Press "Enter" to skip to content

Waarom ek my siening oor die doop verander het

Alles het begin in Mei 2010 toe die Here my uit genade alleen gered het. Voor dit was ek vir ‘n klomp jare (ongeveer 15 jaar) buite die kerk waartydens ek heeltemal afvallig geword het. Alhoewel ek as ‘n jongman aangeneem en voorgestel was in die NG Kerk, het ek nie veel van verbondsteologie en die doop verstaan nie. Na my bekering wou ek egter graag weet wat die ware Christelike geloof is aangesien daar net een God en een waarheid kan wees. Tussen al die verwarring van kerke en leerstellings wou ek graag weet wat die Woord leer. In my soeke het die Here my gelei na die gereformeerde leer. Deur die gereformeerde leer het ek vir die eerste keer werklik die evangelie verstaan – redding deur genade alleen, deur geloof alleen, in Christus alleen. Dit was asof ek ‘n tweede wedergeboorte beleef het toe ek die genadeleer verstaan. 

In 2012 het ek toe by ‘n Gereformeerde Baptiste Kerk lidmaat geword omdat ek oortuig was dat slegs die wat geloof kan bely gedoop mag word en babas dus nie in die kategorie val nie. Ek en my vrou is toe gedoop op 16 Desember 2012 as lidmate van die Baptiste Kerk. Ek was op daardie stadium gereformeerd in my soteriologie maar het nog nie ‘n goeie begrip gehad van verbondsteologie nie. Ek was oortuig dat slegs die wat wedergebore is weens God se uitverkiesende genade deel van die verbondsgemeenskap is en nie hul kinders nie. Die verbondsgemeenskap is dus gelykstaande aan die onsigbare, of dan, geestelike kerk. Alleenlik die wat tot geloof kom en gedoop is mag lidmate van die kerk wees. Redding en verbond is dus eerstens individueel totdat jy deel is van die geloofsgemeenskap deur wedergeboorte. 

In 2013 het ek teologie begin studeer omdat ek oortuig was die Here het my geroep tot die bediening. Tydens my eerste jaar van studie het my eskatologiese siening begin verdiep. Ek het oortuig geword van verbondseskatologie en dat dispensasieteologie onbybels is. Israel in die Ou Testament en die kerk in die Nuwe Testament is een en dieselfde ding. Ek het in die Skrif begin raaksien dat God nog altyd net een volk gehad het, die Israel van God, en dat die Nuwe Testamentiese kerk niks anders is as Israel wat tot die ware realiteit gekom het van God se beloftes aan hulle nie. Dat die kerk, die ware Israel oor alle tye, die vervulling is van God se verbondsbeloftes aan Israel. Wat vir my begin uitstaan het is die eenheid in die Skrif tussen die Ou Testament en die Nuwe Testament, en Israel en die kerk. God het nog altyd net een volk gehad onder die koningsheerskappy van Koning Jesus. Hierdie is belangrike verbondsbeginsel wat die sleutel is tot verbondsteologie en verbondsdoop. 

Alhoewel ek die belangrike verbondsbeginsels geglo het, het ek nog nie mooi verstaan hoe al die verbonde inmekaar steek nie. Ek het nog nie ‘n genuanseerde prentjie gehad van die hele verlossingsverhaal nie. In my derde jaar van deeltydse teologiese studies het ons ‘n vak gehad, “Biblical Theology.” Twee van ons voorgeskrewe boeke het gehandel oor die geheelbeeld van die Skrif deur die verbonde. Dit het my oë oopgemaak vir ‘n nuwe verstaan van die Skrif. Dit was vir my soos ‘n nuwe openbaring van God as die Vader van my gesin. God is ‘n Verbondsgod en verbond is die sentrale manier hoe hy Homself aan Sy volk geopenbaar het. Tesame met dit het ek ook tot ‘n nuwe openbaring gekom van kerk en gesin. Dat gesin die kleinste vorm van kerk en die boublok van die verbondgemeenskap is. Ek het gesien dat Adam en Eva die eerste kerk en verbondsgemeenskap was. Vanuit hulle het die ewige verbond deur die Skrif uitgespeel, deur Noag, Moses, Abraham, Dawid tot in die Nuwe Testamentiese kerk onder Jesus. Dit het ernstige vrae aan my begin stel oor die plek van kinders in die kerk en verbond. 

