Press "Enter" to skip to content

SCRIPTURA Posts

3Minute1Woord| SKEP

powered by Advanced iFrame free. Get the Pro version on CodeCanyon.

BARA | {afr} skep {eng} create
Soos in: Genesis 1:1 e.v.

Genesis: Grondslag van die Evangelie

powered by Advanced iFrame free. Get the Pro version on CodeCanyon.

Is die vrae rondom die skepping belangrik? Moet ons nie net “fokus op Jesus” nie? Hierdie episode wys hoe dit noodsaaklik is om Genesis as waar te aanvaar. Die hele Evangelie verkrummel, as ons nie Genesis glo nie! Luister hierdie episode van Radio Scriptura vir antwoorde…

Wie regeer oor die aarde: God of Satan?

God is soewerein

Dit beteken alles en almal is altyd onder sy beheer. Daar is geen aspek van die heelal wat nie deur God se almag onderhou word nie. God heers in die hemel, op aarde en selfs in die hel. Die hel is nie Satan s’n en die hemel God s’n nie. So ook met die aarde – dit is Gods se aarde en Hy is in beheer.

“God se duiwel”

Per implikasie, is die Duiwel ook “God se duiwel”. Ek bedoel daarmee dat hy niks kan doen, as God hom nie toelaat nie.

Satan is tot ‘n mate los op die aarde. Hy bedrieg, moor en verwoes. Die media, ontspannings-bedryf en so meer is alles mediums waardeur Satan sy leuens versprei. Hy is los oor die aarde ja, maar steeds binne die perke wat God vir hom gestel het.

Satan is soos ‘n hond aan ‘n ketting

Oral saai hy verwoesting, maar net sover as wat die ketting hom toelaat. So is hy deur God gebind. Kyk gerus na Job 1. As jy fyn lees, sal jy sien dat Satan ‘n opdrag van God kry om Job te teister. Sou Satan by God moes toestemming kry as hy in beheer was? Natuurlik nie.Efesiërs 2 leer wel dat die ongelowiges kinders van Satan is. Hulle is instrumente in sy hand, sodat hy met hulle kan maak wat hy wil (steeds onder God se hand). Die gelowiges is daarteenoor vrygemaak van Satan en het nog God as Vader.

God regeer oor…alles!

So in kort, as ons vashou aan ons belydenis van God se almag & soewereiniteit, dan moet ons ook glo dat Satan nie in beheer is nie, hoewel God hom vir ‘n tyd lank die ruimte gee om verwoesting te saai en inderdaad kragtig te werk deur die “kinders van die duisternis”.

Wie is jy om nie te oordeel nie?

Jy mag nie oordeel nie?

“Wie is jy om te oordeel!? Jy mag nie oordeel nie!”; “hou op oordeel – jy is skeinheilig!”; “jy noem jouself ‘n Christen, maar kyk net hoe oordeel jy!?”

Hierdie is tipies kommentaar wat ‘n mens sal kry op “godsdienstige” artikels of uitsprake. Wanneer iemand byvoorbeeld ‘n uitspraak lewer oor ‘n uitlating van ‘n predikant, of wanneer iemand “godsdienstige” kommentaar in die publiek (soos koerante, sosiale media) lewer.

Is dit geldig om vining iemand se mond te stop met ‘n opmerking dat hy nie mag oordeel nie?

Ek dink nie so nie – nie altyd nie.

Ek verstaan die Skrif so, dat gelowiges by uitstek die roeping en taak het om te oordeel!

1. Woordkeuses – oordeel? beoordeel? onderskei?

Met oordeel, bedoel ek spesifiek om iets te beoordeel in die lig van die Skrif. Dit gaan nie daaroor dat ‘n persoon gevonnis word nie, maar dat sy leer en lewe beoordeel word. Dit gaan in hierdie artikel daaroor dat die gelowige die taak het om oordeelkundig te luister/lees en te reageer.

Soos ek later ook noem, mag Christelike beoordeling nooit die lyn oorkruis om iemand te veroordeel en te verdoem nie. Meer hieroor, later.

2. Die mens se reg en roeping om te oordeel

Die woord in die Ou-Testament wat ons vertaal met “oordeel”, is dikwels die woord “mishpat”.

Mishpat is ‘n heerser se reg om uitspraak te lewer oor ‘n saak. Die heerser het die reg om te oordeel. Mishpat is ‘n reg wat die heerser toekom en wat hy ook moet beoefen.

Wanneer ‘n koning nie oordeel nie, dan sal daar chaos en wetteloosheid in sy koninkryk heers. Dit is vanselfsprekend; daarom is daar ook iets soos ‘n wet in elke koninkryk – iemand wat die wet oortree, staan onder die oordeel van die heerser. Mense moet tot verantwoording geroep word.

In die lig van hierdie mishpat as die reg en roeping van elke heerser, verstaan ek dat elke gelowige ook geroep is om te oordeel.

