Press "Enter" to skip to content

Maand: September 2018

Riglyne vir gesprekke met die “Jehova Getuies”

powered by Advanced iFrame free. Get the Pro version on CodeCanyon.

Dalk het jy al ‘n Jehova Getuie ontmoet, of hulle het by jou deur aangeklop. Dalk wou jy al die Evangelie aan hulle bedien, maar hoe? Ons gesels in hierdie episode kortliks oor dit wat die sg. Jehova Getuies glo en hulle geskiedenis. Dan gee ons spesifiek riglyne oor gesprekke met hulle oor ons verlossing, die plek en doel van ons goeie werke, die wederkoms, die 144, 000 en die wêreld hierna.

Ons het jou hulp nodig om die boodskap te versprei – gebruik asb. deel-knoppies op hierdie artikel, om die episode te versprei!

Hierdie potgooi / artikel is deur verskeie lede van die Scriptura-span saamgestel en geskep.

Sabbat & Sondag

Sondeval, twis en ons rus

Deesdae word die vraag rondom die Sabbatdag en Sondag taamlik gereeld gehoor. Vrae wat ‘n mens tipies hoor is:
– “Wanneer het die Sabbat verander na Sondag?”
– “Moet ek kerk toe gaan op ‘n Sondag? Ek voel ek ontmoet God op die gholfbaan/in die natuur/wanneer ek ontspan saam met my gesin.”
– “Wie mag op ‘n Sondag werk en wie nie? En wat van sport? Vermaaklikheid?”

Ek sien Sondag so:

Dit is ‘n onbybelse uitvindsel
Dit is ‘n dag van ontspanning en herdenking
Ek sabbat op ‘n Sondag
Other
Please Specify:

Deesdae voer al hoe meer mense ook aan, dat die kerk die mense mislei deur die Sabbat te verander na ‘n Sondag. Dit is veral ‘n algemene argument vanuit die “Hebrew Roots” kringe (hier is meer inligting oor hierdie beweging).

Die vraag rondom Sabbat en Sondag is nie nuut nie. Daar is al vir baie jare hieroor geredeneer en gedebateer. Die dag van rus het al baie kere ‘n dag en ‘n onderwerp van twis geword. Hierin sien ek ook die donker vlekke van die sondeval. (Vertrou die sondige mens om God se rusdag te verander in ‘n twisdag!)

Vertrou die sondige mens om God se rusdag te verander in ‘n twisdag! Click To Tweet

God het, so weet ons, alles geskape in ses dae en toe op die sewende dag gerus en die besondere dag ook geheilig (Gen. 2:3). Die geskape mens en dier kon in hierdie staat van rus voortbestaan. Die hele skepping was in ‘n staat van rus. Geen moeite nie. Geen vermoeienis nie. Geen onrus nie.

Die sondeval (Gen. 3) bring dan die hele skepping in ‘n staat van onrus en vermoeienis. Voor die sondeval moes die mens werk, maar dit was geen moeite nie. Na die sondeval moet die mens in die “sweet van sy aangesig” sy brood verdien (Gen. 3:17). Dit wil sê, nou het werk ‘n vermoeienis geword. Die sondeval bring ook mee dat dit moeite is vir die vrou om kinders te kry en om kinders groot te maak (Gen. 3:16).

Nou het die mens behoefte aan rus. Nie net behoefte aan rus van sy werk nie, maar ook ewige sielsrus. Die Here moet ingryp om die rus wat daar was voor die sondeval, weer terug te bring en die rus in sy skepping te herstel.

Die Here moet ingryp om die rus wat daar was voor die sondeval, weer terug te bring en die rus in sy skepping te herstel Click To Tweet

So die vraag gaan nie soseer oor presies watter dag nie, maar die inhoud van die dag, nie waar nie? Nietemin, kom ons kyk na:
– Wat die Sabbat in die Ou-Testament was
– Wat die Sondag in die Nuwe-Testament (en later) was
– Wat die Sondag vandag is
Laastens moet ons dan ook vir ons uitmaak of ons die Sabbat op die sewende dag moet vier of die Sondag op die eerste dag en wat ek op hierdie dag moet doen.

Wat was die Sabbat van die Ou-Testament?

