Press "Enter" to skip to content

Luisteraarsvrae: Tatoeëring en Orgaanskenking

powered by Advanced iFrame. Get the Pro version on CodeCanyon.

In hierdie episode beantwoord ons twee luisteraarsvrae. Die eerste vraag het te make met tatoes/ “piercings”, terwyl die tweede een oor orgaanskenking gaan.

  1. Tatoes en “Piercings” (2”38)
  2. Orgaanskenking  (19”32)

 

LUISTERAARSVRAE 

 

INTRO

Welkom by Radio Scriptura.

 

2 Timotheus 3:16,17 sê die hele Skrif is deur God ge-asem. Op hierdie Gereformeerde potgooi wil ons vanuit die Skrif leer, weerlê, reg wys en onderrig, sodat God se mense volkome voorberei en toegerus sal wees vir elke goeie werk.

 

Kyk gerus op scriptura.co.za vir artikels. Jy kan ook ons potgooi luister vanaf die webblad, of op enige potgooi-speler, soos iTunes.

 

Vandag gesels Jaco de Beer en ek, Marnix Boersema saam oor twee luisteraarsvrae wat ons ontvang het. Die eerste vraag gaan oor tatoeëring en die tweede vraag oor orgaanskenking.

 

1) TATOES EN “PIERCINGS”

 

Luisteraarsvraag:  “Ek wil graag meer insig kry oor watter reels ons uit die Bybel kan kry oor tattoos en ‘piercings,’ dit sal dan nou ook die doodgewone oorbel gaatjies insluit. My siening is dat om iets te versier is tog ook n manier om dit lief te he en liefde te betoon. Enige insig hieroor sal baie waardeer word!”

 

Meeste van ons wat al met mense gesels het oor tattoëring het waarskynlik al die aanhaling uit Levitikus gehoor of self aangehaal. Kom ek lees dit net vir ons – Lev. 19:28:

 

“Julle mag ook ter wille van ’n dooie geen snye in julle vlees maak nie en geen ingeprikte tekening in julle vel maak nie. Ek is die HERE.”

 

Ons elkeen het ons eie mening oor tatoeëring ensomeer, maar op die ou end van die dag moet ons soek na die Waarheid buite ons. Ons gaan na die Skrif, ook met die vraag. En dan is een van die eerste gedeeltes wat dikwels aangehaal word, hierdie een in Levitikus. 

 

So kom ons sit net vir ’n oomblik ons voorveronderstellings oor die gedeelte en oor tatoeëring op sy en probeer eerlik verstaan wat hierdie gedeelte sê.

 

Wat word met Lev. 19:28 bedoel?

 

  • קַעֲקַע – ka’ aka: “tattoo” = lett. ‘n merking van die vel deur middel van ‘n sny(tjie)
    • in heidense godsdienste dikwels ‘n gebruik om nie-verbaal te rou oor ‘n dooie

 

Is Lev. 19:28 dieselfde as vandag se tatoes en gaatjies/liggaamsversiering?

 

  • Dit is ‘n hapax legomena (enigste voorval)! Skrif-met-Skrif verklaring is dus onmoontlik om kontekste te vergelyk
  • Parallelle gedeelte is Deut. 14:1| “JULLE is kinders van die Here julle God; julle mag julle ter wille van ’n dooie nie  stukkend kerwe of ’n kaalte tussen julle oë maak nie.”

 

Is tatoeëring en “piercings” ’n oortreding van God se morele wet?

  • God se morele wet moet onderhou word, maar die seremoniële wette is in Christus vervul
    • Lev. 19:28 val onder die laaste kategorie: seremonieel
  • Ons kan nie ‘n dogmatiese stelling oor tattoes maak nie
  • Tatoeëring en liggaamsversiering hoort in die kategorie van Romeine 14 – Christelike vryheid

 

MAAR, neem ook in ag:

 

  • Tatoes is in die verlede en steeds baie algemene onder heidense praktyke en ongelowiges.
  • Daar bestaan ‘n negatiewe sosiale stigma rondom tatoeëring en oormatige “piercing”.
  • Daar is talle gevalle van siektes wat opgedoen word, weens vuil naalde – ‘n mens se gesondheid kan dus negatief beïnvloed word!
  • Permanente verandering van die liggaam (liggaam wat andersins mooi en goed geskape is in God se Beeld)

 

Tatoes kan wel ontaard in ‘n morele dilemma!

 

  • Wanneer jy dit in liefdeloosheid teenoor jou naaste, jou vryheid in Christus misbruik (cf. Rom. 14, Gal. 5:13)
  • Wanneer jy jou lewe in gevaar stel (6e gebod, cf. Eks. 20)
  • As jy getroud is en dit teen die wense van jou eggenoot is (1 Kor. 7)

 

2) ORGAANSKENKING

 

 “Goeie more, vanoggend het ek na julle potgooi oor verassing geluister, toe laat dit my wonder, wat sê die Skrif in verband met orgaanskenking as jy sterf? Dalk ook ‘n onderwerp wat aangeraak kan word? U Broeder in Christus, Stefanus de Bruyn.”

