Press "Enter" to skip to content

Onderwerp jou aan die regering (Rom 13)

Lees Romeine 13:1-7

Ons president het onlangs aangekondig dat die grendeltyd met nog twee weke verleng word. Waar ons gehoop het om teen die tyd met meer vryheid te kan beweeg, is dit nie die geval nie.

Soos die grendeltyd al hoe langer duur, word mens al hoe meer bekommerd. Baie mense kry swaar omdat hulle nie kos het om te eet nie. Baie mense maak reg vir die swaarkry wat wag weens die ekonomie wat heeltemal inmekaar tuimel. Dit is ‘n krisistyd. ‘n Tyd waarin ons maklik kan dink: Ons regering het nie ‘n idee wat hulle doen nie.

Wat is ons as gelowiges se roeping teenoor ons regering?

Alle gesag kom van God af

Romeine 13 is deel van die derde hoofdeel van die brief aan die Romeine wat fokus op hoe ons as gelowiges lewe.

Jou redding en jou verhouding met God bepaal al jou ander verhoudings. Ook jou verhouding met die regering.

Die grondbeginsel wat die Here ons hier leer oor ons verhouding met die regering, is dat alle gesag van God afkom. Hy regeer soewerein. Hy bestuur die wêreldregering na sy einddoel toe volgens sy raadsplan.

Omdat alle gesag van Hom af kom, kom enige gesag wat ‘n regering kan hê van God af. Hy kies om regerings daar te hê. Hy stel hulle aan.

God gebruik regerings om seker te maak dat daar wet en orde is. Hy gee regerings die mag om te straf. Dit plaas natuurlik ‘n groot verantwoordelikheid op regeerders: Hulle is deur God daar geplaas, hulle is verantwoordbaar teenoor Hom.

God kies om ons deur regerings te regeer. Hy gee aan regerings gesag. Wat van swak regeerders? Wat van iemand soos Hitler of Stalin of Mugabe? Net omdat God aan hulle hul posisie gee, beteken nie Hy is tevrede met hul misbruik van hul mag nie. Goddelose en ongehoorsame regeerders gaan voor sy regterstoel moet staan en verantwoording doen.

Tog gebruik God goddelose regerings in sy almag. Hy gebruik hulle om sy raadsplan te voltrek. Dink maar bv. aan Nebukadneser wat Hy gebruik het om die Israeliete in ballingskap te voer om hulle te leer om op Hom Alleen te vertrou.

Onderwerping aan die owerheid is onderwerping aan God

Die opdrag wat God aan gelowiges in Romeine 13:1 gee, is baie duidelik: Onderwerp jou aan die owerheid wat oor jou gestel is. Onderwerp beteken om te gehoorsaam en te eer. Die Griekse woord het ‘n militêre oorsprong. Letterlik beteken dit om die regering as iemand te sien wat ‘n baie hoër rang as jy het. Hulle mag vir jou sê wat om te doen.

Die uitspraak in Romeine 13 is een van die duidelikste uitsprake wat ons in die Woord kry oor ons verantwoordelikheid teenoor die regering. God gee aan regerings gesag, daarom moet jy jou aan hulle onderwerp. Wanneer jy jou aan ‘n regering onderwerp, is jy besig om jouself aan God te onderwerp.

Op hierdie punt moet ons vra: Wat weet Paulus, deur wie die Here hierdie brief geskryf het, dan nou van lewe onder ‘n goddelose en onregverdige regering? Kan ons enigsins na hierdie bevel om aan die regering gehoorsaam te wees, luister?

Ons kan en ons moet. Dit is God se Woord hierdie. Verder weet Paulus baie goed hoe erg ‘n onregverdige regering is. Hy het self onder die Romeinse regering onreg gely. Hy het lyfstraf ontvang en is mishandel. Hy is onregverdig in die tronk gegooi. Paulus het aan sy eie lyf die merke van ‘n wrede en onregverdige regering gedra.

