Wie is jy om nie te oordeel nie?

Outeur: ds. GM Boersema

Jy mag nie oordeel nie?

“Wie is jy om te oordeel!? Jy mag nie oordeel nie!”; “hou op oordeel – jy is skeinheilig!”; “jy noem jouself ‘n Christen, maar kyk net hoe oordeel jy!?”

Hierdie is tipies kommentaar wat ‘n mens sal kry op “godsdienstige” artikels of uitsprake. Wanneer iemand byvoorbeeld ‘n uitspraak lewer oor ‘n uitlating van ‘n predikant, of wanneer iemand “godsdienstige” kommentaar in die publiek (soos koerante, sosiale media) lewer.

Is dit geldig om vining iemand se mond te stop met ‘n opmerking dat hy nie mag oordeel nie?

Ek dink nie so nie - nie altyd nie.

Ek verstaan die Skrif so, dat gelowiges by uitstek die roeping en taak het om te oordeel!

1. Woordkeuses – oordeel? beoordeel? onderskei?

Met oordeel, bedoel ek spesifiek om iets te beoordeel in die lig van die Skrif. Dit gaan nie daaroor dat ‘n persoon gevonnis word nie, maar dat sy leer en lewe beoordeel word. Dit gaan in hierdie artikel daaroor dat die gelowige die taak het om oordeelkundig te luister/lees en te reageer.

Soos ek later ook noem, mag Christelike beoordeling nooit die lyn oorkruis om iemand te veroordeel en te verdoem nie. Meer hieroor, later.

2. Die mens se reg en roeping om te oordeel

Die woord in die Ou-Testament wat ons vertaal met “oordeel”, is dikwels die woord “mishpat”.

Mishpat is ‘n heerser se reg om uitspraak te lewer oor ‘n saak. Die heerser het die reg om te oordeel. Mishpat is ‘n reg wat die heerser toekom en wat hy ook moet beoefen.

Wanneer ‘n koning nie oordeel nie, dan sal daar chaos en wetteloosheid in sy koninkryk heers. Dit is vanselfsprekend; daarom is daar ook iets soos ‘n wet in elke koninkryk – iemand wat die wet oortree, staan onder die oordeel van die heerser. Mense moet tot verantwoording geroep word.

In die lig van hierdie mishpat as die reg en roeping van elke heerser, verstaan ek dat elke gelowige ook geroep is om te oordeel.

In Genesis 1:28, nadat God die mens geskape het, word die mens aangestel as heerser oor die aarde: “…onderwerp dit en heers daaroor”.

Die mens is aangestel as koning oor die aarde. Hiermee ontvang hy die reg en roeping om te oordeel.

Soos ons weet, het die menslike vermoë om te oordeel egter verwronge geraak na die sondeval (Genesis 3). Dit is hoekom ons vandag verkeerde uitsprake hoor en waarom ongeregtigheid hoogty vier.


Die Blye Boodskap is egter dat die Here ons herstel om te word wat Hy ons wil hê. Hy wil dat geregtigheid geskied. Hy wil dat ons goed en reg heers. Hy wil dat ons regverdig oordeel.

As die volk Israel telkemale afdwaal en ongeregtigheid laat seëvier in die Ou-Testament, dan hoor ons keer op keer hoe die profete roep: “bekeer julle, die dag van die Here is naby!” (Amos, Sefanja ensovoorts).

Die Here oordeel die volk se profete wat nie regverdige uitsprake lewer en beoordeel tussen waarheid en dwaling nie. “Sy profete is ligsinnig, trouelose manne, sy priesters verontreinig wat heilig is, hulle verkrag die wet” (Sefanja 3:5). Ligsinnige profete en priesters wat nie die wet handhaaf nie, is ‘n skande.

Onregverdige uitsprake en ongeregtigheid is misbruik van die mens se Godgegewe taak om te oordeel tussen reg en verkeerd. Ons, as gelowiges het dus steeds na die sondeval die reg en roeping om te oordeel.

Die gelowige is tog in die amp van priester, profeet en koning? As koning moet ons heers en oordeel en ons mag nie ligsinnige profete wees of priesters wat die wet verkrag nie!

Ook gelowiges se reg en roeping om te oordeel is met sonde bevlek, en daarom moet ons vanuit die res van die Skrif hoor wat die doel van ons beoordeling is en hoe ons moet oordeel.

