Press "Enter" to skip to content

Kategorie: Lering

(Grieks: didaskalia). Dit verwys breedweg na lering en instruksie, oftewel dogma. Artikels, blogs en podsendings wat te make het met leerstellings in die Bybel, sal jy hoofsaaklik onder hierdie kategorie vind.

“Leer ons om te bid”

Ek dink die Here gee ons in hierdie tyd ‘n geleentheid om meer en meer oor die onderwerp van “gebed” te gesels en dit te ondersoek. Veral na aanleiding van al die gesprekke rondom Angus Buchan se gebedsdag (Lees meer hieroor: “My 2 sent oor Angus Buchan se 1 miljoen“).

Ons hoor gereeld hoe ons nie mag bid nie. Ons hoor watter tipe gebedsgeleenthede verkeerd en verwronge is, weens hierdie en daardie redes.

Daar is baie idees en baie verskille oor gebed:

  • hoe om te bid,
  • wat om te bid,
  • wanneer om te bid,
  • hoeveel moet of mag saambid ensovoorts.

Meeste mense kan aan redes dink hoekom iets van of in gebed nie reg is nie. Maar om heeltyd te sê wat verkeerd is, bring ons nog nêrens nie. Ek dink dit is ‘n baie slinkse strategie van Satan. Hy bevorder “net twisvrae…meer as stigting van God wat in die geloof is” (1 Tim. 1:4).

So, alhoewel dit uiters belangrik is dat ons die verkeerde moet uitwys en die gelowiges moet waarsku teen dwaalleer, is dit ewe-belangrik dat ons nie ongebalanseerde gesprekke voer nie.

Gesprekke waar ons bv. net fokus op die verkeerde maniere van bid. Dit is goed om te weet wat die verkeerde maniere is, maar dink en praat ook oor die regte maniere van bid.

Wat moet ons wél doen? Hoe moet ons wél bid?

En dit is graag wat ek hier wil doen. Ek wil ‘n paar gedagtes en riglyne noem oor die inhoud en vorm van ons gebede.

Hierdie artikel sê beslis nie alles wat gesê moet word nie, maar dit is ‘n poging om ons gesprekke rondom gebed en gebedsdae te ballanseer.

1. Gebed is onnatuurlik

Ek dink die rede waarom ons so sukkel met verskeie vrae rondom gebed, is omdat dit so uiters onnatuurlik vir die mens is. Dit is iets wat ons moet aanleer. Die dissipels vra tog vir Jesus: “Here, leer ons bid” (Luk. 11:1).

Ons moet leer om te bid. En, ons moet by Jesus leer om te bid.

Is gebed dan nie iets wat net natuurlik uit jou hart moet vloei nie?

Nee, want dan sou dit mos nie nodig wees vir Jesus om vir ons gebed te leer nie?

2. Leer wat gebed nie is nie

Jeremia 17:9 sê: “die hart is bedriegliker as enigiets anders, hy is ongeneeslik”.

‘n “Hartsgesprek” is nodig en het sy plek tydens ons gebed, maar eers nadat die Here my hart met Sy Gees versadig het.

Om net te sê en te bid wat natuurlik uit my hart vloei, is lewensgevaarlik. Dan verwar ons ons eie menslike wense, hoop en klagtes met gebed.

Om net te sê wat in jou hart is, is nog nie gebed nie. Gebed is ‘n gesprek met God, of my hart vol of leeg is. Geen mens kan dit op sy eie verrig nie. Hiervoor het ons Jesus Christus nodig, wat my in staat stel om te bid deur Sy Gees!

Gebed is nie nét die bekendmaak van alles in my hart nie.

3. Leer wat gebed wel is

‘n Kind leer praat, want haar pa praat met haar. Later praat sy ván haar pa en mét haar pa.

Net so leer ons om te praat, omdat God met ons gepraat het en steeds praat. Hy leer ons hoe om met Hom te praat en wat ons van Hom moet sê.