In Genesis 1:28, nadat God die mens geskape het, word die mens aangestel as heerser oor die aarde: “…onderwerp dit en heers daaroor”.

Die mens is aangestel as koning oor die aarde. Hiermee ontvang hy die reg en roeping om te oordeel.

Soos ons weet, het die menslike vermoë om te oordeel egter verwronge geraak na die sondeval (Genesis 3). Dit is hoekom ons vandag verkeerde uitsprake hoor en waarom ongeregtigheid hoogty vier.

Die Blye Boodskap is egter dat die Here ons herstel om te word wat Hy ons wil hê. Hy wil dat geregtigheid geskied. Hy wil dat ons goed en reg heers. Hy wil dat ons regverdig oordeel.

As die volk Israel telkemale afdwaal en ongeregtigheid laat seëvier in die Ou-Testament, dan hoor ons keer op keer hoe die profete roep: “bekeer julle, die dag van die Here is naby!” (Amos, Sefanja ensovoorts).

Die Here oordeel die volk se profete wat nie regverdige uitsprake lewer en beoordeel tussen waarheid en dwaling nie. “Sy profete is ligsinnig, trouelose manne, sy priesters verontreinig wat heilig is, hulle verkrag die wet” (Sefanja 3:5). Ligsinnige profete en priesters wat nie die wet handhaaf nie, is ‘n skande.

Onregverdige uitsprake en ongeregtigheid is misbruik van die mens se Godgegewe taak om te oordeel tussen reg en verkeerd. Ons, as gelowiges het dus steeds na die sondeval die reg en roeping om te oordeel.

Die gelowige is tog in die amp van priester, profeet en koning? As koning moet ons heers en oordeel en ons mag nie ligsinnige profete wees of priesters wat die wet verkrag nie!

Ook gelowiges se reg en roeping om te oordeel is met sonde bevlek, en daarom moet ons vanuit die res van die Skrif hoor wat die doel van ons beoordeling is en hoe ons moet oordeel.

3. Die doel van ‘n gelowige se reg en roeping om te oordeel

Die doel van ‘n gelowige se beoordeling is tweeledig:

  1. om verhoudings te herstel en dan
  2. om tot ‘n besluit te kom waar nodig

‘n Voorbeeld hier is 1 Korinthiërs 14:29: “Laat twee of drie profete spreek en die ander dit beoordeel”. Die beoordeling waarvan die apostel hier praat is om vas te stel of dit woorde van die profeet waar en reg is – dit is onderskeiding tussen waarheid en dwaalleer. Paulus skryf hierdie dinge sodat daar nie ‘n gees van wanorde en dwaalleer binne die gemeente ontstaan nie.

Die gemeente van Christus moet haarself orden en verseker dat die verhouding tussen die gemeente en God steeds gegrond en gevestig bly in die Waarheid van die Woord. Verder moet hulle ook verhoudings binne die gemeente (en besoekers in die gemeente) nie skade ly nie.

En as die woorde van die profete beoordeel word en dit as vals uitgewys word, wat dan? Wel, ter wille van onderlinge verhoudings en die hele gemeente se verbondsverhouding met God, moet daar ‘n definitiewe besluit geneem word om die valse leer en valse profete uit te wys en onder hulle uit te verwyder (1 Korinthiërs 5:13: “Verwyder tog dié slegte mens onder julle uit”).

As ek verstaan dat die versigtige beoordeling van iemand se leer en lewe eers gaan oor die herstel van verhoudings, dan sal ek ook nie onnodige en kleinlike kommentaar kwytraak nie.

As verhoudings vir my belangrik is, sal ek wel uitspraak lewer, maar net sê wat nodig en opbouend is. (Christene is immers ‘n teenkultuur)

4. Hoe ‘n gelowige moet oordeel

Dit is hier waar ons as gelowiges so dikwels mistrap, want ons weet nie hoe om reg uitspraak te lewer of iets wat verkeerd is uit te wys en te oordeel nie.

Ons moet weet wat die Here sê oor die wyse waarop ons oordeel.

Besef en bely: ook ek is voor God ‘n sondaar!

Voor ek iemand se leer of/en lewe beoordeel, moet ek eers verstaan wie ek voor God is. Ek moet besef en bely dat ek net so sondig is soos die ander persoon. Daar moet by my eers baie deeglike selfondersoek en bekering plaasvind, voordat ek enigsins poog om uitspraak te lewer. Romeine 14:10: “Ons sal tog almal voor die regterstoel van God moet verskyn.”

My eie bekering gaan die beoordeling van ‘n ander vooraf

Ons moet verstaan dat ons roeping om te oordeel, ons nie die “moral high ground” gee nie. Dit is waarom Jesus in Lukas 6:41, 42 sê, dat ons eers die balk uit ons eie oog moet haal.

Dit is ‘n baie belangrike beginsel in die wyse en proses van ons beoordeling. Ek kan nie as ‘n Christen iemand anders beoordeel, as ek nie eers baie diep en indringende selfondersoek gedoen het nie!

