Press "Enter" to skip to content

Outeur: Jan-Louis Lee

Jan-Louis is tans predikant by die Gereformeerde Kerk Brits

Ware bekering beteken om Christus werklik te ken

17DIT sê en betuig ek dan in die Here, dat julle nie meer moet wandel soos die ander heidene ook wandel in die verdwaasdheid van hulle gemoed nie —

18mense wat verduisterd is in die verstand en vervreemd van die lewe van God deur die onkunde wat in hulle is vanweë die verharding van hulle hart;

19wat ongevoelig geword het en hulle oorgegee het aan die ongebondenheid om in hebsug allerhande onreinheid te bedrywe.

20Maar julle het Christus nie so leer ken nie,

21as julle ten minste van Hom gehoor het en in Hom onderrig is soos die waarheid is in Jesus:

22dat julle, wat die vorige lewenswandel betref, die oue mens moet aflê wat deur die begeerlikhede van die verleiding te gronde gaan,

23en dat julle vernuwe moet word in die gees van julle gemoed

24en julle met die nuwe mens moet beklee wat na God geskape is in ware geregtigheid en heiligheid. (Efesiërs 4:17-24)

Wanneer Paulus sy brief aan die Efesiërs skryf, dan het hy baie te sê oor die donker, onbekeerlike leefwyse van die heidene wat na die dood lei.

Efesiërs 4:17 sê die heidene wandel in die ‘verdwaasdheid van hulle gemoed’.

Daardie woord beteken tevergeefsheid, dit dra die gevoelswaarde van sinneloosheid.   Dit is leë gedagtes wat tot niks lei nie.

Dit koppel sterk aan ‘n skadelike, dodelike tipe gedrag.

Dit kom daarop neer dat die verstand van die heiden verdwaas is, en dat hy in onkunde God en sy genade verwerp.  Maar hierdie is nie ‘n per abuise verwerping van God nie.  Dit is nie iets wat per toeval gebeur, iets wat ‘n verskoonbare gebrek aan kennis is nie.

God openbaar Homself – so beaam Paulus dit elders in die Romeinebrief, duidelik en sigbaar dat die skepping en geskiedenis soos groot letters in ‘n boek is waaruit sy krag en almag DUIDELIK geken en gelees kan word (Romeine 1, NGB art 2).

Verwerp iemand dus vir God, dit sê die apostel duidelik: dan is hy van alle veronstkuldiging ontneem – want God se bestaan, sy soewereiniteit – is so duidelik soos daglig.

Boonop gaan hierdie gebrek aan kennis gepaard met harte wat verhard is teen God, teen sy wil (Efesiërs 4:18).  Hier roep ons as voorbeeld die optrede van die Farao in herinnering wat met die verharding van sy hart homself in die verdoemenis gedompel het.

Weereens is dit interessant om na die wortel van die woord ‘verhard’, te gaan kyk.  Dit beteken iets in die lyn van ‘dikker word’, om onsensitief vir gevoel te word, of hardkoppig te wees.

Verwerp iemand dus vir God, dit sê die apostel duidelik: dan is hy van alle veronstkuldiging ontneem – want God se bestaan, sy soewereiniteit - is so duidelik soos daglig! Click To Tweet

So teken Paulus die heiden se lewenswandel in Efesiërs 4:19 – ongevoelig vir enigiets, oorgegee aan onreinheid.  Dit is die afdraende pad waar jy dink dat geen mens, en ook nie God jou kan bind nie.

Die heidene se onsedelikheid – veral in Efese – was legendaries.  Tempelprostitusie, dronkenskap –noem maar op.

Growwe afgodaanbidding was aan die orde van die dag.

Donkerder as die swartste nag – dit is die heiden se oorgawe aan sy ‘aanbidding’, so erg dat egbreek, hoerery nie meer as immoreel beskou word nie.  Daar is maar een wet- en dis die wet van eie plesier.

‘n Mens sou vergewe word as jy by die aanhoor van hierdie woorde sou dink dat dit geskryf is oor die bose tyd wat nou ontvou:

  • ‘n Tyd waarin sonde ‘n taboe gedagte geraak het. Dis ‘n ‘terloopse oepsie’ wat ek gemaak het.
  • ‘n Tyd waarin die mantra van ‘liefde’ gepropageer word, want God aanvaar mos alle mense net soos wat hulle is.
  • Homoseksualiteit, saambly, ‘n kerkloosheid, belangeloosheid oor my medegelowiges, ‘n individualistiese tydsgees waar ek vir myself bepaal wat werk of nie werk nie, word die realiteit waarin ons leef.