Op die stadium was my idee oor verbond, gesin en hul kinders redelik gevorm soos gereformeerde teologie dit leer. Ek was oortuig dat die kinders van gelowiges ingesluit is in die verbond onder die federale hoofskap van die ouers. Maar ek het geglo dat slegs gelowiges mag deel in die sakramente (Rom. 6:1-10; Kol. 2:11-12; Markus 16:16; Mattheus 28:18-19). Ek het egter toenemend ‘n stryd begin ervaar omdat daar meer vrae as antwoorde was: Wanneer het God sy gedagtes verander oor gelowiges en hul kinders? Waar het God gesê die kinders van gelowiges moet uitgesluit word in die Nuwe Testament? Was die aard van die genadeverbond en redding dan anders in die Ou Testament toe God gelowiges se kinders ingesluit het? Wat gebeur met die Abraham belofte in die Nuwe Testament en hoe word dit toegepas – “Ek sal my verbond oprig tussen My en jou en jou nageslag ná jou in hulle geslagte as ‘n ewige verbond, om vir jou ‘n God te wees en vir jou nageslag ná jou” (Gen. 17:7). Wat is die teken van die verbond in die Nuwe Testament aangesien ‘n verbond ‘n fisiese teken het? Moet doop onderdompeling wees of is besprinkeling goed genoeg? Hoe kan so baie gereformeerdes verkeerd wees? Wat leer die kerkgeskiedenis ons oor die doop? 

Die vrae het my gedwing om my posisie te heroorweeg. Ek het toe besluit om die Bybel, kerkgeskiedenis en wat teoloë leer oor die doop van vooraf te ondersoek. Soos ek die Bybel begin deurlees het kon ek sien God praat van die kinders van gelowiges as Sy kinders. Dawid getuig (Ps. 22:10) dat hy aan God behoort van die moederskoot af en Maleagi (2:15) vertel van God se plan deur die huwelik om ‘n goddelike nageslag te hê. Deurlopend getuig die Bybel van God se belofte om ‘n God te wees vir gelowiges en hul kinders. Die konstante boodskap deur die hele Bybels is: “Ek is ‘n God vir jou en jou nageslag.” Die vraag is nou, sien mens dieselfde boodskap in die Nuwe Testament en hoe word dit toegepas? Ja, Jesus het die kinders van gelowiges binne die koninkryk gesien en nie as buitestanders nie (Matt. 19:13-15). Die taal wat Jesus gebruik het teenoor die kinders van gelowiges was verbondstaal. Dit beteken nie kinders word outomaties gered omdat hulle in ‘n gelowige huis gebore word nie maar Jesus reken hulle in as Hy van die koninkryk praat. 

Petrus het dieselfde gesê op Pinksterdag – “die belofte kom julle toe en julle kinders” (Hand. 2:39). Dit is dieselfde verbondstaal as Genesis 17. Die Jode wat daardie dag na Petrus geluister het met hul Ou Testamentiese verbondsagtergrond het presies geweet wat Petrus bedoel. Dit sou die natuurlikste ding vir die Jode wat tot geloof gekom het om te verstaan hul kinders is saam met hulle ingesluit in die nuwe verbond. Hiermee wys Petrus vir ons dat die verbondsbeginsels in die Nuwe Testament nie verander het nie, net die teken. Paulus bevestig die gedagte in 1 Korintiërs 7:14 waar God so vêr gaan deur die ongelowige lewensmaat in te sluit ter wille van die kinders anders sou hulle buite die verbond staan. Die huwelik was soos ‘n sambreel met die kinders van gelowiges onder die sambreel. Selfs die gesinne-doop in Handelinge getuig van dieselfde verbondsbeginsels as in die Ou Testament – “jy en jou gesin.” Alhoewel die gesinne-doop nie duidelik is of daar babas teenwoordig was nie bevestig dit die patroon tussen die Ou en Nuwe Testament. Die verbondsbeginsels van die Ou Testament het nie verander nie. Daar is ‘n reguit lyn tussen die testamente wat die kinders van gelowiges aanbetref. 

