Press "Enter" to skip to content

Niksseggende redenasies

Die wêreld poog alewig om die waarheid te verdoesel, deur woorde en definisies te verander. Sonde en veral seksuele sonde, word anders omskryf. Allerhande argumente word opgebou, om onsedelikheid as normaal voor te stel.

Daarom word pornografie deesdae bestempel as gesonde eksperimentasie. Homoseksualisme is maar net ‘n ander geslagsidentiteit – “liefde is liefde”. Aborsie is nie moord nie, dit is gesondheidsorg. So kan ‘n mens aangaan.

Die wêreld vind gedurig allerlei fraai frases om growwe misdade teen God vrolik in te kleur met al die kleure van die reënboog.

Die rede vir alewige nuwe en kreatiewe definisies, is ‘n tevergeefse poging om los te kom van die morele eise wat God stel. Dit is waarvan Psalm 2 praat: die ongehoorsame mense wat saampsan teen die Here en Sy Gesalfde en sê: “Kom ons breek hulle boeie stukkend, kom ons gooi hulle bande van ons af!” (Ps. 2:3)

Paulus beskryf hierdie “kreatiewe” argumente as nikseggende en sinnelose redenasies: “Laat niemand julle verlei met niksseggende redenasies nie, want daardeur kom die toorn van God oor die seuns van die ongehoorsaamheid.” (Ef. 5:6)

Die redenasies is nikseggend, want dit hou nie rekening met God en Sy oordeel nie. Inteendeel, die nuwe woorde en definisies is ‘n poging om van die Waarheid in ons woorde ontslae te raak. Dit is ‘n poging om die realiteit van God se huidige en komende oordeel weg te redeneer.

Die gevaar vir Christene is duidelik: hierdie vindingryke frases en redenasies is misleidend. Dit wil ons verlei om te dink:

(a) Seksuele sonde mag nie as “sonde” gebrandmerk word nie, want dan is jy liefdeloos.
(b) Seksuele sonde is nie só gevaarlik nie en God se straf rus nie op die wat ‘n leefstyl daarvan maak nie.
(c) Porneia (=onsedelikheid) is eintlik die norm vir elke normale (lees: “intellektuele”), moderne mens.

Teenoor die wêreld se pogings om allerhande onsedelikheid aan ons voor te hou as liefde, weet ons wat is ware liefde –

Ware liefde is die liefde wat Jesus Christus vir ons het (Ef. 5:1,2). Daar is ware liefde in die Waarheid. Liefde en waarheid is soos Vinkel & Koljander: “Die liefde…is nie bly oor onreg nie, maar is saam bly oor die waarheid” (1 Kor. 13:6).

Ware liefde soek die waarheid in woorde en definisies, juis tot voordeel van ‘n ander. As ons lief is vir iemand, sal ons nie verdraaide en nikseggende argumente onderskryf om sonde te probeer goedkeur nie.

Moet nie mislei word nie. Ons kan nie Bybelse beginsels en leringe herdefinieer om meer liefdevol of aanvaarbaar te klink nie. Dit is liefdeloos en maak mense baie seerder. Wanneer ons die waarheid in ons woorde en ware Bybelse definisies handhaaf, dan word sonde ontbloot vir wat dit is.

Om die ware Bybelse defnisies van sonde te behou is liefdevol!

2 Comments

  1. Magriet Magriet

    Dit is so waar. Die ergste is die onlangse ontdekking van ‘Minor attracted person’, wat die nuwe, polities-korrekte woord is vir n pedofiel.

    • Definitief, Magriet. Die LGBTQ…+ filosofie sal nie kan stop by “transgender” nie, maar sal uiteindelik pedofilie en allerhande soortelyke perversiteit moet insluit. Skrikwekkend.

Leave a Reply to MagrietCancel reply

This site uses Akismet to reduce spam. Learn how your comment data is processed.