Press "Enter" to skip to content

Kategorie: Teregwysing

(Grieks: epanorthōsin). Sommige woordeboeke verklaar hierdie woord as ‘n tipe restourasie-proses. Dit kan dus verwys na korreksies wat aangebring word in iemand se leer en lewe, maar ook verbetering. Iemand se Christelike lewe word gerestoureer, wanneer hy dit wat nie in lyn is met die Skrif nie, weer in lyn daarmee bring. Onder hierdie kategorie sal jy daarom ook lees- en luisterstof rondom die Gereformeerde etiek vind.

Geestelike Oorlogvoering

powered by Advanced iFrame free. Get the Pro version on CodeCanyon.

Marnix Boersema, Jan-Louis Lee en Jaco de Beer gesels saam oor geestelike oorlogvoering. Daar is gewoonlik twee oordrewe begrippe van hierdie tipe oorlogvoering. Mense maak of te min daarvan, of te veel. Die Bybel praat wel van iets soos geestelike oorlogvoering, maar deesdae hoor mens soms dat jy bv. ‘n “generasie vloek” moet verbreek. Of, ‘n mens dra vloeke en seën deur middel van voorwerpe oor. Luister hoe ons oor hierdie tipe aspek van die geestesoorlog en meer gesels.

Hierdie potgooi / artikel is deur verskeie lede van die Scriptura-span saamgestel en geskep.

Huwelik en gesin: die Satan se stille aanslag op die kerk

Die dieptepunt van die probleem

‘n Mens kan vergewe word as jy sou dink dat hierdie woorde in die laaste maand of wat neergepen is:

“…die mense sal liefhebbers van hulleself wees, geldgieriges, grootpraters, trotsaards, lasteraars, ongehoorsaam aan hulle ouers, ondankbaar, onheilig, sonder natuurlike liefde, onversoenlik, kwaadsprekers, bandeloos, wreed, sonder liefde vir die goeie, verraaiers, roekeloos, verwaand, meer liefhebbers van genot as liefhebbers van God…”  (2 Timoteus 3:2-4).

Die Skrif waarsku ons inderdaad dat dinge swaar sal gaan in die laaste dae.

Veral wat politieke korrektheid betref, voel dit of daar om elke hoek en draai ‘n slaggat is wat vermy moet word.  Jy kan nie eens meer ‘n grap oor jouself maak, sonder dat iemand anders aanstoot neem nie.

En omdat menseregte die mantra van ons tyd geword het, heers die gedagte van die ‘soewereine eie-ek’, wat self sal bepaal wat goed en reg en aanvaarbaar is.

Nie God se wil nie; maar my eie.

Nie God se waarheid nie, maar universele waarheid waar almal mekaar maar moet aanvaar.

Die gedagte van diskriminasie word geherdefinieer: Waar die samelewing ‘n gebruik aanvaar het, ‘n siening koester, ‘n praktyk goedkeur, word dít normatief – en enige beswaar, veral godsdienstig van aard, word met minagting van die hand gewys.

Die vraag is: Hoe gemaak as die Skrifwaarheid wat ons bely, noodwendig met die samelewingsnorm in stryd kom?

Wat doen ek wanneer die belofte van Christus in Matteus 5:11 in my lewe ‘n realiteit raak:

Salig is julle wanneer die mense julle beledig en vervolg en valslik allerhande kwaad teen julle spreek om My ontwil…”?

Dit wil veral voorkom of die gesin wêreldwyd onder skoot kom soos die egskeidingskyfer aan die een kant die hoogte in skiet, en die definisie van wat ‘n huwelik is aan die ander kant in elke land geherinterpreteer word.

Dit behoort ons egter nie onkant te vang nie – dit is nie om dowe neute dat die Satan sy visier op die gesin en die huwelik gestel het nie.

Vernietig jy die huwelik, karring jy aan die huisgesin – dan het jy ‘n binnebaan na die kerk.  Dan kan jy in die gedagtes van mense die dodelike gif wat lewens vernietig toedien, dan kan jy op voetsoolvlak  die kerk vernietig.

William Hendriksen skryf hieroor: “No institution on earth is more sacred than that of the family. None is more basic.  As is the moral an religious atmosphere in the family, so will it be in the church, the nation, and society in general…” (2007:248).

Vernietig jy die huwelik, karring jy aan die huisgesin – dan het jy ‘n binnebaan na die kerk. Click To Tweet

Te sinies?  Kom ons toets dit vir ‘n oomblik.

God gebruik  (onder die baie ander) twee pragtige beelde om die kerk van Christus aan ons te verduidelik in die Skrif.

Die Bruid en die bruidegom en die huisgesin.  Twee beelde wat in ‘n sekere sin aan mekaar verwant is.

Die Bruidegom en die Bruid

In die Bybel ontwikkel die beeld van die Bruid en die Bruidegom regdeur die Ou Testament totdat dit ‘n hoogtepunt bereik in Openbaring met die Bruilofsmaal van die Lam.  In Jesaja 54:5 en 6, 62:5, Jeremia 3:20 en Hosea 2:19 word God voorgestel as die Bruidegom met die volk as die bruid.  Die beeldspraak word in Hooglied by uitstek voortgesit.

2 Korintiërs 11:2 en Efesiërs 5:22-33 teken die kerk in haar verlowingstyd aan die Bruidegom en moet sy haar troudag bereik sonder vlek of rimpeling – die toonbeeld van reinheid.  In Openbaring 19:7 sien ons hoe die bruid haar gereed gemaak het vir die Lam en hoe die Lam haar beklee met ‘rein en blink fyn linne…’

Die beeld word konsekwent gehandhaaf: ‘n Tipiese Joodse verlowing, waar die bruid en bruidegom wettig aan mekaar verbind is, maar waar die huwelikseremonie nog nie voltrek is nie.

In hierdie tydperk word die bruidskat bespreek en ander voorbereidings getref tot op die dag wat die troue dan plaasvind.  Op hierdie dag sou die bruidegom saam met sy vriende die bruid van haar ouerhuis na sy huis bring en ‘n huweliksfees volg.

Toegepas op die kerk en Christus:

In Christus is die bruid van ewigheid af uitgekies.  Deur die hele Ou Testament word die bruilof aangekondig.  Die Seun neem ons menslike vlees aan: dit verteenwoordig die verlowing.  Die bruidskat – of dan, die prys – dit word op Golgota betaal. Na hierdie interval waarin ons nou verkeer- wat maar ‘n kort rukkie in die oë van God is, keer die Bruidegom terug en vind die Bruilof van die Lam plaas.

Hendriksen (2007:514) skryf:  “The Church on earth yearns for this moment, so does the Church in heaven…”

Hoe mooi word hierdie voorbereiding nie vir ons in Openbaring geskets as die Bruidegom sy bruid met mooi, fyn linne beklee nie?  Die bruid wag in opgewonde afwagting vir die koms van die Bruidegom – sy is getrou in haar ywer en liefde en afgesonderdheid vir sy koms.  Dit is nog meer insiggewend as ‘n mens die kontras merk tussen die prostituut wat Openbaring 17 skets, in bont klere getooi wat haar onreinheid simboliseer.  Die prostituut word tot ondergang gebring, maar die Bruid word na Christus gebring om sy vrou te word.

Die huisgesin beeld ons verbintenis aan God en mekaar uit

Die beeld van die huisgesin ontwikkel ook vanuit die Ou Testament waar daar na die “huis van God” verwys word en Israel bedoel word. In Efesiërs 2:19 word die gelowiges die lede van die huisgesin van God genoem; en die intieme, nabye verhouding van die gelowiges onderling sowel as met God word daardeur uitgewys.

Hebreërs 3:6 sê: “Christus daarenteen is as Seun getrou oor die huis van God.  En ons is sy huis as ons maar net met moed en oortuiging bly vashou aan wat ons hoop…

1 Tessalonissense 2 gebruik pragtige gesinsmetafore om God se liefde vir ons te verduidelik.

Omdat die kerk aan Christus behoort en duurgekoop is deur sy bloed, is God ons Vader.  Die beeld van die huisgesin roep dan by elkeen in herinnering die innige verhouding wat daar tussen die lede van die huisgesin bestaan en verkondig aan ons dat net soos ons verhouding en verbintenis in die huis iets is wat ons nie kan kies nie; ons onlosmaaklik deel van God se huisgesin is.

Is dit aktueel?

Dus: die huwelik en die gesin vorm twee kardinale beelde wat die kernwaarheid van God se verlossing van ons en sy Eienaarskap oor ons verkondig:

  • Wie ontrou in sy diens aan die Here is, sal ontrou in sy huwelik wees en andersom.
  • Wie die werking van ‘n gesin minag, sal nie die geborgenheid van die gemeente ervaar nie – en andersom.

As die wêreld dan ‘n nuwe gesin; ‘n nuwe huwelik of ‘n ander norm aan ons verkondig – behoort ons dit sonder twyfel te verwerp en met die Skrif te beveg.

Ja, dit is ‘n opdraende stryd; wat al hoe moeiliker raak in ons tyd.

As die wêreld dan ‘n nuwe gesin; ‘n nuwe huwelik of ‘n ander norm aan ons verkondig – behoort ons dit sonder twyfel te verwerp en met die Skrif te beveg. Click To Tweet

Maar te veel verduur ons die propaganda wat subtiel ons huise insluip wanneer Sitkoms soos “Modern Family” en basies enige van die ander Hollywood-worsmasjien programme homoseksualiteit nie net as aanvaarbaar nie; maar normaal uitbeeld.  “I was born this way”, “Dit gaan nie oor geslag nie, maar liefde” en soortgelyke slagspreuke word in ons kele afgeforseer.  Deesdae het elke program ‘n “token gay guy”.  Daar is selfs sprake daarvan dat die geliefde Disney-koningin “Elsa” van Frozen, in die volgende uitgawe van die fliek homoseksueel gaan wees, en daar was groot gewag gemaak van die ‘gay’ toneel wat sogenaamd in die “Live Action” weergawe van Beauty and The Beast ingesluit is.  7de Laan het groot opspraak verwek in die laaste jaar met die eerste gay soen wat verfilm is op Afrikaanse TV, en die karakters van “Die Boekklub” op Kyknet was dierbare gesinsgenote in Suid-Afrikaners se sitkamers. En die verskriklike is: dit voel nie meer vir ons vreemd of verkeerd nie.

Selfs die ‘evangelis’ Gretha Wiid het alle geloofwaardigheid wat sy enigsens sou gehad het, verloor deurdat sy na ‘n uitgerekte rusie met die Menseregtekommissie die Bybelse waarheid oor die huwelik en gesin tragies verloën het.

Aan die ander kant van die spektrum gooi te veel egpare die handoek in en verbrokkel huwelikke wat eintlik nog in hulle kinderskoene is. 

Die punt is:  as die kerk van vandag nie hierdie waarheid ondubbelsinnig verdedig en moeite doen om die huwelike en gesinne in die kerk met die waarheid te bewapen nie; moet ons nie verbaas wees as die kerk begin leegloop nie.

Ons moet onverskrokke met ons afstandbehere begin stem:

Nee, ek sal nie toegee aan druk om die snert wat vir my opgedis word te kyk nie; en ek sal hand en tand stry om my kinders die gesonde leer van die Christelike huwelik en gesin te bly verkondig.

Ons moet onverskrokke met ons afstandbehere begin stem! Click To Tweet

Dit spoor ons dan verder aan:

  • Werk aan jou huwelik met die bruid of bruidegom wat God jou gegee het.
  • Spandeer tyd saam met jou gesin; investeer in die asempies wat jou soms met hulle veeleisende energie frustreer.