Die prentjie het nou vir my duidelik geword. Ek kon die punte in die Ou Testament verbind met die in die Nuwe Testament en die kinders van gelowiges was onder die lyn ingesluit. Die Nuwe Testament is nie stil oor die kinders van gelowiges nie, inteendeel, dit is soos ‘n luidspreker; dit bevestig en versterk die Ou Testamentiese boodskap. Kinders van gelowiges word ingereken en mag die verbondsteken van die Nuwe Testament, naamlik die doop, ontvang. Die kruis het in die middel van die lyn gestaan met die besnydenis wat vorentoe wys en die doop wat terug wys. Die besnydenis was ‘n simbool van Jesus wat afgesny sou word en deur Sy bloed vergifnis bring. Die water van die doop was ‘n simbool van die afwassing van sonde en die nuwe lewe wat Jesus sou skenk. Beide was ‘n getuienis van die evangelie; ‘n verbondsteken aan God se volk. Gelowiges en hul kinders het die merkteken gedra van God se verbond met Sy volk wat ‘n getuienis is van Sy genadeboodskap aan hulle. Dit het nie outomaties redding beteken nie maar was ‘n getuienis aan elke lid van die volk (kinders ingesluit) dat hulle God se verbondsvolk is. 

Die waarskuwing tekste in Hebreërs het nou meer sin begin maak (vanuit ‘n verbondsbeskouing). Bv., in Hebreërs 10:29 praat dit van die wat die bloed van die verbond vertrap wat hul geheilig het. Die teks kan slegs sin maak vir mense wat in die verbond gebore is en dan die genade van die verbond verwerp. Hierin kan ons sien hoe die bloed van Christus, soos Paulus verduidelik het in 1 Korintiërs 7:14, kinders van gelowiges “heilig” (afsonder). Die beeld wat hieruit vir my duidelik geword het is dat daar twee groepe mense is; die wat van buite deur geloof deel van die verbond word (heidene), en die wat uittree deur ongeloof (kinders van gelowiges). Die beeld is ook duidelik uit Handelinge 2:39. Daar is twee groepe in die vers; gelowiges en hul kinders (Jode) binne die verbond, en die heidene wat die Vader van buite sal deel maak van die verbond. Baptiste sien die vers anders deurdat hulle die klem op die laaste gedeelte van die teks plaas – “die wat die Here onse God na Hom sal roep.” Die sinskonstruksie in die Grieks maak dit egter duidelik dat hier van twee groepe gepraat word. 

Die gevolg hiervan is dat Gereformeerde Baptiste die verbondsgemeenskap as net een sirkel sien – sigbare en onsigbare kerk is gelyk – bestaan slegs uit wedergeborenes. Hierdie is seker die belangrikste verskil wat ek begin raaksien het. Hulle erken dat die Ou Testamentiese verbondsgemeenskap uit gelowiges en ongelowiges bestaan maar dat dit verander het in die Nuwe Testament. Volgens hulle het die aard van die verbond verander soos dit voorspel was in Jeremia 31:33-34. Die nuwe verbond sou net uit wedergeborenes bestaan. Die het egter nie vir my sin gemaak in die lig van wat Jesus geleer het oor die aard van die kerk in die Nuwe Testament nie – koring en onkruid groei saam (Matt. 13:24-43). Verder, as ‘n mens Jeremia 31:33-34 in konteks lees, sien mens dat die verbondsformule (jy en jou nageslag) herhaal word in die voorspelling van die nuwe verbond. Die nuwe verbond sou nie die kinders van gelowiges uitsluit nie. Inteendeel, Jesus se bediening as Priester, Profeet en Koning sou beteken dat almal in die verbond direk van Hom kan leer sonder ‘n tussenganger (profeet of priester). Die waarskuwingstekste in Hebreërs het ook die prentjie bevestig aangesien ons nie glo dat mense hul redding kan verloor nie. Dit sou eerder ‘n geval wees van die wat in die verbond was (koring en kaf) wat later hulle ware kleure begin wys deur ongeloof. Dit het duidelik vir my geword dat die verbondsgemeenskap uit gelowiges en ongelowiges bestaan soos in die Ou Testament. 