3. Die doel van ‘n gelowige se reg en roeping om te oordeel

Die doel van ‘n gelowige se beoordeling is tweeledig:

  1. om verhoudings te herstel en dan
  2. om tot ‘n besluit te kom waar nodig

‘n Voorbeeld hier is 1 Korinthiërs 14:29: “Laat twee of drie profete spreek en die ander dit beoordeel”. Die beoordeling waarvan die apostel hier praat is om vas te stel of dit woorde van die profeet waar en reg is – dit is onderskeiding tussen waarheid en dwaalleer. Paulus skryf hierdie dinge sodat daar nie ‘n gees van wanorde en dwaalleer binne die gemeente ontstaan nie.

Die gemeente van Christus moet haarself orden en verseker dat die verhouding tussen die gemeente en God steeds gegrond en gevestig bly in die Waarheid van die Woord. Verder moet hulle ook verhoudings binne die gemeente (en besoekers in die gemeente) nie skade ly nie.

En as die woorde van die profete beoordeel word en dit as vals uitgewys word, wat dan? Wel, ter wille van onderlinge verhoudings en die hele gemeente se verbondsverhouding met God, moet daar ‘n definitiewe besluit geneem word om die valse leer en valse profete uit te wys en onder hulle uit te verwyder (1 Korinthiërs 5:13: “Verwyder tog dié slegte mens onder julle uit”).

As ek verstaan dat die versigtige beoordeling van iemand se leer en lewe eers gaan oor die herstel van verhoudings, dan sal ek ook nie onnodige en kleinlike kommentaar kwytraak nie.

As verhoudings vir my belangrik is, sal ek wel uitspraak lewer, maar net sê wat nodig en opbouend is. (Christene is immers 'n teenkultuur)

4. Hoe ‘n gelowige moet oordeel

Dit is hier waar ons as gelowiges so dikwels mistrap, want ons weet nie hoe om reg uitspraak te lewer of iets wat verkeerd is uit te wys en te oordeel nie.

Ons moet weet wat die Here sê oor die wyse waarop ons oordeel.

Besef en bely: ook ek is voor God ‘n sondaar!

Voor ek iemand se leer of/en lewe beoordeel, moet ek eers verstaan wie ek voor God is. Ek moet besef en bely dat ek net so sondig is soos die ander persoon. Daar moet by my eers baie deeglike selfondersoek en bekering plaasvind, voordat ek enigsins poog om uitspraak te lewer. Romeine 14:10: “Ons sal tog almal voor die regterstoel van God moet verskyn.”

My eie bekering gaan die beoordeling van ‘n ander vooraf

Ons moet verstaan dat ons roeping om te oordeel, ons nie die “moral high ground” gee nie. Dit is waarom Jesus in Lukas 6:41, 42 sê, dat ons eers die balk uit ons eie oog moet haal.

Dit is ‘n baie belangrike beginsel in die wyse en proses van ons beoordeling. Ek kan nie as ‘n Christen iemand anders beoordeel, as ek nie eers baie diep en indringende selfondersoek gedoen het nie!

Wanneer ek ware selfondersoek doen en die Heilige Gees wys vir my ook die “balk in my eie oog”, dan moet ek die Here eers om vergewing smeek en pleit dat Hy my bekeer, sodat ek my kan bekeer.

Hierdie tipe selfondersoek verhoed my om direk “op my perdjie te spring” en iemand ligtelik te oordeel en selfs te veroordeel. Hierdie selfondersoek sal maak dat daar eers tyd verloop waartydens ek my saak voor die Here stel, voordat ek my beoordeling van ‘n ander bekendmaak.

Moenie die vonnis-lyn oorskry nie!

Iets wat ons deeglik moet besef, is dat ons reg en roeping om te oordeel baie duidelike grenslyne bevat. Ja, ons moet oordeel, beoordeel, onderskei en reg laat geskied, maar ons kan nie en mag nooit iemand vonnis nie.

Natuurlik het die regters in die howe en die regering die reg om iemand bv. tot tronkstraf te vonnis ensovoorts, maar geen mens het die mag of reg om iemand te vonnis tot die hel nie.

