Site icon Scriptura

“VIRTUELE EREDIENSTE” IS ‘N WEERSPREKING

Die plaaslike kerke moes in hierdie grendeltyd ongekende terrein betree. Ons jaarbeplanning is omvergewerp. Ons gemeentefunksies gekanselleer. Gemeentes is in die “diep water gegooi” en ons moes vinnig leer “swem”. Kerkrade en predikante moet nou skielik besluite neem oor sake wat waarskynlik nie voorheen in ons gedagtes of vergaderings ooit opgekom het nie. Gemeentes wat nog nooit eers gedink het aan kameras in die kerkgebou nie het skielik begin met “livestreams”. Baie gemeentes moes in ’n kort tydjie vinnig planne maak om te sorg dat die Woordverkondiging steeds kan voortgaan. 

Dit is ’n pragtige tyd wat die verkondiging van die Evangelie betref. Alle deure het toegemaak, maar daar het ’n deur wawyd oopgemaak vir die Evangelie. So sien ons weer, die onkeerbare werk van God Almagtig. Die Evangelie kan nie gebind word nie, soos Paulus toe hy ’n “grendeltyd” beleef het, vir ds. Timotheus geskryf het. Dit is steeds waar in ons tyd. Die Kerk is aan die diepkant ingegooi, maar ons weet die Kerk van Christus kan nie sink nie!

Ons het dus wel heelwat vrae en probleme wat in hierdie tyd opduik, soos die vraag oor die aard van ons internet-dienste. Sommiges noem dit media-dienste, ander noem dit ’n Skrifoordenking, soms word dit riglyne vir huisgodsdiens genoem en ander meen dit is en bly steeds ’n erediens. ’n “Virtuele erediens” kan ons dit noem. Dit is juis oor laasgenoemde, wat ek wil skryf en gesprek binne kerkrade DV aan die gang sit. 

Ek meen dat ’n “virtuele erediens” of “internet erediens” in wese ’n weerspreking is; ’n oksimoron – twee terme wat ons nou langsmekaar plaas om iets nuut te skep. Dit skep nie net ’n logiese teenstrydigheid nie, maar dit maak die deur oop vir verskeie teologiese onsuiwerhede en dit sou selfs op dwaalleer kon uitloop. Ek val met die deur in die huis: daar is nie so iets soos ’n virtuele erediens nie en ons moet dit ook nie probeer fabriseer nie. 

Daar is meer, maar ek gee vir eers drie redes waarom ek dit sê:

1. Ons moet nie ons eskatologie en ekklesiologie van mekaar skei nie

Dikwels kan jy uit ’n kerkgroep se byeenkomste (of gebrek daaraan) aflei hoe hulle dink oor die eindtyd. Ek vermoed ons beland in hierdie dilemma en vrae oor ons eredienste, omdat ons dalk geneig is om ons eskatologie los te maak van ons ekklesiologie. Kom ek sê dit anders: dalk maak ons in ons beredenering oor die uitsendings, die triomfantlike kerk in die hemel los van die strydende kerk op aarde. Nog anders gesê: Ons sien dalk nie die skakel tussen die Kerk soos Sy in die hemel sal wees met die Kerk soos Sy op aarde is nie.

Johannes wys vir ons in Openbaring 7:1-8 die strydende kerk op aarde. Die verseëldes. Hulle beleef die groot verdrukking op aarde. Dan sien ons in Openbaring 7:9-17 die triomfantlike kerk. Die verseëldes wat volhard in die verdrukking staan eindelik voor die troon van God Almagtig. Die gelowiges uit elke volk en taal staan voor die troon en hulle sing tot God se eer. Hulle aanbid Hom sáám, nadat hulle in die stryd op aarde oorwin het!

Die punt wat ek wil maak is: ons moet ’n hemelse perspektief hê op die erediens. Selfs in ons kerkreg sê ons dat kerklike sake op kerklike wyse hanteer moet word. Hoekom? Want die kerk is anders as enige ander aardse vergadering. 