Hier noem ek net kortliks drie aspekte van die Sabbat in die Ou-Testament, as ‘n mens na ‘n paar tekste gaan kyk:

1. ‘n Hooggeagde vierdag

Die sewende dag was ‘n baie hooggeagde dag, nie soseer vir die volk nie, maar vir God. (Dit is ‘n belangrike perspektief wat ons moet hê wanneer ons praat oor die Sabbat-Sondag kwessie. Ons moet meer gemoeid wees met hoe God die dag verordineer en nie watter inhoud ons daaraan wil gee nie!).

Die sewende dag was so hoog geag, dat enigiemand wat dit ontheilig, m.a.w. enigiemand wat werk op die dag verrig, doodgemaak moes word (Eks. 31:14).

In Levitikus 23:7 lees ons verder ook van die verskeie vierdae, oftewel feesdae wat God vir Sy volk gegee het om te vier. Een van hierdie vierdae was dan die sg. Sabbat op die sewende dag. Dit was ‘n dag van samekoms, waarop die volk bymekaargeroep is.

2. ‘n Verbondsteken

Primêr word hierdie dag dan gegee as ‘n vierdag, omdat dit moet dien as ‘n ewige verbondsteken, sê Eksodus. 31:16,17: “En die kinders van Israel moet die sabbat onderhou deur die sabbat te vier in hulle geslagte as ’n ewige verbond. Tussen My en die kinders van Israel is dit vir ewig ’n teken; want in ses dae het die HERE die hemel en die aarde gemaak, maar op die sewende dag het Hy gerus en Hom verkwik.”

3. ‘n Dag waarop algemene aktiwiteite en werksverrigtinge moes stop

In die Ou-Testament was die Sabbat ‘n dag waarop die gewone arbeid en aktiwiteite moes stop. Byvoorbeeld, toe die volk manna in die woestyn versamel het, moes hulle op die sesde dag dubbel soveel optel, sodat hulle kan oorhou vir die Sabbat. Hulle was verbied om op die Sabbat enigsins manna op te tel (Eks. 16:26).

So die Sabbat is gevier op die sewende dag, as ‘n vierdag en ‘n verbondsteken. Geen arbeid mog plaasvind nie. Hoekom nie? Want die Here gee sy volk rus. Die Here wil rus gee van moeitevolle arbeid. Hy wil Sy volk in hulle onrus verseker van Sy rus. Hulle moet terugdink aan die rus wat daar in die Paradys was. Hulle moet ook verlang na die rus wat kom, wanneer die slang se kop finaal vermorsel sal word (Gen. 3:16).

Nou goed, dit is in kort ‘n paar gedagtes oor die Sabbat in die Ou-Testament. Kom ons gaan verder na die Sondag van die Nuwe-Testamanet:

Wat was die Sondag in die Nuwe-Testamanet (en later)?

1. ‘n “Vierdag” en ‘n “dag van eredienste”

Dit is belangrik om te verstaan dat die Sondag nie ‘n moderne verksynsel is nie. Dit is nie iets wat die hedendaagse, “moderne” kerk ingestel het nie. Ons sien alreeds direk na die kruisiging van Jesus, hoe gelowiges nie meer op die sewende dag bymekaarkom nie, maar op die eerste dag – die Sondag. Kyk bv. na o.a. die gebeure van Johannes 20:1,19. Die vroeë gelowiges het op die eerste dag bymekaargekom – die dag van Jesus se opstanding, na Sy kruisiging en begrafnis.

Sommige van die vroeë kerkvaders het ook gepraat van die Sondag as ‘n “dag van eredienste”.

2. Konstantyn I en Karel die Grote

Heelwat later, in 321, het Konstantyn I die Sondag verklaar as ‘n dag van rus. Karel die Grote het in die Middeleeue ‘n Sondagswet uitgereik, waarin hy alle arbeid en vermaaklikheid op die dag verbied het.

Dit is ‘n taamlik gewilde argument, dat Konstantyn die een is wat die Sondag ingestel het, en dat die vroeë Nuwe-Testamentiese Kerk nog altyd die sewende dagse Sabbat gevier het i.p.v. Sondag. Dit is egter nie waar nie. Konstantyn het bloot die reeds bestaande “dag van eredienste” verklaar as ‘n amptelike rusdag.

