Press "Enter" to skip to content

Kategorie: Weerlegging

(Grieks: elegmon). Hier vind jy apologetiese stof. Dit beteken, enigiets wat dwaalleer, valse profete, valse leringe ens. aanraak, sal onder hierdie kategorie gelys word. Weerlegging verwys na die daadwerklike uitwys en regwys van verkeerde leerstellings en/of sondige leefstyle.

Geestelike Oorlogvoering

powered by Advanced iFrame free. Get the Pro version on CodeCanyon.

Marnix Boersema, Jan-Louis Lee en Jaco de Beer gesels saam oor geestelike oorlogvoering. Daar is gewoonlik twee oordrewe begrippe van hierdie tipe oorlogvoering. Mense maak of te min daarvan, of te veel. Die Bybel praat wel van iets soos geestelike oorlogvoering, maar deesdae hoor mens soms dat jy bv. ‘n “generasie vloek” moet verbreek. Of, ‘n mens dra vloeke en seën deur middel van voorwerpe oor. Luister hoe ons oor hierdie tipe aspek van die geestesoorlog en meer gesels.

Hierdie potgooi / artikel is deur verskeie lede van die Scriptura-span saamgestel en geskep.

Demonologie (met prof. Flip Buys)

In hierdie episode gesels ek met prof. Flip Buys oor Gereformeerde Demonologie. Vrae wat beantwoord word is onder andere:

Is dit enigsins nodig om iets oor Satan te wil leer?
Kan ‘n gelowige deur ‘n demoon “in besit geneem word”?
Hoe hanteer ‘n mens gelowig-Bybels ‘n manifestasie?
Moet ons demone bind en uitdryf?
Kan die duiwel ons gedagtes lees?

Marnix is tans predikant in die Gereformeerde Kerk Graaff-Reinet.

In die slingervel van verwronge teologie: gedagtes oor ‘n boodskap van Jo Black

powered by Advanced iFrame free. Get the Pro version on CodeCanyon.

Jo het ‘n oulike en humoristiese manier om sy verhaal te vertel. Hy vertel van sy moeilike ervaring, veral voor hy meer blootstelling in die musiekbedryf beleef het. Hy het onder andere gebuk gegaan onder “finansiële stres”, minderwaardigheid en depressie. Hierdie probleme, sê Black, het voor hom gestaan soos die reus Goliat en sy vier broers. Hy kom tot die gevolgtrekking dat hy soos Dawid ‘n klip in geloof moes gooi om elkeen van die reuse te verslaan. Ander mense het ook namens hom ‘n klip gegooi, vertel hy.

Hy sluit sy video af met die inspirerende boodskap, dat elkeen van ons dalk ‘n Goliat het wat voor ons staan. Een of ander moeilike situasie of omstandighede, soos bv. kanker, depressie, armoede ensovoorts. Hierdie Goliat, sê Black, kom staan dalk voor ons “dat daar ‘n Dawid in jou kan wakker word”.

Ek geniet Jo se musiek. Ek geniet die manier waarop hy die storie vertel, maar ek geniet nie die teologie agter sy boodskap nie. Die boodskap van Black se video is vir my kommerwekkend, want dit wat ‘n mens daar hoor, hoor ‘n mens al hoe meer onder Christene in Suid-Afrika.

Kom ek probeer verduidelik, deur te wys wat die vyf klippies in die slingervel van swak teologie kan wees.

(Let wel: ek sê nie alles wat ek hier noem is Jo Black se standpunt nie. Ek is nie besig om hom te beskuldig of te veroordeel nie. Ek wil nie ontken dat hy ‘n Christen is nie. Ek lig bloot uit dat sy boodskap baie algemene elemente van ‘n verwronge, maar gewilde teologie in Suid-Afrika verklap.)

1. Ervaring

Die eerste klip in die slingervel van swak teologie, is ervaring bo “feite”. Dit is emosies bo eksegese. Belewenis bo die Bybel.