“Maar dit is nie hoe julle Christus leer ken het nie…”

Efesiërs 4:20

Paulus beaam emfaties:  Julle het nie Christus leer ken, die vreugde van verlossing gesmaak, gesien hoe kragtig Hy bekering bewerk in die harte van mense …

net sodat julle kan bly voortleef soos stomme heidene nie.

Nee, julle het breedvoerig lering ontvang van Christus.

Julle is intens bearbei deur sy geroepe en gestuurde diensknegte.

Julle het in diepte onderrig ontvang.

Laat ons mooi besef wat die punt van hierdie betoog is, want dit is ‘n besondere belangrike spyker wat ingeslaan moet word:

  • Die Almagtige God van hemel en aarde het hulle geloof geskenk deur sy Gees.
  • Deur God se genade buig die Heilige Gees daagliks hulle wil om sodat dit belyn word met God se wil.
  • Hulle is volgelinge van Christus en NIE MEER volgelinge van die verleiding wat na die dood lei nie.

Dus: Hou dan op om te lewe soos julle vroeër gelewe het.

Die pad wat lei na die verderf, as ‘t ware daardie afgrond wat die heiden tegemoet stap (Psalm 1) – dit is nie meer julle pad nie.

Die Bybel teken hierdie daad van bekering as die uittrek van ‘n vuil kledingstuk. En daardie vuil kledingstuk word eenkant toe gegooi.

Sou dit vergesog wees om die besmeerde kleed van Jesaja 64:4 e.v hieraan te koppel?  Daardie eie geregtigheid, eie plan wat die mens maak om homself te verlos wat hy dan voor God probeer ophou as weg tot saligheid?

Ja, gooi weg die verkeerde lewenswandel, dit wat jou afgod geword het.  Draai om.   Jy is dood vir die lewenswandel wat na die verderf lei. Trek dit uit, gooi dit eenkant toe.  Sterf dit af.

Wat ook al jou afgod geword het – drank, onsedelikheid, oneerlikheid…

Dit wat jou skei van God.

Jy is dood vir die lewenswandel wat na die verderf lei. Trek dit uit, gooi dit eenkant toe. Sterf dit af. Click To Tweet

Met Efesiërs 4:20 in gedagte beaam ons hiermee:

  • Christus se bloed is nie vir my vergiet sodat ek in ‘n onheilige lewe kan bly voortstuur nie, maar juis dat ek dit deur sy genade kan oorwin.
  • ‘n Voortploeter in die ellende van sonde, is om Christus se genade te vertrap.
  • ‘n Voortleef in onheiligheid, onherkenbaar as gelowige en eerder wêreldgelykvormig te wees- is om Christus van voor af vas te nael aan die kruishout op Golgota.
    • Dit is ‘n houding wat in sataniese arrogansie sê: Ek ag Christus so gering, sy offer so niksseggend, so goedkoop – eintlik kragteloos, dat ek na Hom sal luister AS of WANNEER dit my pas.
    • En dan, wanneer ek besef dat ek nou nie eintlik leef soos dit hoort nie, dan het ek darem nog die skuiwergat dat ek myself weerhou van die Nagmaal; dan eet en drink ek darem nie ‘n oordeel oor myself nie.

Eindelik is so ‘n “Christenskap” ‘n verloëning van Christus.  Boonop lei dit tot ‘n lastering van God se Naam deur die heidene wat rondom ons leef.

Tog is ‘n gewisse sondebesef ‘n swaar las om te dra.  Dikwels lei sondebesef tot intense depressie.  Martin Luther het selfs geworstel met die gedagte van sy eie sonde.

Die Here eis egter nie ‘n skuldgevoel nie; maar opregte berou en standvastige bekering.

En dis die wonderlike nuus wat elkeen van ons dan vanuit Efesiërs moet hoor:  Die Here werk in die harte van sy kinders.

Hy begelei hulle, skenk hulle bekering en vergewe hulle ten volle vir hulle sondes.

Teenoor daardie verharde harte van die heidene, gee die Here harte van vlees, nuwe harte, wat rein en heilig is.