Daar is nog baie om te sê oor die geskiedenis van die Sabbat-Sondag kwessie, maar kom ons kyk na my en jou Sondae:

Wat is die Sondag vandag?

Vandag het ons natuurlik baie opvattings en verskille oor die Sondag. Kom ek noem drie algemene opvattings oor Sondag in vandag se tyd:

1. ‘n Dag van ontspanning (lees hier: ledigheid)

Ongetwyfeld het ons oor die algemeen meer en meer begin dink oor ‘n Sondag as ‘n dag van ontspanning. Ons het eintlik die Sondag “leeg getap” van enige teologiese besinning. Dit het bloot vir baie ‘n dag van ledigheid geword. Dit is nie soseer vir ons ‘n dag van rus nie, maar ‘n dag van “rustig wees”.

Terwyl ons die dag leeg getap het van sy teologiese inhoud het ons (selfs gelowiges) dit weer volgetap met humanisme. Die dag is nou ‘n dag waar ek kan doen waarvoor ek nie deur die week tyd gekry het nie.

Sondag het vandag ‘n dag van ledigheid en “rustig wees” geword i.p.v. ware rus Click To Tweet

Behalwe hierdie “ledigheids-tendens” wat ons rondom Sondag sien, is daar ook nog ‘n paar ander sienings rondom Sondae vandag:

2. Net ‘n dag van herdenking

Die Sondag word vir hierdie groep mense net ‘n dag van herdenking. Dit gaan hoofsaaklik daaroor dat ons maar net die opstanding van Jesus moet herdenk. Kerkgang en dies meer is nie iets wat noodwendig oorweeg word nie. Ek kan Christus se opstanding oordenk op die wyse wat ek verkies – op die gholfbaan, op my rusbank, of hoe ookal.

3. ‘n Totaal-ander dag as die Sabbat

Baie gelowiges beweer dat die Sondag hoegenaamd geen verbintenis met die Sabbat van die Ou-Testament het nie. Die Sondag is ‘n totale ander dag en het niks met die Sabbat uit te waai nie.

4. Presies dieselfde as die Sabbat

Teenoor die wat die Sabbat en Sondag as twee verskillende dae sien, is daar weer ‘n ander groep wat beweer die Sabbat en die Sondag is een en dieselfde. So word die vereistes van die Sabbat net so oorgeplaas na die Sondag. Geen arbeid mag verrig word nie. Geen sport mag beoefen word nie en geen vorm van vermaaklikheid mag geniet word nie.

So waar laat dit ons nou? Vier ons die Sabbat of die Sondag? Die sewende of die eerste dag? Wanneer het daar ‘n verandering in die dae gekom? Ons kan hierdie vrae rondom Sabbat en Sondag net verstaan wanneer ons gaan kyk na die verhouding en die verbintenis tussen die Ou en Nuwe Verbond (Testament).

Sabbat en Sondag in die lig van die Ou- en Nuwe Verbond

Die Ou-Testamament, oftewel die Ou Verbond en die Nuwe-Testament, oftewel Nuwe Verbond is nie twee verskillende verbonde nie. Ons moet dit nie eintlik verstaan as oud en nuut nie. Ons moet dit verstaan as twee bedelings van dieselfde verbond: die ou verbondsbedeling en die nuwe verbondsbedeling.

So, daar is kontinuïteit tussen die twee. As ons dit nie verstaan nie en nie insien nie, sal die Sabbat-Sondag vraagstuk vir ons groot vraagtekens bo ons koppe laat hang. Iemand wat byvoorbeeld glad nie die Ou-Testament erken nie, of iemand wat beweer die Ou-Testament is in sy geheel afgeskaf, sou bv. argumenteer dat Sondag geheel en al ‘n ander betekenis en inhoud het as die Sabbat. Hulle sou sê die Sabbat is heeltemaal afgeskaf as deel van die Ou Verbond.

Iemand anders wat beweer die Ou-Testament moet nét so gehandhaaf word en niks het verander in die Nuwe Testament nie, sou kon sê dat ons steeds die Sabbat presies moet onderhou soos in die Ou bedeling van die Verbond.

So die antwoord op ons vrae rondom Sabbat-Sondag lê in ons verklaring van die verhouding tussen die Ou en Nuwe Testament. Hoe verklaar ons dit? Wat is die verhouding?