Toe ek op die punt kom kon ek nie meer anders as om te glo dat my kinders verbondskinders is wat die verbondsteken moet ontvang nie. Die hoeveelheid water maak nie saak nie en daarom is besprinkeling goed genoeg. Onderdompeling is nie normatief nie want dit is simbolies van afwassing van sonde soos die besprenkeling van bloed teen die altaar in die Ou Testament (Númeri 19:13, 18-21; Levitikus 14:7-8). Daar is te veel situasies wat onderdompeling moeilik maak sodat dit normatief moet wees. Die lyn van verbond tussen die Ou en Nuwe Testament is ononderbroke en die doop het die besnydenis vervang as verbondsteken (Kol. 2:11-12). Dit was ‘n groot troos om te weet waar my kinders in God se verlossingsplan staan. Dit het my baie hoop gegee vir die redding van my kinders omdat God reeds genade aan hulle bewys het. Waarom sou God ons die opdrag gee om te trou en kinders in die wêreld te bring sonder enige hoop vir hul redding en hul toekoms? Dit was ‘n wonderlike getuienis van God se onverdiende genade. Verbondsteologie was vir my ‘n groter en ryker openbaring van God as my Vader. Dit het my gebedslewe en aanbidding baie verdiep. Dit het ook my insig tot die Skrif verbreed en verdiep. Sonder die verbond het ouers min hoop vir hul kinders en is die Christelike geloof maar net so individualisties as die wêreld. 

Ter afsluiting deel ek graag paar skakels van boeke, videos en artikels wat my baie gehelp het op my reis. Guy Richard se boek, Baptism: Answers to Common Questions” is ‘n kort boek wat die algemene objeksies in eenvoudige taal beantwoord. Dr Fesko het ‘n boek geskryf, “Word, Water, and Spirit: A Reformed Perspective on Baptism,” wat na my mening een van die beste boeke in die 21ste eeu is oor die doop. Hy het ook ‘n reeks gepreek oor die boek wat op YouTube beskikbaar is (https://youtu.be/3LeUEE65q6A). Die volgende video gee ‘n baie eenvoudige oorsig van die verbond en die doop (https://youtu.be/AM6sZxzzKI4). In die video gee Dr. Richard Pratt ‘n baie eenvoudige verduidelik hoekom gereformeerdes babas doop (https://youtu.be/VuvQYZSeza0). In die twee artikels getuig twee predikate hoekom hul siening verander het oor die doop (How I Changed My Mind about Infant Baptism by Dr Liam GoligherHow My Mind Has Changed by Dr. Dennis E. Johnson). In die artikel verduidelik John Murray of die doop van babas Bybels is (Is Infant Baptism Scriptural? by John Murray).  

Dankie dat jy die artikel gelees het. Ek vertrou dat die Here deur my getuies vir jou meer duidelikheid gebring het aangaande die verbond en die doop. 

Jaco de Beer 

Kaapstad 

10 Comments

  1. Ben Biggs Ben Biggs

    (6)Wedergeboorte;
    Wedergeboorte vind plaas wanneer ʼn persoon deur God se genade (Efésiérs2,8-9) hom bekeer, (weg draai van sonde wat die dood tot gevolg het Romeine 6,23, en kom tot geloof en kennis in Christus wat die Weg en die waarheid en die lewe is Johannes14,6)) laat doop in die Naam van Jesus Christus tot vergewing van sonde,(Hand2,38 -Hand10,43) en die Heilige Gees sy of haar denke en lewe vernuwe.

    Ons vind ʼn pragtige bybelse voorbeeld van iemand wat weergebore is in die verhaal van Paulus.

  2. Louwrens Louwrens

    Goeie dag Jan, Jaco en Wynand. Kom ons wees eerlik. Ons ken gedeeltelik want ons verstaan gedeeltelik. Dit is van toepassing tot elke mens terwyl ons nog op aarde is. Dit was so vir Adam, Abraham, Dawid, Paulus en nou ons.
    Sonder om aan te kla want 4 vingers sal terugwys wil ek net my siening verduidelik met betrekking tot die doop. My geloofs en godsdienstige agtergrond tot op die punt waar Hy my weer begin trek het is amper identies met Jaco sin. Maar ek het genadiglik mense gehad wat geduldig was met my “self-aanvaarde wysheid” totdat ek die lig gesien het. En genadiglik ook deur vorige teleurstellings (meestal nie met kwaadwillige bedoelings nie) geweet my gerusstelling gaan nie van enige menslike verduidelikings of preke kom nie maar van Vader af. Daar was wel baie leringe (party waar party vals) wat die Heilige Gees my deur gelei het om die waarheid te sien. (Genadiglik is ons geseël deur geloof)

    MAAR om geseel te wees beteken nie ons gaan outomaties Vrug dra nie. Dit is immers nie ons vrugte wat ons wil voortbring nie maar die van die Gees.