As die vuil kledingstuk dan weggegooi is, en ek van my eie geregtigheid gestroop is om my lewe buite myself in Christus te soek, dan besef ek die wonderlike:

Ek trek ‘n nuwe kleed aan.  Paulus sê in Efesiërs 4:24 dat ons die nuwe mens moet aantrek.  Eintlik: ‘laat julle met die nuwe mens beklee’.

Christus se geregtigheid word ‘vir ons aangetrek’.  Daarop roem ons. Daarop bou ons, as erfgename van die volle geregtigheid, afgesonder as God se eiendom wat nog elke dag voort bly stry en wag op die wederkoms.

 

(Kliek hier vir Radio Scriptura se potgooi oor Bybelse Bekering)

Jan-Louis is tans predikant by die Gereformeerde Kerk Brits

Huwelik en gesin: die Satan se stille aanslag op die kerk

Die dieptepunt van die probleem

‘n Mens kan vergewe word as jy sou dink dat hierdie woorde in die laaste maand of wat neergepen is:

“…die mense sal liefhebbers van hulleself wees, geldgieriges, grootpraters, trotsaards, lasteraars, ongehoorsaam aan hulle ouers, ondankbaar, onheilig, sonder natuurlike liefde, onversoenlik, kwaadsprekers, bandeloos, wreed, sonder liefde vir die goeie, verraaiers, roekeloos, verwaand, meer liefhebbers van genot as liefhebbers van God…”  (2 Timoteus 3:2-4).

Die Skrif waarsku ons inderdaad dat dinge swaar sal gaan in die laaste dae.

Veral wat politieke korrektheid betref, voel dit of daar om elke hoek en draai ‘n slaggat is wat vermy moet word.  Jy kan nie eens meer ‘n grap oor jouself maak, sonder dat iemand anders aanstoot neem nie.

En omdat menseregte die mantra van ons tyd geword het, heers die gedagte van die ‘soewereine eie-ek’, wat self sal bepaal wat goed en reg en aanvaarbaar is.

Nie God se wil nie; maar my eie.

Nie God se waarheid nie, maar universele waarheid waar almal mekaar maar moet aanvaar.

Die gedagte van diskriminasie word geherdefinieer: Waar die samelewing ‘n gebruik aanvaar het, ‘n siening koester, ‘n praktyk goedkeur, word dít normatief – en enige beswaar, veral godsdienstig van aard, word met minagting van die hand gewys.

Die vraag is: Hoe gemaak as die Skrifwaarheid wat ons bely, noodwendig met die samelewingsnorm in stryd kom?

Wat doen ek wanneer die belofte van Christus in Matteus 5:11 in my lewe ‘n realiteit raak:

Salig is julle wanneer die mense julle beledig en vervolg en valslik allerhande kwaad teen julle spreek om My ontwil…”?

Dit wil veral voorkom of die gesin wêreldwyd onder skoot kom soos die egskeidingskyfer aan die een kant die hoogte in skiet, en die definisie van wat ‘n huwelik is aan die ander kant in elke land geherinterpreteer word.

Dit behoort ons egter nie onkant te vang nie – dit is nie om dowe neute dat die Satan sy visier op die gesin en die huwelik gestel het nie.

Vernietig jy die huwelik, karring jy aan die huisgesin – dan het jy ‘n binnebaan na die kerk.  Dan kan jy in die gedagtes van mense die dodelike gif wat lewens vernietig toedien, dan kan jy op voetsoolvlak  die kerk vernietig.

William Hendriksen skryf hieroor: “No institution on earth is more sacred than that of the family. None is more basic.  As is the moral an religious atmosphere in the family, so will it be in the church, the nation, and society in general…” (2007:248).

Vernietig jy die huwelik, karring jy aan die huisgesin – dan het jy ‘n binnebaan na die kerk. Click To Tweet

Te sinies?  Kom ons toets dit vir ‘n oomblik.

God gebruik  (onder die baie ander) twee pragtige beelde om die kerk van Christus aan ons te verduidelik in die Skrif.

Die Bruid en die bruidegom en die huisgesin.  Twee beelde wat in ‘n sekere sin aan mekaar verwant is.

Die Bruidegom en die Bruid

In die Bybel ontwikkel die beeld van die Bruid en die Bruidegom regdeur die Ou Testament totdat dit ‘n hoogtepunt bereik in Openbaring met die Bruilofsmaal van die Lam.  In Jesaja 54:5 en 6, 62:5, Jeremia 3:20 en Hosea 2:19 word God voorgestel as die Bruidegom met die volk as die bruid.  Die beeldspraak word in Hooglied by uitstek voortgesit.