So die antwoord op ons vrae rondom Sabbat-Sondag lê in ons verklaring van die verhouding tussen die Ou en Nuwe Testament Click To Tweet

1. Vervulling in Christus

Christus het gekom om die wet en die profete te vervul: “Moenie dink dat Ek gekom het om die wet of die profete te ontbind nie. Ek het nie gekom om te ontbind nie, maar om te vervul.” (Matt. 5:17).

Dit beteken dat Jesus die volheid van die wet en die profete kom wys en leef het. Vervul beteken nie dit het verval nie. Ons sien Jesus as die vervulling van die profesieë; die vervulling van die offers; die vervulling van die beloftes by die besnydenis ens.

Die beloftes van die Pasga is vervul in Christus en daarom vier ons nou die Nagmaal. Die beloftes by die besnydenis is vervul in Christus en daarom doop ons nou. So is die beloftes van die Sabbatsrus vervul in Christus en daarom vier ons nou die Sondag.

2. ‘n Verbondsteken

Al manier hoe ons die Sabbat en Sondag kwessie reg kan verstaan is wanneer ons dit verstaan as ‘n verbondsteken. Die Sabbat was ‘n teken van die verbond wat God met Sy volk gesluit het by Sinaï. Hierdie verbond is een en dieselfde verbond wat God ook met ons vandag sluit, daarom is dit bloot ‘n ou en nuwe bedeling van dieselfde verbond.
Ons leef in die nuwe bedeling van die Verbond, na die lyding en kruisiging van Christus. Tog is die Sondag vir ons ‘n viering van God se verbond met ons en ‘n dag van toewyding aan die Een wat vir ons ewige rus bewerk het.

Sondag is 'n verbondsteken wat deur die geslagte onderhou moet word Click To Tweet

3. ‘n Feesdag

Die Sondag is steeds ‘n feesdag, oftewel ‘n vierdag, waarop die volk van God bymekaargeroep word. In die Ou-Testament was die vierdag ‘n vooruitkyk na die rus wat sou kom. Die Sondag is die dag waarop Jesus opgestaan het uit die dood en dus nou alreeds die begin van die ewige rus bewerk het. Ons kan sê: gelowiges in Christus beleef noureeds die eerste dag van hulle ewige rus. Nuwe-Testamentiese gelowiges sabbat op ‘n Sondag.

So, in kort kan ons dit so verstaan, dat die Sabbat in Christus vervul is, net soos die besnydenis en die Pasga. Tog, bly die inhoud van die Sabbat voortleef in die Sondag. Christus het die Sabbat vervul en daarom het die Sabbat verander na Sondag met Jesus Christus se opstanding op die eerste dag.

‘n Laaste paar praktiese opmerkings oor die inhoud van die Sondag:

Hoe moet my Sondag lyk?

1. Sondag is ‘n dag van rus en toerus

Dit is ‘n dag van rus. Die “rus” van die vierde gebod beteken nie ledigheid nie. Dit beteken rus soos God gerus het van Sy werk. Dit is rus met die oog op jou kultuurmandaat. Dit is rus met die oog op die ewige rus wat wag. Dit is rus van die wêreld, ons eie sonde en aardse dinge.

Christus se verlossingswerk bewerk vir ons die rus waarna die Sabbatsdag verwys het. Sondag is nou die dag waarop ons herhaaldelik weer gaan rus in Sy werk, terwyl ons vooruit verlang na die ewige rus wat kom.

Dit is ook ‘n toerustingsdag. Dit is ‘n dag wat ek uitsit, sodat die Heilige Gees in my sal werk deur Sy Woord, gebede en die samekoms met die heiliges. Die dag is die eerste van al die res van my weeksdae. Dit is die dag waarop ek voorberei word vir Maandag, Dinsdag, Woensdag ens.

Gesinne moet ook die dag as toerustingsdag inrig (bv. gesels saam oor die prediking; leer die kinders wat in die erediens plaasgevind het; lees ‘n gedeelte saam uit die Bybel; bid saam ens.).

Sondag is 'n dag van rus en toerus. Click To Tweet

2. Sondag is erediens-dag

As ons verstaan dat die Sondag ‘n verbondsteken is wat God gee, dan bepaal God mos die inhoud van die teken; die inhoud van die dag? As ons ‘n ander inhoud vir die dag gee, dan is dit nie meer die verbondsteken wat dit moet wees nie.