Doen dit met die Skrif in die hand; want of jy dit nou wil weet of nie – jou verhouding met die kerk – met die Bruidegom – is integraal deel van jou lewe.

Ja, mag ons deur die genade van God hierdie kritiese waarheid beskerm.

Jan-Louis is tans predikant by die Gereformeerde Kerk Brits

Jan-Louis is tans predikant by die Gereformeerde Kerk Brits

Verassing in die lig van die Skrif

Hierdie dokument is oorgeneem vanaf ds. Attie Boogaards se webblad http://enigstetroos.org. Ek sal artikels en dokumente vanaf enigstetroos, stadig maar seker oorskuif na scriptura.co.za, met groot dankbaarheid teenoor ds. Attie, dat hy dit beskikbaar stel! ds. Attie se nuwe blog en skrywes kan gelees word op http://enigstetroos.co.za/


KREMASIE IN DIE LIG VAN DIE BYBEL

Ds. A. Lindhout

1. INLEIDING EN HISTORIESE AGTERGROND

Die ou tyd

Dit kan nie ontken word nie dat lykverbranding tot die oudste gebruike in die menslike geskiedenis behoort. Primitiewe volke en stamme het die gebruik reeds geken en … beoefen.

Lykverbranding was egter nie die oorspronklike metode wat by die ou volke in Asië, Afrika, Europa en Amerika die toon aangegee het nie. Die Hetiete en die Egiptenare het byvoorbeeld die gewoonte gehad om hulle dooies te begrawe.

Mettertyd het egter by baie volke die gewoonte ontstaan om hulle dooies te verbrand.

Die agtergrond van die gebruik in die ou tyd was vermoedelik die wens om só radikaal van die dooies ontslae te raak dat hulle vir die naasbestaandes geen gevaar meer kon oplewer nie. Hier het die angsmotief by hulle wat nog in lewe was, dus ‘n duidelike rol gespeel.

In Griekeland bestaan die metode van lykverbranding reeds sedert die Trojaanse oorlog. Op ‘n later stadium het daar onder invloed van sekere wysgerige strominge en skole die gedagte bestaan dat totale vernietiging van die liggaam ‘n meer volkome bevryding van die siel veroorsaak. Die Romeine ken lykverbranding sedert die dae van die konings. Tot die dae van Karel die Grote was hierdie gebruik ook in Europa in swang terwyl ‘n groot aantal volke lykverbranding tot kort voor die Hervorming van die 16de eeu gehandhaaf het. Onder die Brahmane en Boeddhiste in Indië was en is dit ‘n baie ou gebruik wat met sekere godsdienstige gebruike gepaard gaan.

Die Christendom daarenteen wou van die begin af van lykverbranding nie weet nie. Dientengevolge is steeds begrafnis bepleit. Die diepe vernedering wat die begrafnis van ‘n oorlede inhou, is wel deur die Christendom raakgesien, maar die treffende simboliek van die koringkorrel wat gesaai word en wat moet sterf om iets nuuts te kan voortbring, het tog swaarder geweeg.

Die moderne tyd

Van die begin van die 17de eeu sien ons ‘n kragtige herlewing van die ou, heidense kremasie-gebruike.

  • In 1628 het daar in Engeland van die hand van Sir Thomas Brown ‘n boek oor lykverbranding verskyn onder die titel Hydriotaphia or Urnburial. Hierdie boek is in 1817 gevolg deur ‘n boek van die hand van ‘n sekere Dr. Jamieson, getitel The Origin of Cremation. Hierna het die gebruik van lykverbranding ‘n sterk voorstander gekry in die persoon van Dr. Lord van Hampstead waarna Sir H. Thompson in 1874 die “Cremation Society of London” gestig het.
  • Gedurende die jare 1864-1874 het lykverbranding in Italië begin veld wen, terwyl as gevolg van die Frans-Duitse Oorlog (1870) hierdie kwessie ook in Switserland sterk aandag gekry het.
  • Ook in Nederland het hierdie nuwe idees vinnig veld gewen en reeds in 1875 is ‘n vereniging opgerig met as doel die bevordering en uitvoering van lykverbranding. In 1907 is die eerste krematorium in Nederland gebou maar dit het nog tot 1914 geduur voordat dit die eerste keer gebruik is. In 1954 het die aantal lykverbrandinge in Nederland egter reeds gestyg tot 2221. In 1971 was daar in Nederland reeds 9 krematoriums terwyl die getal persone wat gedurende dié jaar veras is, 17942 bedra het. Om aan die steeds toenemende vraag na lykverbranding te kan voldoen, moet daar voor 1990 nog 31 krematoriums bygebou word. Teen dié tyd sal 50 persent van alle oorledenes verbrand word.
  • In Rusland is die eerste krematorium reeds in 1928 opgerig. Die hoë regeringsamptenaar wat ter geleentheid van die opening die rede gelewer het, het daarin onder andere gesê dat die krematorium opgerig is as ‘n nuwe protes teen die Christelike godsdiens. Verder het hy in sy toespraak die Russiese volk aangemoedig om hulle dooies te laat verbrand as ‘n duidelike bewys dat hulle gebreek het met die Christelike geloof aan die opstanding van die dode.
  • Wat Suid-Afrika betref, kan vermeld word dat die eerste krematorium in 1918 in Johannesburg opgerig is. Hierdie gebou is oorspronklik gebou op inisiatief van die Hindoes hoewel blankes ook toestemming verkry het om dit te gebruik. Gedurende die jare na 1918 is krematoriums opgerig in verskillende belangrike sentrums van ons land sodat hulle tans ook aangetref word op die Kaapse Skiereiland, in Pretoria, Brakpan, Pietermaritzburg, Bloemfontein, Durban, ens.

Soos ons hierbo reeds gesien het, wou die Christendom van die begin af nie van lykverbranding weet nie. Die belangrikste rede waarom Christene oor die hele wêreld hulle nog steeds heftig teen lykverbranding verset, is veral omdat laasgenoemde gebruik hom keer teen ‘n waardevolle, Skrifgebonde, Christelike begrafnistradisie.

2. ENKELE VAN DIE BELANGRIKSTE ARGUMENTE WAT MEESTAL DEUR VOORSTANDERS VAN LYKVERBRANDING GEBRUIK WORD

Die argumente wat hieronder volg, is hoofsaaklik ontleen aan die boekie van Donald K. Smith Why not Cremation? Uit die boekie blyk duidelik dat die skrywer – wat ‘n Amerikaner is – ‘n sterk humanistiese agtergrond het. Bowendien moet die boekie gelees word teen die agtergrond van die klipharde Amerikaanse Pragmatisme. As ons dit in gedagte hou, sal ons die gedagtegang van die skrywer beter verstaan. Sommige van die argumente klink in ons ore belaglik, maar vir Smith is hulle tog van die grootste belang.

Sy argumente is veral die volgende:

  1. Elke graf neem die plek in van grond wat vir landboudoeleindes gebruik kan word. In verband met die toenemende wêreldbevolking en die voedseltekorte wat daarmee saamgaan, is dit onverantwoordelik om só baie grond vir begraafplase te reserveer.
  2. Graftes word nie vir ‘n onbepaalde tyd in hulle oorspronklike toestand gelaat nie. Na vyftien of twintig jaar word hulle opgeruim. Die menslike reste wat dan nog aanwesig is, word bymekaargemaak en in ‘n gemeenskaplike gat gegooi of verbrand. Aangesien verbranding in die meeste gevalle tog die uiteindelike resultaat is, is dit baie beter om liewer ‘n kort pad na die verbranding deur middel van lykverbranding, te neem.
  3. Lykverbranding is baie goedkoper as ‘n begrafnis. Dit is ook goedkoper as geboorte. Waarom moet dit duurder wees om die lewe te verlaat as om dit binne te kom? Ons sou gril as iemand ‘n televisie-apparaat van R1000.00 in ‘n gat sou laat sak en met grond sou toegooi. Maar as ‘n oorledene in ‘n gat laat sak en met grond toegegooi word, is ons bereid om die bedrag dubbel te betaal. Bowendien weet die oorledene tog nie wat daar vir sy begrafnis betaal word nie. Hy gee ook nie om nie. Hoekom dan so baie bestee?
  4. Lykverbranding gaan vinnig. Jy spaar tyd. Om die liggaam van ‘n dooie tot ongeveer ses pond as te verminder, neem slegs enkele ure. Na ‘n begrafnis neem hierdie proses jare of – afhanklik van die plek waar begrawe word – eeue.
  5. Lykverbranding is die mees direkte en snelle verwesenliking van Gen. 3: 19b. (Want stof is jy, en tot stof sal jy terugkeer).
  6. As jou as verstrooi word, keer jy onmiddellik terug tot die aarde waaruit jy geneem is. Op die wyse dra jy dan ook nog by tot die vrugbaarheid en die groei van die plantewêreld, omdat jou liggaam saamgestel is uit dieselfde elemente wat ook in die aarde aangetref word.
  7. Lykverbranding is skoner as ‘n begrafnis. Uit higiëniese oogpunt verdien dit dus aanbeveling.
  8. Die gevaar bestaan dat jy lewendig begrawe word.

3. ‘N KORT BEOORDELING VAN DIE VOORGAANDE ARGUMENTE

Wat sal ons nou van hierdie dinge sê? Met die eerste oogopslag lyk dit tog asof daar baie waarheid in die beweringe van Smith steek. Sommige van sy argumente spreek ons selfs aan. Laat ons hulle dus van nader beskou.

* By Nr. 1

Hierdie argument handel oor ‘n baie praktiese probleem. Dit is inderdaad so dat die toenemende wêreldbevolking die gevaar van verhongering van sekere bevolkingsgroepe insluit. Maar is dit nou ‘n argument ten gunste van lykverbranding? Ek glo nie.

Die grond wat beskikbaar kom as alle begraafplase opgeruim word en vervang word deur sogenaamde “tuine van herinnering” wat minder plek inneem, kan wel vir landboudoeleindes gebruik word, maar dit los die probleem van die wêreldwye voedselvoorsiening nie op nie. Want die voedseltekorte wat dreig, is nie die gevolg van te min beskikbare grond nie, maar van verkeerde benutting van die grond wat wel beskikbaar is. Indien die mens sou leer om sy kultuuropdrag van Gen. 1: 28 reg uit te voer, sou die probleme op ‘n einde wees. Smith se argument is nie baie sterk nie, terwyl tewens die gevaar van gebrek aan grond vir die aanlê van kerkhowe in ons uitgestrekte land denkbeeldig is.

* By Nr. 2

Hierdie stelling van Smith is waar. Grafte word na ‘n bepaalde tyd opgeruim om plek te maak vir ander graf te. Menslike reste wat dan nog in die ou graf te aanwesig is, word in die meeste gevalle verbrand. Maar dit beteken nog nie ‘n regverdiging van lykverbranding nie. Want die liggaam is ‘n saad. Dit sterf in die grond sodat iets nuuts daaruit kan voortkom. En wat sien ons nou hier? Presies dieselfde wat ons sien as ons mielies plant. Die mieliepit sterf in die grond. Dan kom daar ‘n nuwe mielie uit voort. Maar die ou pit word nie heeltemal vernietig nie. Baie klein gedeeltes van die membraan byvoorbeeld bly in die aarde agter. Maar tog het die mieliepit dan aan sy doel voldoen. So is dit ook met die menslike liggaam. Dit verteer en vergaan, maar klein dele, soos stukke van die bene bly oor omdat hulle óf baie stadig óf glad nie verteer nie. Maar dit beteken nie dat die liggaam dan nie aan sy doel naamlik om ‘n saad te wees, voldoen het nie. Die kwessie van die liggaam wat ‘n saad is, sal verder op in hierdie studiestuk weer ter sprake kom. Die bostaande word tans slegs gesê om aan te toon dat Smith se argument op hierdie punt beslis geen vrybrief vir lykverbranding beteken nie.