    Daar is net EEN doop is. Dit is die doop van Jesus (Yashuah soos Jan se swaer sal se waarmee daar geen fout is nie). Die doop van Johannes is SLEGS met water. Sê dit dat die water doop geen plek het nie? Nee inteendeel dit is juis gedurende die geloofstap waar die meeste gelowiges die doping met die Gees moet ontvang en so toegerus word met Sy Gawes.

    Let wel, die Gees is soos die wind en waai waar Hy wil en dus is die water doop sonder opregte geloof (wat glo, vertrou en gehoorsaam insluit) d.w.s “glo met hart, siel en verstand” slegs ‘n nat ervaring.

    So het dit ook nie noodwendig dieselfde uitwerking op die persoon wat dit aanvaar nie omdat ons almal verskil.

    Jesus het self gese dat iemand wat nie deur Water en Gees nuutgebore is nie, nie die Koningkryk kan ingaan nie. Die Water wedergeboorte is nie deur die onderdompeling nie maar deur die Bloed. Die Gees wedergeboorte is deur die Heilige Gees en alhoewel mense dit ontvang het sonder water is die norm deur water, net soos Christus vir ons die voorbeeld kom stel het.

    Lees die hele nuwe testament (en hou Openbaring vir later want dit benodig die Heilige Gees se Openbaring)

    Ons moet ons denke vernuwe. Wedergeboorte is dus nie iets wat outomaties gebeur wanneer iemand tot bekering kom nie. Veral aangesien daar baie is wat nie opreg bely en “dink” hulle het hulle bekeer nie. Of dink hulle bekering is genoeg wanneer dit slegs in die verstand is. Net soos ons moet glo in hart, siel en verstand moet ons net so ons sonde so bely en bekeer, sodat daar geen onvergifnis or onrein bande in ons lewens meer is nie. Christus se Bloed maak ons vry van die mag van sonde, maar bekeer ons nie automaties van ons sonde nie.

    Dus is die doop sonder opregte belydenis kragteloos.
    Net so is bevryding van sekere bande en gewoontes en denke noodsaaklik voordat ons ons moet laat doop. Ongelukkig het ons baie van die opgebou teen die tyd dat ons as volwassenes dit besef en kan dit nogals ‘n proses word. Dit is iets wat deur gebed en geduld sal regkom.

    Indien ons die boonste besef kan ons ons kinders van vroee ouderdom die krag wat in die doop is laat verstaan en so die Gees se leiding kan kry in hulle lewenspad.

    • Jaco de Beer Jaco de Beer

      Goeiedag Lourens,

      Dankie vir jou Skrywe. Hiermee net ‘n paar opmerkings.

      Jou skrywe impliseer dat die waarheid relatief is. M.a.w., daar is verskillende waarhede vir verskillende mense en dit is afhanklik van hoe elkeen die Bybel lees. Hierteenoor leer die Bybel daar is een waarheid en elke gelowige se doel is die soek en najaag van daai een waarheid. Die Skrif alleen is die plek waar ons daai een waarheid deur die Gees leer. God het nie verskillende denke oor sake nie. Dit is wel waar dat ons as sondige mense sukkel om soms die waarheid raak te sien a.g.v. ons geestelike venster wat wasig is deur ons eie idees. As ons egter in nederigheid voor die HERE staan en Hom vra, “Leer my,” en ons eie idees een kant sit, en baie moeite doen om die Skrif te bestudeer, binne konteks, vee die Heilige Gees ons venster skoon deur die Woord om beter te kan sien wat God se wil is.

      Tweedens, wedergeboorte, volgens die Bybel, is iets wat gedoen word deur God deur die Heilige Gees, voordat enige mens kan glo. Dit is nie iets wat ons aanhelp of kies nie. Jesus en Paulus leer dit is monargisties, m.a.w., kom heel eerste, dan kom geloof en bekering (Ef. 1:4,5,1 2:1-10; Joh. 3:3,5; Joh. 6:44). Elke mens word morsdood in sonde gebore – geestelike dood soos ‘n lyk op die bodem van die see. In genade, wek God dooie sondaars op soos Lasarus wat lank reeds dood was in die graf, sonder enige aksie, of enige vooraf geloof en bydra van ons kant af. Enige iets anders is nie redding deur genade alleen, deur geloof alleen, in Christus alleen nie. Geloof en bekering is vrugte van wedergeboorte nie werke nie. Dit word deur genade gegee deur die Gees.

