Press "Enter" to skip to content

In die slingervel van verwronge teologie: gedagtes oor ‘n boodskap van Jo Black

powered by Advanced iFrame. Get the Pro version on CodeCanyon.

Jo het ‘n oulike en humoristiese manier om sy verhaal te vertel. Hy vertel van sy moeilike ervaring, veral voor hy meer blootstelling in die musiekbedryf beleef het. Hy het onder andere gebuk gegaan onder “finansiële stres”, minderwaardigheid en depressie. Hierdie probleme, sê Black, het voor hom gestaan soos die reus Goliat en sy vier broers. Hy kom tot die gevolgtrekking dat hy soos Dawid ‘n klip in geloof moes gooi om elkeen van die reuse te verslaan. Ander mense het ook namens hom ‘n klip gegooi, vertel hy.

Hy sluit sy video af met die inspirerende boodskap, dat elkeen van ons dalk ‘n Goliat het wat voor ons staan. Een of ander moeilike situasie of omstandighede, soos bv. kanker, depressie, armoede ensovoorts. Hierdie Goliat, sê Black, kom staan dalk voor ons “dat daar ‘n Dawid in jou kan wakker word”.

Ek geniet Jo se musiek. Ek geniet die manier waarop hy die storie vertel, maar ek geniet nie die teologie agter sy boodskap nie. Die boodskap van Black se video is vir my kommerwekkend, want dit wat ‘n mens daar hoor, hoor ‘n mens al hoe meer onder Christene in Suid-Afrika.

Kom ek probeer verduidelik, deur te wys wat die vyf klippies in die slingervel van swak teologie kan wees.

(Let wel: ek sê nie alles wat ek hier noem is Jo Black se standpunt nie. Ek is nie besig om hom te beskuldig of te veroordeel nie. Ek wil nie ontken dat hy ‘n Christen is nie. Ek lig bloot uit dat sy boodskap baie algemene elemente van ‘n verwronge, maar gewilde teologie in Suid-Afrika verklap.)

1. Ervaring

Die eerste klip in die slingervel van swak teologie, is ervaring bo “feite”. Dit is emosies bo eksegese. Belewenis bo die Bybel.

Black sê aan die begin van sy video, dat hy ‘n mens nie wil verveel met die feite nie, maar eerder sy persoonlike ervaring(s) met ons deel. Dit maak sy video miskien ‘n bietjie meer “verteerbaar”, veral op sosiale media, want ons wil nie verveel word nie. Feite in vandag se tyd van onmiddelike vermaak is dodelik. Ons wil meer voel as wat ons dink!

Al hoe meer in Suid-Afrika, hoor ‘n mens meer eksegese van mense se ervarings, as eksegese van die Skrif. Eksegese beteken ‘n mens haal uit die Skrif wat die Outeur daarmee bedoel binne die konteks van die Skrif. Deesdae ontleed al hoe meer mense eerder hulle ervarings en soek ‘n Christenstorie waarby dit pas.

Die eerste klip in die slingervel van swak teologie is die verhewenheid van ervaring bo eksegese.

[bctt tweet=”Al hoe meer in Suid-Afrika, hoor ‘n mens meer eksegese van mense se ervarings, as eksegese van die Skrif.” username=”scriptura_tweet”]

2. Stories

Die tweede klip in die slingervel van swak teologie, is baiekeer die klip teen die gesag van die Evangelie. Dit is ‘n onderbeklemtoning van die historiese feite in die Skrif. Dit maak van die Evangelie-verhale, bloot ‘n versameling inspirerende stories.

‘n Christendom wat die heilige ontsag van God en Sy Woord vergeet, is al hoe meer sigbaar in ons samelewing. Wanneer ons die Bybel nie meer in Sy geheel lees en uitlê nie, kan ons maklik vergeet dat dit Godsopenbaring is van Genesis tot Openbaring. Dit is nie ‘n storieboek nie.

“Die hele Skrif is deur God ingegee en is nuttig tot lering, tot weerlegging, tot teregwysing, tot onderwysing in die geregtigheid,” (2 Tim. 3:16)

Afbreek aan die gesag van die Skrif is ‘n dodelike klip tussen die oë van gelowiges.

