Salomo, die groot bouer, beskryf die tevergeefsheid van enige bouwerk, enige taak of onderneming wat die mens aanpak wanneer dit los van God en sy seën gedoen word.
“Tevergeefs dat julle vroeg opstaan, laat opbly, brood van smarte eet – net so goed gee Hy dit aan sy beminde in die slaap...”(Psalm 127:2)
Ons kan kliphard werk, finansiële sekuriteit bied tot die mate dat ons beheer daaroor het, ons kan ons vir ‘n ondankbare baas afsloof ter wille van die sg. ‘deure wat dit oopmaak’... As die Here egter nie die fondament is waarop ons bou nie, beteken al daardie harde werk net mooi niks.
Salomo maak hierdie bouwerk dan konkreet as hy ons arbeidsaamheid in God se koninkryk toepas op die belangrike bouwerk in ons gesinne:
“Kyk, seuns is ‘n erfdeel van die HERE, die vrug van die moederskoot is ‘n beloning...” (Psalm 127:3).
Dit is so: God gee ons kinders en hulle bring plesier, blydskap en vreugde. En belangrik om te besef is dat ieder en elk van hulle aan die Here behoort en dat Hy in ‘n sekere sin hulle aan ons ‘leen’. Hy vertrou hulle aan ons toe – nie bloot om hulle groot te maak nie, maar om met verantwoordelikheid in sy Naam, in sy vrees en tot sy eer groot te maak, soos wat hulle by die doop van daardie kindertjies beloof het.
Sekerlik die wonderlikste, mees verhewe bouwerk wat ‘n mens kan doen, is om te bou aan die gesin wat die Here vir jou gegee het:
Ons ontvang hulle as kosbare gawes uit sy hand.
Ons moet besef dat, terwyl ons harte wil bars van liefde vir hulle, God ons kinders oneindig liewer het, as wat ons menseharte ooit sou kon.
Ouers is dus rentmeesters wat voor die Here verantwoordelikheid (moet) aanvaar vir die opvoeding van ons kinders
Kinders se waarde lê nie in hulle prestasies, gedrag of vermoëns nie, maar dáárin dat hulle beelddraers van God is.
Daarom vra die bouwerk in ons gesinne ‘n ontsaglike mate van onselfsugtigheid, geduld, liefde en toewyding. Dit is nie altyd maklik nie, maar dit is ‘n besondere roeping wat die Here aan ons toevertrou (ek kom nou weer hierop terug).
Salomo gebruik dan volgende ‘n treffende beeld om die taak van ouerskap in skerp reliëf te plaas:
“Soos pyle in die hand van ‘n held, so is die seuns van die jeug...” (Psalm 127:4)
Pyle in ‘n koker is gebruik om mee te jag. Skerp pyle het die kans op sukses tydens die jagtog verbeter. Die beginsel is daarom eintlik verspot maklik om te begryp: pyle vorm nie hulleself nie. Dit word sorgvuldig bewerk, reguit gemaak en skerp geslyp sodat dit sy doel kan bereik.
Net so moet kinders doelbewus gevorm word. Hulle word nie vanself geestelik volwasse nie, hulle weet nie vanself hoe om hulle te handhaaf in hierdie verloregaande wêreld nie.
Dit is die ouer se taak om hulle toe te rus om as gelowiges in die wêreld te leef.
Wat behels hierdie vorming prakties?
Hulle moet skerpgemaak word met die Woord: Kinders moet die Woord van God leer ken. Hulle moet leer wie Hy is, dat hulle aan Hom behoort en hoe hulle in sy huisgesin (1 Timoteus 3) behoort op te tree. Die Bybel moet dus nie net partykeer (soos op spesiale geleenthede) ter sprake wees nie, dit is ook nie ‘n saak waarin ek die skool of die kerk as ‘buitekontrakteerders’ nader om namens my die Woord aan die kind te bedien nie. Die Woord is die stapelvoedsel wat die basis van my kind se daaglikse geestelike dieet vorm.
Ouers moet hulle kinders toerus om hulle geloof te leef en te verwoord: Kinders moet leer om op die Here te vertrou, veral wanneer die beproewings van die lewe hulle takel en moeilike besluite geneem moet word. Hulle moet nie met ‘n mond vol tande sit as dwalinge hulle konfronteer nie, of as die wêreld ‘n bepaalde ideologie op hulle wil afforseer nie. Die doel is dus nie bloot kennis nie, maar hoe daardie kennis praktyk in hulle geloofslewe raak.
Ouers moet self die voorbeeld stel: Opvoeding van kinders geskied nie net deur wat ons sê nie (maak soos ek sê!) maar ook deur hoe ek leef (maak soos ek maak!). Dit help nie die kinders word ‘beveel’ om die Here te dien as hulle ouers nie self erns maak met die Here, sy Woord en die kerk nie.