Black sê aan die begin van sy video, dat hy ‘n mens nie wil verveel met die feite nie, maar eerder sy persoonlike ervaring(s) met ons deel. Dit maak sy video miskien ‘n bietjie meer “verteerbaar”, veral op sosiale media, want ons wil nie verveel word nie. Feite in vandag se tyd van onmiddelike vermaak is dodelik. Ons wil meer voel as wat ons dink!

Al hoe meer in Suid-Afrika, hoor ‘n mens meer eksegese van mense se ervarings, as eksegese van die Skrif. Eksegese beteken ‘n mens haal uit die Skrif wat die Outeur daarmee bedoel binne die konteks van die Skrif. Deesdae ontleed al hoe meer mense eerder hulle ervarings en soek ‘n Christenstorie waarby dit pas.

Die eerste klip in die slingervel van swak teologie is die verhewenheid van ervaring bo eksegese.

Al hoe meer in Suid-Afrika, hoor 'n mens meer eksegese van mense se ervarings, as eksegese van die Skrif. Click To Tweet

2. Stories

Die tweede klip in die slingervel van swak teologie, is baiekeer die klip teen die gesag van die Evangelie. Dit is ‘n onderbeklemtoning van die historiese feite in die Skrif. Dit maak van die Evangelie-verhale, bloot ‘n versameling inspirerende stories.

‘n Christendom wat die heilige ontsag van God en Sy Woord vergeet, is al hoe meer sigbaar in ons samelewing. Wanneer ons die Bybel nie meer in Sy geheel lees en uitlê nie, kan ons maklik vergeet dat dit Godsopenbaring is van Genesis tot Openbaring. Dit is nie ‘n storieboek nie.

“Die hele Skrif is deur God ingegee en is nuttig tot lering, tot weerlegging, tot teregwysing, tot onderwysing in die geregtigheid,” (2 Tim. 3:16)

Afbreek aan die gesag van die Skrif is ‘n dodelike klip tussen die oë van gelowiges.

Wanneer ons die Bybel nie meer in Sy geheel lees en uitlê nie, kan ons maklik vergeet dat dit Godsopenbaring is van Genesis tot Openbaring. Dit is nie 'n storieboek nie. Click To Tweet

3. Kerk

‘n Derde klip, wat al hoe meer geslinger word met die slingervel van swak teologie, is die klip teen die Kerk.

Black lig dit humoristies uit, wanneer hy sê dat hy nie kan kwaad word vir die ou tannie in die kerk nie, want “hy het nog sy kerk-gesig op”. Wat is ‘n kerkgesig? Wat beteken dit? Ek weet nie presies nie.

Al hoe meer mense wat aanvoer dat hulle Christene is hou nie noodwendig die Kerk as Bruid van Christus in hoë aansien nie. ‘ Mens moet versigtig wees oor hoe ‘n mens praat van die Kerk. Ek is dankbaar dat Black ‘n rol speel in sy gemeente (hy sê dat hy “aanbidding lei”) en dat hy heelwaarskynlik ‘n hoë aansien van die kerk huldig.

Tog is dit nie die geval met baie ander “Christene” in ons land nie. Die Kerk is nie ‘n instansie waarby die gelowige opsionele lidmaatskap het nie. Die Kerk is inderdaad heilig. As die Nuwe-Testament sê die Kerk is heilig, dan beteken dit, dit is wat Sy sal wees. God heilig haar deur Sy Gees. Dit beteken nie die kerkmense is sonder sonde, beter as ander mense of hoogheilig nie. Dit beteken die Kerk is mense wat deur God afgesonder is, sodat Hy hulle kan gebruik.

Kerk-wees is ons identiteit in Christus. Deel van hierdie identiteit is gereëlde aanbidding saam met ander gelowiges (in die erediens, onder die Woord). Baie voer deesdae aan “ek is kerk” en “hoef nie kerk toe te gaan nie”. Vir meer hieroor, luister gerus na hierdie episode van Radio Scriptura: http://www.scriptura.co.za/2018/05/deel-van-die-plaaslike-kerk/ 

Suid-Afrikaanse Christendom slinger al hoe meer en al hoe groter klippe teen die Bruid van Christus – Sy Kerk.

