Press "Enter" to skip to content

Wie & Wat is Scriptura?


“Die hele Skrif is deur God ingegee en is nuttig tot lering, tot weerlegging, tot teregwysing, tot onderwysing in die geregtigheid, sodat die mens van God volkome kan wees, vir elke goeie werk volkome toegerus.” (2 Tim. 3:16,17)


ONS DOEL

Elke artikel en elke podsending is daar om Sola Scriptura tot sy reg te laat kom.  Dit wil sê, ons wil die Skrif laat spreek oor gebeure, idees en verskynsels in die kerk en samelewing.  2 Timotheus 3:16,17 vorm tegelyk die lens waardeur ons na hierdie sake kyk, en is ook die basis van ons antwoorde en fokus van ons skrywes en gesprekke.

Wat beteken dit as ons sê 2 Timotheus 3:16,17 is die lens en basis van ons artikels en gesprekke? Hiermee bedoel ons, dat al ons skrywes en podsendings gewoonlik geplaas kan word binne een van die vier kategorieë in 2 Timotheus 3:16:  lering, weerlegging, teregwysing of onderwysing.

Ons poog om onsself, ons lesers en ons luisteraars toe te rus vir elke goeie werk deur vanuit die Skrif te leer, te  weerlê, reg te wys en te onderrig in die geregtigheid.

WAAR BEGIN EK?

Is jy nuut tot die Christelike geloof?  Nuut in die Gereformeerde teologie?  Nuut by Scriptura? Oorweeg om te begin by die “lering” afdeling van die webblad.

LERING, WEERLEGGING, TEREGWYSING EN ONDERWYSING

Vinnig sal jy agterkom dat Scriptura hoofsaaklik die vier “kategorieë” van 2 Timotheus 3:16 volg. Daar is verskeie verklarings vir hierdie vier woorde wat die apostel noem.  Meeste mense stem saam dat ons dit nie soseer as vier rigiede, aparte sfere in die Christelike lewe moet sien nie, hoewel daar tog iets van ‘n onderskeid is.

Ons kan dit ook sien as vier skakels in ‘n ketting.  Hierdie vier skakels vorm deel van ons Christelike lewe, sodat ons “volkome kan wees, vir elke goeie werk volkome toegerus” (2 Tim. 3:17).

Paulus leer dan vir Timotheus, dat die Bybel bruikbaar en nuttig is, geskik is, vir lering, weerlegging, teregwysing en onderwysing.  Die Skrif is voldoende, want dit is God se Woord, wat Hy self ge-asem het!

Wil jy leer wie God is?  Wil jy dwaalleer uitwys, en dit sien vir wat dit is?  Wil jy iets in jou eie lewe regmaak wat verkeerd is?  Wil jy opgroei in geloofsvolwassenheid?  Die Skrif is vir jou voldoende – dit is die boodskap van 2 Timotheus 3:16-17, asook die boodskap van Scriptura!

Wat beteken elkeen van die vier kategorieë op Scriptura?

1. Lering

(Grieks:  didaskalia).  Dit verwys breedweg na lering en instruksie, oftewel dogma.  Artikels, blogs en podsendings wat te make het met leerstellings in die Bybel, sal jy hoofsaaklik onder hierdie kategorie vind.

2. Weerlegging

(Grieks:  elegmon).  Hier vind jy apologetiese stof.  Dit beteken, enigiets wat dwaalleer, valse profete, valse leringe ens. aanraak, sal onder hierdie kategorie gelys word.  Weerlegging verwys na die daadwerklike uitwys en regwys van verkeerde leerstellings, en/of sondige leefstyle.

3. Teregwysing

(Grieks:  epanorthōsin).  Sommige woordeboeke verklaar hierdie woord as ‘n tipe restourasieproses.   Dit kan dus verwys na korreksies wat aangebring word in iemand se leer en lewe, maar ook verbetering.  Iemand se Christelike lewe word gerestoureer, wanneer hy dit wat nie in lyn is met die Skrif nie, weer in lyn daarmee bring.  Onder hierdie kategorie sal jy daarom meestel inligting rondom die Gereformeerde etiek vind.

4. Onderwysing

(Grieks:  paideian).  Hierdie is die “onderwysing in die geregtigheid” waarvan Paulus praat.  Lering, weerlegging en teregwysing is alles vooraf en tydens hierdie onderwysing nodig. Dit is deel van hierdie paideian.  Hierdie kategorie bestaan uit daardie tipe lees- en luisterstof wat gerig is op ons heiligmaking en Christelike lewe. 


Vrywaring

1. Alle artikels en podsendings op scriptura.co.za mag deur enigiemand gebruik, versprei, bespreek of inkorporeer word, op welke manier ookal, op hulle eie multi-media platforms.

2. Geen inhoudelike veranderinge mag aangebring word aan enige artikel of podsending op Scriptura of Radio Scriptura nie.

3. Indien ’n artikel, of  ’n aanhaling uit ’n artikel wel gebruik, versprei, bespreek of geïnkorporeer word op ’n multi-media platform, moet die naam Scriptura duidelik vermeld word, saam met die web-adres scriptura.co.za

4. Indien ’n podsending, ’n aanhaling, of klankgreep uit ’n podsending wel gebruik, versprei, bespreek of geïnkorporeer word op ’n multi-media platform, moet die naam Scriptura duidelik vermeld word, saam met die web-adres scriptura.co.za

Privaatheidsbeleid

Ons privaatheidsbeleid is hier beskikbaar.