Die GKSA het in Sinode na jare se worsteling (so ver terug as 1988) in Januarie 2026 ‘n besluit geneem waarin daar gepleit word dat daar in gehoorsaamheid aan die heldere Woord van God gehoor gegee sal word. Daar ‘n oproep gemaak vir bekering en terugkeer na wat Christus in die Woord ons leer (verwys na die brief aan die kerke, gedateer 8 Januarie 2026).
Dié besluit is, soos wat ‘n mens kan verwag, wyd in die media en publiek gekritiseer. Berig op berig wat die GKSA voorstel as ‘n ‘mannekultus’, ook as hardvogtig en outyds het die lig gesien, weinig met joernalistieke neutraliteit en balans en die tragiese gevolg was – en is – dat die kerk van die Here, en daarom Hyself, deur die wêreld bespotlik gemaak word.
Natuurlik is die pro-VIDA beweging in die kerke in baie gevalle ernstig en opreg, en beleef baie vroue ‘n innerlike worsteling en pyn en teleurstelling wat sulke besluite tot gevolg het. Tog is die maatstaf nooit ons gevoel nie, maar gehoorsaamheid aan Christus en sy Woord.
Enkele punte ter reaksie uit die brief volg.
- Die waarheid van die Skrif versus ‘intuïtiewe aanvoeling’
Vanuit die staanspoor staan die brief op losse skroewe wanneer dit die normatiewe gesag van die Skrif teenoor die intuïsie van lidmate – wat ook al dit mag beteken – plaas. Ironies dan dat die besluite van die kerke in sinode saam geneem konsekwent deurlopend veroordeel, bevraagteken en uiteindelik afgemaak word as ‘onregverdig’; ‘hardvogtig’, maar dan ook as ‘onskriftuurlik’. Die aanvangsnota meld dan van meet af dat ons nie nou met die Bybel gaan werk nie[1].
Dit is gewoon onhoudbaar binne die Gereformeerde hermeneutiek. Intuïsie, of dan – gevoel van lidmate – kan en mag nooit die finale maatstaf van die waarheid wees nie. Ons bely dan onomwonde ‘sola scriptura’; die Bybel as die objektiewe en normatiewe gesag – waarvolgens alle besluite in die kerk geneem word.
Nie elke gedagte, elke gevoel, of ‘intuïtiewe handeling’ is volstrek goud nie. Gestel ek gee in my gesin ‘n oormaat gewig aan die ‘intuïsie’ van my nege-jarige wat ‘n hele bottel Nutella vir aandete wil eet en eers middernag in die bed wil klim? Vir hom voel dit reg in die oomblik, maar dit gaan die orde in die gesin versteur.
Net soos ‘n gesin nie op die gevoel alleen kan funksioneer nie, kan die kerk nie deur intuïsie geregeer word nie. Die kerk is nie in die eerste plek ‘n emosionele gemeenskap nie, maar ‘n gehoorsame gemeenskap onder die gesag van die Woord. Subjektiewe ervaring kan nooit bo die duidelikheid en genoegsaamheid van die Skrif gestel word nie.
“Geliefdes, glo nie elke gees nie, maar stel die geeste op die proef of hulle uit God is…” (1 Johannes 4:1).
‘n Belangrike gedagte wat die VIDA drukgroep nie verdiskonteer nie is die volgende: Indien ‘n subjektiewe, intuïtiewe hermeneutiek normatief gemaak word, bestaan daar geen beginselmatige grond om soortgelyke appélle (t.w. homoseksuele leefstyl) op ander etiese terreine af te wys nie.
- Die dwaling van die ‘twee strome’
Êrens in die gesprek rondom VIDA het daar ‘n gedagte ontwikkel waarvolgens lidmate die dwaling probeer vashou dat twee, direk teenoorstaande ‘interpretasies’ ter gelyke tyd geldig en waar kan wees.
Kom ons sê reguit wat dit beteken – dit sê God praat uit twee monde. Die Gereformeerde hermeneutiek stel egter die beginsel dat die Heilige Skrif homself verklaar. Wat enigsins onduidelik is in sommige perikope, word deur die duidelike perikope verklaar.
