Press "Enter" to skip to content

Wanneer ontvang ek die Heilige Gees?

Die Heilige Gees in Handelinge
Daar is héélwat vrae by baie (alle?) gelowiges oor die Heilige Gees. Een van hierdie vrae is: “wanneer ontvang ek die Heilige Gees?”.

Hierdie vraag ontstaan dikwels na ‘n deurlees of Bybelstudie van die boek Handelinge. Want daar sien ons die volgende:

  • Die Gees word uitgestort na die handoplegging van die apostels (8:17)
  • Die Gees val op almal wat die woord gehoor het (10:44)
  • Die ongedoopte heidene ontvang die Gees (10:45-57)
  • Sommiges was selfs al gelowig en het nog nie die Gees ontvang of selfs van die Gees gehoor nie (19:2)

As ons hierdie gebeure in ag neem, lyk dit asof die werk van die Heilige Gees onvoorspelbaar is.

So hoe nou gemaak? Moet ek dat iemand my die hande oplê voordat ek die Gees kan ontvang? Moet ek my laat doop (herdoop) voor ek die Heilige Gees verkry? Wanneer ontvang ek die Heilige Gees!?

Ons kan nie uit Handelinge ‘n duidelik antwoord op hierdie vraag kry nie. Gelukkig is daar meer boeke in die Bybel as nét Handelinge!

God is die “Eerste Beweger”
Ons kan terugblaai na Esegiël 36. In vers 27 lees jy: “En Ek sal my Gees in jul binneste gee en sal maak dat julle in my insettinge wandel en my verordeninge onderhou en doen.”

Hier sien ons duidelik die Here as die “Eerste Beweger”. Hy gee die “eerste tree”. Hy gee die Gees in my binneste wanneer Hy wil en Hy “maak dat” ek Hom wil gehoorsaam.

As ons heeltemaal oorbeweeg na die Nuwe Testament, kom ons by Romeine 5:5,6. Hier vind ons dieselfde gedagte: Toe ek nog ‘n sondaar was, het Christus vir my gesterwe, en daarom gee Hy my die Gees in my binneste.

So God is die Eerste Beweger. Hy gee die Heilige Gees. Wanneer gee God die Heilige Gees? In kort – wanneer Hy wil.

Die wedergeboorte is iets wat God sonder ons in ons werk. Ek kan op geen manier God die Heilige Gees manupileer nie. Hy werk soos Hy wil.

Voor of na my doop?
Uit die Skrif kan ons dus aflei dat my doop nie noodwendig die tyd is wanneer ek die Gees ontvang nie. Die Heilige Gees kan in iemand werk voor sy doop en ook lank na sy doop. Iemand kan selfs gedoop word en nooit die Gees ontvang nie.

Uit Esegiël, Handelinge, Romeine ensovoorts, word dit myns insiens duidelik, dat die doop nie ‘n voorwaarde is om die Gees te ontvang nie.

Wat is dan wel ‘n voorwaarde om die Gees te ontvang? Hier wys die Skrif vir ons duidelik dat geloof die voorwaarde is om die Gees te ontvang.

Die geloof en die Heilige Gees
Wie nie die Heilige Gees het nie, kan nie glo nie. En wie nie glo nie, het nie die Heilige Gees nie.

Tydens die verskeie kere waar mense die Heilige Gees ontvang het, het hulle een ding in gemeen gehad: hulle het geglo.

Voor, tydens of na geboorte?
Is dit moontlik vir kinders om te glo, as hulle nog nie die “kapasiteit” het om te glo nie? Wel, hier kan ons verwys na Johannes die Doper in Lukas 1:41 en ook na Paulus op pad na Damaskus in Handelinge 22.

Uit dit wat ons kan aflei in die lewe van die Doper, blyk dit asof hy reeds die Heilige Gees ontvang het voor sy geboorte.

Paulus, aan die ander kant weer, was vir alle praktiese doeleindes ‘n “kerkmens” (Skrifgeleerde) en tog het hy die “mense van die Weg” vervolg, voor sy bekering. Hy het eers tot geloof gekom as ‘n volwasse man, toe die Here hom oorrompel het oppad na Damaskus. Eers toe het Hy die Heilige Gees ontvang (anders sou hy nie kon glo nie).

God die Heilige Gees is en bly God en daarom kan iemand alreeds voor, tydens of lank na geboorte eers, die Heilige Gees ontvang.

Wanneer het ék die Heilige Gees ontvang?
Outomaties vra ons nou die vraag: “Wanneer het ek die Heilige Gees ontvang? As ek nie het nie, wanneer sal ek Hom ontvang?”

Die hele wêreld word tot bekering en geloof geroep. Dit gebeur deur die prediking; die verkondiging van die Evangelie (Romeine 10:14).

  • Sommiges hoor hierdie roepstem, maar wil nie daaraan gehoor gee nie.
  • Ander hoor die roepstem, gee daaraan gehoor, maar wil nie geheel en al daardeur vernuwe en verander word nie.
  • Die wat God uitverkies het egter, hoor die roepstem van God en hulle hele wese word daardeur vernuwe en dra die vrug van die Gees (Die gelykenis van die saaier in Mattheus 13:18 e.v.).

Hierdie innerlike verandering en vernuwing is die wedergeboorte wat net deur die Heilige Gees bewerk kan word.

So om die Heilige Gees te ontvang moet die Woord van God gehoor en geglo word. Sonder die Heilige Gees, kan niemand Jesus die Here noem nie (1 Korinthiërs 12:3).

Saamgevat
Wanneer ontvang ek die Heilige Gees?

1. Voor, tydens of nadat ek gedoop is?

Ek ontvang nie noodwendig die Gees voor, tydens of na my doop nie, maar wanneer ek glo in Jesus Christus.

2. Voor, tydens of nadat ek gebore is?

Dit verskil van persoon tot persoon. Sommiges ontvang die Heilige Gees en kom tot geloof op ‘n baie jong ouderdom. Ander ontvang die Heilige Gees en kom tot geloof op hulle oudag.

Be First to Comment

Lewer Kommentaar

This site uses Akismet to reduce spam. Learn how your comment data is processed.