Soos ‘n kind stadig die woorde agter sy pa aansê; die uitspraak leer, die spelling oefen, net so praat ons agter ons hemelse Vader aan. Ons herhaal God se woorde. Ons leer die uitspraak van hemelse gebed.

Die Heilige Gees oefen ons harte in die skoon en suiwer taal van God self.

Die woorde van hierdie skoon en suiwer taal, wat ons so agter God aansê, vind ons in die Skrif. Die woorde wat van God af kom, word die woorde wat ons tot God bid.

Net deur die woorde van die Woord, is ons woorde waarlik gebed. So bid ons nie alleen nie, maar inderdaad saam met Jesus. Hy leer my bid. Ek praat agter Hom aan.

Deur die kragtige werk van die Gees, kan ek as kind van God, agter God self aanpraat. Die rykdom van God se Woord bepaal die woorde van my gebed, nie die armoede van my hart nie.

Die Onse Vader-gebed wat ons in Mattheus 6 vind, is vir ons die “model-gebed”. Met hierdie gebed leer Jesus ons om te bid. (Die Onse Vader is nie al wat ons mag bid nie, maar dit leer ons hoe die inhoud van ons gebede moet lyk).

Deur die kragtige werk van die Gees, kan ek as kind van God, agter God self aanpraat. Die rykdom van God se Woord bepaal die woorde van my gebed, nie die armoede van my hart nie. Click To Tweet

Christus leer vir ons ‘n patroon, wat ons in gedagte moet hou wanneer ons bid. Ek noem dit sommer die VVDV-patroon:

  • Verheerliking
  • Vergifnis
  • Dank
  • Vra

Hierdie verskillende fases van die gebed, vul ons in met die woorde wat ons in die Skrif vind.

Dit kan daarom baie sinvol en verrykend wees om te bid nadat jy ‘n gedeelte uit die Bybel gelees en bestudeer het. As ‘n voorbeeld gebruik ek graag 1 Korinthiërs 6.

Skryf vir jouself neer:

  • Wat leer ek in (bv.) 1 Kor. 6 oor God? Wie is Hy? Wat doen Hy?
  • Watter gebreke in my lewe wys hierdie Skrifgedeelte uit? Wat moet in my lewe verander?
  • Is daar iets in die Skrifgedeelte waarvoor ek God kan en wil dank?
  • Wat wil die Here hê moet ek van Hom vra, in hierdie teksgedeelte?

So lei die Skrif ons in ons gebede in en so lê die Heilige Gees Sy woorde in ons hart en mond.

Kom ons kyk na ‘n voorbeeld-gebed, nadat jy argumentsonthalwe 1 Korinthiërs 6 bestudeer het:

3.1. Verheerliking

Ons begin ons gebede deur Hom te verheerlik. Wat is daar wat Hy in Sy Woord vir jou uitgewys het, waarvoor jy Hom wil loof en prys?

As ek klaar 1 Korinthiërs 6 gelees het, kan ek in my gebed, die Here loof en prys en Hom verheerlik, omdat Hy Regter is oor alles en almal – Hy sal oordeel (6:1-3).

3.2. Vergifnis

1 Korinthiërs 6 lei my om te sien dat ek as gelowige eerder die onreg teenoor my moet verdra. Mede-gelowiges sleep mekaar nie voor die hof nie.

Die strydlustige gedagtes wat ek teenoor sekere mense en mede-gelowiges het, is verkeerd. God sal hulle oordeel volgens Sy goeie wil en wete (6:9).

In my gebed kan ek die Here vra om my te vergewe hiervoor.

3.3. Dank

1 Korinthiërs 6 is propvol beloftes en trooswoorde waarvoor ek die Here wil dank! In my gebed kan ek Hom dank vir:

  • die heerlike toekoms wat vir my as gelowige wag – ek sal saam met Christus regeer (6:2,3)!
  • dat Hy my opgewek het in ‘n nuwe lewe en dat my siel en liggaam aan Hom behoort (6:14).