Ons kan wel uitspraak lewer en opmerk dat iemand baie sekerlik die vrugte dra van ‘n ongelowige, of ‘n valse profeet is, maar ons mag nooit die lyn oorkruis en self daardie persoon veroordeel en verdoem nie. Dit is die magsterrein van God self. God self sal oordeel op die laaste dag.

Christelike beoordeling, onderskeiding en die gevolglike uitsprake, is alles behalwe wraak neem! Dit mag nooit tot op daardie punt vorder nie.

Dit gebeur so dikwels dat ons in ‘n debat betrokke raak (veral op sosiale media!), maar dan verloor ons heeltemaal perspektief en ons lewer net kommentaar om die laaste hou in te kry.

Dit is wraak neem, en dit is nie waartoe ons geroep is nie. Romeine 12:19: “Moenie self wraak neem nie, geliefdes, maar laat dit oor aan die oordeel van God. Daar staan immers geskrywe: "Dit is my reg om te straf; Ék sal vergeld," sê die Here.”

(Lees ook: "Wanneer mag ek kwaad word en wanneer nie?")

5. Geestelik volwassenes oordeel gesond

‘n Laaste gedagte in ons gesprek oor die gelowiges se taak om te oordeel, is ons verantwoordelik om geestelik volwasse te word.

Hebreërs 5:14 wys vir ons uit dat goeie onderskeidingsvermoë eie is aan ‘n geestelik-volwasse persoon. Iemand wat geestelik onvolwasse is, sukkel nog met die onderskeid tussen goed en kwaad en oordeel dikwels ook verkeerd.

Geestelike volwassenheid is daarom iets waarna ons moet streef, sodat ons ook gesond sal oordeel. My uitsprake en vermoë om te onderskei tussen reg en verkeerd verklap my geestelike ouderdom.

Om iemand se leer en lewe te beoordeel beteken dus nie dat ek sommer net lukraak iets kwytraak oor sy houding of optrede nie.

Om Christelik te beoordeel, beteken dat ek navors en observeer of die persoon se leer en lewe klop met die Waarheid.

Christelike beoordeling is nie ‘n verskoning om iemand sleg te sê nie. Christelike beoordeling en vermaning gebeur in liefde vir die Waarheid en liefde vir mekaar.

Ons het in hierdie tyd, sou ek sê, meer gelowiges nodig wat beoordeel en onderskei om verhoudings te herstel en dringende besluite te neem, ter wille van die Kerk en samelewing.

Elke gelowige – lidmate, ouderlinge, diakens, predikante ensovoorts het die roeping en verantwoordelikheid om versigtig te onderskei tussen waarheid en dwaling en moet dan ook uitspraak lewer!

Dikwels gebruik gelowiges die verskoning dat hulle nie mag oordeel nie, bloot omdat hulle lui of lafhartig is. Hulle is te lui om te ondersoek en die Skrif na te vors oor iemand se uitsprake. Of, hulle wil net nie die spreekwoordelike appelkar omgooi nie.

Wanneer ek nie streef na geestelike volwassenheid nie en wanneer ek skroom om te onderskei tussen waarheid en dwaling, abdikeer ek my roeping as koning.

6. Saamgevat

  • Elke gelowige moet oordeel. Dit wil sê hulle moet in geestelike volwassheid onderskei tussen waarheid en dwaling.
  • Om iemand se leer en lewe te beoordeel beteken nie ek lewer kommentaar op iets wat my irriteer nie. Dit beteken ek toets en onderskei of dit klop met die Woord – die Waarheid.
  • Gelowiges moet altyd beoordeel, maar nooit veroordeel nie.
  • Ons oordeelsvermoë is egter met sonde bevlek, en daarom moet ons weet:

Wat die doel is om te oordeel:

  1. Om verhoudings te herstel en dan
  2. Om ‘n besluit te neem (waar nodig)

Hoe ons moet oordeel:

  • Besef en bely: ook ek is voor God ‘n sondaar!
  • Eers moet ek myself ondersoek en bekeer, dan kan ek ‘n ander se leer en lewe beoordeel!
  • Ek kan en mag niemand tot die hel vonnis nie!

‘n Gelowige moet heers en ‘n heerser moet oordeel. Geen gelowige mag sy roeping om te oordeel prysgee nie!

Wie is jy om nie te oordeel nie?