Dit is hoekom Sondag ook, in lyn met die gelowiges van die Nuwe-Testament, erediens-dag is. Dit is nie ‘n dag waarop ek Christus se opstanding herdenk soos ek wil nie. Dit is ‘n vierdag – ‘n dag van samekoms en aanbidding.

Dit is die byeenkoms waarvan Hebreërs 10:25 praat: “en laat ons ons onderlinge byeenkoms nie versuim soos sommige die gewoonte het nie, maar laat ons mekaar vermaan, en dit des te meer namate julle die dag sien nader kom.”

Ons word uitdruklik beveel om met die gelowiges byeen te kom en saam weer ons rus in Christus te vind. Sondag is vir ons ‘n 24-uur teken van God se verbond met ons!

Ons moet in die erediens toegerus word deur die Woordverkondiging. Ons moet saam versterk word deur die gebede. Ons moet saam getroos word deur die sakramente. Ons moet saam mekaar help in ons materiële nood.

Sondag is erediensdag! Click To Tweet

3. Sondag is ‘n dag van toewyding aan die Here en nie pligpleging nie

Sondag is ‘n dag wat radikaal anders moet lyk as die ander dae, want dit is ‘n dag wat ek aan die Here toewy. Dit is nie ‘n dag van moets en moenies nie.

Ja, dit is ‘n dag van fisiese rus, maar dit is ook ‘n dag van toegewyde diens aan die Here. ‘n Dag van besig wees met Sy Woord en Sy mense.

In kort …
As ek die inhoud van die Sabbat laat voortlewe in ‘n Sondag, dan lyk ‘n definisie vir ‘n Sondag en die inrigting van die rusdag vir my so:

Die Sondag is God se verbondsteken, wat die gelowiges as ‘n feesdag onderhou, deur saam te rus in die verlossingswerk van Christus.

Die Sondag is God se verbondsteken, wat die gelowiges as 'n feesdag onderhou, deur saam te rus in die verlossingswerk van Christus. Click To Tweet

 

(Ek gee graag erkenning aan ‘n studie wat prof. Paul Kruger, van die Teologiese Skool Potchefstroom gemaak het oor die Sabbat-Sondag vraagstuk).

Marnix is tans predikant in die Gereformeerde Kerk Graaff-Reinet.

Romantiese verhoudings tussen gelowiges en ongelowiges

powered by Advanced iFrame free. Get the Pro version on CodeCanyon.

Marnix, Jan-Louis en Gerhard gesels oor hierdie moeilik onderwerp: is dit goed (is dit reg?) vir ‘n gelowige om ‘n romantiese verhouding met ‘n ongelowige te begin?

Hierdie is ‘n baie moeilike onderwerp, juis omdat dit so emosioneel is. Daar is ook heelwat probleme hieraan verbonde en ons besef dit wanneer ons hieroor gesels. Hierdie episode vorm net eers ‘n basis, ‘n Bybelse grondslag vir verdere gesprek rondom romantiese verhoudings tussen gelowiges en ongelowiges.

Voorskou:

powered by Advanced iFrame free. Get the Pro version on CodeCanyon.

Hierdie potgooi / artikel is deur verskeie lede van die Scriptura-span saamgestel en geskep.

3Minute1Woord| DISSIPEL

powered by Advanced iFrame free. Get the Pro version on CodeCanyon.

Mathetes| {afr} Dissipel {eng} Disciple
Soos in o.a. Mattheus 10:24

Kennis en verhouding
Ons vind die woord mathetes, wat ons vertaal met dissipel net in die Evangelies en in Handelinge. Mathetes kom van ‘n woord wat “leer” of “om kennis opdoen” beteken. Dissipel beteken eenvoudig “volgeling” of “leerling”. Maar, die dissipel in die NT is meer as net ‘n student – hy is ‘n toegewyde aanhanger. Hy is nie net iemand wat ‘n klomp leerstellings studeer en ken nie. Hy lééf wat hy leer. Die dissipel in die NT wil hulle meester se lewe naleef – leef soos wat hulle rabbi lewe. Dissipels wil ook die leerstellings en lesse van hulle leermeester oordra aan ander en laat voortlewe.