Daarmee bely die kerke duidelik: net een stel gegewens, net een stel eksegese, net een duidelike gevolgtrekking kan die waarheid wees. Dit is dan ook op opeenvolgende Sinodes (veral 2009) bevestig, herbevestig en wéér bevestig waar dit deur besware, beskrywingspunte en appèlle getoets is.
Die verdagmakery van besluite berus op die omgekeerde van die hermeneutiese reël: in die lig van die onduidelike word die duidelike bevraagteken. Boonop is dit nie ‘n patriargale wêreldbeskouing of kulturele blindheid wat hier spreek nie – dit berus op die gehoorsaamheid van die kerke aan God se orde en gesag in die kerk – in die wyse waarop Hy die ampte instel.
Die besluite berus daarom werklik nie op ‘n sg. kultuur-blinde lees van enkele tekste buite verband nie, maar op die breë getuienis wat die Skrif lewer – vanaf die skeppingsorde, die onderrig van die apostels en die omstandighede van die Nuwe Testamentiese kerk.
Die vraag is nie, was nog nooit en sal nooit wees of susters die gawes ontvang het en of hulle onmisbaar is in die lewe van die kerk nie. Dit word voluit erken. Die vraag is: het Christus, volgens die Skrif, susters dan geroep tot die besondere regeer- en leeramp?
Daarop moet ons, uiteindelik in nederigheid en eerlikheid, gehoorsaam antwoord: NEE.
Hierbinne mag daar nooit ruimte ‘vir eerlike verskil’ wees nie, want dit sou werklik beteken dat ons glo twee teenoorstaande gevolgtrekkings kan ter gelyke tyd waar wees. Maar miskien is dit juis die punt? Dalk kan elkeen nou maar doen wat reg is in sy eie oë… (Rigters 21:25).
- Hiërargie?
‘n Growwe beskuldiging in die brief is dat die Sinode hiërargies optree en die outonomie van die plaaslike kerkraad skend. Hulle beroep hulself op Kerkorde, artikel 84.
Dit openbaar ‘n wanbegrip van die presbiteriale kerkregeringstelsel, en die plek wat meerdere vergaderings daarbinne inneem.
Kerkorde artikel 84 verbied dat een kerk oor ‘n ander sou heers, maar dit verbied nie dat kerke in kerkverband ooreenkom om mekaar aan die Woord en gesamentlike besluite te bind nie.
Daarmee saam reël kerkorde, artikel 31, dat dit wat op meerdere vergaderings (dus die Sinode in hierdie geval) besluit is, as vas en bindend beskou word tensy dit bewys word dat dit in stryd met Skrif, belydenis en kerkorde is.
Wanneer jy dus deel is van die kerkverband, het jy ooreengekom (met ‘n belofte voor God en met jou handtekening!) om dieselfde diens, leer en tug te handhaaf. Die pro-VIDA kerke tree al vir jare buite hierdie gemene akkoord op deur artikel 31 om te keer (wat ons as waar beskou, sal ons handhaaf totdat julle saamstem of toegee). Hulleself het die band met die kerke verbreek. Dit is nie die Sinode wat gemeentes uit ‘dryf’ nie, hulle het hulleself willens en wetens losgemaak.
- Is dit ‘n ‘Belydeniskwessie’?
Die brief meen dat hierdie saak nie ‘n kwessie rondom ons belydenis is; of self ‘n gewigtige saak is nie. Die implikasie is dus dat as die belydenis dit nie eksplisiet noem nie, is dit nie belangrik of bindend nie.
Hoewel hierdie saak nie woordeliks aan die orde kom in die Drie Formuliere van Eenheid nie, raak die NGB aan hierdie saak in artikels 30-32, waar die regering van die kerk geraak word op die wyse waarop die ampte ingerig word volgens die geestelike orde wat Christus in sy Woord gegee het.
Maar meer as dit: die kern -belydeniskwessie hier aan die orde is nie in die eerste instansie VIDA nie, maar die vraag na die gesag, verstaan en toepassing van die Skrif self. Om dus die Skrif se voorskrifte oor die amp te ignoreer, maak dan daarvan ‘n belydeniskwessie. Daarom is dit ‘n gewigtige, wesentlike saak.
