Hoe sorg ’n Christen vir sy liggaam?
’n Bybelse perspektief in ’n oorlaaide wêreld - deur Dr. Jonker Venter
Ons leef in ’n tyd waarin mense se verantwoordelikheid teenoor hul liggaam dikwels onder groot druk is. Aan die een kant word die liggaam verafgod — voorkoms, prestasie en gesondheid word absolute ideale. Aan die ander kant word dit verwaarloos — gejaagdheid, swak gewoontes en konstante stimulasie put die liggaam uit. Hierdie spanning wys dikwels op iets diepers: die moderne mens weet nie meer aan wie hy behoort nie.
Hierteenoor herinner die Bybel gelowiges aan die Christelike alternatief: “Julle behoort nie aan julleself nie … want julle is duur gekoop. Verheerlik God dan in julle liggaam” (1 Kor. 6:19–20). Dit is die troos wat gereformeerdes in die Heidelbergse Kategismus bely, naamlik dat ons met liggaam en siel aan Jesus Christus behoort. Die vraag oor liggaamlike sorg is dus nie net ’n vraag van gesondheid nie, maar ook oor identiteit.
Die liggaam is deel van my geloof
In die gereformeerde teologie word die mens nie gesien as ’n siel wat toevallig ’n liggaam het nie, maar as ’n eenheid van liggaam en siel (vgl. Bavinck). Dit beteken dat my geestelike lewe en my liggaamlike lewe nie van mekaar geskei kan word nie. Hoe ek eet, rus, werk en leef, het alles te doen met my verhouding met God.
Hierdie insig help ons om te verstaan dat sogenaamde “gewone” dinge nie neutraal is nie. Christelike denkers soos H.G. Stoker wys uit dat die mens altyd vanuit ’n diepste lewensoriëntasie leef. My daaglikse gewoontes wys dus iets van wat in my hart en denke aangaan.
Verlossing verander hoe ek leef
Die evangelie gee nie net vir my ’n nuwe identiteit nie, maar ook ’n nuwe lewenswandel. Ek behoort aan Christus — en daarom leef ek anders. Hierdie verandering gebeur nie deur blote wilskrag nie, maar deur die werking van die Heilige Gees.
Tog beteken dit nie dat die Christen passief leef nie. Pastorale skrywers soos Jay Adams beklemtoon dat geloof sigbaar word in konkrete gehoorsaamheid. Wat ek glo, begin wys in hoe ek leef. My gewoontes, my roetine en my prioriteite begin verander.
Dit is waarom geestelike dissiplines so belangrik is vir Christene. Donald Whitney wys dat praktyke soos Bybellees, gebed en stilte nie wettiese pligte is nie, maar middele waardeur God ons vorm. Sonder hierdie dissiplines raak die geloof maklik oppervlakkig en onbestendig.
’n Wêreld wat ons uitput
Ons moet ook eerlik wees oor die tyd waarin ons leef. Die moderne wêreld stel unieke eise aan die mens. Tegnologie, konstante kommunikasie en ’n kultuur van prestasie laat baie mense oorlaai en uitgeput voel.
Selfs algemene sielkundige insigte wys dat voortdurende stimulasie en gebrek aan rus ’n negatiewe effek op beide die siel en die liggaam het (vgl. McAdam). Wanneer ’n mens nooit tot stilstand kom nie, begin die liggaam onder die las van die lewe swaarkry.
Terselfdertyd leer die kultuur vir ons dat ons aan onsself behoort — dat ons met ons liggame kan maak wat ons wil. Die Bybel leer egter presies die teenoorgestelde: die liggaam is nie my eie nie, maar deel van my lewe as dissipel in diens van Christus.
Praktiese riglyne vir die alledaagse lewe
Wat beteken dit dan prakties om God met my liggaam te verheerlik? Hier volg ‘n paar riglyne wat biddend onder leiding van die Gees gevolg kan word.
Eerstens begin dit by die Woord. ’n Christen kan nie geestelik groei sonder om tyd met God se Woord deur te bring nie. Dit is waar gelowiges krag en rigting vind. ’n Dag wat sonder die Woord begin, verloor maklik sy fokus. Natuurlik gaan gebed hiermee saam. Die bekende gesegde wat dikwels aan Martin Luther toegeskryf word, spreek vanself: “Ek het vandag soveel om te doen dat ek die eerste drie ure in gebed moet deurbring”.
Tweedens moet ek my aandag beskerm. In ’n wêreld vol afleidings moet ek doelbewus kies wat my aandag kry. Dit beteken praktiese grense met onder andere tegnologie en skerms.
Derdens moet daar ’n ritme van werk en rus wees. Ons is geskape wesens, nie masjiene nie. Gereelde rus en genoeg slaap is nie luuksheid nie — dit is ’n basiese behoefte en deel van verantwoordelike gehoorsaamheid aan God.
Vierdens moet ek selfbeheersing beoefen. Dit raak hoe ek eet, hoe ek my liggaam gebruik en hoe ek my lewe inrig. Hierdie dinge gaan nie oor selfbeeld nie, maar oor rentmeesterskap.
Laastens moet ek my prioriteite reg stel. Tyd met God, met my gesin en met die plaaslike gemeente van God moet doelbewus beskerm word. Dinge soos gejaagdheid, uitstel en gemak kan maklik slegte gewoontes word wat my lewe oorheers as ek nie waak nie.
Terug na die begin
Die doel van liggaamsorg is nie om langer te leef, beter te lyk of meer produktief te wees nie, maar om God in dankbare gehoorsaamheid te verheerlik. Wanneer ’n mens vasval — en dit gebeur tot ’n mindere of meerdere mate met almal — moet jy nie vassit in skuldgevoelens nie. Gryp gelowig na die evangelie wat my herinner: ek behoort aan Christus.
Bekeer en begin van daar af. Kry weer jou krag in Hom. Begin weer klein — met eenvoudige, gehoorsame stappe. Nie in jou eie krag nie, maar deur die werking van sy Gees.
Want uiteindelik is dit nie jou dissipline wat jou dra nie. Dit is Christus, deur sy Gees, wat jou dra.