Verder kan jy in jou gebed die Here ook dank vir Sy verhoring van vorige gebede, of Sy werking in jou lewe van elke dag.

3.4. Vra

As ek deur 1 Korinthiërs 6 lees en my gedagtes neerskryf, wil ek die Here vra vir:

  • geduld, sodat ek nie te gou oordeel en so in Sy gesagsveld probeer indring nie (6:1-3).
  • om my vergewingsgesind te maak (6:1-11).
  • hulp, bystand en bewaring van seksuele onreinheid (6:12-20), ensovoorts.

Hier kan jy ook in jou gebede jou eie persoonlike vrae, begeertes, nood en vreugdes aan die Here opdra. Hy luister!

Onthou Filippense 4:6: “Wees oor niks besorg nie, maar laat julle begeertes in alles deur gebed en smeking met danksegging bekend word by God.”

4. Die Heilige Gees, die Bybel en gebed

Wat vir ons duidelik moet word, is die feit dat gebed nie die natuurlike gedagtes van ons hart mag wees nie.

Gebed is iets wat die Heilige Gees ons aanleer.  Op die manier word ons ook verseker dat God luister en dat Jesus Christus vir ons intree.

Ons moet ons harte versadig met Sy Woord, sodat ons gebede ook versadig is met Sy Woord. Onthou, Hy oefen ons in die hemelse taal – jy kan dit nie vanself praat nie.

Ons is geneig om in ons gebede vas te steek by vrae en versoeke – ‘n lys van al ons begeertes. Daar is definitief ‘n plek daarvoor tydens gebed, maar Jesus leer ons dat selfs ons vrae versadig moet wees met dit wat Hy wil hê ons moet vra.

Gebed is ‘n gesprek tussen my en my hemelse Vader. In hierdie gesprek praat ek agter Jesus aan, met die woorde van Sy Woord. Deur Sy Heilige Gees leer Hy my om te bid met elke gebed.

In die lig van alles hierbo, kan ons nou ook ons gesprekke oor gebed voort sit en vra: wat is die inhoud van gebede op publieke massa-gebedsdae? Is dit ‘n “agter-God-aanpraat” geleentheid?

Gebed is ‘n gesprek tussen my en my hemelse Vader. In hierdie gesprek praat ek agter Jesus aan, met die woorde van Sy Woord. Deur Sy Heilige Gees leer Hy my om te bid met elke gebed. Click To Tweet

Marnix is tans predikant in die Gereformeerde Kerk Graaff-Reinet.

Lote in God se wingerd

“Ek is die ware wynstok” – Johannes 15:1

Jesus met sy dissipels oppad
Jesus is saam met Sy dissipels stadig maar seker oppad na die tuin van Getsemane, waar Hy sy laaste oomblikke sou deurbring voor die kruisiging. Oppad daarheen is Jesus gedurig besig om Sy dissipels voor te berei op dit wat wag.

Soos wat hulle in die rigting van die Olyfberg en die tuin van Getsemane stap, stap hulle verby en moontlik ook tussendeur verskeie wingerde. Soos wat hulle stap, is dit asof Jesus se beeld van ‘n wingerd, druiwe en lote heel natuurlik in die gesprek opkom. Ons weet dit is natuurlik nie toevallig dat Jesus hierdie beeld gebruik nie, want elke Woord wat Hy sê is die gewigtige Woord van God self!

Die wingerdstok en sy lote
By ‘n prieel, is daar gewoonlik een of twee stewige stamme wat uit die grond opkom en dan oor die prieel groei. In ‘n wingerd is daar ‘n wingerdstok/druiwestok, waaruit al die takke (lote) groei. En aan die lote groei die druiwe. Jesus sê, Hy is daardie stam, daardie stok van die wingerd, wat uit die grond kom en waaruit al die lote uitspruit.