 

Orgaanskenking & oorplanting is ’n nuwe verskynsel

 

Die eerste orgaan-oorplanting was ’n kornea-oorplanting in 1877. Daarna, in 1967 was die wêreldberoemde hart-oorplanting van dr. Chris Barnard. Die punt is: orgaan-oorplanting en skenkings is uit die aard van die saak ’n nuwe verskynsel en daarom sal ons uit die aard van die saak ook nie in die Skrif direk woorde vir of teen orgaanskenking vind nie. Ons sal afleidings moet maak uit die hele alles wat ons in die Skrif vind en daarmee werk.

 

Afleiding uit die Skrif

 

As ons praat van orgaanskenkings van ’n oorledene na ’n lewende, dan is dit gewoonlik om die lewende se lewe met hierdie orgaanskenking te red of drasties te verbeter. As dit dan die geval is, dan is die Skrifbeginsel van “liefde vir jou naaste” (Matt. 22) ter sprake. So ’n orgaanskenking sou ’n laaste liefdesdaad kon wees, waar organe geskenk word om jou naaste se lewe te red. 

 

’n Paar argumente téén orgaanskenking en ’n antwoord daarop

  • Orgaanskenking meng in met die natuurlike wette van God
    • dan moet ons ook bloedoortappings weier, soos die Jehova Getuies en ook enige ander mediese hulp vd hand wys. 
    • Jesus praat in Matt. 9 van ongesteldes (siekes) wat ’n geneesheer nodig het.
  • Orgaanskenking is ’n skending van die liggaam en bedreig ons belydenis van die opstanding uit die dooie
    • die liggaam wat uit die dood opgewek word is ’n verheerlikte liggaam. Die wese en aard van die verheerlikte liggaam word nie bepaal deur die aardse, verganklike liggaam nie (1 Kor. 15)
  • Orgaanskenking is ’n verfynde vorm van kannibalisme
    • skenking van ’n orgaan, is nie dieselfde as om ’n mens te eet nie. ’n Lewende kan bv. ’n nier vir ’n ander lewende skenk, sonder enige drastiese gevolge.

 

Laaste opmerkings

  • Uit die aard van die saak moet orgaanskenking (dooie na lewende) slegs plaasvind wanneer die oorledene werklik klinies dood is. Dit kan gebeur dat iemand dood verklaar word, maar nie werklik dood is nie. Dokters kan in oorhaastigheid die organe oes en dan in die poging om ’n ander lewe te red, ’n ander se lewe neem. 
  • Orgaanskenking (dooie na lewende) is nie in stryd met die Skrif nie en daarom mag ons ook ons organe skenk nadat ons dood is. 
  • Orgaan-oorplanting (lewende na lewende) val in dieselfde kategorie en ons as gelowiges mag dit ook doen. Ek sou net hier byvoeg, dat die organe wat ek skenk vir ’n ander persoon terwyl ek lewe, nie my eie lewe in gevaar mag stel nie. En dit is noodwendig ’n risiko wat ek neem, wanneer ek ’n orgaan laat verwyder. Ek dink ’n mens moet dus na die beste van jou vermoë en wete bepaal or die orgaanoorplanting enige ernstige risiko vir jou gesondheid inhou, na afloop van die operasie.

 

OUTRO

Baie dankie dat jy geluister het na hierdie gesprekke rondom die luisteraarsvrae.

Dankie aan al ons luisteraars wat aktief betrokke is in die verspreiding van ons episodes. Radio Scriptura word regoor die land en selfs in ander dele van die wêreld geluister.

Deel asb. hierdie episode met ander en help ons op die manier om die Evangelie te versprei!

 

Kom gesels verder saam met ons oor hierdie luisteraarsvrae op ons webblad of op ons sosiale media platforms. Ons webblad is scriptura.co.za.

Onthou ons het elke week ‘n nuwe Radio Scriptura episode en aan die einde van elke maand, het ons ‘n Perspektief-episode, waar ons die maand se nuusgebeure in ‘n Bybelse perspektief plaas.

Kom luister weer volgende week, totsiens!

One Comment

  1. Jeske Van der Walt Jeske Van der Walt

    Dankie hiervoor, mens wonder baie oor al hierdie ‘moderne’ dinge! Ek en my man het net nou die dag gesels oor ‘n pas aangeër en of dit inmeng met God se wil, aangesien iemand wat veronderstel was om rustig in haar slaap dood te gaan, weer ‘n skop gekry het en dus nog lewe agv die medici – al sou sy verkies het om tog by haar Vader te wees teen hierdie tyd. Dit is moeilik omdat mens regtig nie altyd weet nie.

Leave a Reply to Jeske Van der WaltCancel reply

This site uses Akismet to reduce spam. Learn how your comment data is processed.