Press "Enter" to skip to content

In Vitro Bevrugting

Mediese etiek en die Kerk

Baie getroude gelowiges is in stille eensaamheid hartseer oor hulle kinderloosheid. Hulle gaan van dokter na dokter, van behandeling na behandeling en moet tussendeur talle besluite neem. Moeilike besluite. Besluite wat dikwels baie “grys areas” inhou. Besluite waar man en vrou soms verskil en verdere spanning in die huwelik bring.

So kan ‘n kinderlose paartjie bv. eendag voor die moontlikheid te staan kom, om In Vitro-Bevrugting (IVB oftewel meer bekend as die engelse afkorting, IVF) te oorweeg. Tot ‘n groot mate moet hierdie gelowige paartjie die moontlikheid van IVB oorweeg sonder enige, of baie min, leiding van mede-gelowiges en geestelike leiers. Goeie Gereformeerde leiding met betrekking tot IVB is nie altyd vir almal so maklik en vinnig te vinde nie.

Miskien is jy self opsoek na antwoorde…Mag gelowige getroudes gaan vir IVB of nie? Indien nie, hoekom nie? Indien wel, is daar enige leiding vir hulle vanuit die Skrif, om die pad vorentoe aan te durf?

 

Wat is In Vitro-Bevrugting?

Ons gee een tree terug, om net eers IVB te definieer. IVB is letterlik in glas-bevrugting. Dit verwys na ‘n bevrugtingsproses wat buite die liggaam plaasvind. “Be­vrug­ting word buite die baarmoeder be­werkstellig deur sperm (van die eggenoot of ’n skenker) en ’n aantal eierselle in ’n glasbakkie met vloeistof bymekaar te bring. Die eierselle word verkry deur hormoonbehandeling en die afsuig van ’n aantal ryp eierselle van die vrou se eierstokke met behulp van ’n naald wat deur die maagwand gesteek word. ’n Hele paar van die in vitro-bevrugte embrio’s word in die baarmoeder teruggeplaas, omdat die kans op swangerskap gering is. Die res word gevries vir geval die prosedure nie die eerste keer slaag nie.” (G Meilaender 1996. Bio-ethics: A Primer for Christians. Grand Rapids: Eerdmans.) Wat definisies en mediese terme betref, laat ons dinge eers net daar.

 

Die grense van In Vitro-Bevrugting: heteroloë en homoloë inseminasie

Kom ek val met die deur in die huis: Saam met meeste Protestantse Kerke meen ek, dat IVB ‘n moontlikheid vir Christene mag wees, binne perke.

IVB is vanuit die staanspoor pro-lewe. Oor die algemeen is IVB nie ‘n manier vir wetenskaplikes om te eksperimenteer met embrio’s of iets dergelik nie. IVB bied die geleentheid vir kinderlose getroudes, om hulle leed te verminder. Getroude gelowiges sou, as die Here dit so wil, met IVB ‘n nageslag kon verwek, om hulle in die vrese van die Here op te voed.

Tog moet ons vir mekaar sê: net omdat IVB ‘n moontlikheid is, beteken nie alle IVB-metodes, geleenthede of moontlikhede is reg nie. Daar is grense. Kom ek noem as voorbeeld hierdie twee vrae:

– Mag ‘n gay-paartjie, d.w.s. twee mans (of twee vrouens) vir IVB gebruikmaak van oosiet donasies (of spermsel donasies) om vir hulle kinders te verwek? Of,

– mag ‘n getroude man en vrou, waarvan bv. die man onvrugbaar is, dan met IVB die vrou se oosiet laat bevrug met die saadsel van ‘n anonieme skenker?

Hierdie vrae gee maar net ‘n klein kykie in die groot hoeveelheid opsies, redes en moontlikhede wat daar vir IVB is. Ons kan nie in hierdie artikel aan al die probleme en vrae aandag gee nie, maar bogenoemde twee vrae is voorbeelde waar IVB nie mag plaasvind nie. Om kinders te laat verwek vir ‘n homoseksuele paartjie gaan lynreg in teen God se skeppings- en liefdesorde. Die paartjie, waar die man bv. onvrugbaar is, moet ook nie sover gaan, om die vrou se oosiet deur ‘n skenker-saadsel te laat bevrug nie. So bring hulle ‘n derde party in die huwelik in. Die resultate van so ‘n bevrugting is dieselfde as ‘n buite-egtelike verhouding.