Kerk-wees is ons identiteit in Christus. Deel van hierdie identiteit is gereëlde aanbidding saam met ander gelowiges (in die erediens, onder die Woord). Click To Tweet

4. Allegorie

Hierdie klippie lyk baie soos die eerste een wat ek genoem het. Allegorie en allegoriese prediking lees geestelike betekenis in ‘n teks in, wat nie deur die Outeur bedoel is nie. (Ek troos my daaraan dat nie net baie gelowiges van vandag nie, maar selfs die ou Joodse Rabbi’s baie skuldig was aan allegoriese Skrifuitleg. Hulle het baie kragtige boodskappe en lewenslesse oorgedra vanuit teksgedeeltes, maar die les, was nie noodwendig wat die Skrifgedeelte daarmee bedoel het nie).

Black “verklaar” die Evangelie-verhaal van Dawid en Goliat allegories, deur Goliat en sy broers gelyk te stel met ons probleme. Die dood van Goliat is die einde van die probleem. Ek is Dawid. In geloof oorwin ek die probleem. Kragtige les. Inspirerende storie, maar dit is allegorie.

Ons sien allegoriese verklarings ook in baie Bybelstudiegroepe: “wat beteken hierdie vers vir jou? Vir my beteken dit so en so…” Dit verhef subjektiewe interpretasie bo die ware, objektiewe betekenis van die oorspronklike Outeur. Daar is net een betekenis van ‘n teks en ons moet stoei en soek saam met die gelowiges van alle eeue om dit te vind.

Ons sien allegoriese verklarings ook in baie Bybelstudiegroepe: 'wat beteken hierdie vers vir jou?' Click To Tweet

So, nie net is swak eksegese ‘n probleem (eerste klippie) nie, maar net so skadelik is horribale hermeneutiek. Hermeneutiek is die wetenskap van Skrifuitleg. Dit is ‘n wetenskap, wat beteken dit funksioneer ooreenkomstig vasgestelde reëls. Een van die reëls van (Gereformeerde) hermeneutiek sê, dat die leser moet soek na die bedoeling van die Outeur!

Die vierde klip in die slingervel van swak teologie, is allegoriese Skrifverklarings, wat spreek van slegte en onbybelse hermeneutiek.

5. Christus

Hierdie is die rede wat my uiteindelik oortuig het om hierdie artikel skryf. Dit gaan vir my daaroor, dat die teologie in baie Christenkringe al hoe meer wegdryf van Christus self. Hoe so? Wel, as die gesag van die Skrif in twyfel getrek word, ‘n lae beskouing van die Kerk gehandhaaf word en die bedoeling van God se openbaring gemis word, sal ‘n mens al hoe meer preek oor die mens vir die mens. Christus as die Evangelie word verdryf.

Ek wíl jou verveel met die feite, want die feite is Godsopenbaring. Dit tel meer as my ervaring. Die uitleg van 1 Samuel 17 spreek van die verlossing in Christus:

Dawid is ‘n skaduwee van die Seun uit Sy nageslag, Jesus Christus. Die profete voor Dawid het reeds van Hom geprofeteer. Goliat is die ou vyand van Israel en van jou en my: die sonde en die dood.

Wie is jy en ek in hierdie verhaal? Ons is ongelukkig die Israeliete wat te bang was en inderdaad nie in staat was, om Goliat aan te vat nie.

So, Jo Black se boodskap is…oulik, semi-inspirerend en vermaaklik, maar dit is dodelik. Hoekom? Want, wat as ek en almal anders vir Jo ‘n klippie geslinger het, maar hy het nooit ‘n gewilde sanger geword nie? Wat as die Goliat van jou kanker die oorhand kry? Wat as al jou antidepressante nie genoeg is om die reus van depressie te verslaan nie? Sê nou maar daar is niemand anders wat vir jou ‘n klippie kan slinger nie? Wat dan?