Wanneer ek ware selfondersoek doen en die Heilige Gees wys vir my ook die “balk in my eie oog”, dan moet ek die Here eers om vergewing smeek en pleit dat Hy my bekeer, sodat ek my kan bekeer.

Hierdie tipe selfondersoek verhoed my om direk “op my perdjie te spring” en iemand ligtelik te oordeel en selfs te veroordeel. Hierdie selfondersoek sal maak dat daar eers tyd verloop waartydens ek my saak voor die Here stel, voordat ek my beoordeling van ‘n ander bekendmaak.

Moenie die vonnis-lyn oorskry nie!

Iets wat ons deeglik moet besef, is dat ons reg en roeping om te oordeel baie duidelike grenslyne bevat. Ja, ons moet oordeel, beoordeel, onderskei en reg laat geskied, maar ons kan nie en mag nooit iemand vonnis nie.

Natuurlik het die regters in die howe en die regering die reg om iemand bv. tot tronkstraf te vonnis ensovoorts, maar geen mens het die mag of reg om iemand te vonnis tot die hel nie.

Ons kan wel uitspraak lewer en opmerk dat iemand baie sekerlik die vrugte dra van ‘n ongelowige, of ‘n valse profeet is, maar ons mag nooit die lyn oorkruis en self daardie persoon veroordeel en verdoem nie. Dit is die magsterrein van God self. God self sal oordeel op die laaste dag.

Christelike beoordeling, onderskeiding en die gevolglike uitsprake, is alles behalwe wraak neem! Dit mag nooit tot op daardie punt vorder nie.

Dit gebeur so dikwels dat ons in ‘n debat betrokke raak (veral op sosiale media!), maar dan verloor ons heeltemaal perspektief en ons lewer net kommentaar om die laaste hou in te kry.

Dit is wraak neem, en dit is nie waartoe ons geroep is nie. Romeine 12:19: “Moenie self wraak neem nie, geliefdes, maar laat dit oor aan die oordeel van God. Daar staan immers geskrywe: “Dit is my reg om te straf; Ék sal vergeld,” sê die Here.”

5. Geestelik volwassenes oordeel gesond

‘n Laaste gedagte in ons gesprek oor die gelowiges se taak om te oordeel, is ons verantwoordelik om geestelik volwasse te word.

Hebreërs 5:14 wys vir ons uit dat goeie onderskeidingsvermoë eie is aan ‘n geestelik-volwasse persoon. Iemand wat geestelik onvolwasse is, sukkel nog met die onderskeid tussen goed en kwaad en oordeel dikwels ook verkeerd.

Geestelike volwassenheid is daarom iets waarna ons moet streef, sodat ons ook gesond sal oordeel. My uitsprake en vermoë om te onderskei tussen reg en verkeerd verklap my geestelike ouderdom.

Om iemand se leer en lewe te beoordeel beteken dus nie dat ek sommer net lukraak iets kwytraak oor sy houding of optrede nie.

Om Christelik te beoordeel, beteken dat ek navors en observeer of die persoon se leer en lewe klop met die Waarheid.

Christelike beoordeling is nie ‘n verskoning om iemand sleg te sê nie. Christelike beoordeling en vermaning gebeur in liefde vir die Waarheid en liefde vir mekaar.

Ons het in hierdie tyd, sou ek sê, meer gelowiges nodig wat beoordeel en onderskei om verhoudings te herstel en dringende besluite te neem, ter wille van die Kerk en samelewing.

Elke gelowige – lidmate, ouderlinge, diakens, predikante ensovoorts het die roeping en verantwoordelikheid om versigtig te onderskei tussen waarheid en dwaling en moet dan ook uitspraak lewer!

Dikwels gebruik gelowiges die verskoning dat hulle nie mag oordeel nie, bloot omdat hulle lui of lafhartig is. Hulle is te lui om te ondersoek en die Skrif na te vors oor iemand se uitsprake. Of, hulle wil net nie die spreekwoordelike appelkar omgooi nie.

Wanneer ek nie streef na geestelike volwassenheid nie en wanneer ek skroom om te onderskei tussen waarheid en dwaling, abdikeer ek my roeping as koning.

6. Saamgevat

  • Elke gelowige moet oordeel. Dit wil sê hulle moet in geestelike volwassheid onderskei tussen waarheid en dwaling.
  • Om iemand se leer en lewe te beoordeel beteken nie ek lewer kommentaar op iets wat my irriteer nie. Dit beteken ek toets en onderskei of dit klop met die Woord – die Waarheid.
  • Gelowiges moet altyd beoordeel, maar nooit veroordeel nie.
  • Ons oordeelsvermoë is egter met sonde bevlek, en daarom moet ons weet:

Wat die doel is om te oordeel:

  1. Om verhoudings te herstel en dan
  2. Om ‘n besluit te neem (waar nodig)

Hoe ons moet oordeel:

  • Besef en bely: ook ek is voor God ‘n sondaar!
  • Eers moet ek myself ondersoek en bekeer, dan kan ek ‘n ander se leer en lewe beoordeel!
  • Ek kan en mag niemand tot die hel vonnis nie!