God se nuwe wingerd
Die beeld van druiwe, wyn, wingerde en lote is ook glad nie vir die dissipels ‘n nuwe gedagte nie.

Jesus het sopas tydens die afgelope pasga-fees die Nagmaal ingestel waar hulle wyn gedrink het (Matt. 26). Jesus het daar verduidelik dat die wyn sy bloed voorstel. Hy, die egte Druiwestok, se bloed sal vloei, soos druiwe-wyn vloei. Maar, buiten dit, was die beeld van ‘n wingerd vir die Jode (Israeliete) ‘n nasionale simbool – hulle trots.

Op grond van Jesaja 5:7 het die Jode hulleself gesien as “die wingerd van die Almagtige”! Bloot die feit dat jy ‘n Jood was, het hulle gedink, beteken daarom dat jy aan God behoort. Jou identiteit as Israeliet, het hulle gedink, het hulle gered. Israel het hierdie selfvoldane idee gehad dat hulle outomaties verloste kinders van God is.

Hulle het hulle egter doof gehou vir die res van Jesaja 5, want daar sê die profeet dat die Vader die wingerd omgespit en versorg het en Hy het verwag dat dit goeie druiwe sal voortbring, maar, die wingerd Israel, het net suur druiwe voortgebring.

Jesaja profeteer dat die Israeliete ‘n mislukte wingerd was, omdat dit nie die vrug gedra het wat dit moes nie! Daarom sou God die wingerd vernietig en hulle in ballingskap wegvoer (wat ook gebeur het in die tyd van Jesaja).

Na hierdie verwoesting van die mislukte wingerd, sou daar ‘n tyd kom waar die Vader ‘n nuwe, goeie wingerdstok sal plant met lote wat baie goeie vrugte sal dra. Met Jesus se “Ek-is” uitspraak in Joh. 15:1, verklaar Hy dat Hy daardie einste, goeie wingerdstok van die Vader is! Hy is die begin van God se nuwe, goeie wingerd!

Wie is in God se wingerd?
Jesus sê “Ek is die ware wingerdstok”. Sy bloed moes soos wyn vloei, sodat almal wat dit drink en glo dat Hy God is, deel kan wees van die ware Wingerd!

Dit is hoekom ons hier oor-en-oor Jesus se oproep hoor: “Bly in My”. Daar is net een egte wingerdstok. Daar is net een ware wingerd van God. Die wingerd van God is nie net die Jode nie. Die wingerd van God is nie nét een spesifieke ras of volk nie. God se wingerd is net die wat soos ‘n loot in Jesus Christus ‘ge-ent’ is.

Ons mag nie hierdie gedagte koester dat ons om een of ander redeoutomaties die wingerd van God is nie! Jesus stel die voorwaarde as Hy sê: “bly in My” – dan eers is jy deel van God se wingerd. Die Kerk is God se wingerd. Die ware Kerk is hulle wat werklikwaar in Christus bly.

Terloops, hier sien ons so duidelik: alle gelowe is nie dieselfde nie. Alle paaie lei nie na die hemel nie. Net die wat in Jesus Christus alleen glo, is in God se wingerd.

Loot-wees is nie outomaties nie
Ondersoek vandag jouself en toets jou hart: is daar by jou die gedagte, dat jy om een of ander rede outomaties in God se wingerd is?

Dalk dink jy, dat jy outomaties deel is van God se wingerd, op grond van (om ‘n paar voorbeelde te noem):

  • jou velkleur
  • die gemeente waarin jy is
  • die feit dat jou oupa ‘n ouderling in die kerk was
  • jou goeie bydrae in die samelewing ens.

Die enigste voorwaarde om in God se wingerd te wees, stel Jesus self is om in Hom, die Wingerdstok te bly. Dit is net sulkes wat ware Christus-lote is.

Marnix is tans predikant in die Gereformeerde Kerk Graaff-Reinet.