      Derdens, God het met Abraham ‘n ewige verbond gesluit. Hy het by Sy eie naam gesweer dat daai verbond ‘m ewige verbond is wat nooit sal vergaan nie. Kom ons nou in die NT aan sien ons dat dieselfde verbondsbeloftes voortgaan, omdat God so gesê en belowe het. Net na Pinkster sê Petrus, “die beloftes is vir julle en jul kinders” (Hand. 2:39). Late skryf Paulus vir Korinte, “kinders van gelowiges is geheilig deur die geloof van hul ouers” (1 Kor. 7:14). Ons sien ook hoe Jesus praat oor kinders van gelowiges, “laat die kinders na my toe kom, moet hulle nie verhinder nie, want aan diesulkes behoort die koninkryk,” dit nadat die groot mense hulle weg gewys het (Matt. 19:14). God het belowe om ‘n God te wees vir gelowiges en hul kinders (Gen. 17:7). Die opdrag van daai verbond was dat kinders van gelowiges gedoop moet word omdat hulle, net soos hul ouers in die verbondsbeloftes deel – per God se opdrag. Daarom het gelowiges ouers die opdrag om hulle kinders te doop – die NT teken van die verbond – en hul kinders groot te maak in die Woord van God. Kinders van gelowiges is in die verbond net soos in die OT, alhoewel nog nie gered nie. Die verbond en die doop spreek van God se vaderskap wat soveel meer is as ons aardse vaders. Hy laat nie die kinders van gelowiges buite die verbond nie. Hy is beter as aardse vaders, en daarom het gelowiges baie hoop om kinders in die wêreld te bring soos God beveel het. Buiten dit is ons net so beklaenswaardig soos die heidene wat geen hoop vir hul kinders het nie.

      Laastens, die woord Yashuah kom nie in die NT voor nie. Dit is nie Jesus se naam nie. Kom ons bly by wat die Bybel leer en openbaar wie Jesus Christus is. Die Woord alleen is die waarheid en nie menslike opinies nie. Mag ons dit nederig en biddende ondersoek en gehoorsaam.

      Seëngroete!

    • Jaco de Beer Jaco de Beer

      Lourens, ek het iets vergeet. Die doop met die Heilige Gees is wedergeboorte. Wanneer iemand wedergebore word, word hy geestelik gedoop (een gemaak) in Christus en in die liggaam van Christus in (1 Kor. 12:12). Die “second blessing” idee wat deur Pinkster en Charismatiese kerke geleer word is onbybels. Doop met die Gees is nie ‘n opdrag nie, dit is iets waaraan ons niks kan doen nie, want dit is monargistiese wedergeboorte. Die idee dat mense deur handoplegging of waterdoop die “doop met die Gees” ontvang is werke en nie Bybels nie. Die enigste opdrag wat ons as gelowiges het is, “word met die Gees vervul” nadat jy met die Gees gedoop is (wedergeboorte) En as jy mooi die konteks lees van wat Paulus daar gesê het, het hy basies gesê, “word met die Woord vervul.” Om Gees vervul te wees is om met Christus gevul te wees. Jesus het gesê , as die Gees kom sal Hy julle van My leer” (Joh. 14:26). Die Gees is ‘n Christus-gesentreerde Gees. Hy fokus nie op homself of mense se persoonlike ervarings nie (second blessing). Hy bring mense nader aan Christus en leer hulle meer van Hom deur die Woord. Jy kan gerus die artikel lees aangaande doop met die Gees -> https://www.monergism.com/baptism-spirit

      Aangaande waterdoop kan jy gerus die artikels lees:
      https://tabletalkmagazine.com/article/2019/02/what-is-baptism/
      https://www.tenth.org/resource-library/articles/how-i-changed-my-mind-about-infant-baptism/
      https://thirdmill.org/newfiles/den_johnson/TH.Johnson.Baptism.html
      https://thirdmill.org/magazine/article.asp/link/joh_murray%5Ejoh_murray.baptize2.html

      Jy kan ook die gratis boekie aflaai:
      https://www.amazon.com/gp/product/B07NYZGN23

  3. Jan Jan

    Jan Earle

    Jaco my swaer bly in Australia 🇦🇺 en ons redeneer baie oor die Bybel. Ek het jou (ons) siening oor die doop vir hom aangestuur. Hy het kommentaar gelewer daarop ( sien hier onder). Ek sal graag jou antwoorde daarop wil lees asb. Ek is Jan Earle in Bloemfontein en luister graag na julle potgooi.