‘n Gelowige moet heers en ‘n heerser moet oordeel. Geen gelowige mag sy roeping om te oordeel prysgee nie!Wie is jy om nie te oordeel nie?

Wanneer ontvang ek die Heilige Gees?

Die Heilige Gees in Handelinge
Daar is héélwat vrae by baie (alle?) gelowiges oor die Heilige Gees. Een van hierdie vrae is: “wanneer ontvang ek die Heilige Gees?”.

Hierdie vraag ontstaan dikwels na ‘n deurlees of Bybelstudie van die boek Handelinge. Want daar sien ons die volgende:

  • Die Gees word uitgestort na die handoplegging van die apostels (8:17)
  • Die Gees val op almal wat die woord gehoor het (10:44)
  • Die ongedoopte heidene ontvang die Gees (10:45-57)
  • Sommiges was selfs al gelowig en het nog nie die Gees ontvang of selfs van die Gees gehoor nie (19:2)

As ons hierdie gebeure in ag neem, lyk dit asof die werk van die Heilige Gees onvoorspelbaar is.

So hoe nou gemaak? Moet ek dat iemand my die hande oplê voordat ek die Gees kan ontvang? Moet ek my laat doop (herdoop) voor ek die Heilige Gees verkry? Wanneer ontvang ek die Heilige Gees!?

Ons kan nie uit Handelinge ‘n duidelik antwoord op hierdie vraag kry nie. Gelukkig is daar meer boeke in die Bybel as nét Handelinge!

God is die “Eerste Beweger”
Ons kan terugblaai na Esegiël 36. In vers 27 lees jy: “En Ek sal my Gees in jul binneste gee en sal maak dat julle in my insettinge wandel en my verordeninge onderhou en doen.”

Hier sien ons duidelik die Here as die “Eerste Beweger”. Hy gee die “eerste tree”. Hy gee die Gees in my binneste wanneer Hy wil en Hy “maak dat” ek Hom wil gehoorsaam.

As ons heeltemaal oorbeweeg na die Nuwe Testament, kom ons by Romeine 5:5,6. Hier vind ons dieselfde gedagte: Toe ek nog ‘n sondaar was, het Christus vir my gesterwe, en daarom gee Hy my die Gees in my binneste.

So God is die Eerste Beweger. Hy gee die Heilige Gees. Wanneer gee God die Heilige Gees? In kort – wanneer Hy wil.

Die wedergeboorte is iets wat God sonder ons in ons werk. Ek kan op geen manier God die Heilige Gees manupileer nie. Hy werk soos Hy wil.

Voor of na my doop?
Uit die Skrif kan ons dus aflei dat my doop nie noodwendig die tyd is wanneer ek die Gees ontvang nie. Die Heilige Gees kan in iemand werk voor sy doop en ook lank na sy doop. Iemand kan selfs gedoop word en nooit die Gees ontvang nie.

Uit Esegiël, Handelinge, Romeine ensovoorts, word dit myns insiens duidelik, dat die doop nie ‘n voorwaarde is om die Gees te ontvang nie.

Wat is dan wel ‘n voorwaarde om die Gees te ontvang? Hier wys die Skrif vir ons duidelik dat geloof die voorwaarde is om die Gees te ontvang.

Die geloof en die Heilige Gees
Wie nie die Heilige Gees het nie, kan nie glo nie. En wie nie glo nie, het nie die Heilige Gees nie.

Tydens die verskeie kere waar mense die Heilige Gees ontvang het, het hulle een ding in gemeen gehad: hulle het geglo.

Voor, tydens of na geboorte?
Is dit moontlik vir kinders om te glo, as hulle nog nie die “kapasiteit” het om te glo nie? Wel, hier kan ons verwys na Johannes die Doper in Lukas 1:41 en ook na Paulus op pad na Damaskus in Handelinge 22.

Uit dit wat ons kan aflei in die lewe van die Doper, blyk dit asof hy reeds die Heilige Gees ontvang het voor sy geboorte.

Paulus, aan die ander kant weer, was vir alle praktiese doeleindes ‘n “kerkmens” (Skrifgeleerde) en tog het hy die “mense van die Weg” vervolg, voor sy bekering. Hy het eers tot geloof gekom as ‘n volwasse man, toe die Here hom oorrompel het oppad na Damaskus. Eers toe het Hy die Heilige Gees ontvang (anders sou hy nie kon glo nie).

God die Heilige Gees is en bly God en daarom kan iemand alreeds voor, tydens of lank na geboorte eers, die Heilige Gees ontvang.