7 Kenmerke van iemand wat vir die Here lief is

Op hierdie episode lys ek sewe Bybelse kenmerke van iemand wat vir die Here lief is.
Iemand het die Here lief, wanneer hy begeer om in die weg van die uitverkorenes te wandel. So ‘n persoon vertoon op die ou end gewoonlik hierdie 7 kenmerke:
1.  Hy het Christus lief en glo dat Jesus waarlik God is en mens geword  het.
2.  Hy hou die Here se wette en het berou en bekering teen sy eie  swakhede
3.  Hy het sy naaste daadwerklik lief
4.  Hy vier die sakrament van die Nagmaal
5.  Hy is ‘n meelewende lidmaat van ‘n plaaslike kerk
6.  Hy het die Waarheid lief
7.  Hy span sy hele wese in om die Here lief te hê

Marnix is tans predikant in die Gereformeerde Kerk Graaff-Reinet.

Wie is my naaste?

‘n Vraag wat soms te min aandag verdien is: “wie is my naaste nou eintlik?” Ek moet immers, as Christen my naaste liefhê! In hierdie episode kyk ons na Lukas 10 vir drie belangrike rigtingwysers om hierdie vraag te beantwoord:

(1) Luk. 10:29| Maar hy wou homself regverdig
(2) Luk. 10:36| Wie dan van hierdie drie, dink jy, was die naaste van hom wat onder die rowers verval het?
(3) Luk. 10:37| En hy antwoord: Hy wat barmhartigheid aan hom bewys het. Toe sê Jesus vir hom: Gaan en doen jy net so.

Wie is my naaste? Ons moet eerder vra: vir wie is ek ‘n naaste?

Marnix is tans predikant in die Gereformeerde Kerk Graaff-Reinet.

Die Heilige Gees stuur, lei en verbly

Die verhaal van Filippus en die hofdienaar van Etiopië is taamlik bekend; in elk geval baie interessant! In die gedeelte is die werk van die Heilige Gees, soos ook in die res van Handelinge, baie prominent:

Handelinge 8:26-40:

“En ‘n engel van die Here het met Filippus gespreek en gesê: Staan op en gaan na die suide op die pad wat afloop van Jerusalem na Gasa. Dit is ‘n eensame pad. Toe het hy opgestaan en gegaan. En daar was ‘n man van Ethiópië, ‘n hofdienaar, ‘n staatsamptenaar van Kandacé, die koningin van die Ethiópiërs, wat oor al haar skatte was en na Jerusalem gekom het om te aanbid. En hy was op die terugreis en het op sy wa gesit en die profeet Jesaja gelees.

Toe sê die Gees vir Filippus: Gaan daarheen en bly by daardie wa. En Filippus het daarheen gehardloop en hom die profeet Jesaja hoor lees; en hy sê: Verstaan u wel wat u lees? En hy antwoord: Hoe kan ek tog as niemand my die weg wys nie? Toe vra hy Filippus om op te klim en by hom te kom sit. En die gedeelte van die Skrif wat hy besig was om te lees, was dít: Soos ‘n skaap is Hy gelei om geslag te word, en soos ‘n lam wat stom is voor die een wat hom skeer, so maak Hy sy mond nie oop nie. In sy vernedering is sy oordeel weggeneem, en wie sal sy geslag beskrywe? Want sy lewe word van die aarde weggeneem.

En die hofdienaar antwoord en sê vir Filippus: Ek bid u, van wie sê die profeet dit, van homself of van iemand anders? En Filippus het sy mond geopen en van hierdie Skrif af begin en die evangelie van Jesus aan hom verkondig. En terwyl hulle voortreis op die pad, kom hulle by water; en die hofdienaar sê vir hom: Daar is water; wat verhinder my om gedoop te word? Toe sê Filippus: As u glo met u hele hart, is dit geoorloof. En hy antwoord en sê: Ek glo dat Jesus Christus die Seun van God is. En hy het beveel dat die wa moes stilhou; en hulle het altwee in die water afgeklim, Filippus en die hofdienaar; en hy het hom gedoop.