Wanneer ons praat en besluite neem oor die erediens, dan moet ons nie ons belydenis oor die triomfantlike kerk losmaak van die strydende kerk op aarde nie. Ons moet saam met Johannes vanuit die hemel kyk na die kerk op aarde. Die strydende kerk op aarde doen nou reeds (gebrekkig en ten dele) wat ons ewig in die hemele sal doen. As Kerk op aarde gryp ons sáám in die erediens vooruit na dit wat ons eendag sal wees en sal doen. Daarom is Sondag ook Rusdag, want die Here gee nou vir ons elke week op ’n Sondag veral in die erediens rus wat ons alreeds in geloof laat hoop en vooruitgryp na die ewige rus waar ons wat volhard sal ingaan. Ons gaan in die hiernamaals die Here sáám dien, na ons aardse stryd.

Die wederkoms staan ook vir ons sentraal in ons gedagtes wanneer ons die sakramente vier. Ons hoor tog elke keer as ons Nagmaal vier dat ons met die Nagmaalfees die Here Jesus se dood gedenk “totdat Hy kom”. 

Christus noem ook die Kerk Sy Liggaam, waarvan Hy die Hoof is. ’n Fundamentele gedagte agter die “liggaam”-perspektief, is dat die lede bymekaar moet wees. ’n Liggaam bestaan tog uit verskeie ledemate wat letterlik bymekaar en aanmekaar vas is. Ja hier op aarde sien ons dit ten dele, maar in die hemel sal die volle Liggaam van Christus verenig wees. Ons is nou Kerk onder Een Hoof. Ons sal Eendag ook die Here dien voor Sy een enkele troon. Ons sal die Bruidegom aanbid as die een Bruid wat ons is. 

Hierdie eenheid realiseer alreeds op aarde ten dele, wanneer ons fisies bymekaar kom in die erediens om die Here as gemeente te aanbid. Ons bid, sing, luister as een. 

Sien, jy kan nie ons toekomsverwagting van die kerk losmaak van die kerk in die hede nie. Net so moet ons ook in hierdie grendeltyd en ons besinning oor die erediens hierdie ‘skakel’ tussen die triomfantlike en strydende kerk behou. Die aanbidding van die Kerk moet gebeur in eenheid. Eenheid in waarheid en liefde ja. Ook eenheid in ons letterlike samekomste. Ons is één Liggaam onder één Hoof. Ons is die enige Bruid (enkelvoud) van die Bruidegom. 

Ons belydenis is oor hierdie saak duidelik. Christus, die Hoof van die Kerk beskerm en onderhou nie net die wêreldwye Kerk nie, maar Hy vergader haar ook. Hiermee word ’n letterlike samekoms bedoel. ’n Plaaslike vergadering net soos wat die ewige Kerk, bestaande uit elke volk, taal en nasie letterlik sal vergader voor die Troon in die hemel. Kyk hoe bring die Kategismus ons eskatologie en ekklesiologie bymekaar:

Vraag: Wat glo jy van die heilige, algemene, Christelike kerk?

Antwoord: Dat die Seun van God (a) uit die hele menslike geslag (b) vir Hom ‘n gemeente wat tot die ewige lewe uitverkies is (c), deur sy Gees en Woord (d) in die eenheid van die ware geloof (e) van die begin van die wêreld af tot die einde toe (f) vergader, beskerm en onderhou (g) en dat ek daarvan ‘n lewende lid is (h) en ewig sal bly (i). (Heidelbergse Kategismus Sondag 21:54)

(Die volgende vraag en antwoord in die Kategismus wys ook uit, wat die “gemeenskap van die heiliges” is: dit is gelowiges wat “almal saam en elkeen afsonderlik, as lede met die Here Christus gemeenskap en aan al sy skatte en gawes deel het…”)

Wanneer ons hierdie belydenis behou, dan word dit duidelik hoe ’n “virtuele erediens” eenvoudig nie kan wees nie. Dan vergeestelik ons die kerk. Ons maak dan van die kerk iets wat nie deurbreek in ons aardse tyd en ruimte nie. Dit is ene en nulle, nie liggame wat saam sing, bid en dien nie. Die eenheid van die Kerk kom nie letterlik tot uiting nie. Ons sê met “internet erediens” eintlik, dat Christus Sy Kerk net “virtueel” vergader en dat ons net “virtueel” voor die Here se Troon sal wees om Hom “virtueel” te aanbid. Waarom het ons voor die grendeltyd en waarom sal ons dan nog na die grendeltyd enigsins saamkom, as ’n virtuele erediens goed genoeg is? 