Ons het ‘n groter verlossing nodig, as die verlossing van “finansiële stres” en minderwaardigheid. Ons het verlossing nodig van die reus van die dood. Die Doodsreus staan lewensgroot voor ons en ons kan hom nie oorwin nie. Ons sidder vir hom.

Totdat ons Christus, die seun van Dawid op die slagveld sien stap. Sonder wapenrusting. Hy kom staan aan die voorste linies om die kop van die Reuse Slang te vermorsel.

Kom wat wil – alle probleme en moeites! Christus het die klip gegooi en oorwin. Ek dank die Here, dat ek nie Dawid in die verhaal is nie, want nie net sou ek mis gegooi het nie, ek sou nooit vir die geveg opgedaag het nie. As ek myself enigsins êrens in daardie oorlog moet inlees, is ek meer waarskynlik ‘n Fillistyn as enigiets anders.

Ek sê nie Jo Black is nie ‘n Christen nie, of dat hy nie aan die kerk behoort nie. Inteendeel. Ek sê net: oppas vir die klippe uit die slingervel van swak teologie.

Ek dank die Here, dat ek nie Dawid in die verhaal is nie, want nie net sou ek mis gegooi het nie, ek sou nooit vir die geveg opgedaag het nie. Click To Tweet

Marnix is tans predikant in die Gereformeerde Kerk Graaff-Reinet.

Wat is die geestesrealm en kan ons iets in die geestesrealm “aanvoel” soos sommiges beweer?

 

Uitreksel van die vraag wat ontvang is:

“…Daar word so baie verwys en gepraat van “ek voel aan in die geestesrealm dat hier groot veranderinge plaas vind in ons land”. Wat is die geestesrealm? Hierdie is werklikwaar iets wat ek as GROOT SONDE sien. Word hier nie met vuur gespeel nie?…” (anoniem)


Die geestesrealm

Dat daar ‘n geesteswêreld, oftewel geestesrealm is, is ongetwyfeld waar. Ons stryd is juis nie teen die tasbare magte nie, maar teen die geeste wat ons nie kan sien nie. “Want ons worstelstryd is nie teen vlees en bloed nie, maar teen die owerhede, teen die magte, teen die wêreldheersers van die duisternis van hierdie eeu, teen die bose geeste in die lug.” (Ef. 6:12).

Die Bybel openbaar aan ons wie in die geesteswêreld is. Onder andere natuurlik God self, maar ook die wesens om Sy troon soos die gerubs (Gen. 3:24), serafs (Jes. 6:2-3; Open. 4:6-11) en engele (Open. 7:1-4, 14:8). Daar is ook die sg. “gevalle engele”, oftewel die demone (o.a. Matt.10:1) wat nie uitverkore is om heilige engele te wees nie (1 Tim. 5:21). Die demone bestaan volgens Open. 12:4 uit ‘n derde van die oorspronklik-geskape engele. Dat demone bestaan, word veral vir ons bevestig in die verhale waar Jesus self die demone uitdryf (o.a. Luk. 7:21).

Die stryd om mag en gesag in die geesteswêreld is reeds gewen aan die kruis op Golgota. Jesus Christus het die oppergesag en outoriteit nie net oor die waarneembare dimensies nie, maar ook oor alle ander dimensies wat bestaan (Matt. 28:18). Alle mag in die hemel en op aarde, behoort aan Christus. Sy gesag strek dus oor die goeie en gevalle engele. Oor Migael die aartsengel, sowel as Satan en alle demone.

Die stryd om mag en gesag in die geesteswêreld is reeds gewen. Click To Tweet

Aanvoeling van aktiwiteite in die geesteswêreld

2 Kon. 6:16 sê dat Elisa die gawe van die Here gehad het om die geestesdimensie waar te neem: “Maar hy antwoord: Vrees nie; die wat by ons is, is meer as die wat by hulle is.”. Die daaropvolgende vers wys dan ook dat hierdie waarnemingsgawe abnormaal-bonatuurlik is en nie aan almal gegee word nie: “En Elísa het gebid en gesê: Here, open tog sy oë, dat hy kan sien. En die Here het die oë van sy dienaar geopen, dat hy kon sien, en meteens was die berg vol perde en waens van vuur rondom Elísa.” (2 Kon. 6:17).