    Jaco,
    Ek wil graag ‘n opinie lewer oor jou siening dat die volk Israel in die Ou Testament en die Kerk in die Nuwe Testament een en dieselfde is.

    In Genesis 15:12-15 word beskryf hoe God Sy Verbond met Abraham (toe nog Abram) hernuwe het. In daardie jare wanneer twee partye in ‘n kontrak of ooreenkoms of verbond getree het dan het hulle ‘n ‘n offer gevat, dit in twee gedeel en die twee dele so uitmekaar geplaas sodat die twee lede van die ooreenkoms ‘n 8-figuur tussen die twee stukke kon loop terwyl hulle die voorwaardes van die ooreenkoms hardop herhaal het. In Genesis 15:12 word gesê dat ‘n diep slaap Abram oorval het. Dit beteken (volgens baie bekende Bybelkenners) dat God Abram aan die slaap gemaak het en in vers 17 word beskryf hoe God dan alleen die 8-figuur gestap het. Dit beteken dat God se ooreenkoms met Abram absoluut eensydig en onvoorwaardelik was want God het geweet dat Abram en sy nageslag nooit die verbondsvoorwaardes sou kon nakom nie. Deur te sê dat Israel die verbond verbreek het is nie waar nie, want dit was eensydig. Israel het geen voorwaardes gehad om na te kom uit die Abramitiese ooreenkoms nie.

    In 1 Sameul 12:22 staan geskrywe: “Ter wille van sy groot Naam sal die Here nie sy volk prysgee nie. Die Here het besluit om julle sy volk te maak.” Dit gaan nie oor die volk Israel nie, dit gaan oor die Woord van God en God se Naam. Die Bybel maak dit duidelik dat daar vir God niks belangriker is as Sy Naam (Sy Woord) nie. Hy kan geen belofte wat Hy gemaak het verbreek nie.

    In die endtyd gaan daar anders met die volk van Israel gedeel word as met die Kerk. In Openbaring byvoorbeeld word daar tot in Hoofstuk 4 van die Kerk gepraat. Daarna word die kerk nie weer genoem nie maar word verwys na Israel. In Openbaring, hoofstuk 4, is die Kerk (die sewe lampe wat deur Jesus self in Openbaring 1:20 as die Kerk beskryf word) in die hemel terwyl Israel steeds op aarde is. Die groot verdrukking waarvan daar onder andere in Mattheus 24:21 gepraat word sal op almal wat op aarde is van toepassing wees, maar dit sal veral gefokus wees op die volk Israel. Openvaring 7 verwys na die 144,000 dienaars van God (12,000 uit elk van die 12 stamme van Israel) wat beteken dat Israel steeds mee gedeel word as aparte volk.

    Daar is vir God geen verrassings nie. Toe Hy Adam en Eva geskape het het Hy geweet dat hulle sal sondig en daarom het Hy Sy planne lankal in plek gehad om Sy Seun te stuur om vir ons sondes te sterwe. God sien die begin en die einde, Hy is buite tyd. Deur die standpunt te maak dat Israel in die Ou Testament en die Kerk in die Nuwe Testament een en dieselfde is maak, in my opinie, God tot leunaar (tensy iemand my ‘n vers in die Bybel kan wys waar God sê dat die Kerk die plek van Israel ingeneem het). Ek sê weer, God kan nie Sy verbond verbreek nie.

    Ek verskil van jou siening en dink dat om Israel in die Ou Testament en die Kerk in die Nuwe Testament as een en dieselfde te sien is in my opinie onbybels tensy iemand spesifiek vir my kan wys waar in die Bybel God dit gesê het. Wat jy na verwys is die sogenaamde “Replacement Theology”. Hierdie siening was in baie se opinie (ek kan hier Bybelkenners soos wyle Dr Chuck Missler en Dr John MacArthur noem) die oorsaak daarvan dat die Jode so gehaat word en vervolg is deur die geskiedenis. Dit het gemaak dat in die Kruistogte byvoorbeeld die soldate gekyk het wie kan die meeste Joodse kinders op een slag in hul swaarde inryg. Die Kerk het ‘n baie groot bydrae in die vervolging van die Jode omdat hulle kwansuis die oorsaak was dat Christus gekruisig is. Die Kruisiging is nie ‘n tragedie nie, dis ‘n absolute prestasie anders was daar vir my en vir jou geen hoop nie. As jy dit nie glo nie, lees maar net Jesaja 53 waar beskryf word hoe Hy vir ons sondes sal sterwe. Hoe is dit moontlik dat God deur Sy profete, honderde jare voordat dit gebeur het, kon sien dat Christus vir ons sondes sal sterf? Dis eenvoudig: God sien die begin en die einde … daar is vir God geen verrassings nie en Hy het nog altyd geweet Sy volk Israel gaan Sy Seun doodmaak sodat ons kan lewe.

    Dankie Jaco ons sal graag jou antw hierop lees en waardeer

    • Jaco de Beer Jaco de Beer

      Hallo Jan. Dankie vir die deel en vraag. Luister gerus na die potgooi wat ek dink jou vraag behoort te beantwoord. http://www.scriptura.co.za/2019/11/luisteraarsvraag-vervang-die-kerk-vir-israel/

      Uit jou swaer se antwoord lei ek af dat hy in dispensasie teologie glo waar daar ‘n onderskeid getref word tussen die kerk en Israel as twee verskillende volke van God wat in verskillende dispensasies bestaan. Die twee groepe stap dan verskillende paaie tot die einde. Dit is nie wat ons in die Bybel sien nie. Die NT self praat van die kerk as die Israel van God (Gal. 6:16; Rom. 11:25-27). Paulus gee ons ook ‘n beeld van die kerk wat gevorm is uit natuurlike olywe (Israel) en wilde olywe (Heidene) wat op die stam Christus ingeënt word as een volk (Rom. 11:17-24). Verder leer die Bybel vir ons dat Jesus alleen die ware Israel is en dat elkeen wat op Hom ingeënt word deel is van die ware Israel (Hos. 11:1; Matt. 2:15). Paulus self se ook dat nie almal onder Israel, Israel is nie maar slegs die wat in Jesus is (Rom. 2:28-29; Rom. 9:6-7). In Efesiërs se Paulus die heidene war vroeër vervreemd was van Israel en die verbonde is nou deel van Israel (Ef. 2:11-13; Ef. 3:16). Selfs in die OT word al voorspel dat die heidene saam met uitverkorenes uit Israel in die nuwe verbond die verbondsvolk van God sal wees (Hos. 2:23; Rom. 9:25-26). Uit die Skrifte en vele ander is dit dus duidelik dat die kerk niks anders is as Israel, die verbondsvolk van God. Daar is ‘n ononderbroke eenheid in die hele Bybel (OT en NT) in God se verbond met Sy volk (Israel, kerk, Ekklesia). Die storielyn van die Bybel gaan oor God en Sy volk onder die heerskappy van Sy Koning (Jesus) in die land wat Hy vir hulle gee om te woon. Ou Testamentiese Israel onder hul koning in die fisiese beloofde land was ‘n voorskouing van die Nuwe Testamentiese Israel onder Koning Jesus op weg na die ewige beloofde land, die nuwe hemel en aarde.

  4. Frans Frans

    Baie dankie vir die gedeelte dit verduidelik vir my baie vrae.

  5. Gerrit Snyman Gerrit Snyman

    Dit is opvallend dat meeste van hierdie “nuwe insigte” uit Amerika/Engeland uitspring ! Ek onthou baie goed hoe op Estcourt in die 1950’s mense in die Boesmansrivier onderdompel was, en toe bekend gestaan het as wederdopers.

  6. Dankie hiervoor Jaco.

    God se genade is groter as wat ons wil besef.

    Ek het ook onlangs indiepte studie oor die verbondsdoop gedoen, my gevolgtrekkings is op hierstaanek.com.

    Dit wat my die diepste geruk het was die besef dat die verbondsbelofte altyd met die verbondsvloek gepaard gaan. Toe God die verbond met Abraham sluit, sny Abraham dierkarkasse op om die verbondsvloek te demonstreer. God en Abraham is veronderstel saam tussen die karkasse deur te loop, maar God gaan alleen. Hy neem die verbondsvloek op homself.

    Die doop is God se soewereine verbondsbelofte aan ons en ons kinders. Die nagmaal is Christus wat God se verbondsvloek wat ons moet tref, op homself neem.

Leave a Reply to Jaco de BeerCancel reply

This site uses Akismet to reduce spam. Learn how your comment data is processed.