Ons maak ons eskatologie los van ons ekklesiologie en dit maak ons in wese in hierdie grendeltyd hopeloos, want nou word die vergadering van die triomfantlike kerk in die hemel nie meer iets waarna ek hier op aarde verlang en na uitsien nie. Die geaardheid en optrede van die aardse kerk klop nie meer met dit wat ons sal wees in die hemel nie. 

Nee, in hierdie grendeltyd kan ons nie ’n internet erediens hou nie, maar dit laat my verlang na die dag wat ons wél weer op aarde erediens kan hê. Dit laat my soveel te meer met ywer bid, dat die Here Jesus gou sal kom, sodat ons Hom saam voor Sy troon vir ewig kan aanbid! 

2. Die Kerk van Christus moet letterlik saamkom

Hierdie letterlike eenheid van die Kerk is ’n saak wat, as ek dit so mag uitdruk, vir die Here “baie na aan die hart lê”. Die vroeë Kerk het dit goed verstaan en ook daaraan gehoor gegee: “Hulle het hulle heelhartig toegelê op die leer van die apostels en die onderlinge verbondenheid, die gemeenskaplike maaltyd en die gebede.” (Hand. 2:42). Die gemeenskaplike en onderlinge verbondenheid is natuurlik nie vir die Nuwe-Testamentiese Kerk nuut nie, want dit kom al uit die Ou-Testament, soos ons bv. sien in Psalm 40:10,11 “Met blydskap het ek aan die gemeente vertel U het my verlos. Ek het nie stilgebly nie, Here, U weet dit!…”

Hebreërs 10:25 noem hierdie “samekomste” van die gelowiges ook ’n samekoms waarvan ons nie mag wegbly nie. Waarom nie? Want die erediens is en bly een van die primêre middelle waardeur die Here Sy Gees in ons laat werk. In die konteks van Hebreërs verstaan ons, dit is in die samekomste waar ons mekaar aanvuur om te volhard in die geloof, liefde en goeie werke. Dit is in die samkomste waar ons deur die Woordverkondiging ook weer herinner word aan die groot vrymoedigheid wat ons voor ons Vader in Christus het. 

Ja, ons ken al die frase: “die kerk is nie die gebou nie, die kerk is die mense”. Inderdaad is dit waar, die kerk is nie die gebou nie, die kerk is mense, maar die kerk is mense wat gereeld bymekaarkom. Dit is wesenlik deel van wat die Kerk op aarde onder andere doen. Dit gaan nie nou daaroor dat ons noodwendig in ’n gebou bymekaar moet kom nie. Dit gaan daaroor, dat die Here wil hê die mense, die Kerk, moet saamkom en bymekaar wees om Hom te aanbid. 

Die vierde gebod is natuurlik onderliggend aan die oproep om as Kerk bymekaar te kom. Weereens het ons as Gereformeerdes dit nog altyd in ons Troosboek, die Kategismus gehandhaaf, geleer en onderhou, dat die vierde gebod onder andere insluit dat ons “ywerig met die gemeente van God moet saamkom” (Sondag 38:103). 

Kyk na die vierde gebod. Vergelyk Skrifgedeeltes met Skrifgedeeltes. Kyk na die vroeë Kerk. Kyk na ons belydenis en dit word duidelik: die erediens is vir die gemeente wat saamkom. As ons sê ons het ’n “internet erediens” dan sê ons daarmee dat ons die erediens fundamenteel verkeerd verstaan.

Nouja, ons sou kon argumenteer dat die vroeë kerk natuurlik nie virtuele eredienste gehad het nie, want hulle kon nie Zoom of Skype nie. Tereg so, maar daar was wel bv. iets soos briewe. Die vroeë kerk het nooit hulle onderlinge byeenkomste vervang met briewe nie. Kyk mooi na die gedrag van die kerk in die kerkgeskiedenis: selfs in die tye wat die vroeë kerk vervolg is, het gelowiges konstant probeer om op watter manier ookal in die geheim bymekaar te kom. Waarom het die kerk in tye van vervolging steeds bymekaargekom selfs al sou dit hulle lewe kos? Waarom nie net aanhou briewe skryf nie? Waarom is daar Christene wat vandag nog in ander lande onwettig bymekaarkom en so hulle lewe op die spel plaas? Want die Kerk van Christus is mense wat onderling verbonde is en as gemeenskap van die heiliges die Here aanbid, omdat hulle ook ewig aan Hom verbind is. Die Kerk is mense wat gereeld bymekaarkom om die Here te aanbid. Dit is in die samekoms wat die erediens plaasvind. 