Onderskei die geeste

In die Nuwe-Testament lees ons, sommige gelowiges ontvang wel die Geestesgawe om (tyds)geeste te onderskei (1 Kor. 12:10). 1 Joh. 4:1,2 gee ook aan gelowiges die opdrag om “die geeste op die proef te stel of hulle uit God is…” Hiermee word bedoel dat gelowiges moet toets of iets wat iemand sê van God of Satan kom. Is die persoon ‘n valse profeet of nie? Johannes gee dan ook die toets: “Hieraan ken julle die Gees van God: elke gees wat bely dat Jesus Christus Joh. in die vlees gekom het, is uit God; en elke gees wat nie bely dat Jesus Christus in die vlees gekom het nie, is nie uit God nie; en dit is die gees van die Antichris waarvan julle gehoor het dat hy kom, en hy is nou al in die wêreld.” (1 Joh. 4:2,3).

Dit is ‘n opdrag aan alle gelowiges om te onderskei tussen waarheid en dwaling. Tog gee God ook deur Sy Gees aan sommige gelowiges vandag die gawe om fyn onderskeid te tref tussen die waarheid en die leuen. Hulle ontvang ‘n buitengewoon skerp sin vir dit wat vals is. Die Here gee natuurlik hierdie gawe om Sy Kerk op te bou en te beskerm teen dwaalleer en valse profete.

Kan ons iets in die geestesrealm aanvoel?

Ek dink mense wat sê hulle “neem iets waar in die geestesrealm” gewoonlik nie verwys na hierdie opdrag of gawe van onderskeiding nie. Hulle verwys eerder daarna dat hulle kan voel hoe iets verander of “skuif” in die nie-waarneembare geestesdimensie/s. Hulle bedoel soms dat iets soos bv. ‘n massa-gebedsdag, ‘n “skuif” in die geestesrealm gebring het. Sulke opmerkings is veral prominent in charismatiese kringe. In die lig van o.a. 2 Kon. 6, is dit vir my duidelik dat die gawe van Elisa nie as ‘n reël aan elke gelowige geskenk word nie. Ons vind dit as ‘n uitsondering, binne die Ou-Testament en nie weer in die Nuwe-Testament nie. Verder het Elisa nie die gawe ontvang om die engele of iets in die geesteswêreld te verander nie. Hy het bloot waargeneem wat God reeds bewerk het.

As daar enige veranderinge in die geesteswêreld aangebring word, dan doen Christus dit. Hy regeer immers oor dit alles. Die Here kan, deur Sy genade en barmhartigheid gebede aan Sy kinders gee, sodat Hy deur die verhoring van daardie gebede verandering in die geesteswêreld sal bewerk. Mense wat “vlees en bloed” is, kan nie iets wat gees is voel beweeg nie. Dit is twee (?) verskillende dimensies. Sodra die (tyds)gees op een of ander manier waargeneem word, kan ons onderskei, ja. Andersins kan iets nie in die geesteswêreld “aangevoel” word nie.

Waarneming deur die Woord & Heilige Gees

Die waarneming van die geesteswêreld is vir ons moontlik wanneer ons waarneem wat God in Sy Woord (daaroor) sê. Die Heilige Gees maak dan ook vir ons dit wat in die Woord staan helder en duidelik. Wanneer ons “vol is” van die Woord (Ef. 5:18), word ons gewete sensitief vir die dinge wat van God is en dit wat nie van God is nie. Die Woord en Gees kan nooit vanmekaar geskei word nie. Oor die geesteswêreld kan ons dan ook net sê wat God se Woord daarvan sê. Enigiets meer is teoreties, want ons beweeg en leef in ‘n ander dimensie. Ons moet wegbly van allerlei emosionele en subjektiewe “waarnemings” van die geesteswêreld.