En toe hulle uit die water opklim, het die Gees van die Here Filippus skielik weggevoer, en die hofdienaar het hom nie meer gesien nie, want hy het sy weg met blydskap gereis. Maar Filippus is in Asdod gevind. En hy het die land deurgegaan en die evangelie verkondig in al die stede, totdat hy in Cesaréa gekom het.”

Drie aspekte van die werking van die Gees staan veral uit:

  1. Die Gees stuur
  2. Die Gees lei en
  3. Die Gees verbly

Die Gees stuur Filippus
Kom ons gaan staan vir ‘n oomblik in die skoene van Filippus. Wat baie opvallend is, is waarheen die Gees vir Filippus stuur.Hy stuur hom, sê :26 na ‘n stil, eensame pad. Hulle het dit destyds die “woestynpad” genoem. ‘n Droeë, gevaarlike en stil pad vanaf Jerusalem suidwaards in die rigting van Gasa. Daar was ook ‘n ander, meer gewilde en baie veiliger pad na Gasa – maar die Gees stuur nie Filippus op daardie pad nie. Filippus moet gaan na die eensame, woestynpad.

Sekerlik was dit vir hom ‘n vreemde opdrag. Dit maak tog nie sin nie? Waarom wegbeweeg uit die beskawing, uit die stedelike gebiede, waar al die mense is, na ‘n stil pad in die middel van nêrens? Filippus het glad nie verstaan wat op daardie pad sou gebeur nie – dit het eenvoudig nie sin gemaak om daarheen te gaan nie. Tog is hy gestuur en het gehoorsaam gegaan. En op die woestynpad sien hy toe ‘n wa! Enigiemand wat op ‘n wa gery het, was welgesteld – nie enigiemand kon ‘n wa bekostig nie! Dit was die wa van die hofdienaar uit Etiopië.

Weereens hoor Filippus die Gees; hy word gestuur: “Gaan en loop saam met daardie wa.” Die wa ry stadig genoeg, sodat die man op die wa kan lees. Hy lees hardop, soos dit die gewoonte was in daardie tyd. Filippus kan maklik opvang en stap langsaan die wa; Skielik verstaan hy waarom hy hierheen gestuur is, want hy hoor die man op die wa lees uit die boek Jesaja[1]! In die skoene van Filippus sien ons hoe hy gestuur word op die ongewone, onverstaanbare pad, om te doen wat die Gees wil hê hy moet doen!

Die Gees lei die hofdienaar
Kom ons gaan staan gou vir ‘n oomblik in die skoene van die hofdienaar op die wa. Dit was ‘n vermoeiende rys na Jerusalem. Hy is op soek na die God van die Jode. En hy is dringend, ernstig op soek na Hom! Maar, in Jerusalem aangekom was dit vir die Etiopiër heelwaarskynlik ‘n totale teleurstelling. Want, hy sou uitvind dat die wet van die Jode[2] sê, dat geen nie-Jood, geen heiden mag binne-in die tempel ingaan nie. Daar was ‘n gedeelte rondom waar die heidene mog ingaan, maar dit was steeds buite-om die tempel. Verder, het die Here ook die volgende bepaal in Deuteronomium: niemand wat ontman is, mag “in die vergadering van die HERE” nie ingaan nie. Die hofdienaar het hierdie reis aangepak om na die tempel te gaan – dalk sien of beleef hy die God van die Jode daar! Maar nou vind hy uit, dat hy as ontmande heiden, hoegenaamd geen toegang het tot die tempel nie.