[bctt tweet=”Wanneer ons die Bybel nie meer in Sy geheel lees en uitlê nie, kan ons maklik vergeet dat dit Godsopenbaring is van Genesis tot Openbaring. Dit is nie ‘n storieboek nie.” username=”scriptura_tweet”]

3. Kerk

‘n Derde klip, wat al hoe meer geslinger word met die slingervel van swak teologie, is die klip teen die Kerk.

Black lig dit humoristies uit, wanneer hy sê dat hy nie kan kwaad word vir die ou tannie in die kerk nie, want “hy het nog sy kerk-gesig op”. Wat is ‘n kerkgesig? Wat beteken dit? Ek weet nie presies nie.

Al hoe meer mense wat aanvoer dat hulle Christene is hou nie noodwendig die Kerk as Bruid van Christus in hoë aansien nie. ‘ Mens moet versigtig wees oor hoe ‘n mens praat van die Kerk. Ek is dankbaar dat Black ‘n rol speel in sy gemeente (hy sê dat hy “aanbidding lei”) en dat hy heelwaarskynlik ‘n hoë aansien van die kerk huldig.

Tog is dit nie die geval met baie ander “Christene” in ons land nie. Die Kerk is nie ‘n instansie waarby die gelowige opsionele lidmaatskap het nie. Die Kerk is inderdaad heilig. As die Nuwe-Testament sê die Kerk is heilig, dan beteken dit, dit is wat Sy sal wees. God heilig haar deur Sy Gees. Dit beteken nie die kerkmense is sonder sonde, beter as ander mense of hoogheilig nie. Dit beteken die Kerk is mense wat deur God afgesonder is, sodat Hy hulle kan gebruik.

Kerk-wees is ons identiteit in Christus. Deel van hierdie identiteit is gereëlde aanbidding saam met ander gelowiges (in die erediens, onder die Woord). Baie voer deesdae aan “ek is kerk” en “hoef nie kerk toe te gaan nie”. Vir meer hieroor, luister gerus na hierdie episode van Radio Scriptura: https://www.scriptura.co.za/2018/05/deel-van-die-plaaslike-kerk/ 

Suid-Afrikaanse Christendom slinger al hoe meer en al hoe groter klippe teen die Bruid van Christus – Sy Kerk.

[bctt tweet=”Kerk-wees is ons identiteit in Christus. Deel van hierdie identiteit is gereëlde aanbidding saam met ander gelowiges (in die erediens, onder die Woord).” username=”scriptura_tweet”]

4. Allegorie

Hierdie klippie lyk baie soos die eerste een wat ek genoem het. Allegorie en allegoriese prediking lees geestelike betekenis in ‘n teks in, wat nie deur die Outeur bedoel is nie. (Ek troos my daaraan dat nie net baie gelowiges van vandag nie, maar selfs die ou Joodse Rabbi’s baie skuldig was aan allegoriese Skrifuitleg. Hulle het baie kragtige boodskappe en lewenslesse oorgedra vanuit teksgedeeltes, maar die les, was nie noodwendig wat die Skrifgedeelte daarmee bedoel het nie).

Black “verklaar” die Evangelie-verhaal van Dawid en Goliat allegories, deur Goliat en sy broers gelyk te stel met ons probleme. Die dood van Goliat is die einde van die probleem. Ek is Dawid. In geloof oorwin ek die probleem. Kragtige les. Inspirerende storie, maar dit is allegorie.

Ons sien allegoriese verklarings ook in baie Bybelstudiegroepe: “wat beteken hierdie vers vir jou? Vir my beteken dit so en so…” Dit verhef subjektiewe interpretasie bo die ware, objektiewe betekenis van die oorspronklike Outeur. Daar is net een betekenis van ‘n teks en ons moet stoei en soek saam met die gelowiges van alle eeue om dit te vind.

[bctt tweet=”Ons sien allegoriese verklarings ook in baie Bybelstudiegroepe: ‘wat beteken hierdie vers vir jou?'” username=”scriptura_tweet”]

So, nie net is swak eksegese ‘n probleem (eerste klippie) nie, maar net so skadelik is horribale hermeneutiek. Hermeneutiek is die wetenskap van Skrifuitleg. Dit is ‘n wetenskap, wat beteken dit funksioneer ooreenkomstig vasgestelde reëls. Een van die reëls van (Gereformeerde) hermeneutiek sê, dat die leser moet soek na die bedoeling van die Outeur!

Die vierde klip in die slingervel van swak teologie, is allegoriese Skrifverklarings, wat spreek van slegte en onbybelse hermeneutiek.