“Virtuele/Internet eredienste” is ’n weerspreking. Dit gaan in teen die wese van die erediens, die wese van Kerkwees, die opdragte in die Skrif en die Gereformeerde belydenis oor die eeue. 

3. Virtuele erediens beteken virtuele sakramente

Ons verstaan dat die sakramente binne die erediens plaasvind. Dit word duidelik in verskeie tekste, waar die apostels onder andere verwys na die “gemeenskaplike maaltye”, soos in bv. Hand. 2 wat ek alreeds hierbo genoem het. Die sakramente is handelinge, tekens en woorde wat die beloftes van die Woord sintuiglik vir ons bekragtig. 

Dit is en bly dit verbondstekens. Tekens van die verbond vir die verbondsvolk. Dit is nie primêr pitkos vir die individu nie. Ja dit dien tot versterking van die individu se geloof, natuurlik, maar dit is primêr ’n verbondshandeling. Dit is die God van die verbond se handelinge, tekens en woorde vir Sy verbondsvolk. Daarom was die Nagmaal bv. in die vroeë Kerk nog altyd iets wat gemeenskaplik gevier is, om die onderlinge eenheid sterk tot uiting te bring. Daarom spreek die apostel Paulus hom ook skerp uit teen die Korintiërs wat in hulle gemeenskaplike maaltye sekere mense uitsluit en partyskappe vorm (1 Kor. 11:18 e.v.). Waarom skryf hy dit? Want die Nagmaalsakrament het onder andere ook ten doel om die letterlike, onderlinge eenheid van die gemeente te bevestig en te versterk.

Maar wat nou, noudat ons “ja” gesê het vir ’n “virutele erediens”? Wat word nou van die sakramente? As ons “ja” gesê het vir ’n “virtuele erediens” kan ons ook “ja” sê vir ’n “virtuele sakrament”. As ons ’n internet erediens het, waarom kan ons dan nie ’n “Skype-doop” hê nie? As ons ’n virtuele erediens het, dan kan ons mos ook ’n “Whatsapp-Nagmaal” hou? Ek besef daar is mense en kerke wat dit alreeds so doen, vir baie jare al. Dit maak dit egter nie reg nie. 

’n “Virtuele sakrament” is weereens, net soos “virtuele erediens” ’n totale weerspreking. Hoe kom die gemeente se onderlinge verbondenheid letterlik tot uitdrukking in ’n virtuele sakrament? ’n “Virtuele sakrament”, vergeestelik weereens iets wat bedoel is om ’n baie letterlike (geestelike) betekenis en implikasie te hê. As die apostel sê “Omdat dit een brood is, is ons almal een liggaam, want ons het almal deel aan die een brood”, dan bedoel hy dat ons werklik deur die Gees saamgebid word as een liggaam onder die Een Hoof. Daarom moet die sakramente ook gevier word wanneer ons, soos een, bymekaar is. 

Dit is duidelik, dat die eredienste juis daar is vir die gemeente om die sakramente te vier saam met die aanhoor van die Woordverkondiging. Die sakramente bekragtig vir ons die beloftes in die Woord. Woord en sakramente binne die vergadering van die heiliges is waar die Here se Gees in en deur ons werk. As ’n kerkraad dus meen dat hulle wel “virtuele eredienste” sal hou, dan ken hulle eintlik in wese daarmee aan hulleself die mandaat toe om ook gereeld “virtuele sakramente” te gebruik, want die een gaan nie sonder die ander nie. Waar daar eredienste is, moet daar Woordverkondiging en sakramente wees!

Dit is vir my duidelik (en ek hoop ook vir jou wat hierdie lees) dat ons selfs in hierdie moeilike tye nie ligtelik oor hierdie sake moet dink nie. Daar is heelwat op die spel. 

Ek wil steeds elke bedienaar van die Woord aanmoedig om aan te hou met julle oordenkings en uitsendings, maar weet tog, dat dit nie ’n erediens is nie. Broeders, moet nogtans nie stop met die verkondiging van die Woord nie. Hierdie is by uitstek die tyd om te volhard en die Here se Woord te verkondig! “Verkondig die Woord, tydig en ontydig!” (2 Tim. 4:2).

Marnix Boersema

marnix@scriptura.co.za

Exit mobile version