Die Romeinse ryk was groot en het ‘n doeltreffende regstelsel gehad. Die regeerders het dit misbruik. Baie mense is onregverdig behandel en verneder. Die mense moes verskillende soorte belastings, waarvan mens nie seker is hoe regverdig hulle almal is nie, betaal. Klink dit bekend?

Die gelowiges aan wie hierdie brief geskryf is, het in Rome gebly. Die middelpunt van die Romeinse Ryk. Die mense het nie veel regte of verteenwoordiging gehad nie. Christene is mishandel en is doodgemaak in die Circus Maximus deur gladiators en diere. Dit is gedoen om mense te vermaak. Minder as 10 jaar na die skrywe van hierdie brief, het Christene onder die gruwelikste vervolging denkbaar onder keiser Nero deurgeloop.

Paulus ken onregverdige en goddelose regerings. Die mense aan wie hy skryf ook. Steeds kom die boodskap reguit en sonder voorbehoud: Onderwerp jou aan die regering, want God kies om jou deur hulle te regeer.

Mens staan oor hierdie saak voor God. As jy jouself aan die regering onderwerp, onderwerp jy jou aan God.

God sê mens moet aan die regering onderdanig en gehoorsaam te wees. Daar is wel een uitsondering: Wanneer die regering van jou verwag om iets te doen wat gaan beteken dat jy aan God ongehoorsaam gaan wees. In sulke situasies gehoorsaam gelowiges God en nie ‘n regering nie.

Ons kry voorbeelde van sulke situasies in die Woord:

  • Die Hebreeuse vroedvroue wat toe die volk in Egipte was, was nie gehoorsaam aan die koning van Egipte nie. Hy het hulle beveel om babaseuntjies dood te maak. “Maar die Hebreeuse vroedvroue het God gedien en nie gemaak soos die Egiptiese koning hulle beveel het: hulle het die seuntjies laat lewe.” Eksodus 1:17.
  • Daniël se vriende wat nie voor die beeld in Babilonië wou buig nie, want dit sou beteken dat hulle God verloën. Hulle het in die vuuroond geland daarvoor. Ons het ons God vir wie ons dien. Hy het die mag om ons te red uit die brandende oond, en Hy sal ons ook red uit u mag. Selfs as Hy dit nie doen nie, moet u weet dat ons u god nie sal dien nie, die goeie beeld wat u laat oprig het, nie sal aanbid nie.” Daniël 3:17-18.
  • Daniël wat nie aan die wet gehoorsaam was dat hulle vir ‘n tyd lank net die koning mag aanbid nie. Hy het voortgegaan om God elke dag te aanbid. Hy was in die leeukuil gegooi daarvoor. “Toe Daniël hoor dat die dekreet uitgevaardig is, het hy na sy huis toe gegaan. Sy dakkamer se venster het na Jerusalem se kant gekyk en soos sy gewoonte altyd was, het Daniël voortgegaan om drie maal per dag voor sy God te kniel en Hom te prys, te aanbid en te dank.” Daniël 4:11.
  • Petrus en Johannes wat vir die Joodse Raad gesê het dat hulle nie aan hulle kan gehoorsaam wees nie omdat hulle nie kan stilbly oor die Evangelie nie. “Daarna het die Raad die apostels weer laat inkom en hulle beveel om glad nie verder in die Naam van Jesus iets te verkondig of te leer nie. Maar Petrus en Johannes het vir hulle gesê: “Julle moet maar self besluit wat voor God reg is: om aan julle gehoorsaam te wees of aan God. Wat ons betref, dit is onmoontlik om nie te praat oor wat ons gesien en gehoor het nie.”” Handelinge 4:18-20.

Die lyn van gehoorsaam en ongehoorsaam aan die regering lê by dit wat vir of teen God se wil en Woord is.