Sy reis is ‘n teleurstelling. Moontlik voel hy as belangrike hofdienaar verneder en ook moedeloos. Daar is vir hom geen manier om naby aan God te kom nie. Hy is ver, uitgestoot, uitgewerp. Vir hom is daar geen kans op verlossing nie. Hy het moontlik in Jerusalem ten duurste die boekrol van Jesaja aangeskaf. Op sy terugreis het hy gelees, verder probeer uitvind hoe hy die God van Jerusalem kan vind! Hy kom toe af op die gedeelte in Jesaja 53. En skielik stap daar ‘n man langs sy wa! Dit was Filippus.

Filippus vra hom: “Verstaan u wat u lees”? Die hofdienaar moet erken. Hy verstaan nie. Hoe kan hy? “Hoe sou ek kon as niemand dit vir my uitlê nie?” Hy, die magtige, welgestelde hofdienaar van die koningin, vir wie niks onmoontlik is nie, selfs nie ‘n reis na Jerusalem nie, hy moet erken, hy het iemand nodig om hom te lei in die woorde van die profeet Jesaja!

Die Gees stuur Filippus, sodat hy die hofdienaar kan lei

Filippus moet hom lei om te sien dat Jesaja profeteer van Iemand anders, van Jesus Christus. “Soos ‘n skaap is Hy gelei om geslag te word; en soos ‘n lam wat stil is as hy geskeer word, het Hy nie sy mond oopgemaak nie. In sy vernedering het daar nie reg aan Hom geskied nie…” So is Jesus soos ‘n lam gelei om geslag te word. Hy is onskuldig veroordeel en nogtans het Hy nie sy mond oopgemaak nie, want wat met Hom gebeur was deel van God se ewige raadsplan. Hy, wat Jesus is, moet onskuldig en onregverdig beskuldig en verneder word. Hy moet die oordeel wat die mens toekom, dra. Ja, Hy wil dit dra! Hy word deur die goewerneur onskuldig verklaar, en tog skreeu die Jode “kruisig hom, kruisig hom!”

Die lam van God, Christus, word gegesel, geslaan, en uiteindelik gekruisig. “Wie sal van sy nageslag kan vertel? Sy lewe op aarde word beëindig.” Lees die hofdienaar verder in Jesaja. Jesus laat geen nageslag agter nie. Sy lewe word beëindig – wie sal van sy naam vertel? Hy laat geen nageslag agter nie. Amper soos die Etiopiër nie waar nie? As ontmande sal die hofdienaar geen nageslag agterlaat nie. Wie sal van sy naam vertel? Sy naam sal saam met hom sterf. En hierdie Jesus, wat ook geen nageslag gehad het nie? Het sy naam saam met Hom gesterf?

Luister wat sê Jesus self in Johannes 12:32: “En as Ek van die aarde af verhoog is, sal Ek almal na My toe trek”. Jesus Christus is onregverdig, onskuldig gekruisig, sodat hy die uitverkorenes sy kinders, sy nageslag sal noem. Hy het opgestaan uit die dood en opgevaar na die hemel. En daarna het Hy ook Sy Gees uitgestuur. Nou is Hy ‘n Vader vir Sy kinders. Sy nageslag is die gelowiges wat Hy na Hom toe trek. Wie sal van Sy Naam vertel? Hulle wat Sy Heilige Gees ontvang het, sal van Sy Naam vertel! Die Gees sal hulle stuur, die Gees sal hulle lei!

Die Heilige Gees stuur vir Filippus om die hofdienaar te lei in die Skrif. Die profesieë vertel van Christus!