Dissipelskap gaan oor kennis oor die leermeester maar ook ‘n verhouding met die leermeester.

Nou ‘n in die baie breë sin van die woord, is enigiemand wat onderrig word; enigiemand wat aanhangers van ‘n sekere leerstelling of leermeester is, ‘n dissipel. Daarom lees ons bv. ook in Mattheus 9:14 van Johannes die Doper se dissipels. Hulle was toegewyde volgelinge van Johannes. Ons lees selfs dat die Fariseërs dissipels gehad het in Lukas 5.

Apostels is dissipels, maar alle dissipels is nie apostels nie
Jesus het vir hom twaalf volgelinge, oftewel dissipels afgesonder en uitgeroep om Hom te volg. Hy sou van hulle vissers van mense maak. In die boek Handelinge, na die dood en opstanding van Jesus, lees ons egter dat hierdie twaalf nie meer dissipels genoem word nie, maar apostels. Die term apostels word net gebruik vir hierdie volgelinge wat direk deur Jesus self geroep is. Hulle was oog- en oorgetuies. Die Heilige Gees het deur hulle die fondament vir die Nuwe-Testament gelê. Hierdie apostels is dissipels, maar nie alles dissipels is apostels nie. Ons noem onsself vandag nog toegewyde volgelinge van Jesus – ons is dissipels, maar daar is nie meer vandag apostels nie. Die apostelamp het ge-eindig toe die apostels gesterf het.

Dissipelskap: ken, volg, dissipel
Jesus roep die mense van sy tyd en ons op om Hom te volg; om sy dissipels te wees. Soos wat ons na hierdie oproepe van Jesus in die NT kyk, word veral drie dinge vir ons duidelik wat Jesus bedoel met dissipelskap:

1.Dissipelskap is om saam met Jesus te wees en om Hom persoonlik te ken.
Ons kan nie meer vandag fisies saam met Jesus wees nie, maar Hy is met ons deur Sy Gees. Die Here roep ons deur Sy Gees om langs Hom te lewe en om Hom persoonlik te leer ken. As dissipels vind ons ons vreugde in Hom en word al hoe meer soos Hy. Dissipelskap gaan daaroor dat ons ons totale vervulling en vreugde in Hom vind.

2.Jesus roep mense om geheel en al aan Hom toegewyd te wees.
Dissipelskap beteken dat ons selfs in moeilike tye steeds Hom vertroue en ons geheel en al aan Hom en Sy wil sal onderwerp. Dissipels volg die Here Jesus deur alle omstandighede.

3.Dissipels maak dissipels.
Die Here Jesus roep mense na Homself, sodat hulle Hom ook aan ander mense sal wys. Dissipels moet ander mense leer om saam met Jesus te wees en Hom persoonlik te ken. Dissipels moet ander mense leer om toegewyd te wees aan Jesus.

So, in kort, ‘n dissipel van Jesus is iemand wat geroep is om Jesus te ken, om Hom te volg en om dissipels van alle nasies te maak.

Marnix is tans predikant in die Gereformeerde Kerk Graaff-Reinet.

Marnix is tans predikant in die Gereformeerde Kerk Graaff-Reinet.

Jy mag nie oordeel nie?!

powered by Advanced iFrame free. Get the Pro version on CodeCanyon.

Ons gesels saam oor die misverstand onder baie mense dat niemand hoegenaamd mag oordeel nie. Is dit so? Ons argument is juis dat die Skrif ons opdrag gee om wél te oordeel, maar nie te veroordeel nie. Ons moet juis oordeel, want ons moet onderskei en Christusgesentreerde besluite neem. Ons moet die waarheid bewaar en bevorder, maar die leuen beveg.

As ons nie kan oordeel nie, is ons nie meer aanspreeklik vir mekaar nie. So val die hele fondasie vir broederlike liefde en tug ook inmekaar. Ons moet juis weer leer om reg en gelowig te oordeel!

Ons moet weer leer om reg en gelowig te oordeel! Click To Tweet

Luister en gesels verder met ons in die kommentaar hieronder! (Onthou, volg Scriptura op Twitter by @scriptura_tweet vir meer gereelde, kort en bondige boodskappe, gesprekke en opdaterings).

Video voorskou:

powered by Advanced iFrame free. Get the Pro version on CodeCanyon.