Doen dit deur te fokus op die Koning, geduldig te wees en gebed

Hoe is dit moontlik om aan hierdie moeilik opdrag van God gehoorsaam te wees? Slegs deur op ons Koning fokus. Deur te  onthou dat ons deur Jesus Christus verlos is en ewig in ‘n verhouding met God lewe. Ons verlossing beteken dat ons burgers van sy Koninkryk is. Ons verlossing beteken dat ons nie van hierdie wêreld is nie. Ons verlossing beteken dat ons anders as die res van die wêreld is. Ons het die troos en die versekering dat ons Koning gaan terug kom.

Die onreg en die tekortkominge van aardse regerings laat mens al hoe meer uitsien na die wederkoms. Wanneer ons Here Jesus Christus, die enigste Regverdige Koning, terugkom en ons ewig in sy Koninkryk gaan lewe. God gebruik swak aardse regeerders om ons te leer om net op Hom te vertrou.

Ons Koning Jesus het nie aarde toe gekom om regerings omver te werp nie, al was dit wat die Jode van die Messias verwag het. Hy het Homself gewillig aan die onregverdige regering onderwerp tot die dood toe. Hy kon die regering in ‘n oogwink met ‘n hemelse leërmag omverwerp, maar Hy het nie. Hy laat Hom deur ‘n wêreldse regter veroordeel.

Omdat God oor almal regeer en omdat Jesus Christus as Koning terugkom, weet ons dat God heidense en onregverdige regerings gaan oordeel. Gelowiges neem daarom nie reg in eie hande nie.  In Romeine 12:19 sê God baie duidelik: “Moenie self wraak neem nie, geliefdes, maar laat dit oor aan die oordeel van God.”

Jy het geduld nodig om gehoorsaam onder ‘n regering te lewe. Geduld omdat hulle gebreke het. Geduld omdat hulle ook sondige mense is. Geduld omdat alles nie altyd gaan soos jy dit wil hê nie. Geduld omdat ons besef dat God kies om ons deur regerings te regeer. As gelowiges met sonde gaan reageer op die onreg, gaan ons ‘n streep deur ons getuienis en roeping in die wêreld trek.

Jy kan nie sonder gebed onder ‘n regering lewe nie. Deur te bid wys jy dat jy net op God vertrou en dat jy weet dat alles in sy hande is. Hy wil hê ons moet vir ons regering bid!

In 1 Timoteus 2:1-3 staan daar: “Ek dring daarop aan dat daar in die eerste plek met smeking, voorbidding en danksegging gebid moet word vir alle mense, vir dié wat regeer en vir almal wat gesag uitoefen, sodat ons ‘n rustige en stil lewe kan lei in volkome toewyding aan God en in alle eerbaarheid. So is dit goed en aanneemlik vir God, ons Verlosser.”

Die opdrag aan gelowiges is baie duidelik: Onderwerp jou aan die regering, want julle gesag kom van God af. As jy jou aan hulle onderwerp, onderwerp jy jou aan God Self. Die opdrag is duidelik, maar die uitleef daarvan is moeilik in ‘n wêreld waar regeerders baie keer net vir hulself lewe.

Daar is maar een geval wanneer gelowiges nie aan die regering gehoorsaam mag wees nie: Wanneer die regering van ons verwag om iets te doen wat gaan maak dat ons ongehoorsaam aan God is.

Gelowiges het die troos dat ons aan die Koning Jesus Christus behoort. Ons sien uit en verlang na sy koms wanneer ons ewig onder sy regverdige regering gaan lewe. Tot dan onderwerp ons onsself aan die regering omdat ons weet dat ons God op hierdie manier dien.

One Comment

  1. René le Roux René le Roux

    Geagte Ds Gerhard van Rhyn

    Wil net baie, baie dankie sê vir hierdie uiteensetting & hoe om dit in perspektief te sien, deur aanhalings & waarhede, uit die Woord gebruik.
    Ek besef net weereens, God ken & weet alles!

Lewer Kommentaar

This site uses Akismet to reduce spam. Learn how your comment data is processed.