5. Christus

Hierdie is die rede wat my uiteindelik oortuig het om hierdie artikel skryf. Dit gaan vir my daaroor, dat die teologie in baie Christenkringe al hoe meer wegdryf van Christus self. Hoe so? Wel, as die gesag van die Skrif in twyfel getrek word, ‘n lae beskouing van die Kerk gehandhaaf word en die bedoeling van God se openbaring gemis word, sal ‘n mens al hoe meer preek oor die mens vir die mens. Christus as die Evangelie word verdryf.

Ek wíl jou verveel met die feite, want die feite is Godsopenbaring. Dit tel meer as my ervaring. Die uitleg van 1 Samuel 17 spreek van die verlossing in Christus:

Dawid is ‘n skaduwee van die Seun uit Sy nageslag, Jesus Christus. Die profete voor Dawid het reeds van Hom geprofeteer. Goliat is die ou vyand van Israel en van jou en my: die sonde en die dood.

Wie is jy en ek in hierdie verhaal? Ons is ongelukkig die Israeliete wat te bang was en inderdaad nie in staat was, om Goliat aan te vat nie.

So, Jo Black se boodskap is…oulik, semi-inspirerend en vermaaklik, maar dit is dodelik. Hoekom? Want, wat as ek en almal anders vir Jo ‘n klippie geslinger het, maar hy het nooit ‘n gewilde sanger geword nie? Wat as die Goliat van jou kanker die oorhand kry? Wat as al jou antidepressante nie genoeg is om die reus van depressie te verslaan nie? Sê nou maar daar is niemand anders wat vir jou ‘n klippie kan slinger nie? Wat dan?

Ons het ‘n groter verlossing nodig, as die verlossing van “finansiële stres” en minderwaardigheid. Ons het verlossing nodig van die reus van die dood. Die Doodsreus staan lewensgroot voor ons en ons kan hom nie oorwin nie. Ons sidder vir hom.

Totdat ons Christus, die seun van Dawid op die slagveld sien stap. Sonder wapenrusting. Hy kom staan aan die voorste linies om die kop van die Reuse Slang te vermorsel.

Kom wat wil – alle probleme en moeites! Christus het die klip gegooi en oorwin. Ek dank die Here, dat ek nie Dawid in die verhaal is nie, want nie net sou ek mis gegooi het nie, ek sou nooit vir die geveg opgedaag het nie. As ek myself enigsins êrens in daardie oorlog moet inlees, is ek meer waarskynlik ‘n Fillistyn as enigiets anders.

Ek sê nie Jo Black is nie ‘n Christen nie, of dat hy nie aan die kerk behoort nie. Inteendeel. Ek sê net: oppas vir die klippe uit die slingervel van swak teologie.

[bctt tweet=”Ek dank die Here, dat ek nie Dawid in die verhaal is nie, want nie net sou ek mis gegooi het nie, ek sou nooit vir die geveg opgedaag het nie.” username=”scriptura_tweet”]

11 Comments

  1. Frik Frik

    Ek kan nie glo die kritiek wat ek hier lees nie. Jo is opreg…. Julle kruisig hom oor wat? Dat hy n verskil in mense se lewens wil maak? Dalk is sulke geestelike hoogmoedigheid die rede dat ons kerke besig is om leeg te loop. Dink die Kerk van Jesus se tyd in terme het drasties verskil van vandag. Het die kerk nie soos n franchise geword soos Spur en Spar nie? Behoort aan Een Eienaar maar word bestuur soos ons goed dink….. Groete.

    • Middag Frik,

      Ek dink jy is reg as jy sê daar is gemeentes wat soos ‘n “franchise” geword het. Juis omdat ek hieroor met jou saamstem, dink ek moet ons tog uitwys waar iemand afwyk van dit wat die Een Eienaar bedoel, nie waar nie?