Die Here se openbaring in hierdie laaste dae is nie selektief nie. Dit wil sê, Hy gaan nie vir een persoon iets openbaar, maar dit ‘n geheim hou vir die res van die Kerk nie. Die Here het nie dubbelstandaarde nie. Wie in Christus is, “leer die verborgenheid van God en van die Vader en van Christus [ken]” (Kol. 2:2).

Die Here het nie dubbelstandaarde nie. Click To Tweet

 

Marnix is tans predikant in die Gereformeerde Kerk Graaff-Reinet.

Is dit sonde om saam met mense te bid, wat nie altyd in hulle daaglikse lewe wys dat hulle gelowiges is nie?

Skyngelowiges – mag ek saam met hulle bid?

Ek verstaan die vraag so: dit gaan oor gebed saam met mense wat aanvoer dat hulle Christene is, maar hulle lewens getuig nie daarvan nie. Die vraag gaan oor gebed saam met iemand wat dalk nie ‘n ware gelowige is nie. Iemand wie se daaglikse lewe nie getuig van Christenskap nie, se geloof word onmiddelik deur ander (met goeie rede) bevraagteken. Gelowiges moet “vrugte dra wat by die bekering pas” (Matt. 3:8). Iemand wat sê hy is ‘n deel van God se wingerd, maar jy vind geen vrug aan die lote nie, is moontlik nie werklik deel van die wingerd nie (Joh. 15).

Ons beoordeel, maar God sal finaal oordeel tussen ware gelowige en skyngelowige

Ons kan en moet, as gelowiges die Geestesgawe van onderskeiding toepas en onderskei wie die wolwe is. (Lees meer hier oor ons verantwoordelikheid om te oordeel). Hiermee skryf ons nie aan onsself die reg toe om mense te veroordeel en te verdoem nie. Dit kom God alleen toe. Ons kan nie mense se harte lees nie, net God kan. Hy sal ook oordeel oor die geheime van die hart (Rom. 2:16). Juis omdat ons nie weet wat God in daardie mense se harte bewerk of sal bewerk nie, moet ons aanhou getuig teenoor hulle en hulle ook oproep tot bekering, veral omdat hierdie mense sê dat hulle gelowiges is, al gedra hulle hul nie so nie.

God sal die geheime van die hart oordeel (Rom. 2:16). Click To Tweet

Bid ons tot die God van die Bybel?

Wanneer ons saam met mense bid, is dit egter belangrik om sover moontlik uit te maak of hierdie mense wél die God van die Bybel aanbid en of dit nie ‘n ander god is nie. As hierdie mense aanvoer dat hulle dieselfde, Drie-Enige God aanbid as jy, kan jy steeds saam met hulle bid, al getuig hulle lewens nie van ware bekering nie. Hoe weet ek of hulle die God van die Bybel aanbid? Ek dink drie kernvrae sal alreeds duidelikheid kan bring:

  • bely hulle dat God Drie-Enig is (Vader, Seun en Heilige-Gees) (Matt.3:16,17)?
  • bely hulle dat Jesus Christus ware God en mens is (o.a. 2 Joh.)?
  • bely hulle volkome verlossing nie deur eie werk nie, maar in Christus alleen uit genade deur geloof (o.a. Ef. 2:8)?

Hoe weet ek of hulle die God van die Bybel aanbid? Drie kernvrae... Click To Tweet

Bid nie net saam met skyngelowiges nie, maar ook vir hulle!

As jy vind dat jy wel dieselfde God aanbid, aanbid dan nie net saam met hierdie lou gelowiges nie, maar ook vir hulle! Indien hulle ‘n ander god as die Bybel aanbid, kan ons steeds vir hulle bid, maar nie saam met hulle nie. “Die Here is ver van die goddelose, maar die gebed van die regverdiges hoor Hy.” (Spr. 15:29).

Marnix is tans predikant in die Gereformeerde Kerk Graaff-Reinet.

Hoe moet ek reageer as iemand “lewe” oor my of bv. my familie “spreek”?

