Site icon Scriptura

Is dit werklik hoe Dopperkerke ‘n verskil maak en wil maak?

Repliek op opmerkings van ds. Charl van Rooy in ‘n artikel van Netwerk24

Dit was met groot opgewondenheid wat ek die artikel “Dis hoe Dopperkerke ‘n verskil maak en wil maak” van Vrydag 6 Januarie 2023 op my Netwerk24-toep raakgesien en begin lees het. Hierdie opgewondenheid was ongelukkig van korte duur en is vervang met ‘n diepe kommer. ‘n Kommer omdat die verskil wat Dopperkerke maak en kan maak, volgens ds. Charl van Rooy in die verwerping van dit wat ons as gereformeerdes nog al die jare glo en bely op grond van God se Woord, lê. 

Lesers kan dalk vra waarom ek nie die saak persoonlik met ds. Van Rooy opneem nie. Waarom op ‘n openbare platvorm antwoord? Waarom nie die weg van Matteus 18 volg nie? Sou ds. Van Rooy se opmerkings in ‘n persoonlike gesprek teenoor my gemaak word, sou ek dit persoonlik met hom uitgeklaar het. Ds. Van Rooy se opmerkings is nie in ‘n persoonlike gesprek gemaak nie, maar op ‘n openbare platvorm. Sy opmerkings is opmerkings wat aan die groot klok gehang is. Die openbare opmerkings vereis ‘n openbare antwoord.

Die moontlikheid bestaan dat ds. Van Rooy verkeerd aangehaal is. Tog het daar reeds ‘n hele paar dae na die publisering van die artikel verbygegaan, sonder enige verklaring van ds. Van Rooy se kant af dat hy enigsins verkeerd aangehaal is.

Met hierdie skrywe gaan ek nie op elke punt van die artikel ingaan nie. Ek wil graag in hierdie skrywe op twee sake uit die artikel fokus, nl. die uitsprake gemaak oor vroue in die amp van ouderling/predikant (VIDA) en uitsprake gemaak oor God se soewereiniteit en voorsienigheid.

Die GKSA stap al ‘n baie lang pad met die VIDA-saak (langer as 30 jaar). ‘n Lang pad omdat ons in ons manier van doen, ruimte laat om die lig van die Woord van God te laat skyn op sake, en mekaar vanuit die Woord van God oor sekere sake te oortuig. In al die jare wat die GKSA oor VIDA gepraat het, het die GKSA nog altyd by die belydenis gebly dat God net sekere mans roep om in die amp van ouderling/predikant te dien. Ja, daar is sommige wat nie saamstem nie, maar hulle kon nog nie op grond van die Skrif duidelik wys dat vroue wel in die amp van ouderling/predikant mag staan nie, terwyl die roeping van bekwame manne duidelik geleer word in die Woord van God.

Ek maak ‘n punt daarvan om dit te noem, aangesien die artikel sê: “Van Rooy meen die kerke wat teen die vrou in die amp gekant is, is in die minderheid. As al die gemeentes sitting in die algemene sinode gehad het – wat hy sê met ‘n digitale sitting moontlik is – ‘het ons lankal vroue in die amp gehad.’”

Tog het al die gemeentes “sitting” in die Sinode, aangesien ‘n gemeente na die klassis toe afvaardig, die klassis na die streeksinode en die streeksinode na die Sinode. Op hierdie manier neem die kerke dan almal saam besluite volgens die Skrif, gereformeerde belydenisse en -kerkreg. Die kerke wat saam vergader oor die VIDA-saak het ook elke keer tot die duidelike gevolgtrekking gekom dat God nie vroue in die amp van ouderling/predikant wil hê nie. 

Verder laat ds. Van Rooy dit klink of die VIDA-saak eenvoudig oor meerderheid van stemme gaan. As die meerderheid ten gunste van iets is, moet dit gebeur. Iemand wat al bietjie dieper gedink en gelees het oor die saak vanuit ‘n gereformeerde oogpunt, sal besef dat ons nie hier met ‘n meerderheidssaak te doen het nie, of selfs ‘n saak waarin elke gemeente vryheid het om te doen wat hulle wil nie, maar ‘n saak van gehoorsaamheid aan die Woord van God. Wat sê God in sy Woord oor VIDA? Die stem van die meerderheid is nie noodwendig die stem van God nie. God het Homself duidelik in sy Woord geopenbaar.

Dopperkerke gaan nie ‘n verskil maak deur weg te beweeg van die gesag van die Woord nie. Of mense hierdie gesag nou aanvaar of nie. Dopperkerke gaan ‘n verskil maak deur in ‘n donker wêreld by die waarheid van die Woord te hou in alle sake.

Dit gaan die natuurlike gevolg hê dat ons nie baie gewild in die wêreld gaan wees nie. Dit gaan die natuurlike gevolg hê dat ons nie deur die tydsgees meegesleur gaan word nie, maar daarteen gaan stelling in neem. Dit gaan die natuurlike gevolg hê dat ons by tye alleen sal staan teen ‘n oormag. In hierdie donker wêreld het mense die lig van die Woord nodig. Hoe gaan ‘n kerk ‘n verskil maak deur die lig van die Woord te demp, eerder as om dit te laat skyn?

Dit is op hierdie punt wat die twee sake wat ek graag in hierdie skrywe aanraak, bymekaar kom. Deur dit te laat klink asof God nie oor alles regeer nie, is ʼn mens ook besig om die lig van die Woord te demp.

Ds. Van Rooy meen dat ons God se betrokkenheid by die wêreld verkeerd verstaan. “Dis die ontnugtering van die ouens: Hulle het grootgeword met die teologie van dit is God wat al hierdie slegte goed laat gebeur, en dan sê mense: Maar ek wil nie in so ‘n god glo nie. Ek stem vir geen oomblik daarmee saam dat God die een is wat Covid gestuur het, of wat ‘n oorlog of een of ander ellende laat gebeur nie.”

Sy woorde klink baie mooi en amper troosryk. Maar as mens bietjie daaroor gaan dink, besef mens hoe troosteloos ‘n wêreld is waar God nie oor alles regeer nie. Doen ʼn mens nie afbreek aan God se almag deur te sê dat daar sekere dinge is wat nie van Hom af kom nie?

Dink bv. aan ‘n gedeelte soos Habakuk 3. In vers 5 staan (2020-vertaling): “Voor Hom loop pessiektes, op sy spore volg plae.” In Habakuk 3 word dit duidelik gemaak dat die Here oor die volke en die skepping regeer. 

Dink bv. ook aan ‘n gedeelte soos Eksodus 12 wat oor die 10de plaag gaan waarmee die Here die Egiptenare getref het. In vers 12 staan: “Ek sal daardie nag deur Egipteland gaan en alle eersgeborenes in Egipteland tref, mens en dier. Oor al die gode van Egipte sal Ek oordele voltrek. Ek is die HERE.” Dit is God wat die plae gestuur het.

Ds. Van Rooy verwys na Matteus 10:29 en verkies die 2020-vertaling wat sê: “sonder julle Vader”, teenoor die lesing van die 1983-vertaling wat sê: “Sonder die wil van julle Vader”. Sê dit nie maar dieselfde ding nie? Ds. Van Rooy se verklaring laat dit klink asof God nie regeer nie, maar wanneer iets gebeur, kan Hy daarop reageer.

God openbaar Homself in die Woord as die God wat geskep het en steeds onderhou, dus dat Hy voorsien.

Oor God se voorsienigheid bely Doppers, op grond van die Woord, in Sondag 10 van die Heidelbergse Kategismus: “Wat verstaan jy onder die voorsienigheid van God?” Antwoord: “Dat die almagtige en oralteenwoordige krag van God waardeur Hy hemel en aarde en al die skepsels asof met sy hand nog onderhou en so regeer dat lower en gras, reën en droogte, vrugbare en onvrugbare jare, voedsel en drank, gesondheid en siekte, rykdom en armoede en alles ons nie per toeval nie, maar uit sy Vaderhand toekom.”

God se voorsienigheid maak Hom nie die Outeur van die sonde en die kwaad nie, maar dit maak dit duidelik dat Hy ook daaroor regeer. Dit verras Hom nie.

Deur te sê dat God nie Covid of ‘n oorlog of ander ellende laat gebeur nie, sê ds. Van Rooy daar is dinge waaroor God nie regeer nie. Dinge waaraan Hy nie iets kan doen nie. Dat daar sekere sake is wat buite-om God se almag gebeur. Maar darem kan Hy ons troos wanneer dit gebeur. Inderwaarheid verwerp hy God se voorsienigheid en almag. Hy ontken God soos Hy Homself in Sy Woord aan ons openbaar.

Die GKSA gaan nie ‘n verskil maak deur die lig van God se Woord te demp nie. Die GKSA gaan nie ‘n verskil maak deur besluite te neem op grond van die tydsgees en nie op grond van God se Woord nie. Die GKSA gaan nie ‘n verskil maak deur God se almag en soewereiniteit te bevraagteken en Hom ‘n “gemaklike” en “aantreklike” God vir die wêreld te maak nie. Die GKSA gaan dalk meer gewild in die wêreld met hierdie dinge wees; daar mag dalk selfs ʼn groot oplewing in lidmaatgetalle wees, maar die GKSA gaan dan nie meer die naam kerk kan dra nie.

Ek hoop van harte dat ds. Van Rooy verkeerd aangehaal is in die artikel. Indien hy wel akkuraat aangehaal is, het hy ‘n streep deur sy bevestigingsformulier getrek. Sê hy nie eintlik dat die “Dopperkerke” ‘n verskil sal maak deur nie meer God se Woord as hoogste gesag te aanvaar nie, deur nie meer gereformeerd te wees nie en deur nie meer gehoorsame kerk te wees nie?

As die Here se kerk is ons geroep om in die lig van sy Woord te leef en om die lig van sy Woord in ‘n donker wêreld tot sy eer te laat skyn. Wanneer ons dit doen, sal die gemeentes van die GKSA ‘n verskil maak. Ons kan dit doen met die troos dat Hy voorsien en oor alles regeer.

Ds. GP van Rhyn
Gereformeerde Kerk Komatipoort

Exit mobile version