  2. Frik Frik

    Vriend ek weet nie wie jy is of wat jy wil bereik nie. Jou siening oor Joe is jy wel geregtig op….. Maar ek het baie hoe aansien vir daai video. Ek glo dat hy daardeur en deur sy getuienis baie mense op die regte pad kan lei. Dalk beter om n hand uit te steek en te help as om alewig kritiek te lewer oor korrektheid. Dit herrinner my aan n boek wat ek in 1989 gelees het. Sendeling op n boot wou met n ateis praat, maar nog voor hy begin is hy in die rede geval….. Ateis het hom gese dat hy n uitgangspunt het….. As dit nie vir Christene was…. Was alle mense Christene. Ons net mooi pasop wat ons op Sosiale media kwytraak… Veral oor Christenskap. Wil ons rerig die paar mense wat nog probeer n verskil maak in hierdie wereld krtiseer oor korrekte en ingewikkelde teologiese begrippe wat niemand verstaan nie? Of wil ons saam hande vat, mekaar opbou…. Mekaar bystaan en bemoedig? Ek betwyfel glad nie jou opregtheid, toewyding of se dat jy enigsens verkeerde feite opbring nie…. Ek glo dat Jo dalk nie die kennis en geleerdheid het wat jy het op grond van Teologie nie, maar betwyfel geensins sy opregtheid en doel van die boodskap nie. Is hierdie die regte plek om Mede Stryders in geloof aan te vat? Ek dink nie so nie. En dit ook nie my plek om jou aan te vat nie. Ek vra net…. Kom ons maak n verskil waar dit nodig is…. Nie onder mekaar omdat ons kennis en denkwyse verskil nie. Groete…. Nog n ou wat nog altyd n verskil wou maak…. Maar wie se vertroue in mensdom geskend is deur mense wat langs my in die kerk gesit het.

    • Frik,

      Ons moet mekaar opbou, bystaan en bemoedig – veral in hierdie tye wat ons tans in Suid-Afrika beleef! Ek verstaan die Skrif so, dat ons net mekaar kan opbou en bystaan in liefde, deur die waarheid. My kritiek op Jo se video is dus nie omdat ek dink hy is onopreg nie. Inteendeel. My kritiek is juis ter wille van opbou en eenheid – ek poog om te wys wat is waar en wat is reg (o.g.v. die Skrif), sodat ons mekaar so kan bystaan en bemoedig!

      Dit is vir my baie hartseer dat mense wat saam met jou in die kerk sit, jou vertroue geskend het. Ek verwys jou graag na hierdie gesprekke wat ons hieroor gehad het: http://www.scriptura.co.za/2018/05/deel-van-die-plaaslike-kerk/

      Groete!

  3. Jaco Nel Jaco Nel

    Baie dankie Marnix.

    Jou artikel is so verfrissend soos ‘n warm stort wat die taaiheid van ‘n soetsappige ‘word of faith’ boodskap afgewas het. Jo het dit natuurlik goed bedoel en is ongelukkig net nog ‘n slagoffer van die Charismatiese en Postmoderne praatjiesmakers wat ons mense se harte so steel.
    Bly om te sien daar’s nog heelwat jong manne wat gereed staan om die waarheid te predik. Ek het dit self redelik onlangs ontdek en brand soos John Knox aan die binnekant.
    Daar’s nog baie wat na die waarheid smag en op die drumpel staan om dit te ontdek – gooi daai swaard se skede weg en maai onder hulle met die ‘ou Swaard’ soos wat Spurgeon gese het.

  4. FBM FBM

    Goeg gestel Marnix. Veral as jy reeds sterk in die geloof is en opgelei is in teologie of ten minste n goeie Christelike (en dalk Protestantel opvoeding gehad het. Ek dink Jo Black se boodskap is juis daarvoor om die mense wat NIE so sterk geloof het, en reeds mense wat bietjie lou geword het, te teiken. Alles goed en wel dat dit NIE op feite gebasseer is nie en die teologie daar agter effe verdraai is. Ek voel egter dat n saadjie wat hy plant hoef nie noodwendig op die beste plek in die tuin, met die beste bemesting en die meeste water te wees nie. Sy boodskap, of ten minste vir my, is bloot iets wat enige iemand vir enige iemand anders kan se en dan wag op God om die boodskap te ontvorm in iets wat tot eer en verheerliking tot Sy naam en koningkryk kan dien. Jo Black se video bereik meer mense en gee ten miste iets vir daai mense om aan te dink as baie kerke in die land. In plaas daarvan om die ooglopende foute wat mense maak uit te wys (soos die foute in sy video), al is dit ons plig, is dit nie ook n goeie ding om dalk ons vertroue in God se almag te plaas en sien hoe hy uit iets wat nie noodwendig “reg volgens die Bybel” is, in iets te laat onwikkel wat mense nader na hom toe sal kom en minder gelyk aan die wereld nie? Dawid het ook baie gesondig en nie altyd alles in geloof en met geloof gedoen nie, maar was tog een van God se oogappels…soos elkeen van ons ook. Ons doen en se ook dinge wat nie altyd “Bybels korrek” is nie…maar tog gee God ons die geleetheid om dit te doen om sodoende uit n gebroke wereld, met ons verwronge idees, aan mense wat lou is, ons gebrekkige boodskap oor te dra sodat Hy iets mooi, gesond en tot eer en verheerliking van Sy Naam te laat gebeur.