Lewesprekers

Iemand sê bv. “in Jesus naam, spreek ek lewe oor jou, sodat jy gou gesond sal word” of “ek spreek lewe uit oor jou huwelik” ensovoorts. Hoe moet ek reageer wanneer iemand dit vir my sê of oor my uitspreek?

Ek wil net eers noem, dat ek dink ‘n mens kry twee tipes “Lewesprekers”: die wat wéét wat hulle bedoel wanneer hulle lewe spreek en die wat nie weet wat hulle bedoel wanneer hulle so praat nie. Dit is maar net my observasie – kom ek verduidelik wat ek bedoel:

Die egte Lewespreker

‘n Mens kry mense wat hart en siel glo in “lewe spreek”. Hulle glo ‘n mens se tong het skeppende krag. Iets wat die mens natuurlik nie het nie. Net God kan skep (Gen. 1). Die hart van “lewe spreek” is toordery, hoogmoed en minagting van God. Toordery, want jy glo jy kan iets te voorskyn bring met jou woorde. Dit is hoogmoed, want jy dink ‘n mens besit die mag wat God het, om iets te skep. Minagting van God, want jy dink jy kan God manipuleer om te doen wat jy uitspreek. Die wat dus bewustelik “lewe” wil “spreek” is op gevaarlike terrein en ek dink nie ‘n mens moet hulle uitsprake ligtelik opneem nie.

Luister gerus die Radio Scriptura episode vir meer hieroor:

powered by Advanced iFrame free. Get the Pro version on CodeCanyon.

Die wat sg. 'lewe spreek' is op gevaarlike terrein... Click To Tweet

Die onkundige Lewespreker

Ek dink egter ‘n mens kry ook mense wat bloot die taalgebruik van die Lewesprekers oorgeneem het, maar bedoel nie noodwendig daarmee wat egte Lewesprekers bedoel nie. Om lewe te spreek het deesdae nogal “godsdienstige mode” geword en ‘n mens kom agter dat dit in baie mense se gedagtes insypel. Soms sal mense sê “jy moet positief dink en praat, dan sal jy ook die positiewe na jou toe aantrek”. Dit is ook maar lewespreek, in ander woorde. Tog is hierdie mense nie bewus van wat hulle sê nie. Hulle bedoel dalk net dat ‘n mens nie moet kla nie, maar mens moet positief en vriendelik wees (wat inderdaad goed en reg is).

Waar sou ‘n mens kon begin, wanneer iemand “lewe spreek” oor my of my familie?

  • bepaal eers of die persoon verstaan wat hy sê. Glo hy sy woorde het skeppende mag, of gebruik hy maar net woorde sonder om te besef wat hy sê?
  • indien hy wel ‘n Lewespreker in murg en been is, moet ‘n mens hom daarop wys dat dit onbybels is. Wees sagmoedig, geduldig en vriendelik, maar getuig daadwerklik met indringende stellings soos “ek dink nie ‘n mens kan werklik lewe spreek nie, net God kan”. Of: “ek glo dat die Here lewe spreek deur Sy Woord en Heilige Gees en nie met mense se woorde nie”.
  • indien hy nie verstaan wat hy sê nie, moet ‘n mens verduidelik dat die manier waarop hy praat, ‘n ander, onbybelse indruk skep as wat hy bedoel.

Marnix is tans predikant in die Gereformeerde Kerk Graaff-Reinet.

Genesis: Grondslag van die Evangelie

powered by Advanced iFrame free. Get the Pro version on CodeCanyon.

Is die vrae rondom die skepping belangrik? Moet ons nie net “fokus op Jesus” nie? Hierdie episode wys hoe dit noodsaaklik is om Genesis as waar te aanvaar. Die hele Evangelie verkrummel, as ons nie Genesis glo nie! Luister hierdie episode van Radio Scriptura vir antwoorde…

Hierdie potgooi / artikel is deur verskeie lede van die Scriptura-span saamgestel en geskep.

WhatsApp WhatsApp