* By Nr. 3

Hierdie argument is ook waar. Maar Smith se bewysvoering kan nie staan nie. ‘n Televisieapparaat kan nie vergelyk word met die liggaam van ‘n dierbare oorledene nie. In hierdie argument is dit nie die mens met sy gevoelens wat spreek nie, maar die dooie Mammon.

Smith kom hier dus met ‘n valse probleemstelling na vore. Ons is bereid om vir ‘n begrafnis te betaal – dikwels baie te betaal – uit piëteit vir die oorledene. Want dit is nie sommer ‘n dooie liggaam wat in ‘n gat laat sak en met grond toegegooi word nie, maar ‘n skepsel van God wat na sy laaste aardse rusplek gebring word. En hierdie skepsel het ‘n ewigheidsbestemming, wat die bestemming ookal mag wees. Dit gaan ook nie daarom dat die oorledene weet wat daar vir sy begrafnis betaal word of dat hy wel of nie omgee nie. Dit het niks met die saak te doen nie.

* By Nr. 4

Dit is myns insiens ‘n belaglike argument. Vir ‘n oorledene is die aardse tyd nie meer belangrik nie. Dit maak aan hom geen saak of die proses van die ontbinding van sy liggaam drie jaar of drie eeue duur nie. Die naasbestaandes spaar ook nie tyd nie. Die plegtighede wat met ‘n lykverbranding gepaard gaan, is ongeveer ewe lank as die wat met ‘n begrafnis plaasvind.

* By Nr. 5

Hierdie argument is myns insiens ‘n argumentum e silentio. Dit is waar dat ‘n deel van die oordeel van God na die sondeval is dat die mens na sy dood sal terugkeer tot die aarde waaruit hy geneem is. Maar in Gen. 3: 19b gaan dit om die “dat” van die terugkeer, nie om die “hoe” nie. Dat God nie gesê het dat die terugkeer na die aarde deur middel van ‘n begrafnis moet plaasvind nie, beteken nie dat ons daaruit mag aflei dat dit wel deur middel van lykverbranding mag geskied nie.

* By Nr. 6

Hierdie argument lyk baie waar te wees. Ek is nie voldoende op die hoogte van die chemiese en skeikundige samestelling van die menslike liggaam om te kan sê of die stelling van Smith waar of vals is nie. Maar een ding weet ek wel, naamlik dat die mens nie op die aarde geplaas is om dit met sy eie liggaam te bevrug nie. Die kultuuropdrag van Gen. 1 :28 sê dat die mens die aarde moet onderwerp en dat hy daaroor moet heers. Daar word nie gesê dat die mens homself aan die aarde moet onderwerp, sodat dit tot groter bloei kan kom nie. Ons slotsom is dus dat ook die sesde argument van Smith geen argument ten gunste van lykverbranding kan wees nie.

* By Nr. 7

Hierdie argument is beslis nie waar nie. Bronne in die onmiddellike nabyheid van begraafplase is ondersoek en geen skadelike bestanddele is gevind nie. ‘n Ondersoek van bronwater wat op die Andreas-begraafplaas te Hannover, Wes-Duitsland aangetref is, is ook ondersoek en daarby is die belangrike ontdekking gedoen dat dié water suiwerder is as die water wat aangetref is in bronne wat buite die begraafplaas geleë is. ‘n Begraafplaas wat goed aangelê is, beteken dus beslis geen gevaar vir die volksgesondheid nie.

* By Nr. 8

Hierdie argument word meestal na vore gebring in verband met die sogenaamde “skyndood” waarin ‘n mens kan raak. Die voorstanders van lykverbranding sê dan dat as jy begrawe word terwyl jy “skyndood” is, dit ‘n vreeslike ervaring moet wees om ses voet onder die grond in ‘n doodkis wakker te word in die besef dat daar geen enkele moontlikheid is om aan die verskrikking ‘n einde te maak nie. Nog afgesien van die feit of daar so iets soos “skyndood” bestaan (wat deur medici sterk betwyfel word), ontstaan die vraag of dit nie net so verskriklik is om tydens ‘n kremasie in ‘n oond met ‘n temperatuur van 1000oC. uit ‘n skyndood wakker te word nie.

Samevattend kan daar teen die agt argumente ten gunste van lykverbranding ook nog ‘n juridiese argument teen lykverbranding ingebring word. As daar by iemand se dood die vermoede rys dat hy vermoor is, kan dit na die begrafnis dalk nog vasgestel word. Dit geld byvoorbeeld veral in gevalle van vergiftiging. In ‘n geval van lykverbranding is dit egter buite die kwessie dat ‘n gewelddadige dood agterna vasgestel kan word.

Ons het nou die verskillende argumente van Smith nader ondersoek. Ek glo wel dat ons tot die slotsom gekom het dat sy argumente ten gunste van lykverbranding nie baie swaar weeg nie.

Maar … dit is nie genoeg nie. Want al wat ons hieruit kan aflei, is dat ons lykverbranding op grond van menslike argumente met vrymoedigheid mag afwys. Maar vir ‘n gelowige mag menslike argumente nooit die swaarste weeg nie. Die sterkste argument bly vir die gelowige nog altyd die Skrif. Laat ons dus sien of ons in die Skrif iets kan vind op grond waarvan ons lykverbranding met vrymoedigheid kan afwys.

4. ‘N KORT OORSIG VAN DIE OU TESTAMENTIESE GEGEWENS

In Israel was lykverbranding bekend, maar die dooies is begrawe. Dit kom in talryke Skrifplekke duidelik na vore. Abraham, Isak en Jakob, die vroue van die aartsvaders, Josef ens. word almal begrawe.

Die begrafnis van geliefdes vind in die Ou Testament plaas as ‘n bewys van besondere piëteit. Ons dink hier byvoorbeeld aan die besondere sorg wat Abraham aan die begrafnis van sy vrou Sara bestee het. Hy was selfs bereid om vir die spelonk waarin sy begrawe is ‘n buitensporige hoë prys te betaal.

Aan familiegrafte is in Israel veel waarde geheg. Bekend is hier die geval van Abraham wat in sy eie spelonk by Sara begrawe wou word. Maar ons dink hier ook aan Jakob en sy woorde in Gen. 49:29-31, waarin hy die wens te kenne gee dat hy op dieselfde plek as sy stamvaders en stammoeders begrawe wil word. In dieselfde lyn lê die geval van Josef wat ten spyte van sy hoë posisie aan die Egiptiese hof tog in die land van sy vaders begrawe wou word.

Hoewel die begrafnis in die Ou Testament dus ‘n baie vooraanstaande plek inneem, word daar tog ook van verbranding gepraat. Ons noem ‘n paar voorbeelde.

  • Lev. 20: 14 “En as ‘n man ‘n vrou en haar moeder neem, is dit ‘n skandelike daad; hulle moet hom en dié twee met vuur verbrand: daar mag geen bloedskande onder julle wees nie”.
  • Lev. 21:9 “En as die dogter van ‘n priester haar ontheilig om te hoereer, ontheilig sy haar vader; met vuur moet sy verbrand word”.
  • Jos. 7:25 “En Josua het gesê: Hoe het jy ons in die ongeluk gestort! Die HERE sal jou vandag in die ongeluk stort! Daarop het die hele Israel hom gestenig, en hulle het hulle met vuur verbrand en klippe op hulle gegooi”.

Hierdie drie tekste spreek vir hulleself. In aldrie gevalle is verbranding ‘n ernstige verswaring van die doodstraf. Die meeste uitleggers stem wel ooreen dat hierdie mense nie deur vuur om die lewe gebring is nie. Hulle is (waarskynlik) gestenig. Daarna is hulle lyke verbrand.

  • 1 Sam. 31: 12 “…. en hulle het die lyk van Saul en die lyke van sy seuns van die muur van Bet-San afgehaal en by Jabes gekom en hulle daar verbrand”.

Vir hierdie handelwyse het waarskynlik ‘n goeie rede bestaan, naamlik om te voorkom dat die lyke nog verder deur die Filistyne vermink sou word.

  • Amos 6: 10 “En wanneer iemand se bloedverwant, die een wat hom wil verbrand, hom optel om die bene uit die huis te verwyder…”

Hier is sprake van lykverbranding wat ook met ‘n besondere doel plaasvind. Ons het in hierdie hoofstuk te doen met oordeelsprediking oor die Tienstammeryk. Daar word gespreek oor ‘n stad wat beleër word. Die stad is waarskynlik Samaria. Die aantal lyke sal oorstelpend groot wees. Dit is goed moontlik dat in die omstandighede die begraafplaas – wat in die nabye Ooste altyd buite die stad geleë was – nie bereik kon word nie. Hieruit mag ons aflei dat lykverbranding in dié omstandig-hede ‘n noodsaak geword het om die uitbreek van aansteeklike siektes te voorkom. Sowel in 1 Sam. 31: 12 as Amos 6: 10 het ons dus met uitsonderlike gevalle te doen.

Daar is in die Skrif ook enkele gevalle waarin nóg van begrawe nóg van verbranding sprake is. Ons noem weer ‘n paar voorbeelde:

  • 1 Sam. 17:44 “Verder sê die Filistyn vir Dawid: Kom nà my toe, dat ek jou vlees aan die voëls van die hemel en die diere van die veld kan gee”.
  • 1 Sam. 17:46 “Vandag sal die HERE jou in my hand oorlewer, dat ek jou kan verslaan en jou hoof van jou wegneem, en die lyke van die leër van die Filistyne vandag aan die voëls van die hemel en die wilde diere van die aarde kan gee, sodat die hele aarde kan weet dat Israel ‘n God het”.

Hierdie verse wat ‘n deel van die stryd tussen Dawid en Goliat behandel, vertel vir ons dat daar in die geval van die dood van een van die twee nóg ‘n begrafnis nóg ‘n lykverbranding sal plaasvind. Die lyk van die verloorder sal net so in die veld gelaat word as ‘n prooi vir aasvoëls en wilde diere.

  • II Kon. 9: 10. “En die honde sal Isébel eet op die dorpsgebied van Jisreël, en daar sal niemand wees wat haar begrawe nie.”

Hierdie teks spreek vir homself.

  • Ps. 79: 1-3 ,,’n Psalm van Asaf. O God, heidene het gekom in u erfdeel, hulle het u heilige tempel verontreinig, Jerusalem tot puinhope gemaak. Hulle het die lyke van u knegte aan die voëls van die hemel tot spys gegee, die vlees van u gunsgenote aan die wilde diere van die land. Hulle het húlle bloed rondom Jerusalem soos water uitgegiet sonder dat iemand hulle begrawe”.

Ook hierdie teksverse spreek vir hulleself.

Uit hierdie gegewens – wat maklik vermeerder kan word – is dit duidelik dat begrawe in die Ou Testament steeds plaasgevind het as ‘n daad van piëteitvolle liefde, terwyl verbranding en nie-begrawe-nie steeds ‘n besondere strafoefening van God was.

Die allersterkste argument uit die Ou Testament het ons egter nog nie genoem nie. En dit is die feit wat aan ons in Deut. 34:5 en 6 meegedeel word, naamlik dat die lyk van Moses deur die HERE Self begrawe is. Dit is myns insiens seker die duidelikste bewys uit die Ou Testament dat God die begrafnis verkies bo die lykverbranding. Verbranding was bekend – sterker nog: in sekere gevalle was dit self ‘n gebod van God – maar in normale gevalle is begrafnis toegepas. God Self bekragtig dit deur die begrafnis van Moses.