Die Gees verbly gelowiges
Die hofdienaar word uiteindelik gedoop en hy het in blydskap verder gereis! Jesus Christus is aan hom geopenbaar, deur die kragtige werk van die Heilige Gees. Hy verstaan nou die profesieë! Enkele hoofstukke later in Jesaja 56 sou die hofdienaar ook die volgende woorde gelees het: “ ‘n Nie-Israeliet wat by die volk van die Here aangesluit het, moenie dink: die Here sal my van sy volk afsny nie. ‘n Ontmande moenie van homself dink: ek is maar ‘n droë boom nie. So sê die Here: Aan die ontmandes wat my sabbatte onderhou, wat kies vir wat Ek wil, en wat lewe volgens my verbond, aan hulle sal Ek in my tempel en aan sy mure ‘n teken gee, ‘n erenaam wat beter is as seuns en dogters. Ek sal aan sulke mense ‘n naam gee wat nie uitgewis sal word nie. Ek sal die nie-Israeliete wat by my volk aansluit om My te dien…vreugde gee in my huis van gebed…want my tempel sal uitgeroep word tot ‘n huis van gebed vir al die volke. Die Here my God wat die verstrooides van Israel bymekaarmaak, sê: Ek sal nog ander byvoeg by dié wat reeds bymekaargemaak is.”[3]

Díé profesie is besig om hier in Handelinge 8 in vervulling te gaan!! Die heiden-ontmande hofdienaar wat geen toegang kon kry tot die tempel nie, vir wie geen hoop op verlossing was nie het in Christus verlossing gevind! Die Here sal selfs vir hom ‘n erenaam gee, beter as ‘n nageslag! ‘n Naam wat in ewigheid nie uitgewis kan word nie! Jesus Christus, die die lam van Jes 53, is ook geoffer vir die Etiopiër, hy vorm nou deel van die tempel van God uit alle volke!

Die Here het vir hom vreugde gegee! Die Heilige Gees het hom verbly! Die Gees stuur, lei en verbly! Hoe onuitspreeklik groot is die Here, dat Hy presies weet waarheen mense gestuur moet word? Hoe almagtig is Hy, dat die profete deur die eeue geprofeteer het en vorentoe gewys het na ‘n Messias, ‘n Verlosser; na die Lam van God wat vir sondaarmense geslag sou word? Hoe wys is ons God, dat Hy nietige mense in die Skrif lei om Christus te vind?

Wanneer die Gees hierdie dinge vir ons oopmaak, kan gelowiges mos nie anders as om bly te wees nie! Die Gees verbly ons in die werke van Christus!

Hierdie Blye Boodskap uit Hand 8 is nogsteeds relevant vandag. Hoe?

Eerste word ons wat glo deur die Gees gestuur. En ons moet ons ook laat stuur.

Dit beteken dat ons eenvoudig getuig van wat ons glo in ons daaglikse situasie. By die huis, skool en werk. Ons word daar gestuur, al lyk dit nie vir ons altyd so nie. Onthou, die Here kan baie mense bereik selfs op eensame paaie. Hy kan die Evangelie oor die hele dorp, die hele land laat hoor uit die mond van enkele, nietige mense soos ons.

Tweedens moet ons ook mense lei, spesifiek lei in die Bybel om Jesus Christus raak te sien en te bely as hulle Verlosser en Saligmaker. En, ons moet nie net lei nie, maar ons ook laat lei.

Rykdom of armoede, hofdienaar of diaken, dit maak nie saak wat my status is of wie my lei nie – Ek moet my laat lei in die Skrif.

Derdens, is daar vir ons blydskap in ons verlossing!

Hierdie blydskap het jy dalk al geproe, of dalk nog nie. Tog moet ons sonder ophou aanhou om ywerig te soek na hierdie blydskap – soek die Here! Soek die blydskap van verlossing! Moet nie tevrede wees met aardse blydskap nie; deursoek die Skrif, vra vir leiding om ewige verlossingsblydskap te vind! Die Here stuur Sy Heilige Gees  om jou te lei of te laat lei, sodat jy die blydskap in Christus sal vind! So werk die Heilige Gees vandag nog sodat die Evangelie gehoor sal word selfs tot by die uithoeke van die hele wêreld!

Die Heilige Gees is besig om ons te stuur, te lei en te verbly!

Marnix is tans predikant in die Gereformeerde Kerk Graaff-Reinet.

WhatsApp WhatsApp