2 Korintiërs 11:2 en Efesiërs 5:22-33 teken die kerk in haar verlowingstyd aan die Bruidegom en moet sy haar troudag bereik sonder vlek of rimpeling – die toonbeeld van reinheid.  In Openbaring 19:7 sien ons hoe die bruid haar gereed gemaak het vir die Lam en hoe die Lam haar beklee met ‘rein en blink fyn linne…’

Die beeld word konsekwent gehandhaaf: ‘n Tipiese Joodse verlowing, waar die bruid en bruidegom wettig aan mekaar verbind is, maar waar die huwelikseremonie nog nie voltrek is nie.

In hierdie tydperk word die bruidskat bespreek en ander voorbereidings getref tot op die dag wat die troue dan plaasvind.  Op hierdie dag sou die bruidegom saam met sy vriende die bruid van haar ouerhuis na sy huis bring en ‘n huweliksfees volg.

Toegepas op die kerk en Christus:

In Christus is die bruid van ewigheid af uitgekies.  Deur die hele Ou Testament word die bruilof aangekondig.  Die Seun neem ons menslike vlees aan: dit verteenwoordig die verlowing.  Die bruidskat – of dan, die prys – dit word op Golgota betaal. Na hierdie interval waarin ons nou verkeer- wat maar ‘n kort rukkie in die oë van God is, keer die Bruidegom terug en vind die Bruilof van die Lam plaas.

Hendriksen (2007:514) skryf:  “The Church on earth yearns for this moment, so does the Church in heaven…”

Hoe mooi word hierdie voorbereiding nie vir ons in Openbaring geskets as die Bruidegom sy bruid met mooi, fyn linne beklee nie?  Die bruid wag in opgewonde afwagting vir die koms van die Bruidegom – sy is getrou in haar ywer en liefde en afgesonderdheid vir sy koms.  Dit is nog meer insiggewend as ‘n mens die kontras merk tussen die prostituut wat Openbaring 17 skets, in bont klere getooi wat haar onreinheid simboliseer.  Die prostituut word tot ondergang gebring, maar die Bruid word na Christus gebring om sy vrou te word.

Die huisgesin beeld ons verbintenis aan God en mekaar uit

Die beeld van die huisgesin ontwikkel ook vanuit die Ou Testament waar daar na die “huis van God” verwys word en Israel bedoel word. In Efesiërs 2:19 word die gelowiges die lede van die huisgesin van God genoem; en die intieme, nabye verhouding van die gelowiges onderling sowel as met God word daardeur uitgewys.

Hebreërs 3:6 sê: “Christus daarenteen is as Seun getrou oor die huis van God.  En ons is sy huis as ons maar net met moed en oortuiging bly vashou aan wat ons hoop…

1 Tessalonissense 2 gebruik pragtige gesinsmetafore om God se liefde vir ons te verduidelik.

Omdat die kerk aan Christus behoort en duurgekoop is deur sy bloed, is God ons Vader.  Die beeld van die huisgesin roep dan by elkeen in herinnering die innige verhouding wat daar tussen die lede van die huisgesin bestaan en verkondig aan ons dat net soos ons verhouding en verbintenis in die huis iets is wat ons nie kan kies nie; ons onlosmaaklik deel van God se huisgesin is.

Is dit aktueel?

Dus: die huwelik en die gesin vorm twee kardinale beelde wat die kernwaarheid van God se verlossing van ons en sy Eienaarskap oor ons verkondig:

  • Wie ontrou in sy diens aan die Here is, sal ontrou in sy huwelik wees en andersom.
  • Wie die werking van ‘n gesin minag, sal nie die geborgenheid van die gemeente ervaar nie – en andersom.

As die wêreld dan ‘n nuwe gesin; ‘n nuwe huwelik of ‘n ander norm aan ons verkondig – behoort ons dit sonder twyfel te verwerp en met die Skrif te beveg.

Ja, dit is ‘n opdraende stryd; wat al hoe moeiliker raak in ons tyd.