  5. Christiaan Jooste Christiaan Jooste

    Hallo Marnix, Dankie vir die mooi waarskuwende maar ookleersame trant van jou skrywe. Die grootste hartseer van allegoriese verklarings is dat dit die Skrifgedeelte se openbaringsdoel so verberg dat die oorspronklike nie mee gesien word nie. Jo Black se Goliat, Dawid, klippe vergelykings plaas steeds emnse sentraal en sien juis nie die openbaringsdoel nie. Dawid kom na Goliat, nie met die klippies as hoofsaak nie, maar in die Naam van die Here. Goliat se pprtreding is nie net dat hy die volk uitdaag nei, maar die Here. Dawid se vertroue in die Here het nie sy eie oorlewing in die oog nie, maar die oorwinning van die vrbondsvolk. So kan ons aangaan. Punt is: Allegorie is ‘n verdraaiing en verskraling van die Here se selfopenbaring.

    • Baie dankie Christiaan. Hartseer dat ons so baie in allegoriese interpretasies verval (gewoonlik tydens Bybelstudies, of selfs tydens persoonlike stiltetyd). Ons moet altyd weer vra: “wat sê die teks/wat sê die Outeur”. Anders mis ons, presies soos jy sê (en ek stem en beaam dit heeltemaal) die Here se selfopenbaring…BAIE skadelik!

  6. Johann Engelbrecht Johann Engelbrecht

    Marnix, dankie vir ‘n wonderlike uiteensetting van hoe “gewilde teologie” eintlike “dodelike” teologie is. Self kon ek die video nie eens halfpad kyk nie, want die “feite” waarmee hy ons nie wil verveel nie, is in elk geval nie die korrekte feite, soos dit in die Skrif voorkom, nie.
    Die eerste “feit” is dat hy dit laat klink dat daar ‘n profesionele weermag was. Jy’s ‘n bouer, ‘n boer, of ‘n soldaat. Uit die Bybel leer ons duidelik dat manne opgeroep is vir militêre diensplig slegs wanneer daar oorlog was. Jy is dus ‘n bouer óf ‘n boer, maar as die nood druk is jy, willig of onwillig, ‘n soldaat.
    Die tweede “feit” is dat die volk Dawid aangewys het as kampioen met die Filistyne wat dan daarop antwoord deur Goliat aan te wys, net om dit ‘n “fair fight” te maak. Die Bybel maak dit duidelik dat, teen die tyd wat Dawid sy opwagting op die slagveld maak, Goliat alreeds geruime tyd besig is om Israel te tart. Soos jy baie duidelik uitwys, was nie één van die volk bereid om teen Goliat op te trek nie. Toe Dawid sy voorneme bekend maak, wou Saul hom eers met sy eie wapenrusting toerus, maar Dawid was nie gewoond daaraan nie, en het dus met net sy slingervel en vyf klippies gaan veg. Wanneer hy dan teen Goliat uittrek, maak Dawid dit baie duidelik dat sy krag van God kom, hy vertrou volkome op die Here om hom tot hulp te wees.
    Die derde “feit” (ek moet bieg ek kon nie vreeslik veel verder kyk as hierdie nie), is dat Goliat se “broers” teenwoordig was op die slagveld. Ons lees wel van vier Refaïete 2 Samuel 21:22, manne wat heelwat groter as die norm was, maar nie dat hulle Goliat se broers was nie.
    Wanneer iemand, wat, soos Jo Black ‘n baie hoë profiel het as iemand wat “aanbidding lei”, so onverskillig kan omgaan met die feite soos dit daar staan in die Bybel, waar enigiemand dit kan nagaan, hoeveel te meer gaan hy nie onverskillig wees met die uitleg en die naspeur van die heilsgeskiedenis soos dit in en deur Christus tot sy volle verwerklikking kom, nie?

Leave a Reply to Marnix BoersemaCancel reply

This site uses Akismet to reduce spam. Learn how your comment data is processed.