Ouers moet hulle verantwoordelikheid ernstig opneem: Die kerk, kategese en Christelike onderwys speel ‘n belangrike rol in die geestelike vorming van ons kinders. Dit is ‘n roeping wat nie aan ander oorgelaat kan word nie. Ja, daar is plek vir die uitgebreide huisgesin van God (ooms, tannies, oumas, oupas, onderwysers, mede-broers en susters in die geloof) maar primêr is dit MY skapie wat die Here vir MY gegee het. Dink aan hoe betreklik min tyd daar in die loop van ‘n jaar is waar daar formeel aan kategese en Bybelonderrig spandeer word- veral wanneer die kerk moet kompeteer met skoolaktiwiteite wat toenemend op die Sondagrus indring. Dit volg dan dat dit ‘n saak van kritiese belang is dat ouers die huisaltaar eerbiedig – dat daar gereeld gelees, gebid, gesing en volgens die Woord geleef word. Ouers moet hulle kinders self onderrig, terwyl daar ondersteuning van ander terreine verwelkom word.
Die beeld van die pyl beklemtoon die leidingsaspek van ons rol: ‘n pyl bepaal nie die koers waarin hy gaan nie – die boogskutter rig dit in ‘n bepaalde rigting.
Terwyl ons dan biddend, afhanklik ons kinders in die Woord opvoed, weet ons dat dit God is wat die wedergeboorte werk. Ons verantwoordelikheid is om getrou te bou met die onverganklike bakstene in die Woord, en te glo dat Hy ons bouwerk sal seën.
Prakties gesien, gaan ons as ouers dikwels deur moeilike ‘seisoene’ van ouerskap. Aanvanklik die aanpassing met die pienkvoete, die min slaap en die moeilike, selfs stormagtige peuterjare.
Dan, asof uit nêrens is jou kosbare, liewe, soet kindertjies vervang met buierige vreemdelinge. Skril, blikkerige stemme weerklink in die gange en donker emosies begin toenemend na vore tree. Dit voel in hierdie seisoen asof ons van voor af begin, daar is nie ‘n bank van kennis en ervaring van dit wat met moeite in die vorige 12 na 14 jaar opgedoen is nie.
Tog – is dit ‘n illusie. As ons glo dat God hierdie kind vir my – ons – spesifiek geleen het om as rentmeesters in ons ouerskap hom / haar te bou, dan volg dit dat Hy die middele sal gee wat nodig is om suksesvol in hierdie roeping te wees. Dit verg werklik dan tog gehoor aan sy wekroep in Psalm 127.
Waar dit voorheen gewoon maklik was om saam te lees, te verduidelik, te sing kom daar nou toenemend vrae en – durf ons dit sê – twyfelvrae. Soms dalk dinge wat jou as ouer gaan skrikmaak.
Wat spesifiek hier NIE gaan werk nie, is om pasgemaakte, pro-forma antwoorde af te rammel. Tesame met gewone eerlikheid oor ons geloof: dat God openbaar, maar dat ons nie altyd 100% verstaan presies HOE alles werk nie, is dit ‘n kwessie van tyd, tyd en nog tyd saam met jou kinders spandeer. My ervaring is dat dit ‘n feit is dat kinders toenemend begin terugtrek in hulle sg. ‘doppe’ in hierdie stormagtige tienerjare, maar dat dit dan des te meer toenemend my as ouer se plig is om gereelde geleenthede te skep waar gesprek oor alles en nog wat, moontlik kan wees.
Ek maak byvoorbeeld ‘n punt daarvan om individueel met elkeen al om die twee weke ‘n tydjie te maak vir ‘n koffie, saam draf, ‘n uitstappie êrens om iets te gaan haal. Dis daardie ‘bêre die foon-oomblikke’ en konsentreer op wat hulle sê (en ook NIE sê nie). Dit skep vrymoedigheid om selfs daardie dinge wat ongemaklik is, wat hulle al honderd keer oorweeg het OF hulle jou daarby gaan insluit, met jou te deel.
Kortom: as hulle jou nie kan vertrou met die sg. Onbelangrike, selfs banale dinge wat in hulle dag gebeur het nie, gaan hulle in der ewigheid nooit oor dieper sake met jou praat nie. Deel van ons slyp-opdragte, die taak van skerp-pyle maak, is om hulle die woordeskat van die geloof te gee, te leer hoe om dit binne die regte konteks aan te wend en dan die blindekolle wat vorm saam met hulle raak te sien en aan te spreek.
En geen afspraak, buiten God se afspraak met ons kinders in die erediens- kan belangriker wees nie.