Wanneer het ék die Heilige Gees ontvang?
Outomaties vra ons nou die vraag: “Wanneer het ek die Heilige Gees ontvang? As ek nie het nie, wanneer sal ek Hom ontvang?”

Die hele wêreld word tot bekering en geloof geroep. Dit gebeur deur die prediking; die verkondiging van die Evangelie (Romeine 10:14).

  • Sommiges hoor hierdie roepstem, maar wil nie daaraan gehoor gee nie.
  • Ander hoor die roepstem, gee daaraan gehoor, maar wil nie geheel en al daardeur vernuwe en verander word nie.
  • Die wat God uitverkies het egter, hoor die roepstem van God en hulle hele wese word daardeur vernuwe en dra die vrug van die Gees (Die gelykenis van die saaier in Mattheus 13:18 e.v.).

Hierdie innerlike verandering en vernuwing is die wedergeboorte wat net deur die Heilige Gees bewerk kan word.

So om die Heilige Gees te ontvang moet die Woord van God gehoor en geglo word. Sonder die Heilige Gees, kan niemand Jesus die Here noem nie (1 Korinthiërs 12:3).

Saamgevat
Wanneer ontvang ek die Heilige Gees?

1. Voor, tydens of nadat ek gedoop is?

Ek ontvang nie noodwendig die Gees voor, tydens of na my doop nie, maar wanneer ek glo in Jesus Christus.

2. Voor, tydens of nadat ek gebore is?

Dit verskil van persoon tot persoon. Sommiges ontvang die Heilige Gees en kom tot geloof op ‘n baie jong ouderdom. Ander ontvang die Heilige Gees en kom tot geloof op hulle oudag.

“Leer ons om te bid”

Ek dink die Here gee ons in hierdie tyd ‘n geleentheid om meer en meer oor die onderwerp van “gebed” te gesels en dit te ondersoek. Veral na aanleiding van al die gesprekke rondom Angus Buchan se gebedsdag (Lees meer hieroor: “My 2 sent oor Angus Buchan se 1 miljoen“).

Ons hoor gereeld hoe ons nie mag bid nie. Ons hoor watter tipe gebedsgeleenthede verkeerd en verwronge is, weens hierdie en daardie redes.

Daar is baie idees en baie verskille oor gebed:

  • hoe om te bid,
  • wat om te bid,
  • wanneer om te bid,
  • hoeveel moet of mag saambid ensovoorts.

Meeste mense kan aan redes dink hoekom iets van of in gebed nie reg is nie. Maar om heeltyd te sê wat verkeerd is, bring ons nog nêrens nie. Ek dink dit is ‘n baie slinkse strategie van Satan. Hy bevorder “net twisvrae…meer as stigting van God wat in die geloof is” (1 Tim. 1:4).

So, alhoewel dit uiters belangrik is dat ons die verkeerde moet uitwys en die gelowiges moet waarsku teen dwaalleer, is dit ewe-belangrik dat ons nie ongebalanseerde gesprekke voer nie.

Gesprekke waar ons bv. net fokus op die verkeerde maniere van bid. Dit is goed om te weet wat die verkeerde maniere is, maar dink en praat ook oor die regte maniere van bid.

Wat moet ons wél doen? Hoe moet ons wél bid?

En dit is graag wat ek hier wil doen. Ek wil ‘n paar gedagtes en riglyne noem oor die inhoud en vorm van ons gebede.

Hierdie artikel sê beslis nie alles wat gesê moet word nie, maar dit is ‘n poging om ons gesprekke rondom gebed en gebedsdae te ballanseer.

1. Gebed is onnatuurlik

Ek dink die rede waarom ons so sukkel met verskeie vrae rondom gebed, is omdat dit so uiters onnatuurlik vir die mens is. Dit is iets wat ons moet aanleer. Die dissipels vra tog vir Jesus: “Here, leer ons bid” (Luk. 11:1).

Ons moet leer om te bid. En, ons moet by Jesus leer om te bid.

Is gebed dan nie iets wat net natuurlik uit jou hart moet vloei nie?

Nee, want dan sou dit mos nie nodig wees vir Jesus om vir ons gebed te leer nie?

2. Leer wat gebed nie is nie

Jeremia 17:9 sê: “die hart is bedriegliker as enigiets anders, hy is ongeneeslik”.

‘n “Hartsgesprek” is nodig en het sy plek tydens ons gebed, maar eers nadat die Here my hart met Sy Gees versadig het.

Om net te sê en te bid wat natuurlik uit my hart vloei, is lewensgevaarlik. Dan verwar ons ons eie menslike wense, hoop en klagtes met gebed.

Om net te sê wat in jou hart is, is nog nie gebed nie. Gebed is ‘n gesprek met God, of my hart vol of leeg is. Geen mens kan dit op sy eie verrig nie. Hiervoor het ons Jesus Christus nodig, wat my in staat stel om te bid deur Sy Gees!

Gebed is nie nét die bekendmaak van alles in my hart nie.