Die brief maak voorts ‘n baie twyfelagtige stelling, wat ongekwalifiseerd deur die skrywers waar aanvaar word (“Die besluit berus of eksegetiese en hermeneutiese oorwegings oor ‘n saak waaroor die Bybel self nie ondubbelsinnig of eenstemmig uitsluitsel gee nie”) en borduur heerlik op daardie trant voor, voordat dit só grof die kwessie veralgemeen dat ‘n mens ‘n vragmotor deur die spasie wat die stelling laat, kan bestuur.
As dit waar is dat die basiese beginsels van Skrifuitleg nie toegepas word nie, waar is die beswaarskrif? Daarmee saam – watter Buitelandse kerke stem nie saam nie en wat is hulle Skrifbeskouïng? Deur bloot stellings te maak, het jy nog lank nie jou bewering na behore bewys nie.
- Pastorale impak, pyn en ‘semper reformanda’
Daar word sterk klem geplaas op die persoonlike pyn van lidmate, sowel as die dalende lidmaat talle. Die VIDA drukgroep wil ‘n ‘gelyk-aan’ teken (=) tussen hierdie twee sake plaas.
Hoewel dit ernstige aandag verg, word die kerk nooit in die Skrif geroep om haar leer aan te pas by die tydsgees, kulturele druk of tendense nie. Emosie, intuïsie, empatie ens. mag nooit die norm wees wanneer dit kom by kerklike orde nie. Getrouheid en gehoorsaamheid, selfs (veral!) as dit moeilik is, bly die maatstaf van die ware kerk (NGB art. 29).
Semper reformanda is, met respek, nie binne die konteks van die VIDA drukgroep van toepassing nie. Dít beteken dat die kerk hervorm is, en voortdurend moet hervorm na die Woord van God. Dit beteken nie konstante verandering sodat die tydsgees in berekening gebring sal word nie, maar dat daar na die fontein van die Woord teruggekeer sal word (ad fontes).
- Polarisasie in die weg wat die brief volg
Die ironie der ironieë is dat terwyl die brief waarsku teen polarisasie, dit júís intense polarisasie aanwakker.
Eintlik nie net aanwakker nie, maar soos ‘n veldbrand wil laat versprei. Dit wek agterdog, nyd en bitterheid en skep onhoudbare spanning in die kerklike gemeenskap.
Dit volg nie kerklike sake op kerklike wyse nie, want dit beskuldig die kerke in Sinode saam van oneerlikheid.
Dit versprei ‘n sg. ‘interne’ dokument wyd en syd[2], en probeer by wyse van petisie, met ‘n elektroniese handtekening ander oorhaal tot ‘n ander siening. Weereens ironies dat hierdie handtekening méér weeg as die handtekening wat die betrokke kerke se bedienaars gegee het die dag met hul bevestiging in die ondertekeningsformulier.
Die Gereformeerde weg vir beswaar en worsteling bly langs die pad van gesprek met die kerkraad, indiening van beswaarskrifte en appélle. Nie ‘lobbying’ op sosiale media nie. Daarmee moet ook glad nie goedkeuring gegee word nie aan die ander ope brief wat die saak van vroue teen VIDA stel. Beide hierdie dokumente is onordelik.
Slotopmerkings:
Hoewel die brief ‘n ernstige worsteling verteenwoordig, bly die argumente – wat reeds telke male geweeg is – gegrond in subjektiewe ervaring, menslike emosie en foutiewe interpretasie van die Kerkorde.
Vanuit ‘n Gereformeerde oogpunt is die Sinode se optrede om gemeentes tot orde te roep allermins ‘n daad van die ‘mannekultus’ of ‘hiërargie’ nie, maar ‘n noodsaaklike uitoefening van kerklike toesig om die eenheid in die leer en lewe te beskerm.
Die eise van die Skrif oor die ampte staan vas – ongeag kulturele druk of persoonlike pyn wat dit mag meebring. Mag dit van ons ook die waarheid wees dat ons, in die woorde van Handelinge 5:29 meer gehoorsaam sal wees aan God as aan mense.
[1] “Nota: Hierdie brief het nié ten doel om ‘n teologiese of Bybelse argument te voer nie. Ons […] probeer dus nie om standpunte met verwysing na spesifieke Skrifgedeeltes te bewys of te weerlê nie…”
[2] Teen publikasie van hierdie artikel het dit alreeds “intern” op Netwerk24 verskyn, sowel as op Maroela Media en My Dopperdagboek.
Jan-Louis is tans predikant by die Gereformeerde Kerk Brits