Die vraag kan ontstaan of die uitsprake van die Ou Testament as normatiewe uitsprake gesien moet word, met ander woorde of die Ou-Testamentiese begrafnis kan of moet geld as ‘n norm vir ons manier van doen vandag.

Hier wil ons weer wys op die begrafnis van Moses omdat die Here Self hom begrawe het. In Deut. 34:6 lees ons: “En Hy het hom (Moses) in die dal in die land Moab, teenoor Bet-Peor, begrawe; en niemand het tot vandag toe sy graf geken nie.

Om deur die Here begrawe te word, is reeds ‘n unieke gebeurtenis. Maar verder is dit baie merkwaardig dat Judas eeue later na “die liggaam van Moses” verwys. In Judas vers 9 lees ons dat die aartsengel Migael met die duiwel in ‘n woordestryd was oor die liggaam van Moses. Migael het egter geen oordeel van lastering durf uitspreek nie, maar het vir die duiwel gesê: “Die Here bestraf jou!” Hierdie teks is seker nie een van die maklikste tekste in die Skrif nie, maar gerefor-meerde uitleggers stem oor die algemeen wel saam dat die mededeling van Judas betrekking het op ‘n twisgesprek tussen Migael en die duiwel waarby die twispunt die liggaam van Moses was.

Baie vrae wat met betrekking tot hierdie moeilike teks gestel kan word, moet onbeantwoord bly omdat die Skrif vir ons geen antwoorde verskaf nie. Een ding is egter baie seker, naamlik dat daar geen twisgesprek sou kon ontstaan het as Moses se lyk verbrand sou gewees het nie. God het in die geval van Moses egter geen kremasie toegepas nie, maar Self begrawe Hy Moses se liggaam.

Op grond van dit alles kan ons slotsom myns insiens slegs wees dat die begrafnis die wens van die Here is. Die begrafnis in die Ou Testament is dus veel meer as ‘n aanpassing aan ‘n kultuurpatroon wat toevallig in Israel bestaan het. So ‘n aanpassing kon moontlik gewees het. Die Here het Hom meer as een keer by bestaande omstandighede, gewoontes en gebruike aangepas. ‘n Goeie voorbeeld hiervan is die taal waarin Hy Homself openbaar. Hy bedien Hom van ‘n taal wat deur ons verstaan kan word. Maar van ‘n aanpassing aan ‘n kultuurpatroon waarvan die begrafnis ‘n deel was, kan geen sprake wees nie omdat in die tydperk van Israel se Ou-Testamentiese bestaan die lykverbranding by die volke van die wêreld én in Israel self bekend was en in sommige gevalle ook toegepas is. As God ten gunste van die begrafnis kies, is dit ‘n welbewuste keuse, juis omdat die begrafnis nie die enigste bestaande manier was om van ‘n dooie liggaam ontslae te raak nie.

Indien dus die vraag gestel word of die uitsprake van die Ou Testament as normatiewe uitsprake gesien moet word, moet die antwoord myns insiens ‘n duidelike “ja” wees, omdat God Self deur Sy handelswyse die norm gestel het vir die manier van doen van Sy volk onder die Ou én onder die Nuwe Verbond.

5. ‘N KORT OORSIG VAN DIE NUWE-TESTAMENTIESE GEGEWENS

Ook hier wil ons weer begin met ‘n paar teksverwysings waaruit duidelik blyk dat daar in die Nuwe Testament steeds van begrawe sprake is en nie van lykverbranding nie.

  • Matth. 23: 27 “Wee julle, Skrifgeleerdes en Fariseërs, geveinsdes, want julle is net soos gewitte grafte wat van buite wel fraai lyk, maar van binne vol doodsbene en allerhande onreinheid is”.
  • Matth. 26: 12 “Want toe sy hierdie salf op my liggaam uitgegooi het, het sy dit gedoen met die oog op my begrafnis”.
  • Mark. 6:29 “En toe sy dissipels dit hoor, het hulle gekom en sy lyk weggeneem en dit in ‘n graf neergelê”.
  • Luk. 16: 23 “En die ryk man het ook gesterwe en is begrawe”.
  • Joh. 5: 28 “Moenie julle hieroor verwonder nie, Want daar kom ‘n uur wanneer almal wat in die grafte is, sy stem sal hoor…”.
  • Joh. 11: 17 “Toe Jesus dan gekom het, het Hy gevind dat hy (Lasarus) al vier dae in die graf was”.
  • Hand. 5:6 “Daarna het die jongmanne opgestaan en hom (Ananias) toegedraai en uitgedra en begrawe”.
  • Hand. 5: 10 “Toe val sy onmiddellik aan sy voete neer en het gesterwe. En die jongmanne het ingekom en haar (Saffira) dood gevind en haar uitgedra en by haar man begrawe”.
  • Hand. 8:2 “En godvresende manne het Stéfanus begrawe en ‘n groot rou oor hom bedrywe”.

Uit die bostaande voorbeelde – wat gemaklik met ander vermeerder kan word – blyk dit duidelik dat ook in die Nuwe Testament die begrafnis gewoonte was. Hiermee is die Nuwe Testament heeltemal in lyn met die Ou Testament. Die gevalle van verbranding en van nie-begrawe-nie wat soms in die Ou Testament nog gekry het, is in die Nuwe Testament afwesig.

Daar is egter een uitsondering. Hierdie uitsondering gaan oor ‘n geval van nie-begrawe-nie. Ons tref dit aan in Matth. 8:18-22. Dit gaan daar oor ‘n man wat Jesus wil volg maar wat toestemming vra om eers sy vader te gaan begrawe. Die antwoord van Jesus op hierdie versoek is egter: “Volg My, en laat die dooies hul eie dooies begrawe”. Die versoek van die man is heeltemal billik, want dit was sy heilige plig om sy vader te begrawe. Tog wys Jesus hierdie versoek af omdat die laere plig moet wyk vir die hoëre. Om die Woord te verkondig is ‘n beter werk as om die dooies te begrawe. Die dooies word aan die “dooies” oorgelaat, dit wil sê aan hulle wat geen enkele belangstelling het vir die Koninkryk van God nie; hulle dus by wie dit aan elke vorm van egte geestelike lewe ontbreek.

Ons sien dus dat die Nuwe Testament baie aandag aan begrawe bestee. Van verbranding is nie een enkele keer sprake nie. Dit is wel so dat die Nuwe Testament die oond ken. Die woord word egter gebruik in ‘n baie besondere betekenis wat nie in die gedagtegang van die moderne lykverbran-dingspraktyke tuishoort nie. Ons gee weer ‘n paar voorbeelde:

  • Matth. 6:30 “As God dan die gras van die veld, wat vandag daar is en more in ‘n oond gegooi word, so beklee, hoeveel te meer vir julle, kleingelowiges!”

Hierdie teks is ‘n deel van die onderwys van Jesus aan sy dissipels.

  • Matth. 13:42 “…en sal hulle in die vuuroond gooi”.

Dieselfde woorde tref ons ook aan in Matth.13:50. Met hierdie vuuroond waar “daar geween sal wees en gekners van die tande” word egter nie die plek bedoel waar die verteringsproses van die menslike liggaam tot ‘n kort tydjie ingekort word nie. Hier word bedoel die plek waar God sy gerig oefen oor die ongelowiges.

Soos in die geval van ons kort oorsig uit die Ou Testament het ons ook by ons ondersoek van die Nuwe Testament ons sterkste argument teen lykverbranding vir laaste bewaar. En dit is die feit wat deur al vier Evangeliste baie nadruklik vermeld word, naamlik dat Jesus Christus begrawe is. Ook deur hierdie feit word weer duidelik aangetoon dat God die begrafnis verkies bo die lykverbranding.

Net soos in die geval van die ou-Testamentiese gegewens wil ons ook hier vir ‘n paar oomblikke stilstaan by die vraag na die normatiewe; die vraag dus of die begrafnisgebruik in die Nuwe Testament vandag moet dien as norm vir ons manier van doen in hierdie verband.

Soos ons hierbo reeds gesien het, neem “die graf” ‘n baie belangrike plek in in die onderwys van Jesus. Met betrekking tot die normatiewe van hierdie onderwys in woord en daad wil ons nou veral aandag gee aan twee sake, naamlik die opstanding van Lasarus en die opstanding van Jesus.

Die dood, begrafnis en opstanding van Lasarus tref ons aan in Joh. 11: 1- 44. In Joh. 11:44 lees ons: “En die oorledene het uitgekom, aan hande en voete met grafdoeke gebind, en sy gesig was toege-draai met ‘n doek…”

En dat die opstanding van Lasarus groot gevolge gehad het, lees ons in Joh. 12: 17: “En die skare wat by Hom was toe Hy Lasarus uit die graf geroep en hom uit die dode opgewek het, het daarvan getuig”.

By hierdie groot wonder is dit besonder opvallend dat die opstanding van Lasarus soos Johannes dit beskrywe nooit sou kon plaasgevind het as die lyk van Lasarus verbrand sou gewees het nie. Want Lasarus het uit die graf uitgekom presies soos wat hy daar vier dae tevore ingegaan het. Daar was geen verskil nie. Selfs die grafdoeke was ongeskonde.

Dit alles geld in ‘n veel groter mate ook van die begrafnis en opstanding van Jesus Christus. Nie-mand sal ontken dat Jesus se opstanding tog moontlik sou gewees het as hulle sy liggaam direk na sy dood sou verbrand het nie, want by God is álle dinge moontlik. Maar in die geval van verbran-ding sou sy opstanding nie plaasgevind het soos wat dit op Paasmôre gebeur het nie. Ons sou nie gehad het nie wat ons nou onder andere op verskillende plekke in die Evangelie van Johannes wel het, naamlik die doeke en die hoofdoek van Jesus opgerol op een plek afsonderlik (Joh. 20:6 en 7), die littekens aan Jesus se hande en sy sy (Joh. 20:20) en die ooreenstemming tussen die begrawe liggaam van Jesus en sy opstandingsliggaam (Joh. 20:25-29). Uit Joh. 20:20 en 25-29 blyk dus duidelik die ongeskonde identiteit van Jesus voor en na sy opstanding. Daar kan geen twyfel wees nie. Die Jesus wat opgestaan het, is presies dieselfde Jesus as wat ‘n paar dae vroeër begrawe is.

In verband met die vraag na die normatiewe van die Nuwe-Testamentiese gegewens blyk eers dat. die Nuwe Testament ‘n stap verder gaan as die Ou Testament. In laasgenoemde is slegs sprake van begrawe. In eersgenoemde is sprake van begrawe én opstanding. Maar – en dit moet ons goed raak-sien – dit is nie lykverbranding en opstanding wat aanmekaar gekoppel word nie, maar begrafnis en opstanding.

Vir die behoud van sy Goddelike identiteit voor en na sy opstanding laat Jesus Hom nie verbrand nie, maar begrawe. Die behoud van die identiteit wat by die opstanding van Lasarus reeds so duide-lik geblyk het, word by Jesus tot sy hoogtepunt gevoer. Want Lasarus moes na kortere of langere tyd weer sterwe. Maar Jesus nie. Hy het opgestaan uit die graf en leef tot in alle ewigheid (Vgl. Hebr. 13:8). Teen die agtergrond van hierdie gegewens is dit myns insiens baie duidelik dat die Nuwe-Testamentiese norm die begrafnis is en nie die lykverbranding nie.