Hierdie potgooi / artikel is deur verskeie lede van die Scriptura-span saamgestel en geskep.

Verkondig altyd die Evangelie en gebruik woorde as dit nodig is?!

“Verkondig altyd die Evangelie en gebruik woorde as dit nodig is.” Hierdie is ‘n baie gewilde sêding onder gelowiges. Dalk het jy dit al gehoor of dalk het jy dit al self gesê. Waar kom hierdie sêding vandaan? Wat word regtig daarmee bedoel? Wat sê die Here in die Bybel? Behoort gelowiges hierdie sêding te gebruik?

Hoewel heelwat mense hierdie sêding aan Francis van Assisi toeskryf, word hierdie sêding nêrens in die geskrifte wat ons van hom beskikbaar het, gevind nie. Dit is daarom nie duidelik waar hierdie sêding vandaan kom of wie dit die eerste keer gebruik het nie.

Hierdie sêding val mooi op die oor, want dit beklemtoon hoe belangrik die manier wat gelowiges lewe, is. Tog bevat hierdie sêding ‘n gevaarlike leuen: Jy kan die Evangelie verkondig sonder om woorde te gebruik.

Die Evangelie, die Goeie Nuus van Jesus Christus, is iets wat verkondig word.  In Romeine 10:14 staan daar: “Hoe kan jy in Hom glo as jy nie van Hom gehoor het nie? En hoe kan hy van Hom hoor sonder iemand wat preek?” Dit is onmoontlik om die Evangelie te hoor, sonder dat dit verkondig word.

Dit is onmoontlik om die Evangelie sonder woorde te verkondig. Mense kan bv. glad nie uit my manier van lewe sien dat Jesus Christus aan die kruis gesterf het en die dood oorwin het en opgevaar het na die hemel toe, nie. Ja, mense kan uit my manier van lewe sien dat ek die Evangelie glo en dat ek lewe in Jesus Christus het, maar dit is onmoontlik om die Evangelie sonder woorde te verkondig!

Dit is onmoontlik om die Evangelie sonder woorde te verkondig. Click To Tweet

As ons die Evangelie sonder woorde kon verkondig, sou die boek Handelinge baie anders gelyk het. Hierdie boek vertel ons hoe die Here sy Kerk gevestig het. Dit is opmerklik om te sien hoeveel keer die Goeie Nuus in Handelinge verkondig – met ander woorde, met woorde oorgedra, is:

  • Nadat die Heilige Gees uitgestort is, verkondig Petrus die Evangelie (Handelinge 2)
  • Nadat die verlamde man genees is, verkondig Petrus die Evangelie (Handelinge 3)
  • Toe Petrus en Johannes voor die Joodse Raad gedaag was, sê hulle: “Dit is onmoontlik om nie te praat oor wat ons gesien en gehoor het nie” (Handelinge 4)
  • Toe Stefanus voor die Joodse Raad gebring is, het hy die Evangelie verkondig (Handelinge 7)
  • Toe Filippus met die Etiopiër gesels het, het Filippus die Evangelie oor Jesus aan hom verkondig (Handelinge 8)
  • Toe Paulus tot bekering gekom het, het hy dadelik in die sinagoges begin verkondig dat Jesus die Seun van God is (Handelinge 9)

Dit is maar net ‘n paar voorbeelde!

Die Heilige Gees gebruik die verkondiging van die Evangelie om mense tot bekering te bring. In 1 Tessalonisense 1:5 lees ons die volgende: “Die Evangelie wat ons aan julle verkondig het, het nie bloot met woorde tot julle gekom nie, maar ook met krag en deur die Heilige Gees en met volle oortuiging.”