As die wêreld dan ‘n nuwe gesin; ‘n nuwe huwelik of ‘n ander norm aan ons verkondig – behoort ons dit sonder twyfel te verwerp en met die Skrif te beveg. Click To Tweet

Maar te veel verduur ons die propaganda wat subtiel ons huise insluip wanneer Sitkoms soos “Modern Family” en basies enige van die ander Hollywood-worsmasjien programme homoseksualiteit nie net as aanvaarbaar nie; maar normaal uitbeeld.  “I was born this way”, “Dit gaan nie oor geslag nie, maar liefde” en soortgelyke slagspreuke word in ons kele afgeforseer.  Deesdae het elke program ‘n “token gay guy”.  Daar is selfs sprake daarvan dat die geliefde Disney-koningin “Elsa” van Frozen, in die volgende uitgawe van die fliek homoseksueel gaan wees, en daar was groot gewag gemaak van die ‘gay’ toneel wat sogenaamd in die “Live Action” weergawe van Beauty and The Beast ingesluit is.  7de Laan het groot opspraak verwek in die laaste jaar met die eerste gay soen wat verfilm is op Afrikaanse TV, en die karakters van “Die Boekklub” op Kyknet was dierbare gesinsgenote in Suid-Afrikaners se sitkamers. En die verskriklike is: dit voel nie meer vir ons vreemd of verkeerd nie.

Selfs die ‘evangelis’ Gretha Wiid het alle geloofwaardigheid wat sy enigsens sou gehad het, verloor deurdat sy na ‘n uitgerekte rusie met die Menseregtekommissie die Bybelse waarheid oor die huwelik en gesin tragies verloën het.

Aan die ander kant van die spektrum gooi te veel egpare die handoek in en verbrokkel huwelikke wat eintlik nog in hulle kinderskoene is. 

Die punt is:  as die kerk van vandag nie hierdie waarheid ondubbelsinnig verdedig en moeite doen om die huwelike en gesinne in die kerk met die waarheid te bewapen nie; moet ons nie verbaas wees as die kerk begin leegloop nie.

Ons moet onverskrokke met ons afstandbehere begin stem:

Nee, ek sal nie toegee aan druk om die snert wat vir my opgedis word te kyk nie; en ek sal hand en tand stry om my kinders die gesonde leer van die Christelike huwelik en gesin te bly verkondig.

Ons moet onverskrokke met ons afstandbehere begin stem! Click To Tweet

Dit spoor ons dan verder aan:

  • Werk aan jou huwelik met die bruid of bruidegom wat God jou gegee het.
  • Spandeer tyd saam met jou gesin; investeer in die asempies wat jou soms met hulle veeleisende energie frustreer.

Doen dit met die Skrif in die hand; want of jy dit nou wil weet of nie – jou verhouding met die kerk – met die Bruidegom – is integraal deel van jou lewe.

Ja, mag ons deur die genade van God hierdie kritiese waarheid beskerm.

Jan-Louis is tans predikant by die Gereformeerde Kerk Brits

Jan-Louis is tans predikant by die Gereformeerde Kerk Brits

Vergewe, maar moet liefs nie vergeet nie!

Die afgelope paar weke is Jacaranda FM pal in die nuus. Oor die verkeerde redes. Martin Bester se konserte word gekanselleer en Tumi Murake is ‘n sensasie wat enersyds aangeval word vir haar uitlatings, maar andersyds geprys word vir haar dapperheid.

So is daar ‘n rassespanning in die land wat elke nou en dan opvlam, maar nes dinge tot bedaring kom, is daar weer die kleinste kooltjie wat die veldbrand van voor af aansteek. En dan is dit derms uitryg van vooraf – erger as die vorige keer. Van die doodskis-saak in Middelburg, tot die SPUR sage wat voortsleep, tot ‘n boikot van Jacaranda…

Verstaan my mooi, ek maak dit nie af as niks nie. Ek wil nie maak asof die land se geskiedenis nie gebeur het nie, en ek wil glad nie maak asof ek die ins en outs van elkeen se verhaal ken en verstaan nie.

Maar ek is moeg. Moeg bekommer oor die politieke strominge in die land, betogings en boikotte en naakte haat. Moeg vir die ras-kaart om elke nou en dan gespeel te word. Moeg om te moet wonder oor wanneer my herkoms teen my gebruik gaan word. Moeg om te wonder of ek en my kinders ‘n toekoms in die land het.

My vraag- en vergewe my as ek dan nou ‘n besondere komplekse saak oorvereenvoudig – Watter plek beklee vergifnis in die Suid-Afrikaanse samelewing? Ons sê ons vergewe, maar die houvas van die verlede op ons denke en dade is van dié aard dat ons dit net NOOIT afgeskud kan kry nie, maar eerder op ons kinders oordra.