Wanneer ons nou vir ‘n paar oomblikke kyk na die briewe van Paulus, dan sien ons dat hy nie uitdruklik teen die kremasiepraktyke gewaarsku het nie. Tog was hierdie praktyke in die heidense wêreld waarin hy gewerk het, normaal. Voorstanders van kremasie het reeds aangevoer dat die feit dat Paulus nie uitdruklik teen lykverbranding waarsku nie, sou beteken dat hy dit as ‘n middelmatige saak beskou het. Dit is egter ‘n verkeerde siening. Daar is veel meer heidense gebruike waarteen Paulus nie gewaarsku het nie. Waar hy wél teen gewaarsku het, is dié heidense gebruike wat ‘n bedreiging vir die jong gemeentes gevorm het, soos byvoorbeeld die eet van vleis wat aan afgode gewy was. Dit was vir Paulus egter nie nodig om teen lykverbranding te waarsku nie, omdat laas-genoemde gebruik nooit ingang by die jong kerke gevind het nie.

In die verband van dit alles moet ons nou I Kor. 15 nader bestudeer. Dit is die hoofstuk waarin Paulus uitvoerig oor die opstanding van Christus en in samehang daarmee oor die opstanding van die gelowiges handel. Veral verse 35 tot 49 is hier van belang. Maar die groot krag wat lei tot die waarheid van hierdie verse gaan daaraan vooraf. Dié krag vind ons in vers 20:

“Maar nou, Christus is opgewek uit die dode; Hy het die Eersteling geword van die wat ontslaap het”.

Met hierdie woorde en met wat daar verder volg, toon Paulus aan dat Christus die waarborg is van die salige opstanding van die gelowiges; ‘n heilsfeit wat deur die Kerke van Gereformeerde Belydenis ook beklemtoon word in Sondag 17 van die Heidelbergse Kategismus.

Nadat Paulus die “dat” van die opstanding vasgestel het, behandel hy die “hoe” daarvan. Hier gebruik die apostel die voorbeeld van die koringkorrel. Die korrel sterf in die grond sodat dit nuwe lewe kan gee aan die plant wat daaruit ontkiem. Die een kom uit die ander een voort. So is dit ook met die dooies. Die graf is vir die gelowige nie slegs die plek waar die vertering van die liggaam plaasvind nie, maar die plek waar die liggaam gesaai word in oneer, om op God se tyd – as die basuine van die jongste dag weerklink – in heerlikheid opgewek te word. Paulus gaan met sy beeld van die koringkorrel duidelik uit van die begrafnis en nie van die lykverbranding nie. Soos die koringkorrel in die aarde gelê word, so word ook die liggaam van ‘n oorledene in die aarde gelê. En soos wat die koringkorrel in die aarde vergaan, so vergaan ook die liggaam van ‘n oorledene. Maar dan ook: soos wat daar uit die koringkorrel wat vergaan het ‘n nuwe koringaar voortkom omdat die sterwende korrel die kiem van die lewe in hom dra, so kom daar uit die dooie liggaam wat vergaan ‘n nuwe liggaam voort, omdat die gestorwe liggaam die kiem van die nuwe lewe in hom dra.

Hoé dit deur God op die jongste dag gedoen gaan word, weet ons nie. Maar dát Hy dit gaan doen vir elkeen wat deur die geloof in die lyde en sterwe en opstanding van sy Seun aan Hom gebind is, is seker.

In die lig van dit alles is ‘n begraafplaas dus eintlik ‘n groot saailand, waarin die liggame besig is om te vergaan maar nie om nooit weer op te staan nie. Uit Paulus se uiteensetting omtrent die op-standing van die dode is egter een ding heeltemal duidelik. Sonder die begrafnis bly die hele hoof-stuk I Kor. 15 onbegryplik. Vanuit die standpunt van die voorstanders van lykverbranding kan die diepe simboliek van hierdie hoofstuk nie verstaan word soos dit verstaan moet word nie.

Vanselfsprekend kan ook hier weer verskillende opmerkings gemaak word. Dit is baie duidelik dat dit in I Kor. 15 in die eerste plek gaan om die dode, die ontslapenes en nie in die eerste plek om die graf of die begrafnis nie. Dit is ook nie so dat die graf waaruit Jesus opgestaan het die grond is van ons hoop op ‘n salige opstanding nie. Die opgestane Jesus is die grond van ons hoop. Maar …Jesus staan op uit die graf. En dit is baie betekenisvol. Dit is die groot feit wat die agtergrond vorm van Paulus se woorde in I Kor. 15. Alleen teen die agtergrond kan die diepe simboliek van hierdie hoofstuk verstaan word.

Voorts kan die vraag ontstaan of die Skrif in verband met die begrafnis ‘n gebruik beskryf of voor-skryf. Met ander woorde gee die Ou en Nuwe Testament maar net ‘n beskrywing van ‘n gebruik of is dit die bedoeling dat hierdie gebruik nagevolg moet word omdat begrafnis ‘n voorskrif is.

Die opmerking is reeds gemaak dat dit wat die begrafnis betref in die Skrif slegs gaan om die mede-deling van ‘n kultuurgewoonte. Die herhaaldelike vermelding van die begrafnis in die Skrif sou dan slegs die beskrywing wees van ‘n gebruik en die beskrywing sou geen voorskrif inhou vir ons van-dag nie. Myns insiens is hierdie siening verkeerd omdat dit nie voldoende rekening hou met die besondere karakter van die Skrif nie.

Die Skrif is in die eerste plek OPENBARING VAN GOD en nie sommer een of ander boek wat vry-blywend aangeneem of verwerp kan word nie. Maar dit beteken dan ook dat die herhaaldelike beskrywing van en nadruk op die begrafnis in die Skrif nie maar toevallig aan ons gegee is nie. God wil daarmee iets aan ons sê. Moses word nie deur God Self begrawe met daaragter die gedagte dat óns met ons oorledenes kan doen wat ons wil nie. Jesus Christus daal nie af in die graf sodat óns oond toe kan gaan nie.

As ons die begrafnis in die Skrif bloot as die mededeling van ‘n kultuurgewoonte sien, kom daar ook ander vrae na vore. Dan kan ons byvoorbeeld vra of ons nie dalk ons hele siening van teraardebe-stelling moet wysig, omdat die hoogtepunt van die opstanding van die vlees, naamlik die opstan-ding van Christus, verby is nie. Ons kan ons ook begin afvra of die “hoe” van die teraardebestelling dalk nie meer soveel saak maak omdat die dood tog oorwin is nie.

Sulke vrae raak egter myns insiens die gesag en die normatiwiteit van die Skrif en derhalwe mag hulle nie gevra word nie. Dit kan die deur oopmaak vir ander veel ingrypender vraagtekens en daarom moet ons daarmee uiters versigtig wees. Ons moet nie wyser wil wees as die Skrif self nie!

6. VOLGENS BEGINSELS VAN DIE CALVINISTIESE MENSBESKOUING

Op grond van die gegewens wat hierbo genoem is, moet ons nou probeer kom tot die bepaling van ons eie standpunt insake die kwessie van begrafnis of kremasie. Hierby kan twee Skriftuurlike beginsels van die Calvinistiese mensbeskouing ons tot groot nut wees.

  • Die mens is geskape volgens die beeld van God (Gen. 1:26 en 17)

Daarom het God moord en selfmoord verbied (Gen. 9:6). Teneinde die mens met eerbied vir die menslike liggaam te vervul, het God ook die verminking en beskadiging daarvan verbied. (Lev. 19:28. Deut. 14:1). Paulus spreek van die menslike liggaam as van ‘n “tempel van die Heilige Gees” (I Kor. 6: 19).

Die Skrif praat dus met groot eerbied van die menslike liggaam, want ook die liggaam is ‘n skepping van God. ‘n Mens bestaan uit siel én liggaam en dit beteken dat ook die liggaam van die gelowige deel het aan die verlossing in Christus. Sondag 1 van die Heidelbergse Kategismus sê dan ook dat die gelowige met liggaam en siel aan Christus behoort.

Ons liggaam is dus nie ons eiendom nie, maar God s’n. Maar … wat van God is, moet van God bly. Daarom moet die liggaam na die dood aan God teruggegee word op die wyse wat die Bybel aan ons leer. Dié wyse is nie die pad van lykverbranding waarby die hele liggaam vermink word nie, maar die pad van begrafnis.

  • Voorts moet ons in gedagte hou dat die intrede van die dood nie sommer ‘n natuurlike saak is nie, maar ‘n handeling van God. Slegs God kan heers oor lewe en dood. Slegs Hy wat die mag het om die lewe te gee, het ook die reg om dit weer te neem. Daarom hou sy reg op ons liggaam, wat deur Hom gemaak is, ook nie op wanneer die dood intree nie. Maar dit beteken dan ook dat die liggaam van ‘n oorledene volgens die wil van God behandel moet word. Derhalwe moet dit aan die aarde toevertrou word en nie aan die oond nie.

Deurdat ‘n oorledene begrawe word, vind die vernietiging van sy liggaam plaas volgens die wil van God. Dit is by kremasie egter nie die geval nie, omdat daarby die proses van vernietiging van die liggaam deur die mens self ter hand geneem word. Dan tree die mens dus op as die heerser oor lewe en dood waarby uitgegaan word van die gedagte dat die liggaam die eiendom van die mens is, ter-wyl dit God se eiendom is.

7. KONKLUSIE

  • Ons slotsom in verband met die gegewens wat die Skrif ons bied, is dat begrafnis steeds veronderstel word.
  • Daarmee keer die Skrif hom teen lykverbranding.
  • Dié gevalle waar die gebruik wel genoem word, is óf straf wat deur God beveel is óf uitsonderlike gevalle.
  • Die Seun van God is die grond van ons hoop op ‘n salige opstanding. Hierdie belangrike geloofs-waarheid is deur die Christelike Kerk van die begin af besef. Daarom het die Kerk hom steeds met die grootste beslistheid teen die heidens lykverbrandingspraktyke verset. Dat hierdie gebruik tans in sogenaamde Christelike nasies ‘n steeds groter plek inneem, stem tot besorgdheid.

Dit is ‘n teken van voortgaande ontkerstening en deformasie.

Verder is dit opvallend dat die toenemende vraag na lykverbranding hand in hand gaan met ‘n toe-neming van heidense gebruike tydens die verbrandingsplegtigheid. Die aanwesiges kan byvoor-beeld kies uit ‘n breë verskeidenheid musiek op elke gebied. Naas Psalms is daar klassieke en moderne musiek voorhande, terwyl die sogenaamde Negro-Spirituals en Evangelieliedere ‘n veel-gevraagde begeleiding by lykverbranding is. Maar dit is nie al nie. Dit gebeur meermale dat ouers ‘n kind laat verbrand terwyl die Beatles of ‘n ander popgroep een van hulle populêre wysies via geluidsband of plaat ten gehore bring. In Duitsland het Heintje met sy liedjies die krematoriums verower.

Waar hierdie gebruik ook in ons land reeds ‘n groot plek inneem, is dit noodsaaklik dat die Skrifgetroue gelowige ernstig tot reformasie oproep. Want die lykverbranding en alles wat daarmee saamhang, is in stryd met die Skrif. Een van die kerngedagtes van die Calvinistiese mensbeskouing, naamlik dat ook die stof die eiendom van God is, gaan verlore.

Dit is wel waar dat die manier waarop van die liggaam van ‘n oorledene ontslae geraak word geen struikelblok is vir die opstanding uit die dode nie. Dit geld vir seebegrafnisse, vir gevalle waarby die menslike liggaam in so ‘n mate vermink is dat daar van ‘n begrafnis eintlik geen sprake meer is nie en vir lykverbranding. Daar is mense wat ten gevolge van ‘n brand om die lewe gekom het en wat tog sal opstaan om tydens die laaste oordeel op die jongste dag hulle ewigheidsbestemming te bereik. Maar mense wat in ‘n brand omkom, verrig nie die vrywillige, onskriftuurlike daad van lykverbranding nie.

