Dit is druk besig, laatmiddag buitekant die plaaslike “Food Lover’s Market”. Almal is haastig om met die minste hoeveelheid moeite en rompslomp in en uit die winkel te kom en dan huiswaarts te keer.
By die winkel uit, is die trollie swaar gelaai, en moet die vrag in die kar kom. Meeste van ons ken hierdie gevoel, reeds oorweldig na die klein fortuin wat jy sopas spandeer het, moeg en warm gesukkel deur die massas mense sodat jy net by die huis wil kom. Die klein ou sakie van ‘wat maak ek met die winkeltrollie?’ is amper betekenisloos...
Maar is dit werklik?
Met die munisipale verkiesing ophande is dit opvallend hoe baie diensleweringskwessies eintlik self die kwessie van waar jy jou kruisie gaan trek, na die oppervlak bring. As jy in Pretoria bly, weet jy byvoorbeeld hoe om vir ‘n uitgebreide tyd om óf sonder krag, óf sonder water – óf beide – klaar te kom.
Tereg vra kiesers nie iets buitengewoon wanneer ons van ons verkose ampsdraers vra om gewoon hul verantwoordelikhede en basiese pligte teenoor die burgery na te kom nie. Maar dit gaan in ons samelewing eintlik oor veel meer as wat die regering vir ons kan doen, en wat ons eie verantwoordelikhede is.
Dit bring my by die gedagte van selfregering en orde binne ons samelewing. Sonder om basiese norme en waardes te handhaaf kan ‘n samelewing nie ordelik funksioneer nie. Ironies genoeg beteken die selfaanvaarding van bepaalde verantwoordelikhede binne ons samelewing dat ‘n mens juis meer van die regering kan verwag.
Terug by die winkeltrollie. Nou moet ek tereg sê – dit is nie my eie slim idee wat ek hier opper nie – die idee is al geruime kere in die verlede geopper en staan bekend as die sg. ‘Shopping Cart Theory’.
Die kerngedagte is dat die terugneem van die winkeltrollie ‘n eenvoudige voorbeeld is van hoe ‘n mens jou verantwoordelikheid uitoefen sonder dat iemand oor jou skouer kyk. Sonder dat daar noodwendig ‘n beloning of straf op die spel is. Wanneer ‘n mens werklik integriteit aan die dag lê, juis daar wanneer niemand kyk nie.
Die feit is: niemand gaan jou arresteer, beboet of uitskel omdat jy die trollie daar laat staan het nie (trouens is daar dikwels ‘n horde karwagte wat dit namens jou doen). Jy kan dus eenvoudig wegstap, welwetende dat my optrede gevolge vir ander het.
Ek besef dis nie strafbaar nie, maar aan die ander kant óók dat dit nie die regte ding is om te doen nie.
Ten diepste gaan dit oor of ek bereid is om ‘n klein opoffering te maak ter wille van ‘n groter gemeenskaplike belang.
(Nota: die teorie bel so bietjie ver met sy kleingeld wanneer dit in die karakter van mense wil indelf – hierdie enkele handeling is nie ‘n getroue maatstaf vir die karakter van elke individu, of sy vermoë tot selfregering nie).
Tog -‘n samelewing se vermoë tot selfregering begin en eindig nie by die stembus nie. Dit begin by die burger wat bereid is om die regte ding te doen wanneer niemand hom dwing nie. Kom ons keer daarom die vraag om: dit gaan nie oor watter regering ons verdien nie, maar watter tipe burgers ons bereid is om te wees.
En daarin is die winkeltrollie eintlik maar net ‘n klein voorbeeld. Dit stel tog ‘n interessante vraag wat ‘n mens op ons hele lewe in Suid-Afrika kan toepas: As ons nie bereid is om selfs die kleinste verantwoordelikhede teenoor ons gemeenskappe te aanvaar nie, kan ons dan verwag dat ‘n politieke stelsel, ongeag watter party regeer, daardie ordelike samelewing waarna ons smag, vir ons sal kan skep?
Na dit alles is my gedagte konkreet: die trek van ‘n kruisie op daardie ellelange stembrief is nie die somtotaal van ons verantwoordelikhede nie. Dit verteenwoordig ‘n bitter, bitter klein onderafdeling daarvan. Sonder daaglikse integriteit is dit betekenisloos.
Regerings maak wette – maar dit is die karakter van die burgery in hul daaglikse keuses – van die winkeltrollie tot die roetine van jou buurt, wat die kultuur van ‘n land vorm. So word die stembrief maar net een pyl in die koker van ‘n burger wat glo aan bou en vooruitgang.
Vanuit ons gereformeerde en Bybelse beskouing word hierdie verantwoordelikheid myns insiens diep veranker. Lukas 16:10 leer ons dat ons in die groot EN klein dinge betroubaar moet wees, en dat ons altyd coram Deo – voor die aangesig van God leef.
Daarby sluit Matteus 22:21 aan ‘betaal dan aan die Keiser wat die keiser toekom, en aan God wat God toekom...” Die gelowige het pligte teenoor die burgerlike samelewing. En in ons moderne demokrasie is die uitoefening van jou stemreg ‘n onontbeerlike deel van daardie plig – om toe te sien dat regverdige leiers gekies word wat die goeie bevorder.
Dink hieraan voor Woensdag: dit help nie jy stem, maar jy is nie bereid om self in die bres te tree nie. Waar is daar in my samelewing, my omgewing, my buurt – my onmiddellike konteks ‘n plek waar ek ‘n verskil kan en moet maak?