Ek weet nie baie nie; soos my relaas tot dusver getuig – maar wat ek wel weet is dat geen samelewing op die trant kan aangaan nie.  ‘n Drukkoker kan net vir só lank druk opbou totdat die deksel afskiet…

Jesus Christus leer ons daarteenoor van vergifnis, vergifnis van dié aard dat dit selfs onmoontlik lyk om gehoor te gee aan sy bevel. Oor en oor en oor. In Matteus 18 vra Petrus ‘n vraag wat in daardie dae redelik belangrik was:

“Here, hoeveel keer moet ek my broer vergewe as hy iets verkeerds teen my doen? Selfs sewe keer?” (Matteus 18:21).

Die godsdienstige leiers van die dag het geleer dat dit genoeg is om jou naaste tot soveel keer as drie maal te vergewe.  Petrus se voorstel is reeds, volgens die destydse opvatting – baie meer genadig.

Selfs sewe maal.

Jesus se antwoord sou beslis, in die lig hiervan – ‘n groot skok veroorsaak het. Sewentig MAAL sewe.  Die punt is dan nou nie dat ‘n mens gaan boekhou van elke klein oortreding en fout van jou naaste en tot by 490 kom en dan ophou vergewe nie.

Sy punt word duidelik wanneer Hy dan die beeld gebruik van ‘n k(K)oning wat sy boeke nagaan en agterkom dat ‘n amptenaar hom ‘n geweldige bedrag skuld. Uiteraard is Matteus 18 se teks nie bedoel om eksegetiese gimnastiek mee gespeel te word nie – maar om die groter gedagte van ‘n onnoembare skuld en ‘n geweldige genadige vergifnis te teken.

Nietemin – letterlik staan daar in Matteus 18 dat die man die koning 10 000 talente geskuld het.  Dit kom neer op geld wat ‘n gewone dagloner soos hy 60 miljoen dae sou vat om te verdien.

Dít is sy skuld.  En sy pleidooi om vergifnis, sy versoek om uitstel dat hy alles sal betaal is lagwekkend.  Hy sal nooit kan nie. Tog skeld die koning uit loutere genade hom kwyt van die skuld.

Wanneer die amptenaar dan sy mede-amptenaar vir skuld van 600 000 keer KLEINER nie wil vergewe nie; word hy in die tronk gegooi om gemartel te word tot hy sy skuld betaal het.

Die betekenis is eenvoudig: Ons staan voor ‘n Almagtige God, wat met sy oë die fynste besonderhede van ons lewens ken.  Wat ons korrupte harte daagliks deursoek, wat weet wat ons dink – wat ons selfs vir mekaar wegsteek.  Wat na regte ons in die verdoemenis en oordeel waarin ons onsself gewerp het, moet laat.  Maar Hy het nie. Hy sal nie.

En nou staan dinge- weliswaar groot verskille- tussen mense. Tussen kulture, en dit bring skeiding en agterdog en pyn. Wanneer gaan ons omdraai en besef dat NIKS, ja inderdaad nie eers die sg. nalatenskap van apartheid genoegsame rede is om haat te bly aanblaas en koester nie. Dan kan ons nie luister na stemme wat sê dat daar eers restitusie in die vorm van die onderdrukking van die blanke moet wees voor alles nou OK is nie.

Dan kan ons nie die haat en rassisme en agterdog wat soos ‘n onkeerbare plaag deur ons samelewing spoel, langer verduur nie.Dit is nie wat praktiese Christenskap beteken nie. Vergifnis beteken nie dat die geskiedenis nie gebeur het nie.

Dit beteken dat om Christus te omarm, ek van my gewaande reg tot vergelding sal afstand doen. Dit beteken dat ek geënt in Christus- die strydbyl begrawe en besef dat alles wat ek het, genade is. Dat dit in ‘n oogwink van my weggeneem kan word.

Vergewe. Vergeet. Punt.

Jan-Louis is tans predikant by die Gereformeerde Kerk Brits

Kersfees?

Luisteraarsvraag: “Is Kersfees nie ook maar ‘n heidense fees, soos Halloween nie?”

powered by Advanced iFrame free. Get the Pro version on CodeCanyon.

Jan-Louis is tans predikant by die Gereformeerde Kerk Brits

WhatsApp WhatsApp