Dit is duidelik: sou Christen-getroudes IVB oorweeg, moet dit binne bepaalde grense plaasvind. Grenslyne wat die Skrif self trek. Ons kan miskien die IVB-grense vir onsself konkreet maak, deur die twee kategorieë inseminasies (inplantingsmoontlikhede) van IVB te noem: heteroloë en homoloë inseminasies.

Heteroloë inseminasies

Heteroloë inseminasie is daardie kategorie inseminasies waar ‘n ander party se eiersel of saadsel gebruik word vir bevrugting. Die probleme en gevolge van heteroloë inseminasies is sekerlik ontelbaar.

Met heteroloë inseminasie het ons die grense oorskry, aangesien ons ’n derde party in huwelik inbring. Sommige (Gereformeerde) etici noem hierdie tipe inseminasie “proefbuisprostitusie”, in die geval van veral getroudes wat IVB ondergaan.

Homoloë inseminasies

Ons moet die grense vir IVB trek by homoloë inseminasie. Dit is daardie kategorie wat verwys na bevrugting deur die eiersel en saadsel van ‘n getroude man en vrou. Wanneer ons as Christene praat oor IVB, dan moet ons onsself hou by homoloë inseminasie. Selfs binne die perke van homolë inplanting is daar nog heelwat vrae en grys areas.

Wanneer ons dus verder praat van IVB, dan bedoel dit slegs homoloë, en nooit heteroloë inseminasie nie. So…IVB deur middel van heteroloë inseminasie? Nee. IVB deur middel van homoloë inseminasie? Miskien…

 

Die “embrio-vraagstuk”

Hoekom “miskien”? Omdat daar nog heelwat etiese vraagstukke is wat ons vir onsself moet uitmaak, selfs al het ons onsself al beperk tot homoloë inplantings. Een van die grootste vraagstukke wat nou ontstaan, is die vrae rondom dit wat met die embrio’s tydens IVB gebeur:

 

  • Tydens In Vitro-Bevrugting ontstaan (DV) ‘n embrio in die proefbuis. Dikwels word heelwat eierselle ge-oes om bevrug te word deur die man se saadselle en so ontstaan daar ook heelwat embrio’s. Al hierdie embrio’s word dikwels nie in die baarmoeder ingeplant nie. Die orige embrio’s word gevries en gestoor, sodat dit later moontlik ook ingeplant kan word. Die inplanting vir sulke gevriesde embrio’s kan heelwat komplikasies veroorsaak.
  • Daar is ook ander opsies vir paartjies beskikbaar, bv. om die orige, gevriesde embrio’s te laat “aanneem”, sodat die embrio vir iemand anders ingeplant kan word.
  • Daar is ook die moontlikheid van embrio-donasies vir wetenskaplike doeleindes (hoewel nie in Suid-Afrika nie en slegs in akademiese eenhede).
  • Die opsie om die embrio’s vir ‘n onbepaalde tyd te laat stoor word ook as moontlikheid vir die paartjie aangebied. Soms stel die klinieke ‘n tydbeperking in, waarna die embrio’s vernietig word.

 

As gevolg van hierdie morele probleme rondom die embrio’s, kies paartjies dikwels om net een embrio op ‘n slag te laat vorm. Dit is duidelik dat daar, letterlik, lewensbelangrike besluite geneem moet word in terme van die embrio’s. Psalm 139:16 maak dit duidelik dat die Here die “ongevormde klomp” in die baarmoeder ken: “U oë het my ongevormde klomp gesien; en in u boek is hulle almal opgeskrywe: dae dat alles bepaal was, toe nog geeneen van hulle daar was nie”. Dit moet tog ook beteken, dat Hy selfs die ongevormde klomp in die proefbuis ken!

Die klein embrio is geskape na God se beeld. In al ons hartseer, as kinderlose gelowiges, mag ons dit nooit vergeet nie. Ons glo dat lewe begin direk met bevrugting, of dit nou in die baarmoeder of in die proefbuis is (Job 10:8-12, Psalm 139:13-16). Ons mag nie met hierdie mense-lewetjie eksperimenteer en maak soos ons goeddink nie. Ons moet die grootste agting vir lewe hê. Die Here is die enigste Gewer van lewe. Selfs die lewe wat ontstaan buite die vroulike liggaam, is lewe wat God gee.