Die Heilige Gees gebruik die verkondiging van die Evangelie om mense tot bekering te bring. Click To Tweet

Omdat die verkondiging van die Evangelie so belangrik is, stuur die Here mense om die Evangelie te verkondig. Ons hoef net na die 2 briewe aan Timoteus te kyk om te sien hoe belangrik die verkondiging van die Evangelie is en dat die Evangelie iets is wat met woorde verkondig word:

  • “Met die oog hierop is ek aangestel as prediker en apostel, as ‘n leraar om die heidennasies te onderrig in die boodskap van die geloof en die waarheid” (1 Tim. 1:7)
  • “As jy hierdie dinge aan die broers voorhou, sal jy ‘n goeie dienaar van Christus Jesus wees wat jouself voed met die woorde van die geloof en die goeie leer waarvan jy ‘n aanhanger geword het” (1 Tim. 4:6)
  • “Totdat ek kom, moet jy jou daarop toelê om uit die Skrif voor te lees, te preek en onderrig te gee.” (1 Tim. 4:13
  • “As iemand ‘n ander leer verkondig en nie hou by die gesonde woorde van ons Here Jesus Christus en by die leer van ons godsdiens nie, is hy verwaand en weet hy niks” (1 Tim. 6:3,4)
  • “Jy moenie skaam wees om die boodskap van die Here te verkondig nie” (2 Tim. 1:8)
  • “Neem die woorde wat jy van my gehoor het, as voorbeeld van gesonde verkondiging” (2 Tim. 1:13)
  • “Onthou altyd dat Jesus Christus, ‘n nakomeling van Dawid, uit die dood opgewek is. Dit is die Evangelie wat ek verkondig” (2 Tim. 2:8)
  • “Ek beveel jou voor God en voor Christus Jesus wat die lewendes en die dooies sal oordeel, ek beveel jy moet die oog op sy koms en sy koningskap: verkondig die woord, hou daarmee vol, tydig en ontydig; weerlê, bestraf, bemoedig deur met alle geduld onderrig te gee.” (2 Tim. 4:1,2)

Om te sê: “Verkondig altyd die Evangelie en gebruik woorde as dit nodig is”, is soos om te sê: “Voer die honger mense en gebruik kos as die nodig is”. Jy kan nie die Evangelie sonder woorde verkondig nie. Daarom mag ons as gelowiges nie met toe monde deur die lewe gaan nie. As ons nie vir mense gaan vertel van Jesus Christus nie, gaan hulle nie die Evangelie hoor nie. Al lewe ons hoe goed.

Om te sê: “Verkondig altyd die Evangelie en gebruik woorde as dit nodig is”, is soos om te sê: “Voer die honger mense en gebruik kos as die nodig is”. Click To Tweet

Beteken dit dan dat ons manier van lewe onbelangrik is? Glad nie. Wanneer jy glo, gee God vir jou nuwe lewe en lei jou deur sy Gees om hierdie lewe te leef. In Efesiërs 2:10 staan: “Nee, God het ons gemaak wat ons nou is: in Christus Jesus het Hy ons geskep om ons lewe te wy aan die goeie dade waarvoor Hy ons bestem het.” In Romeine 6:1 en 2 staan: “Wat moet ons nou hiervan sê? Moet ons aanhou sonde doen sodat die genade kan toeneem? Beslis nie. Hoe kan ons wat dood is vir die sonde, nog daarin voortlewe?”  Dit is maar net 2 voorbeelde van vele gedeeltes in die Nuwe Testament waar die Here beklemtoon dat ons manier van lewe belangrik is.

Waarom is ons manier van lewe belangrik? Omdat ons deur ons gehoorsaamheid aan Hom vir God wys dat ons Hom lief het. Omdat ons deur ‘n lewe tot God se eer die sekerheid kry dat ons waarlik aan Hom behoort – ‘n lewe tot sy eer is die vrug van ware geloof. Omdat ons deur volgens die Woord te lewe ‘n platform skep om die Evangelie te verkondig. Mense gaan nie vir ons luister as ons lewens nie wys dat ons glo wat ons verkondig nie. Maar wanneer ons lewens anders lyk, wanneer ons volgens die Woord lewe, bevestig ons lewens die Evangelie wat ons verkondig.

Mense gaan nie vir ons luister as ons lewens nie wys dat ons glo wat ons verkondig nie. Click To Tweet

Moet gelowiges sê: “Verkondig altyd die Evangelie en gebruik woorde as dit nodig is”? Glad nie. Dit klink dalk mooi, maar dit is onmoontlik om sonder woorde die Evangelie te verkondig. Sê eerder: “Verkondig altyd die Evangelie en wys met jou manier van lewe dat die Evangelie jou verander het.”

Gerhard is tans predikant by die Gereformeerde Kerk Komatipoort

Gerhard is tans predikant by die Gereformeerde Kerk Komatipoort

WhatsApp WhatsApp