Samevattend kan ons sê dat die proses van ontbinding van die liggaam nie in die hande van mense gelê is nie. Ons mag met die liggaam van ‘n oorledene nie willekeurig handel nie. Lykverbranding is nie in ooreenstemming met die Woord van God nie. Dit is heidens en dit bots met die egte Christe-like lewenstyl. Derhalwe wys ons dit onvoorwaardelik af.

8. LITERATUUR

8.1 Algemeen

Brillenburgh Wurth G. Lijkverbranding. In Christelijke Encyclopedie Deel IV. Kok, Kampen (2), 1959.
De Bruyn, P.J. Begrafnis of lykverbranding? In Bewaar jou goeie pand. Pro Rege-Pers, Potchefstroom, 1964. p.119-125.
De Klerk, B.J. “Lykverbranding”, In Die Almanak van die Geref. Kerk in S.A., 1950, p. 105-113 (ook as pamflet in Engels onder die titel “Cremation” gepubliseer).
Delleman, T.H. Alles nieuw: Over sterven, begraven en opstandingsleven. Wever, Franeker, s.j.
Dijk, K. De Leer der laatste dingen. In Het Dogma der Kerk.Haan. Groningen, 1949.
Dijk, K. De Leer der laatste Dingen. Deel III (De toekomst van Christus). Kok, Kampen, 1953
Francken Joh. Veel vragen, één antwoord. Kok, Kampen, s.j. Jongeling P. Woord en Wandel. Stichting Gereformeerd Gesinsblad, Groningen,1968
Lategan, D. “Kremasie of Lykverbranding”. In Koers in die Krisis III, p.144-156. �F.C. S.V., Stellenbosch (Pro Ecclesia-drukkery), 1941.
Lok, P. Graf of Oven. De Vuurbaak, Groningen, s.j. Smith, Donald K. Why not Cremation? Dorrance & Co., Philadelphia. 1970.
Van der Walt, B.J. Graf of askruik? Perspektief in ons J. V.-werk, jrg.3, nr. 3, Maart 1965, p. 215-219.

8.2 Kommentare

De Boor, W. Der erste Brief des Paulus an die Korinther. In Wuppertaler Studienbibel. Broekhaus Verlag, Wuppertal, 1968.
Grosheide, F.W. Paulus’ eerste Brief aan de Kerk te Korinthe. In Korte Verklaring der Heilige Schrift. Kok, Kampen, 1954.
Grosheide, F.W. De eerste Brief aan de Kerk te Korinthe. In Commentaar op het Nieuwe Testament. Kok, Kampen, 1957.
Pop, F.J. De eerste brief van Paulus aan de Corinthiërs. In De Prediking van het Nieuwe Testament. Callenbach, Nijkerk, 1971.

‘n Lys van reeds gepubliseerde I..B.C.-studiestukke kan gratis by die I.B.C.-kantoor, P.U. Vir C.H.O., Potchefstroom, 2520 (Telefoon: 22112, uitbreiding 418) aangevra word.

Persone wat in die toekoms graag I. B.C.-studiestukke (gratis) wil ontvang, kan hul name en adresse na bogenoemde adres stuur.
ISBN 0 86990 237 7

Marnix is tans predikant in die Gereformeerde Kerk Graaff-Reinet.

Demonologie (met prof. Flip Buys)

In hierdie episode gesels ek met prof. Flip Buys oor Gereformeerde Demonologie. Vrae wat beantwoord word is onder andere:

Is dit enigsins nodig om iets oor Satan te wil leer?
Kan ‘n gelowige deur ‘n demoon “in besit geneem word”?
Hoe hanteer ‘n mens gelowig-Bybels ‘n manifestasie?
Moet ons demone bind en uitdryf?
Kan die duiwel ons gedagtes lees?

Marnix is tans predikant in die Gereformeerde Kerk Graaff-Reinet.

Is dit sonde om saam met mense te bid, wat nie altyd in hulle daaglikse lewe wys dat hulle gelowiges is nie?

Skyngelowiges – mag ek saam met hulle bid?

Ek verstaan die vraag so: dit gaan oor gebed saam met mense wat aanvoer dat hulle Christene is, maar hulle lewens getuig nie daarvan nie. Die vraag gaan oor gebed saam met iemand wat dalk nie ‘n ware gelowige is nie. Iemand wie se daaglikse lewe nie getuig van Christenskap nie, se geloof word onmiddelik deur ander (met goeie rede) bevraagteken. Gelowiges moet “vrugte dra wat by die bekering pas” (Matt. 3:8). Iemand wat sê hy is ‘n deel van God se wingerd, maar jy vind geen vrug aan die lote nie, is moontlik nie werklik deel van die wingerd nie (Joh. 15).

Ons beoordeel, maar God sal finaal oordeel tussen ware gelowige en skyngelowige

Ons kan en moet, as gelowiges die Geestesgawe van onderskeiding toepas en onderskei wie die wolwe is. (Lees meer hier oor ons verantwoordelikheid om te oordeel). Hiermee skryf ons nie aan onsself die reg toe om mense te veroordeel en te verdoem nie. Dit kom God alleen toe. Ons kan nie mense se harte lees nie, net God kan. Hy sal ook oordeel oor die geheime van die hart (Rom. 2:16). Juis omdat ons nie weet wat God in daardie mense se harte bewerk of sal bewerk nie, moet ons aanhou getuig teenoor hulle en hulle ook oproep tot bekering, veral omdat hierdie mense sê dat hulle gelowiges is, al gedra hulle hul nie so nie.

God sal die geheime van die hart oordeel (Rom. 2:16). Click To Tweet

Bid ons tot die God van die Bybel?

Wanneer ons saam met mense bid, is dit egter belangrik om sover moontlik uit te maak of hierdie mense wél die God van die Bybel aanbid en of dit nie ‘n ander god is nie. As hierdie mense aanvoer dat hulle dieselfde, Drie-Enige God aanbid as jy, kan jy steeds saam met hulle bid, al getuig hulle lewens nie van ware bekering nie. Hoe weet ek of hulle die God van die Bybel aanbid? Ek dink drie kernvrae sal alreeds duidelikheid kan bring:

  • bely hulle dat God Drie-Enig is (Vader, Seun en Heilige-Gees) (Matt.3:16,17)?
  • bely hulle dat Jesus Christus ware God en mens is (o.a. 2 Joh.)?
  • bely hulle volkome verlossing nie deur eie werk nie, maar in Christus alleen uit genade deur geloof (o.a. Ef. 2:8)?

Hoe weet ek of hulle die God van die Bybel aanbid? Drie kernvrae... Click To Tweet

Bid nie net saam met skyngelowiges nie, maar ook vir hulle!

As jy vind dat jy wel dieselfde God aanbid, aanbid dan nie net saam met hierdie lou gelowiges nie, maar ook vir hulle! Indien hulle ‘n ander god as die Bybel aanbid, kan ons steeds vir hulle bid, maar nie saam met hulle nie. “Die Here is ver van die goddelose, maar die gebed van die regverdiges hoor Hy.” (Spr. 15:29).

Marnix is tans predikant in die Gereformeerde Kerk Graaff-Reinet.

Wie is jy om nie te oordeel nie?

Jy mag nie oordeel nie?

“Wie is jy om te oordeel!? Jy mag nie oordeel nie!”; “hou op oordeel – jy is skeinheilig!”; “jy noem jouself ‘n Christen, maar kyk net hoe oordeel jy!?”

Hierdie is tipies kommentaar wat ‘n mens sal kry op “godsdienstige” artikels of uitsprake. Wanneer iemand byvoorbeeld ‘n uitspraak lewer oor ‘n uitlating van ‘n predikant, of wanneer iemand “godsdienstige” kommentaar in die publiek (soos koerante, sosiale media) lewer.

Is dit geldig om vining iemand se mond te stop met ‘n opmerking dat hy nie mag oordeel nie?

Ek dink nie so nie – nie altyd nie.

Ek verstaan die Skrif so, dat gelowiges by uitstek die roeping en taak het om te oordeel!

1. Woordkeuses – oordeel? beoordeel? onderskei?

Met oordeel, bedoel ek spesifiek om iets te beoordeel in die lig van die Skrif. Dit gaan nie daaroor dat ‘n persoon gevonnis word nie, maar dat sy leer en lewe beoordeel word. Dit gaan in hierdie artikel daaroor dat die gelowige die taak het om oordeelkundig te luister/lees en te reageer.

Soos ek later ook noem, mag Christelike beoordeling nooit die lyn oorkruis om iemand te veroordeel en te verdoem nie. Meer hieroor, later.

2. Die mens se reg en roeping om te oordeel

Die woord in die Ou-Testament wat ons vertaal met “oordeel”, is dikwels die woord “mishpat”.

Mishpat is ‘n heerser se reg om uitspraak te lewer oor ‘n saak. Die heerser het die reg om te oordeel. Mishpat is ‘n reg wat die heerser toekom en wat hy ook moet beoefen.

Wanneer ‘n koning nie oordeel nie, dan sal daar chaos en wetteloosheid in sy koninkryk heers. Dit is vanselfsprekend; daarom is daar ook iets soos ‘n wet in elke koninkryk – iemand wat die wet oortree, staan onder die oordeel van die heerser. Mense moet tot verantwoording geroep word.

In die lig van hierdie mishpat as die reg en roeping van elke heerser, verstaan ek dat elke gelowige ook geroep is om te oordeel.

In Genesis 1:28, nadat God die mens geskape het, word die mens aangestel as heerser oor die aarde: “…onderwerp dit en heers daaroor”.

Die mens is aangestel as koning oor die aarde. Hiermee ontvang hy die reg en roeping om te oordeel.

Soos ons weet, het die menslike vermoë om te oordeel egter verwronge geraak na die sondeval (Genesis 3). Dit is hoekom ons vandag verkeerde uitsprake hoor en waarom ongeregtigheid hoogty vier.

Die Blye Boodskap is egter dat die Here ons herstel om te word wat Hy ons wil hê. Hy wil dat geregtigheid geskied. Hy wil dat ons goed en reg heers. Hy wil dat ons regverdig oordeel.

As die volk Israel telkemale afdwaal en ongeregtigheid laat seëvier in die Ou-Testament, dan hoor ons keer op keer hoe die profete roep: “bekeer julle, die dag van die Here is naby!” (Amos, Sefanja ensovoorts).

Die Here oordeel die volk se profete wat nie regverdige uitsprake lewer en beoordeel tussen waarheid en dwaling nie. “Sy profete is ligsinnig, trouelose manne, sy priesters verontreinig wat heilig is, hulle verkrag die wet” (Sefanja 3:5). Ligsinnige profete en priesters wat nie die wet handhaaf nie, is ‘n skande.

Onregverdige uitsprake en ongeregtigheid is misbruik van die mens se Godgegewe taak om te oordeel tussen reg en verkeerd. Ons, as gelowiges het dus steeds na die sondeval die reg en roeping om te oordeel.

Die gelowige is tog in die amp van priester, profeet en koning? As koning moet ons heers en oordeel en ons mag nie ligsinnige profete wees of priesters wat die wet verkrag nie!

Ook gelowiges se reg en roeping om te oordeel is met sonde bevlek, en daarom moet ons vanuit die res van die Skrif hoor wat die doel van ons beoordeling is en hoe ons moet oordeel.

3. Die doel van ‘n gelowige se reg en roeping om te oordeel

Die doel van ‘n gelowige se beoordeling is tweeledig:

  1. om verhoudings te herstel en dan
  2. om tot ‘n besluit te kom waar nodig

‘n Voorbeeld hier is 1 Korinthiërs 14:29: “Laat twee of drie profete spreek en die ander dit beoordeel”. Die beoordeling waarvan die apostel hier praat is om vas te stel of dit woorde van die profeet waar en reg is – dit is onderskeiding tussen waarheid en dwaalleer. Paulus skryf hierdie dinge sodat daar nie ‘n gees van wanorde en dwaalleer binne die gemeente ontstaan nie.