3. Leer wat gebed wel is

‘n Kind leer praat, want haar pa praat met haar. Later praat sy ván haar pa en mét haar pa.

Net so leer ons om te praat, omdat God met ons gepraat het en steeds praat. Hy leer ons hoe om met Hom te praat en wat ons van Hom moet sê.

Soos ‘n kind stadig die woorde agter sy pa aansê; die uitspraak leer, die spelling oefen, net so praat ons agter ons hemelse Vader aan. Ons herhaal God se woorde. Ons leer die uitspraak van hemelse gebed.

Die Heilige Gees oefen ons harte in die skoon en suiwer taal van God self.

Die woorde van hierdie skoon en suiwer taal, wat ons so agter God aansê, vind ons in die Skrif. Die woorde wat van God af kom, word die woorde wat ons tot God bid.

Net deur die woorde van die Woord, is ons woorde waarlik gebed. So bid ons nie alleen nie, maar inderdaad saam met Jesus. Hy leer my bid. Ek praat agter Hom aan.

Deur die kragtige werk van die Gees, kan ek as kind van God, agter God self aanpraat. Die rykdom van God se Woord bepaal die woorde van my gebed, nie die armoede van my hart nie.

Die Onse Vader-gebed wat ons in Mattheus 6 vind, is vir ons die “model-gebed”. Met hierdie gebed leer Jesus ons om te bid. (Die Onse Vader is nie al wat ons mag bid nie, maar dit leer ons hoe die inhoud van ons gebede moet lyk).

Deur die kragtige werk van die Gees, kan ek as kind van God, agter God self aanpraat. Die rykdom van God se Woord bepaal die woorde van my gebed, nie die armoede van my hart nie. Click To Tweet

Christus leer vir ons ‘n patroon, wat ons in gedagte moet hou wanneer ons bid. Ek noem dit sommer die VVDV-patroon:

  • Verheerliking
  • Vergifnis
  • Dank
  • Vra

Hierdie verskillende fases van die gebed, vul ons in met die woorde wat ons in die Skrif vind.

Dit kan daarom baie sinvol en verrykend wees om te bid nadat jy ‘n gedeelte uit die Bybel gelees en bestudeer het. As ‘n voorbeeld gebruik ek graag 1 Korinthiërs 6.

Skryf vir jouself neer:

  • Wat leer ek in (bv.) 1 Kor. 6 oor God? Wie is Hy? Wat doen Hy?
  • Watter gebreke in my lewe wys hierdie Skrifgedeelte uit? Wat moet in my lewe verander?
  • Is daar iets in die Skrifgedeelte waarvoor ek God kan en wil dank?
  • Wat wil die Here hê moet ek van Hom vra, in hierdie teksgedeelte?

So lei die Skrif ons in ons gebede in en so lê die Heilige Gees Sy woorde in ons hart en mond.

Kom ons kyk na ‘n voorbeeld-gebed, nadat jy argumentsonthalwe 1 Korinthiërs 6 bestudeer het:

3.1. Verheerliking

Ons begin ons gebede deur Hom te verheerlik. Wat is daar wat Hy in Sy Woord vir jou uitgewys het, waarvoor jy Hom wil loof en prys?

As ek klaar 1 Korinthiërs 6 gelees het, kan ek in my gebed, die Here loof en prys en Hom verheerlik, omdat Hy Regter is oor alles en almal – Hy sal oordeel (6:1-3).

3.2. Vergifnis

1 Korinthiërs 6 lei my om te sien dat ek as gelowige eerder die onreg teenoor my moet verdra. Mede-gelowiges sleep mekaar nie voor die hof nie.

Die strydlustige gedagtes wat ek teenoor sekere mense en mede-gelowiges het, is verkeerd. God sal hulle oordeel volgens Sy goeie wil en wete (6:9).

In my gebed kan ek die Here vra om my te vergewe hiervoor.

3.3. Dank

1 Korinthiërs 6 is propvol beloftes en trooswoorde waarvoor ek die Here wil dank! In my gebed kan ek Hom dank vir:

  • die heerlike toekoms wat vir my as gelowige wag – ek sal saam met Christus regeer (6:2,3)!
  • dat Hy my opgewek het in ‘n nuwe lewe en dat my siel en liggaam aan Hom behoort (6:14).

Verder kan jy in jou gebed die Here ook dank vir Sy verhoring van vorige gebede, of Sy werking in jou lewe van elke dag.

3.4. Vra

As ek deur 1 Korinthiërs 6 lees en my gedagtes neerskryf, wil ek die Here vra vir:

  • geduld, sodat ek nie te gou oordeel en so in Sy gesagsveld probeer indring nie (6:1-3).
  • om my vergewingsgesind te maak (6:1-11).
  • hulp, bystand en bewaring van seksuele onreinheid (6:12-20), ensovoorts.

Hier kan jy ook in jou gebede jou eie persoonlike vrae, begeertes, nood en vreugdes aan die Here opdra. Hy luister!

