Site icon Scriptura

Luisteraarsvraag: Verassing vir Suid-Afrikaners in die buiteland. Watter opsies is daar?

Scriptura het die onderstaande luisteraarsvraag ontvang:

“Hi Marnix,

Ek het julle podcast geluister oor verassing. Ons bly in Dubai en is Australiese burgers. Ons is al meer as 15 jaar uit SA uit. Ons wil veras word siende dat ons nie in SA bly nie en ook nie in Aus nie. Ons wil ook nie in Dubai begrawe word nie. Wat sal julle sê is ons opsies. Baie dankie

Alysia”

Ds. Marnix Boersema antwoord soos volg:

Die episode waarna Alysia verwys, kan hier geluister word. Daar is ook ’n handige inligtingstuk van ds. A Lindhout wat dalk sinvol kan wees om ons vrae oor verassing te beantwoord.

Alysia, ter wille van ander wat ook hier lees wil ek graag die hele saak rondom Begrafnis en verassing mooi begrens. Dit gebeur vinnig dat mense te min maak van die hele saak van verassing of begrafnis. Aan die ander kant maak mense soms weer heeltemal te véél daarvan. Dit is teen laasgenoemde wat ek hier wil waarsku.

Om veras of begrawe te word is nie ’n saak wat die Evangelie raak nie. Om begrawe te word is ook nie iets wat uitdruklik in die Skrif in hoofstuk-en-vers beveel word nie. Ons moet nie begrafnis en verassing ’n saak van redding maak nie. Dit beteken natuurlik nie dat hierdie etiese vraagstukke onbelanrik is nie.

Die vrae rondom verassing en begrafnis het te make met ons wêreldbeskouing. (Luister gerus hier om meer te leer oor wêreldbeskouing en veral die Christelike wêreldbeskouing). Ons moet dus hierdie etiese vraagstukke beantwoord in die lig van die Skrif in sy geheel. Ons moet ons laat lei deur die Heilige Gees in ons besluite en ons laat inlig en leer deur die Woord.

Dit net as inleidende opmerkings, waaroor ons eintlik nog baie meer moet sê, maar ek aanvaar dat baie hiervan alreeds vir jou bekend is, omdat jy ons episode oor die “verassing” reeds geluister het.


Alysia, as ek reg lees koppel jy die vraag oor begrafnis en verassing direk aan die land waar julle woon. Ek kan dit begryp. Waar ons sterf is ten nouste verbind aan waar ons geleef het. So het die Jode ook gepraat van doodgaan as “om na die vaders te gaan” (Genesis 15:15). Soos hulle, wil ons finaal rus by ons mense en selfs op ons grond as ons kan — by ons vaders, ons mense.

Josef het ’n baie insiggewende geloofsuitkyk op hierdie saak gehad. Hoewel hy gesterf het in Egipte (en waarskynlik soos alle Egiptenaars gebalsem is) is hy nie in Egipte volgens die Joodse gebruik begrawe nie. Tog het Josef ’n geloofsuitspraak op grond van die Here se beloftes gemaak en gesê:

“As God sekerlik op julle ag sal gee — bring dan my gebeente hiervandaan op.” (Genesis 50:25)

Josef het geglo die Here sal sy beloftes van ’n Beloofde Land waar gaan maak. Nou is Josef en sy mense in Egipte, hulle is beslis (nog nie) in Kanaän nie. Tog wil Josef met sy dood en selfs met sy bene (die sarkofaag waarin sy bene lê) iets bely. Daarom sê hy, wanneer die volk uitgelei word na die Beloofde Land, moet hulle sy lyk saamvat!

Uiteindelik het die Here later wél Sy beloftes nagekom en Israel het Josef se beendere saamgeneem. Ons lees in Josua 24:32:

“Ook die gebeente van Josef wat die kinders van Israel uit Egipte saamgebring het, het hulle begrawe in Sigem, op die stuk grond wat Jakob van die kinders van Hemor, die vader van Sigem, vir honderd geldstukke gekoop het, en wat die kinders van Josef as erfdeel ontvang het.”

So kon Josef uiteindelik “na sy vaders gegaan.”

Alysia, hiermee probeer ek om ’n Bybelse beskouing te gee op ons laaste oomblikke, ons dood en selfs wat die lyk van ’n gelowige getuig. Met begrafnis of verassing sê ons iets, selfs al kan ons nie meer praat nie. Dit is ’n laaste geloofsbelydenis.

In die Bybelse wêreldbeeld is vuur, vlam en verbranding iets wat dikwels dui op oordeel, vloek en verdoemenis (dink maar aan Sodom en Gomorra). Begrafnis, in die Bybelse wêreldbeskouing, sê eerder iets van die verwagting van nuwe lewe, opwekking en heerlikheid! ’n Begrafnis getuig van die Here se beloftes, dat die liggaam in die krag van Christus opgewek gaan word (1 Korinthiërs 15). ’n Begrafnis van ’n gelowige sê, dat die einste liggaam wat begrawe is wel die hemelse Beloofde Land se binnegaan, sodat ons kan wees by die God van die Belofte en ons geloofsvaders.

Aangrypend is dit nie: die lyk van ’n gelowige is op die manier nie stil nie, maar soos die bene van Josef getuig dit. Dit praat. Dit spreek van iets wat kom — iets heerliker en beter as die dood wat ons hier op aarde sien: die Nuwe Jerusalem (Open. 21,22).

Ek hoop dit help julle om ’n besluit te neem.

G. Marnix Boersema

Exit mobile version