Die gemeente van Christus moet haarself orden en verseker dat die verhouding tussen die gemeente en God steeds gegrond en gevestig bly in die Waarheid van die Woord. Verder moet hulle ook verhoudings binne die gemeente (en besoekers in die gemeente) nie skade ly nie.

En as die woorde van die profete beoordeel word en dit as vals uitgewys word, wat dan? Wel, ter wille van onderlinge verhoudings en die hele gemeente se verbondsverhouding met God, moet daar ‘n definitiewe besluit geneem word om die valse leer en valse profete uit te wys en onder hulle uit te verwyder (1 Korinthiërs 5:13: “Verwyder tog dié slegte mens onder julle uit”).

As ek verstaan dat die versigtige beoordeling van iemand se leer en lewe eers gaan oor die herstel van verhoudings, dan sal ek ook nie onnodige en kleinlike kommentaar kwytraak nie.

As verhoudings vir my belangrik is, sal ek wel uitspraak lewer, maar net sê wat nodig en opbouend is. (Christene is immers ‘n teenkultuur)

4. Hoe ‘n gelowige moet oordeel

Dit is hier waar ons as gelowiges so dikwels mistrap, want ons weet nie hoe om reg uitspraak te lewer of iets wat verkeerd is uit te wys en te oordeel nie.

Ons moet weet wat die Here sê oor die wyse waarop ons oordeel.

Besef en bely: ook ek is voor God ‘n sondaar!

Voor ek iemand se leer of/en lewe beoordeel, moet ek eers verstaan wie ek voor God is. Ek moet besef en bely dat ek net so sondig is soos die ander persoon. Daar moet by my eers baie deeglike selfondersoek en bekering plaasvind, voordat ek enigsins poog om uitspraak te lewer. Romeine 14:10: “Ons sal tog almal voor die regterstoel van God moet verskyn.”

My eie bekering gaan die beoordeling van ‘n ander vooraf

Ons moet verstaan dat ons roeping om te oordeel, ons nie die “moral high ground” gee nie. Dit is waarom Jesus in Lukas 6:41, 42 sê, dat ons eers die balk uit ons eie oog moet haal.

Dit is ‘n baie belangrike beginsel in die wyse en proses van ons beoordeling. Ek kan nie as ‘n Christen iemand anders beoordeel, as ek nie eers baie diep en indringende selfondersoek gedoen het nie!

Wanneer ek ware selfondersoek doen en die Heilige Gees wys vir my ook die “balk in my eie oog”, dan moet ek die Here eers om vergewing smeek en pleit dat Hy my bekeer, sodat ek my kan bekeer.

Hierdie tipe selfondersoek verhoed my om direk “op my perdjie te spring” en iemand ligtelik te oordeel en selfs te veroordeel. Hierdie selfondersoek sal maak dat daar eers tyd verloop waartydens ek my saak voor die Here stel, voordat ek my beoordeling van ‘n ander bekendmaak.

Moenie die vonnis-lyn oorskry nie!

Iets wat ons deeglik moet besef, is dat ons reg en roeping om te oordeel baie duidelike grenslyne bevat. Ja, ons moet oordeel, beoordeel, onderskei en reg laat geskied, maar ons kan nie en mag nooit iemand vonnis nie.

Natuurlik het die regters in die howe en die regering die reg om iemand bv. tot tronkstraf te vonnis ensovoorts, maar geen mens het die mag of reg om iemand te vonnis tot die hel nie.

Ons kan wel uitspraak lewer en opmerk dat iemand baie sekerlik die vrugte dra van ‘n ongelowige, of ‘n valse profeet is, maar ons mag nooit die lyn oorkruis en self daardie persoon veroordeel en verdoem nie. Dit is die magsterrein van God self. God self sal oordeel op die laaste dag.

Christelike beoordeling, onderskeiding en die gevolglike uitsprake, is alles behalwe wraak neem! Dit mag nooit tot op daardie punt vorder nie.

Dit gebeur so dikwels dat ons in ‘n debat betrokke raak (veral op sosiale media!), maar dan verloor ons heeltemaal perspektief en ons lewer net kommentaar om die laaste hou in te kry.

Dit is wraak neem, en dit is nie waartoe ons geroep is nie. Romeine 12:19: “Moenie self wraak neem nie, geliefdes, maar laat dit oor aan die oordeel van God. Daar staan immers geskrywe: “Dit is my reg om te straf; Ék sal vergeld,” sê die Here.”

5. Geestelik volwassenes oordeel gesond

‘n Laaste gedagte in ons gesprek oor die gelowiges se taak om te oordeel, is ons verantwoordelik om geestelik volwasse te word.

Hebreërs 5:14 wys vir ons uit dat goeie onderskeidingsvermoë eie is aan ‘n geestelik-volwasse persoon. Iemand wat geestelik onvolwasse is, sukkel nog met die onderskeid tussen goed en kwaad en oordeel dikwels ook verkeerd.

Geestelike volwassenheid is daarom iets waarna ons moet streef, sodat ons ook gesond sal oordeel. My uitsprake en vermoë om te onderskei tussen reg en verkeerd verklap my geestelike ouderdom.

Om iemand se leer en lewe te beoordeel beteken dus nie dat ek sommer net lukraak iets kwytraak oor sy houding of optrede nie.

Om Christelik te beoordeel, beteken dat ek navors en observeer of die persoon se leer en lewe klop met die Waarheid.

Christelike beoordeling is nie ‘n verskoning om iemand sleg te sê nie. Christelike beoordeling en vermaning gebeur in liefde vir die Waarheid en liefde vir mekaar.

Ons het in hierdie tyd, sou ek sê, meer gelowiges nodig wat beoordeel en onderskei om verhoudings te herstel en dringende besluite te neem, ter wille van die Kerk en samelewing.

Elke gelowige – lidmate, ouderlinge, diakens, predikante ensovoorts het die roeping en verantwoordelikheid om versigtig te onderskei tussen waarheid en dwaling en moet dan ook uitspraak lewer!

Dikwels gebruik gelowiges die verskoning dat hulle nie mag oordeel nie, bloot omdat hulle lui of lafhartig is. Hulle is te lui om te ondersoek en die Skrif na te vors oor iemand se uitsprake. Of, hulle wil net nie die spreekwoordelike appelkar omgooi nie.

Wanneer ek nie streef na geestelike volwassenheid nie en wanneer ek skroom om te onderskei tussen waarheid en dwaling, abdikeer ek my roeping as koning.

6. Saamgevat

  • Elke gelowige moet oordeel. Dit wil sê hulle moet in geestelike volwassheid onderskei tussen waarheid en dwaling.
  • Om iemand se leer en lewe te beoordeel beteken nie ek lewer kommentaar op iets wat my irriteer nie. Dit beteken ek toets en onderskei of dit klop met die Woord – die Waarheid.
  • Gelowiges moet altyd beoordeel, maar nooit veroordeel nie.
  • Ons oordeelsvermoë is egter met sonde bevlek, en daarom moet ons weet:

Wat die doel is om te oordeel:

  1. Om verhoudings te herstel en dan
  2. Om ‘n besluit te neem (waar nodig)

Hoe ons moet oordeel:

  • Besef en bely: ook ek is voor God ‘n sondaar!
  • Eers moet ek myself ondersoek en bekeer, dan kan ek ‘n ander se leer en lewe beoordeel!
  • Ek kan en mag niemand tot die hel vonnis nie!

‘n Gelowige moet heers en ‘n heerser moet oordeel. Geen gelowige mag sy roeping om te oordeel prysgee nie!Wie is jy om nie te oordeel nie?

Marnix is tans predikant in die Gereformeerde Kerk Graaff-Reinet.

Vergewe, maar moet liefs nie vergeet nie!

Die afgelope paar weke is Jacaranda FM pal in die nuus. Oor die verkeerde redes. Martin Bester se konserte word gekanselleer en Tumi Murake is ‘n sensasie wat enersyds aangeval word vir haar uitlatings, maar andersyds geprys word vir haar dapperheid.

So is daar ‘n rassespanning in die land wat elke nou en dan opvlam, maar nes dinge tot bedaring kom, is daar weer die kleinste kooltjie wat die veldbrand van voor af aansteek. En dan is dit derms uitryg van vooraf – erger as die vorige keer. Van die doodskis-saak in Middelburg, tot die SPUR sage wat voortsleep, tot ‘n boikot van Jacaranda…

Verstaan my mooi, ek maak dit nie af as niks nie. Ek wil nie maak asof die land se geskiedenis nie gebeur het nie, en ek wil glad nie maak asof ek die ins en outs van elkeen se verhaal ken en verstaan nie.

Maar ek is moeg. Moeg bekommer oor die politieke strominge in die land, betogings en boikotte en naakte haat. Moeg vir die ras-kaart om elke nou en dan gespeel te word. Moeg om te moet wonder oor wanneer my herkoms teen my gebruik gaan word. Moeg om te wonder of ek en my kinders ‘n toekoms in die land het.

My vraag- en vergewe my as ek dan nou ‘n besondere komplekse saak oorvereenvoudig – Watter plek beklee vergifnis in die Suid-Afrikaanse samelewing? Ons sê ons vergewe, maar die houvas van die verlede op ons denke en dade is van dié aard dat ons dit net NOOIT afgeskud kan kry nie, maar eerder op ons kinders oordra.

Ek weet nie baie nie; soos my relaas tot dusver getuig – maar wat ek wel weet is dat geen samelewing op die trant kan aangaan nie.  ‘n Drukkoker kan net vir só lank druk opbou totdat die deksel afskiet…

Jesus Christus leer ons daarteenoor van vergifnis, vergifnis van dié aard dat dit selfs onmoontlik lyk om gehoor te gee aan sy bevel. Oor en oor en oor. In Matteus 18 vra Petrus ‘n vraag wat in daardie dae redelik belangrik was:

“Here, hoeveel keer moet ek my broer vergewe as hy iets verkeerds teen my doen? Selfs sewe keer?” (Matteus 18:21).

Die godsdienstige leiers van die dag het geleer dat dit genoeg is om jou naaste tot soveel keer as drie maal te vergewe.  Petrus se voorstel is reeds, volgens die destydse opvatting – baie meer genadig.

Selfs sewe maal.

Jesus se antwoord sou beslis, in die lig hiervan – ‘n groot skok veroorsaak het. Sewentig MAAL sewe.  Die punt is dan nou nie dat ‘n mens gaan boekhou van elke klein oortreding en fout van jou naaste en tot by 490 kom en dan ophou vergewe nie.

Sy punt word duidelik wanneer Hy dan die beeld gebruik van ‘n k(K)oning wat sy boeke nagaan en agterkom dat ‘n amptenaar hom ‘n geweldige bedrag skuld. Uiteraard is Matteus 18 se teks nie bedoel om eksegetiese gimnastiek mee gespeel te word nie – maar om die groter gedagte van ‘n onnoembare skuld en ‘n geweldige genadige vergifnis te teken.

Nietemin – letterlik staan daar in Matteus 18 dat die man die koning 10 000 talente geskuld het.  Dit kom neer op geld wat ‘n gewone dagloner soos hy 60 miljoen dae sou vat om te verdien.

Dít is sy skuld.  En sy pleidooi om vergifnis, sy versoek om uitstel dat hy alles sal betaal is lagwekkend.  Hy sal nooit kan nie. Tog skeld die koning uit loutere genade hom kwyt van die skuld.