As die Here reeds vir iemand kinders gegee het deur IVB, maar daar is steeds embrio’s wat oorbly en gestoor is, dan mag daardie embrio’s nie vernietig word nie. Ons sou eerder kon oorweeg om daardie embrio’s te laat aanneem deur ‘n ander kinderlose paartjie (wat uit die aard van die saak nóg ‘n hele nuwe etiese vraagstuk opdis!)

 

Die waarskuwing

Ek dink dit is duidelik, dat IVB vir ons as Christene voor legio morele en etiese probleme plaas. Daarom dink ek moet ons ook die moontlikheid vir IVB radikaal verskraal. Die vraag of IVB mag plaasvind of nie, is nie in alle gevalle “ja” nie, maar hoogstens ‘n “miskien”. Ons sou as gelowiges wys wees, om eerder met IVB in meer gevalle “nee” te sê, as wat ons onbepaald “ja” sê.

Die probleem rondom IVB gaan nie net oor die embrio’s of kinderloosheid nie. Dit raak ons geloof ten diepste – elke gelowige en kinderlose paartjie sal dit vir jou sê. Dit raak ons berusting in God se almag en soewereiniteit – ons sukkel noodwendig om die Here se wil vir ons lewens te verstaan.

Hieroor sal ons moet berusting vind, alvorens ons begin met IVB, want sê nou maar die IVB-proses is onsuksesvol? Gaan ons dan verdere en meer drastiese stappe neem, soos bv. heteroloë inseminasie? Of sal ons in geloof die lyne kan trek en sê: die IVB-prosedures was onsuksesvol. Nou berus ons by die Here se besluit, dat ons nie kinders sal verwek nie. Tussendeur al die hartseer, moet ons al te versigtig wees, dat ons nie soos Abraham en Saraï die verwekking van ‘n nageslag net in eie hande wil neem nie (Gen. 16).

Getroude en kinderlose Christene wat wel IVB oorweeg moet in alle erns en opregtheid hulle eie harte ondersoek en vra: “hoekom gaan ons vir IVB?” Wat is julle beweegrede?

  • Is dit dalk net om die “ideale prentjie van ‘n getroude paartjie – man, vrou en kinders” te hê?
  • Is dit dalk om ‘n gevoel van eensaamheid stil te maak?
  • Is dit dalk ‘n laaste poging om ‘n reeds-gebroke huwelik te probeer heelmaak?

Ondersoek julle harte en vra die Here biddend of julle redes vir IVB reg en goed is in Sy oë. Vra ook hulp, raad en bystand van mede-gelowiges en geliefdes. Soek na wyse en Godvresende gelowiges, om hulle te raadpleeg.

 

Die troos

Die IVB-vraagstuk is ‘n baie moeilike onderwerp, maar met dit alles wat nou reeds gesê is, meen ek, dat IVB wel mag plaasvind vir enkele gevalle. Om ‘n deursnee antwoord hier te gee, vir watter gevalle wel IVB mag oorweeg, is onmoontlik. Ons moet in ag neem, dat kinderloosheid vir getroudes baie keer ook die gevolg kan wees van ander probleme, as net onvrugbaarheid. Daar is dalk psigiese probleme by een of albei paartjies, wat geslagsgemeenskap onmoontlik maak, of dalk is een party vermink, ensovoorts. Om IVB geheel en al as onbybels en verkeerd af te keur vir alle gevalle, is na my mening nie reg nie.

Tussendeur die verdriet van kinderloosheid, mag ons bid: Here, “hou my trane in u kruik” (Ps. 56:9-11). Ons mag vra dat die Here let op ons trane; dat Hy sal sien deur watter diepe smart ons gaan en dat Hy ons leed sal verlig. Ook ons wat kinderloos is, moet ons totale vertroosting en vervulling gaan soek in ons Here Jesus Christus. Hy stuur Sy Trooster.

Ek besef dat daar nog heelwat onopgeloste vrae oorbly en daar is heelwat gesprekke nodig vir die wat IVB oorweeg. Hopelik verskaf hierdie artikel ten minste ’n basis vanwaar verdere geloofsgesprekke kan plaasvind.

Tussendeur die verdriet van kinderloosheid, mag ons bid: Here, “hou my trane in u kruik” (Ps. 56:9-11). Ons mag vra dat die Here let op ons trane; dat Hy sal sien deur watter diepe smart ons gaan en dat Hy ons leed sal verlig. Click To Tweet
WhatsApp WhatsApp
%d bloggers like this: