Press "Enter" to skip to content

Die onvergeeflike lastering teen die Gees

DIE ONVERGEEFLIKE LASTERING TEEN DIE GEES IN MATTHEUS 12:31,32

 

In Mattheus 12:31,32 vind ons die verwysing na sonde wat nie deur God vergewe word nie: “Daarom sê Ek vir julle: Elke sonde en lastering sal die mense vergewe word, maar die lastering teen die Gees sal die mense nie vergewe word nie. 32En elkeen wat ’n woord spreek teen die Seun van die mens, dit sal hom vergewe word; maar elkeen wat spreek teen die Heilige Gees, dit sal hom nie vergewe word nie, in hierdie eeu nie en ook in die toekomende nie.”

Ek dink ek het die onvergeeflike sonde gepleeg?!

Daar is gelowiges wat soms oortuig is dat hulle hierdie onvergeeflike sonde gepleeg het. Dikwels dink hulle dit omdat hulle dalk nie mooi verstaan presies wat die onvergeeflike sonde is nie. As ‘n mens dit mooi verstaan, besef gelowiges soms dat hulle tog nie sover gegaan het om hierdie sonde te pleeg nie. Hierdie artikel wil ons juis help om te verstaan presies wat die sonde teen die Gees is – lees verder!

Die wedergeborenes van God, het die wonderlike troos, dat die Here nooit sal toelaat dat Sy kinders hierdie onvergeeflike sonde pleeg nie. Ook nie die sonde tot die dood in 1 Johannes 5 nie! Ons vind dit wonderlik-skerp saamgevat in ons belydenis van die Dordtse Leerreëls (5:6):

“God, wat oneindig barmhartig is, neem, weens die onveranderlike besluit van die uitverkiesing, sy Heilige Gees nie heeltemaal van sy eiendom weg nie, self nie in hulle jammerlike sondeval nie. Hy laat hulle ook nie so diep val dat hulle uit die genade van die aanneming en uit die staat van die regverdiging uitval nie. Ook laat Hy nie toe dat hulle die sonde tot die dood of teen die Heilige Gees begaan en, heeltemaal deur Hom verlaat, hulleself in die ewige verderf stort nie.”

[bctt tweet=”Ook laat Hy nie toe dat hulle die sonde tot die dood of teen die Heilige Gees begaan en, heeltemaal deur Hom verlaat, hulleself in die ewige verderf stort nie. DL5:6″ username=”scriptura_tweet”]

Is die sonde tot die dood en die sonde teen die Gees dieselfde?

In hierdie artikel het ons gekyk na die “sonde tot die dood” in 1 Johannes 5:16Ons moet nie die sonde tot die dood in 1 Johannes 5 gelykstel aan die onvergeeflike lastering in Mattheus 12 nie. Ons het duidelik in hierdie twee tekste twee verskillende kontekste. Johannes praat, na my mening, van iets anders as die sonde teen die Heilige Gees in Mattheus 12. Ek trek weereens ‘n tabel wat dit dalk makliker uiteensit:

1 Johannes 5:16 Mattheus 12:31,32
NOMINALE CHRISTENSKAP: Geen spesifieke sonde word genoem nie, maar eerder ‘n leefstyl in die duisternis (‘n leefstyl gekenmerk aan ‘n reeks sondes): lewe in die duisternis, ontkenning van sonde, haat vir die broeders, wetteloosheid ens. LASTERING TEEN DIE HEILIGE GEES: Jesus vermeld en verwys wel na ‘n spesifieke gebeurtenis en woorde – ‘n spesifieke sonde: die insuniasie of bewering, dat Jesus duiwels uitdryf deur die krag van duiwels.
VOLKOME VERGIFNIS: Volkome vergifnis in Christus, wanneer ‘n nominale-Christen, ware Christen word:

“As ons ons sondes bely, Hy is getrou en regverdig om ons die sondes te vergewe en ons van alle ongeregtigheid te reinig.” (1 Joh. 1:9).

VOLKOME VERGIFNIS: “Elke sonde en lastering sal die mense vergewe word”. Selfs sondige woorde “teen die Seun van die mens (Jesus)” (Matt. 12:31a).
UITSONDERING: “maar die lastering teen die Gees sal die mense nie vergewe word nie.” (Matt. 12:31b).

So Jesus sonder baie duidelik die lastering teen die Gees uit, as die onvergeeflike sonde, binne die konteks van Mattheus 12. Wat is hierdie lastering waarna Jesus verwys?

Wat is die onvergeeflike lastering teen die Gees?

In Mattheus 12 bevry Jesus ‘n duiwelbesetene wat blind en stom was. Hy doen dit deur die krag van die Heilige Gees (12:28). Die Fariseërs gaan dan in hulle haat vir Jesus so ver, om te sê dat Jesus die wonder verrig deur die krag van Beëlsebul, owerste van die duiwels (12:24)!

Mattheus 12:24: “Maar toe die Fariseërs dit hoor, sê hulle: Hy dryf die duiwels nie anders uit as deur Beëlsebul, die owerste van die duiwels, nie.”

Geen ander sonde of oortreding word hier genoem nie en daarom kan ons direk aflei dat Jesus verwys na die Fariseërs se woorde, as lastering teen die Gees.

Die lastering teen God se Gees is wanneer iemand kyk na die werk van God, weet dit is die werk van God, maar dit dan toeskryf as ‘n werk van Satan! Dit is lasterlik. Dit is teen die Gees. Dit is onvergeeflik.

Die onvergeeflike lastering teen die Gees is dus dit: Wanneer iemand die wonders van Christus en Sy Gees toeskryf aan Satan.

Iemand wat die Heilige Gees in hulle het (die wedergeborenes) kan egter nooit sover gaan om so iets te doen nie! Die Gees wat in ons bly is nie teen Homself verdeeld nie. Hy skryf nooit, maar nooit, Sy eie werke toe aan die duiwel nie en daarom sal God se kinders dit ook nie doen nie!

[bctt tweet=”Die onvergeeflike lastering teen die Gees is dus dit: Wanneer iemand die wonders van Christus en Sy Gees toeskryf aan Satan.” username=”scriptura_tweet”]

 

8 Comments

  1. Anton Anton

    Jy haal Dordt (DL5:6) aan. Gee jy om om die stelling in Dordt uit die Bybel te bewys.

    • Vanuit die direkte konteks: Matt 12 stel dat God se Koninkryk nie teen Homself verdeeld is nie. Die wedergeborene met die Gees in hom kan dus per implikasie nie teen Homself laster nie.

      Breër Skrif konteks: 1 Joh 3:9 (& Joh 14:4,5). Dordt 5:6 gee die Skrifgetuienis goed en reg deur.

  2. Gert Gert

    Ons lees in die Bybel dat in die eindtyd sal daar valse tekens weens om die mense te mislei (Mark 13:21–23). Is dit ook die sonde teen die Gees om ‘n werk van Satan toe te skryf aan die Gees?

    • Hallo Gert – ek dink nie ek verstaan mooi nie, bedoel jy dalk “is dit ook die sonde tot die dood, om ‘n werk van Satan toe te skryf aan die Gees?”

      • Gert Gert

        Kan ‘n valse teken, bemagtig deur Satan, toe te eien aan die Heilige Gees ook gestempel word as die onvergeeflike sonde. Hoop dit is duideliker.

      • So andersom as in Matt 12: die werk van Satan toeskryf aan die Gees?

        Wel, dit is sekerlik lasterlik en niks minder nie. Ek weet egter nie of dit dieselfde is as die onvergeeflike lastering teen die Gees nie, want iemand kan dit wat jy hier noem, miskien uit onkunde doen…terwyl die lastering teen die Gees ‘n sonde is wat gepleeg word t.s.v. die regte kennis van die Gees. M.aw. Waar iemand weet dit is die werk van die Gees, maar dit tog toeskryf aan Satan.

        Iemand mag dalk ‘n werk van Satan sien as ‘n werk van die Gees (bv. obskure “faith healing” gebeurtenisse?), dalk uit onkunde en nie moedswillig nie. So ‘n persoon moet tot die regte insig kom en bekeer van hierdie Godslastering (hoewel ek versigtig sou wees om te sê dit is noodwendig ook onvergeeflik).

        Groete

Leave a Reply to Die sonde tot die dood | ScripturaCancel reply

This site uses Akismet to reduce spam. Learn how your comment data is processed.