werklik glo dat God alles, ook rampe en verdriet vir ons ten goede laat meewerk, en dat Hy vanaf sy hemeltroon my ewige heil ook daardeur bewerk.” (De Bruyn, P. J., 1997. Jou enigste troos. PU vir CHO.)

Be First to Comment

Lewer Kommentaar

This site uses Akismet to reduce spam. Learn how your comment data is processed.