Die sonde tot die dood
Die “sonde tot die dood” in 1 Johannes 5:16
1 Johannes 5:16 wek by ons baie vrae, maar veral een: wat is die sonde tot die dood?
“As iemand sy broeder ’n sonde sien doen wat nie tot die dood is nie, moet hy bid, en Hy sal hom die lewe gee—vir die wat nie ’n sonde tot die dood doen nie. Daar is ’n sonde tot die dood; daarvoor sê ek nie dat hy moet bid nie.”
Hieronder is ‘n tabel wat dalk Johannes se argument in 1 Johannes makliker verstaanbaar kan maak. Kom ek verduidelik kortliks wat ek in die tabel probeer uitwys:
Alle sonde is “tot die dood”…
In die lig van die res van die Skrif is dit duidelik dat alle sonde tot die dood is. Ons moet versigtig wees om sonde te klassifiseer in denkbeeldige kategorieë. Asof een groep sondes dodelik is, maar ‘n ander groep nie.
Om net ‘n paar verse, soos Rom. 3 en Jak. 2 te noem, maak dit alreeds duidelik: alle sonde is dodelik, want dit roep die wraak van God oor ons. Alle mense is sondig en staan onder die vloek van die wet – dit is: die wraak van God.
…Behalwe vir hulle wat in Christus is!
Christus bring egter verlossing van die wetsvloek (die tweede dood) en laat Sy heerlike Koninkryk deurbreek. Sy Koninkryk is die Koninkryk van Lig.
Telkens praat Johannes in 1 Johannes van hierdie twee koninkryke; hierdie twee groepe mense: die wat in die (L)lig wandel en die wat in die duisternis lewe. Hy praat dus van die wedergeborenes en die nie-wedergeborenes.
Egte wedergeborene vs. nominale Christene
Johannes is spesifiek gemoeid met ware, wedergebore Christene vs. nominale Christene. Hy noem telkens hoe sekere mense hulleself voorhou as “broeders in die geloof”, maar hulle lewe verklap dat hulle maar net gelowiges in naam is.
Ons moet 1 Johannes 5:16, wat handel oor die sonde tot die dood, ook mooi gaan plaas binne-in die res van die 1e Johannes-brief.
In die konteks van 1 Johannes, sien ons iemand pleeg die sonde tot die dood as hy konstant met sy lewenswandel getuig dat hy eintlik in die ryk van die duisternis is. Al sê hy, hy is deel van die Lig.
Vergifnis vir die kinders van die Lig
Die kinders van die Lig, sê nie net dat hulle deel is van Christus nie, hulle wandel ook soos kinders van die Lig. Hulle breek met en stry teen hulle ou gewoontesondes. Hulle maak nie van sondes ‘n gewoontepraktyk nie (1 Joh. 3:9). Tog erken die kinders van die Lig dat hulle wel sonde doen: dit is maar net nog ‘n definisie van die ware wedergeborenes: Hulle erken dat hulle sondig is.
Die troos is egter, dat die wat in Christus is, vergifnis en reiniging van hulle sondes ontvang; hulle ontvang die lewe! Hulle sondig ja, te midde van hulle berou en bekering. Hulle het die troos in Christus, dat hulle sonde nie sonde tot die tweede, helse dood is nie.
Juis omdat daar vergifnis in Christus is, moet ons nie net vir ons eie vergifnis bid en pleit nie, maar ook dat die Here ons mede-broeders en susters sal vergewe! Johannes druk dit juis by ons op die hart met 1 Johannes 5:16: bid dat die Here jou broeder en suster in die geloof sal vergewe!
Wraak oor die kinders van die Duister
Hierteenoor, is die naam-Christene, wat nie werklik Geestelik nuutgebore is nie. Hulle wat sê hulle lewe in die Lig, maar lewe soos mense buite Christus, is leuenaars en die waarheid is nie in hulle nie. Hulle is in die duisternis. Hulle is in die natuurlike staat van die natuurlike mens.
‘n Kenmerk van hierdie mense is dat hulle ontken dat hulle sondig is en sonde doen. Verder, ontken hierdie leuenaars ook dat Jesus die Christus is. Hulle ontken Hom as Middelaar. Hulle is antichriste. Dikwels kom hulle vanuit die kerklike kringe, maar dit word gou duidelik dat hulle ‘n ander leer huldig.
Verder is hierdie naam-broeders mense wie se lewe kenmerkend sondig is. Met ander woorde, dit is mense wat sondes willens en wetens bedryf en ‘n gewoonte daarvan maak, selfs ten spyte van vermaning om te bekeer.
Geen lewe buite Christus nie, net die dood!
Johannes spel dus vir ons tot en met hoofstuk 5 uit, hoe kinders van die Lig en kinders van die Duister optree. Iemand wat volhard in ‘n lewe van duisternis, bewys homself ook as kind van die Duisternis, buite Christus. So een het geen vergifnis van sy sondes nie, want daar is slegs reiniging van ons sondes in en deur Jesus Christus. Buite Christus is geen saligheid nie. Buite Christus is daar geen vergifnis van ons dodelike sondes nie en so een sal nie die ewige lewe beërwe nie.
Let wel dat Johannes ons dan nie in 1 Johannes 5:16 verbied om vir hierdie mense te bid nie. Hy lê egter ook geen verpligting op ons om wel vir hulle te bid nie.
Opgesom: Die sonde tot die dood is…
Die hele vraagstuk oor die sonde tot die dood word vir ons ontsluit in 1 Johannes 5:12,13: “Hy wat die Seun het, het die lewe; wie die Seun van God nie het nie, het nie die lewe nie. Dit het ek geskrywe aan julle wat glo in die Naam van die Seun van God, sodat julle kan weet dat julle die ewige lewe het en kan glo in die Naam van die Seun van God.”
Hier is heelwat meningsverskille oor 1 Joh. 5:16 en die “sonde tot die dood”. In die lig van alles wat nou alreeds genoem is, verstaan ek dit so: die sonde tot die dood (in 1 Joh. 5:16) is wanneer iemand beweer hy is ‘n Christen, maar hy volhard in die lewenstyl van die duisternis. Hiermee bewys hy homself as ‘n nominale, nie-wedergebore “Christen”.