Onthou Filippense 4:6: “Wees oor niks besorg nie, maar laat julle begeertes in alles deur gebed en smeking met danksegging bekend word by God.”

4. Die Heilige Gees, die Bybel en gebed

Wat vir ons duidelik moet word, is die feit dat gebed nie die natuurlike gedagtes van ons hart mag wees nie.

Gebed is iets wat die Heilige Gees ons aanleer.  Op die manier word ons ook verseker dat God luister en dat Jesus Christus vir ons intree.

Ons moet ons harte versadig met Sy Woord, sodat ons gebede ook versadig is met Sy Woord. Onthou, Hy oefen ons in die hemelse taal – jy kan dit nie vanself praat nie.

Ons is geneig om in ons gebede vas te steek by vrae en versoeke – ‘n lys van al ons begeertes. Daar is definitief ‘n plek daarvoor tydens gebed, maar Jesus leer ons dat selfs ons vrae versadig moet wees met dit wat Hy wil hê ons moet vra.

Gebed is ‘n gesprek tussen my en my hemelse Vader. In hierdie gesprek praat ek agter Jesus aan, met die woorde van Sy Woord. Deur Sy Heilige Gees leer Hy my om te bid met elke gebed.

In die lig van alles hierbo, kan ons nou ook ons gesprekke oor gebed voort sit en vra: wat is die inhoud van gebede op publieke massa-gebedsdae? Is dit ‘n “agter-God-aanpraat” geleentheid?

Gebed is ‘n gesprek tussen my en my hemelse Vader. In hierdie gesprek praat ek agter Jesus aan, met die woorde van Sy Woord. Deur Sy Heilige Gees leer Hy my om te bid met elke gebed. Click To Tweet

Werk: straf of seën?

Hierdie tyd van die jaar is meeste mense moeg. Baie van ons sien uit na die vakansie. Ons is moeg gewerk en voel nie altyd asof dit wat ons doen waardeer word nie. Waarom is werk so moeilik? Word ons dalk met werk gestraf? Hoe behoort ons as Christene werk te sien? Is al verantwoordelikheid wat ons by die werk het om so nou en dan iemand te vertel Wie Jesus is?

Werk voor die sondeval

In die begin was daar werk. Ons lees van die eerste vers van die Bybel af oor werk. God werk. Hy skep. Hy het die hemel en aarde geskep. Hy het alles goed geskep. Hy berei die skepping voor. Hy voorsien in oorvloed. Dan skep Hy die mens na sy Beeld. Omdat die mens na God se Beeld geskep is, wys die mens iets van God. Omdat God werk, werk die mens ook. Die mens is geskep om te werk.

Die Here plaas Adam in die tuin van Eden. Daar gee Hy vir die mens alles wat hy nodig het. Hy plaas nie die mens in die tuin om agteroor te sit nie. Hy plaas hom daar om te werk. Hy gee vir die mens werk. Die mens moet bewerk en bewaak. Hy moet in die skepping werk. Hy moet dit wat God geskep het bewerk en verder ontwikkel. Dit is waarvoor die mens geroep word: Om dit wat God in die skepping ingeskape het te ontgin en te ontwikkel.

Wanneer mens werk, is dit diens aan God. Wanneer jy jou werk tot God se eer doen, is jy besig om Hom te verheerlik. Reeds van die begin af was dit God se bedoeling dat mens nie net moet werk nie. Rus is ook nodig. Wanneer ons net aanhou werk, sonder om te rus, dan is ons besig om ’n afgod van werk te maak. Maar rus sonder werk is leeg.

Die mens is gemaak om te werk. Ons het geestelik nodig om te werk. Daarom is dit so moeilik wanneer jy jou werk verloor. Nie net het jy die bekommernis oor hoe jy gaan vir jouself en jou gesin gaan sorg nie, maar jy begin in jou eie waarde twyfel. Jy begin wonder of jy goed genoeg is.

Ons is gemaak om te werk – daarom is elke werk ’n roeping. Mens sê maklik dat om ’n predikant of ’n onderwyser te wees ’n roeping is. Dit is reg. Maar elke werk is ’n roeping. Of jy nou ’n ingenieur, argitek, rekenmeester, petroljoggie, professor, huisvrou, kunstenaar, of wat ook al is – dit is ’n roeping. Ons noem dit nie verniet jou beROEP nie.

Die invloed van die sondeval op werk

God het werk as ‘n seën gemaak, waarom voel dit dan soms soos ‘n straf? As gevolg van die sondeval. Die sondeval het die mens in sy hele wese geraak.  Met die sondeval spat die mens se beeldskap aan skerwe. Daar kom afstand tussen die mens en God. Die mens het die dood gebring. Fisies en geestelik. ’n Lewe weg van God. Die sondeval raak nie net die mens nie, maar sy werk en die skepping ook.