Wanneer die amptenaar dan sy mede-amptenaar vir skuld van 600 000 keer KLEINER nie wil vergewe nie; word hy in die tronk gegooi om gemartel te word tot hy sy skuld betaal het.

Die betekenis is eenvoudig: Ons staan voor ‘n Almagtige God, wat met sy oë die fynste besonderhede van ons lewens ken.  Wat ons korrupte harte daagliks deursoek, wat weet wat ons dink – wat ons selfs vir mekaar wegsteek.  Wat na regte ons in die verdoemenis en oordeel waarin ons onsself gewerp het, moet laat.  Maar Hy het nie. Hy sal nie.

En nou staan dinge- weliswaar groot verskille- tussen mense. Tussen kulture, en dit bring skeiding en agterdog en pyn. Wanneer gaan ons omdraai en besef dat NIKS, ja inderdaad nie eers die sg. nalatenskap van apartheid genoegsame rede is om haat te bly aanblaas en koester nie. Dan kan ons nie luister na stemme wat sê dat daar eers restitusie in die vorm van die onderdrukking van die blanke moet wees voor alles nou OK is nie.

Dan kan ons nie die haat en rassisme en agterdog wat soos ‘n onkeerbare plaag deur ons samelewing spoel, langer verduur nie.Dit is nie wat praktiese Christenskap beteken nie. Vergifnis beteken nie dat die geskiedenis nie gebeur het nie.

Dit beteken dat om Christus te omarm, ek van my gewaande reg tot vergelding sal afstand doen. Dit beteken dat ek geënt in Christus- die strydbyl begrawe en besef dat alles wat ek het, genade is. Dat dit in ‘n oogwink van my weggeneem kan word.

Vergewe. Vergeet. Punt.

Jan-Louis is tans predikant by die Gereformeerde Kerk Brits

Depressiewe Gelowige

“Waarom is ek so in vertwyfeling en waarom kerm ek so?” (Psalm 42)

Depressie onder gelowiges is nie ‘n vreemde verskynsel nie. Inteendeel, vandag se leefstyl vereis so baie van ‘n mens, dat depressie al hoe meer in die lewe van gelowiges figureer. Baie belangrik: hierdie opstel gaan nie oor kliniese depressie bespreek nie, maar eerder die diep teneergedruktheid of “geestelike depressie” van ‘n gelowige wat perspektief verloor het as gevolg van die een of ander kortsigtige en kleingelowige benadering.

Wat is die geestelike depressie wat gelowiges beleef?
Miskien sou ‘n mens eerstens vra: kan gelowiges depressief raak? Die antwoord daarop is ongetwyfeld: Ja! Die Skrif gee vir ons talle voorbeelde van gelowiges wat geestelik depressief geraak het. Dink maar aan Job en die digter wat in Psalm 42:1 skryf: “Soos ‘n hert wat smag na waterstrome, so smag my siel na U, o God!”. Of Psalm 25:16: “Sien my in genade aan, Here, want ek is eensaam en verstote”. Of, nog duideliker, Prediker 2:17: “Daarom het ek die lewe gehaat, want die werk wat onder die son gedoen word, het my mishaag, omdat alles tevergeefs is en ‘n gejaag na wind”. Ja, gelowiges raak depressief (soms dikwels in hul lewe).

Met hierdie geestelike depressie wat gelowiges beleef, word nie kliniese depressie bedoel nie. Die depressie wat gelowiges so dikwels beleef is eerder ‘n teneergedruktheid, bitterheid of uitsigloosheid wat gelowiges beleef. Dikwels sê ‘n mens dan in sulke tye: “ek het perspektief verloor”. Hierdie gevoel gaan dikwels gepaard met ‘n hartseer en ontmoedige gevoel en ‘n magteloosheid en gewoonlik verloor ‘n mens self entoesiasme en lus vir die lewe. Die Bybel verskaf verskeie redes waarom depressie ‘n gelowige kan oorweldig (Manser, 2009): Omstandighede; vrees vir ander; vrees vir mislukking; ernstige skuldgevoelens oor sonde; ‘n gevoel van nutteloosheid of ‘n verlange na God se teenwoordigheid ensovoorts. Hoe moet gelowiges hierdie geestelike depressie hanteer? Hoe kan gelowiges weer uit die gat van geestelike depressie klim? Om hierdie vrae te beantwoord, word Psalm 42 nou bespreek.

Die geestelike depressie van die Koragiet
Die opskrif in die ‘33/’53 vertaling is heel gepas: heimwee na God. Die digter van hierdie Psalm was ‘n Koragiet (sien die oorsig oor die Psalm in Addendum A). Dit wil sê hy was lid van die koor wat in die tabernakel moes sing (2 Kron 20:19). Verder is daar nie meer inligitng oor die digter nie. Al wat verder duidelik word, is dat die Koragiet verlang na die Here. Hy smag na God (42:2). Die Psalm is ook ‘n “onderwysing”. Dit wil sê, die lied was bedoel om iets aan die hoorders te leer, terwyl dit daar in die tabernakel gesing word. Die Koragiet sukkel om die Here te vertrou te midde van al die moeites wat hy beleef (42:10). Hy wil voor God verskyn en sy smart aan God bekend maak, want Hy voel die Here is nie meer met hom nie. Daarom vra hy dat God hom nie vergeet nie (v9,10).

Die geestelike depressie van die Koragiet kan dus soos volg beskryf word: hy voel alleen in sy hartseer en onderdrukking van ander.

Die Koragiet se hantering van sy eie geestelike depressie
Soos wat ‘n mens deur die Psalm lees, beleef ‘n mens hoe die Koragiet met sy alleenheid en depressie worstel. In sy onderwysing by wyse van hierdie Psalm leer ‘n mens hoe die digter sy geestelike depressie hanteer:

Hy vra: “Hoekom?”
Is dit nie maar die natuurlike reaksie van enige mens in tye van swaarkry nie? Hy vra: “Hoekom?” So ook die Koragiet (‘n mens vergeet so dikwels dat die mense van die Bybel ook maar net mense was!).

Selfs gelowgies vra in tye van depressie: “Hoekom ek?” of, soos in die woorde van v10: “Waarom vergeet U my?” en “Waarom gaan ek in die rou deur die vyand se verdrukking?”
Dit is tog belangrik om raak te sien, dat die Koragiet deurentyd in gesprek is met God. Hy worstel met God ja, hy het allerlei vrae vir die Here, ja, maar hy keer nie sy rug op Hom nie! Hy dors na die Here, en weet dit is net die Here wat sy dors sal les.

Dit is normaal vir gelowiges om vir die Here te vra: “Hoekom?”, maar gelowiges moet onthou – God is goed! Daarom bevestig die digter ook God se goedheid vir homself: Hy bevestig vir homself God se goedheid In v8 druk die Psalmdigter sy swaarkry uit: dit voel vir hom asof die een golf na die ander oor hom slaan. Maar dan moet hy homself in hierdie tyd van depressie herinner: God is goed! Daarom volg v9 met ‘n maar. “Maar die HERE sal oordag sy goedertierenheid gebied”. In hierdie tyd van depressie leer die Koragiet: slegte omstandighede maak nie van God ‘n slegte God nie. “Die Here sal weer op ‘n dag sy trou laat blyk” (’83 vertaling). Hy onthou die goeie ou dae Die Koragiet kan getuig van God se goedheid, want hy herinner homself aan die “goeie ou dae”. V5 sê: “Hieraan wil ek dink en my siel uitstort in my: hoe ek gewoond was om voort te trek met die skare, hulle gelei het na die huis van God, met die stem van jubel en lof – ‘n feesvierende menigte!” In hierdie tyd van depressie dwing die digter homself om terug te dink aan die dae waar hy gelukkig was in die diens van die HERE.

Hy sing en bid
Tog erken hy dat dit nou nie meer goed gaan met hom nie. Dit voel vir hom asof sy siel binne-in homself omvou. Hier in v6, 12, vind ons ‘n goeie beskrywing van die gevoel van depressie en neerslagtigheid. Dit voel asof ‘n mens se siel neergebuig is; in jouself omgevou is en jy is onrustig. Daarom soek die digter weer hoop en rustigheid; hy wil nie meer kerm en kla nie! Al waar hy rustigheid vind is in die nag, wanneer hy sing en bid (v9). Hy sing en en roep om hulp. Hy dra sy gedagtes en smarte aan die Here op. Steeds is dit duidelik: die Koragiet draai nie kwaad sy rug op God nie, maar verlang na Hom en soek na Hom. Die Koragiet dors na die Heer (v1). ‘n Mens kry amper die gedagte dat die digter onophoudelik by die Here kerm!

Hy weet, die enigste plek waar hy rustig kan wees, is by die Here.
Selfs in die nag, wanneer alles om hom die stilste en die alleenste is, dan sing hy en bid tot die Here, die God van sy lewe.

Hy spreek tot sy eie siel
In die refrein van die Psalm vind ons elke keer hierdie gedagte: die Koragiet praat met homself (v6,12). Hy herhaal dit twee keer: hy preek vir homself! “Wat buig jy jou neer, o my siel, en is onrustig in my? Hoop op God…” Die Koragiet gooi nie sy hande omhoog en laat sy gedagtes maar die oorhand kry nie. Nee, voortdurend is hy in gesprek met homself: waarom is jy teneergedruk? Waarom kerm jy? Waarom is jy bitter? Wees stil! Hoop op God! Dit is asof die digter hier met sy sondige menslike natuur in gesprek tree, en aktief beheer daaroor neem.

Sy sondige mense-aard maak hom teneergedruk en depressief – hy wil alles laat vaar. Tog, neem hy beheer van sy siel – hy verkondig die verlossing van God aan homself!
Gelowiges van vandag se hantering van geestelike depressie
Psalm 42 leer dat die geestelike depressie wat gelowiges vandag beleef dikwels te danke is aan ‘n tekort aan hoop. Dikwels hoop ons nie meer op God nie. ‘n Mens raak verstrengel deur skuldgevoelens, vrese, omstandighede of vrees vir ander. Ons raak selfs hopeloos wanneer ander heeltyd jou geloof of jou God probeer aftakel (“Waar is jou God?” v4). Die Koragiet leer met Psalm 42 dat dit deel is van die mense-natuur, om te vra: “hoekom?”. Maar ‘n mens moet steeds met die Here in gesprek bly oor die dinge wat jou kwel. Dikwels luister jy te veel na jou sondegevalle self en praat te min met jouself. Jy heers nie oor jou gedagtes nie. Die Koragiet leer dat jy die verlossing van Christus aan jouself moet verkondig. Ons moet heers oor ons menslike natuur. Ons moet beheer neem van die geestelike depressie. Herinner jouself daaraan dat God waarlik goed is – dink aan die “goeie ou dae”. Bly in gesprek met God – sing en bid tot die Here; soek Hom op. Dors na die Here en smag na Hom!

Wanneer jy in ‘n tyd van geestelike depressie verkeer, kan jy maar ondersoek instel: jy het heelmoontlik jouself laat verval in ‘n toestand van hopeloosheid. Omstandighede maak jou hopeloos. Mislukking maak dat jy moed opgee oor die toekoms. Ernstige skuldgevoelens oor sonde maak dat jy vergeet dat Christus jou enigste hoop is – die “verlossing van jou aangesig” (42:12). Ja, dit gebeur soms, dit is deel van ons gevalle natuur en daarom moet ons in sulke tye ons “neergebuigde siel” aanspreek: waarom is jy depressief/teneergedruk/bitter? Hoop op God. My slegte situasie maak nie van God ‘n slegte God nie. Christus is die “verlossing van my aangesig en Hy is my God!” (42:12).

Marnix is tans predikant in die Gereformeerde Kerk Graaff-Reinet.

WhatsApp WhatsApp