Weens die sondeval verander werk. Werk word moeilik. Werk is pynvol. Dit put mens fisies en emosioneel uit. Mens moet hard werk. Met groot inspanning werk. Verder is daar dorings en dissels – moeilike, ongewenste dinge wat mens se werk moeilik maak.

Ons sien hierdie dinge in ons werke. Weens die sondeval is ons werk dikwels sonder vrug. Ons het hierdie wonderlik visie van wat ons wil bereik – maar ons kom nie altyd daarby uit nie. Ons kan iets hoe goed doen en beplan, maar soms val dinge net inmekaar a.g.v. ’n klomp redes. Ons gee ons alles vir iets – om net te sien hoe dit inmekaar stort.

Weens die sonde lyk dit asof werk soms nutteloos is. Ons moet dieselfde dinge oor en oor en oor en oor doen – net om dit die volgende dag weer te doen.

Weens die sonde is werk selfsugtig. Werk gaan nou vir mense daaroor om hulself te bevorder, om self meer te kry, om hul eie behoeftes te bevredig. Al doen jy iemand in. Al trap jy op iemand. Al maak jy ander seer. Solank jy jou eie koninkrykie kan bou.

Werk gaan nie meer oor die verheerliking van God nie, maar oor aanbidding van jouself. Verder openbaar werk na die sondeval ons afgode. Mense werk nie meer vir God se eer nie, maar hul eie voordeel. Om hul afgode te aanbid. Of dit nou geld, besittings, werk self, of trots is.

Werk kry betekenis in Christus

Jesus Christus het gelowiges losgekoop van die sonde en dood. Hy het ons vrygemaak. Hy verander ons deur sy Gees. Hy herstel die mens se beeldskap. Hy maak dat die mens weer tot God se eer kan lewe. Hy maak dat ons werk nie nutteloos is nie, maar groot waarde het. Hy maak dat ons werk ewigheidswaarde het.

Hoe doen Hy dit? Wanneer Hy deur sy Gees in jou werk, verander Hy die doel en fokus waarmee jy werk. Wanneer die Heilige Gees in jou werk maak Hy dit vir jou moontlik om te besef dat jou werk nie oor jouself gaan nie – maar oor diens aan God. Hy dit vir jou moontlik om te besef dat jou werk nie oor jouself gaan nie, maar oor diens aan ander. Dat jou werk nie oor jou koninkrykie gaan nie, maar oor God se Koninkryk.

Jesus Christus gee aan werk ware betekenis. Hy maak dat ons werk diens aan God is en dat ons in ons werk en besig wees iets van God se skoonheid en orde wys. Dat ons in ons werk wys waarheen God met die wêreld op pad is.

Ja, ons werk is steeds moeilik. Dit vra steeds groot inspanning. Ons misluk dikwels in dit wat ons wil bereik. Maar in Christus het ons werk betekenis. In Hom is ons werk waardevol. Omdat ons deur ons werk getrou en tot die beste van ons vermoëns te doen, God so aanbid. Ons werkplek is nie net die plek waar ons geld maak om te lewe nie. Ons roeping by die werkplek stop nie daarby om ander van Jesus Christus te vertel nie. Dit is ook belangrik. Ons werkplek is in Christus ’n plek van aanbidding. ’n Plek waar ons sy Koningskap en liefde en orde wys deur die manier hoe ons ons werk getrou en met groot ywer doen.

Wanneer ons ons werk vir Hom doen, wanneer Hy ons daarin deur sy Gees lei, gaan ons nog moeg word, gaan ons nog onsself inspan, gaan ons nog teleurgesteld word, maar ons weet die ewige rus wag op ons. Ons weet daar kom ’n tyd wanneer ons werk nie meer pyn en inspanning gaan wees nie.

In Christus het ons werk betekenis en ons het ware rus in Hom. Hy lei ons deur sy Gees. Hy maak dat werk vir ons ’n seën is. Omdat ons daardeur God aanbid en sy Naam grootmaak. Omdat ons kan werk en weet die Here voorsien. Omdat ons daardeur iets van God se grootheid en orde kan wys.

Omdat jou werk in Christus ware betekenis het, omdat jou werk aanbidding van God is, moet jy dit tot die beste van jou vermoë doen. As erediens aan God. As diens aan ander. Daarom wys jou iets van God se liefde in die manier hoe jy werk en ander benader. Daarom gaan werk nie net vir jou oor die wins nie – maar ook oor mense. Daarom gee jy ook jouself vir God by die werk – daarom soek jy ook in jou werk jou lewe buite jouself in Christus.

Wanneer jy weer oorwerk en onderwaardeer voel, onthou: In Jesus Christus het jou werk betekenis. Jy is waardevol vir Hom. Hy gee jou die voorreg om God te verheerlik met jou werk. Hy gee jou die geleentheid om ander te dien met jou werk. Is werk ‘n straf of ‘n seën? Dit is seën uit die hand van die Here!

WhatsApp WhatsApp