Waar vind ek die ware kerk?

Wat is die ware kerk?
Voordat ons kan bepaal waar die ware kerk is, moet ons natuurlik eers weet wat die ware kerk is. Jongmense wat nog altyd in die kerk was, wonder dikwels op ‘n vroeë ouderdom of hulle in die kerk van hulle ouers moet bly en of hulle van kerk moet verander. Dikwels gebeur dit ook dat gelowiges verhuis of om verskeie ander redes dan van kerk moet verander. Hulle vra dan ook die vraag: waarheen nou? Nuut-bekeerde gelowiges moet ook vir hulleself uitmaak by watter kerk hulle hul gaan voeg.

Gelowiges wat erns maak met die Woord en kerk, vra egter nie net by watter kerk hulle moet aansluit nie, maar vra in besonder: watter kerk is die ware kerk? Sodat hulle hul daarby kan voeg. NGB Art 28 is immers duidelik hieroor:

“Ons glo...dat niemand, wat sy stand en status ook al is, hom in selftevredenheid van hierdie vergadering afsydig mag hou nie; inteendeel, almal is verplig om daarby aan te sluit en hulle daarmee te verenig om die eenheid van die kerk te bewaar deur hulle almal – as lede van een en dieselfde liggaam...”
Nou is dit egter so dat ons, regoor die wêreld, en dan ook in Suid-Afrika, heelwat denominasies vind. Om ons te voeg by die ware kerk, blyk daarom nie altyd ‘n maklike taak te wees nie. Juis om hierdie rede bely ons in NGB Art 29 dat ons “met groot oplettendheid uit die Woord van God” moet onderskei tussen ware en valse kerk. Ons mag nie op eie gevoel of oordeel besluit waar die ware kerk is nie. Eers moet ons kyk wat die Skrif en Belydenis daaroor leer.

NGB Artikel 29 noem die kenmerke van die ware kerk:
i) Wanneer die kerk die evangelie suiwer preek
ii) Die sakramente suiwer bedien soos Christus dit ingestel het en
iii) Die kerklike tug gebruik om die sondes te straf

“...kortom, wanneer almal hulle ooreenkomstig die suiwere Woord van God gedra, alles wat daarmee in stryd is verwerp en Jesus Christus as die enigste Hoof erken.” Dit geld as kenmerke vir ‘n plaaslike gemeente. Hierdie kenmerke word duidelik in die kerklike inrigting. Die ware kerk word egter nie net uitgeken aan haar inrigting nie, maar ook aan haar lidmate: “die lidmate van die ware kerk word uitgeken aan die kenmerke van die Christene, naamlik hulle geloof dat hulle die enigste Verlosser Jesus Christus aangeneem het en dat hulle daarna die sonde ontvlug, die geregtigheid najaag, die ware God en hulle naaste liefhet, nie na regs of links afwyk nie en hulle sondige natuur met sy werke kruisig” (NGB Art 29).

Om te bepaal wat die ware kerk is, beteken meer as net die afmerk van ‘n drie-punt lysie. Die ware kerk bestaan uiteraard ook uit ware gelowiges – uitverkorenes wat deur Christus self versamel en bewaar word (HKS 21). Opmerklik in Sondag 21, is die wyse waarop Christus die kerk versamel – deur sy Gees en Woord. Die ware kerk word nie versamel deur allerlei menseadvertensies nie. Die Gees en Woord is die samebindende, roepende krag van Christus. Juis daarom kan die kerk nie ware kerk wees as die Woord nie suiwer gepredik word nie. Die kerk waar die Woord nie suiwer gepreek word nie, verloor haar samebinding- en versamelkrag.

Ons kan ook soms in ons soeke na die ware kerk mismoedig raak; selfs begin dink dat die ware kerk nie meer te vinde is nie. Hierop antwoord Ursinus:

“The question what is the Church, presupposes its existence; so that there is no necessity for us to inquire whether there be a church? We may, however, merely remark, that there always has been, and ever will be, a church, including a greater or less number of members; because Christ always has been, and always will be, king, head and priest of the church.” (Ursinus, 1852:286).
Ursinus maak dit duidelik: so lank as wat God bestaan, sal die ware kerk as liggaam van Christus bestaan. Tussen al die sektes en valse kerke, bestaan die ware kerk wel. NGB 29 en HKS 21 is baie duidelik daaroor dat die ware kerk nie ‘n ideologie is nie en ook nie ‘n antieke gedagte nie. Die universele, ware kerk is ook plaaslik te vinde. En die gelowige moet hom as ware lidmaat van die ware kerk by die ware kerk ter plaatse, voeg.

Dit is duidelik dat Lina Spies se woorde: “die kerk is ook buite die kerk”, indruis teen Skrif en Belydenis. So ook Julien Müller se bewering dat “buitekerklikheid” ‘n nuwe soort “spiritualiteit is wat nie deur kerklike dogma ingeperk wil wees nie” (Beeld 26 Junie 2014). Spies, Müller en die wat soos hulle redeneer beskou die kerk as opsioneel. Hebreërs 10:25 is teen so ‘n moedswillige lewensstyl gekant:

“en laat ons ons onderlinge byeenkoms nie versuim soos sommige die gewoonte het nie, maar laat ons mekaar vermaan, en dit des te meer namate julle die dag sien ander kom.” (OAV).
Die ware kerk is deur-Christus-versamelde Christene, wat Christus as hul Hoof erken en daarom die Evangelie suiwer predik en uitleef; die sakramente bedien soos Christus dit ingestel het en die tug gebruik in naasteliefde. Die ware kerk is sigbaar en vindbaar.

Waar vind ons die ware kerk?
Die vanselfsprekende opvolg vraag is: as die ware kerk sigbaar en vindbaar is, watter een is dit? Is dit die Gereformeerde, NG, Metodiste of watter ander kerk ook al?

Ons bely, soos verwoord in die Apostoliese Geloofsbelydenis, dat die kerk (per implikasie die ware kerk) algemeen is. Ons bely dus die katolisiteit van die ware kerk. Dit wil sê, die ware kerk is oor die hele wêreld versprei en bestaan uit alle volke tale en nasies (Kleijn, 2013). Dít is die geheimenis wat deur Paulus bekend gemaak word in Efesiërs 1:9,10: “God het die geheimenis van sy wil aan ons bekend gemaak, soos Hy dit goedgedink en by Homself voorgeneem het, om...alle dinge in Christus onder een Hoof saam te bring...” (BDV).

Die Dordtse Leerreëls Hoofstuk 2, Artikel 5 onderstreep dit:

“Verder is dit die belofte van die evangelie dat elkeen wat in die gekruisigde Christus glo, nie verlore sal gaan nie maar die ewige lewe sal hê. Hierdie belofte moet aan alle volke en mense aan wie God na sy welbehae die evangelie stuur, sonder enige onderskeid verkondig en bekend gestel word, met die eis tot bekering en geloof.”

Uiteindelik kan ons dus sê, dat die liggaam van Christus nie geografies beperk is nie. Die ware kerk het nie grense nie. Op grond hiervan, mag ons ook nie sê dat nét die Gereformeerde Kerk of nét die Hervormde Kerk, of watter kerk dan ook, die ware kerk is nie. Met oortuiging kan ons erken dat die Gereformeerde Kerk wel deel van die ware kerk is, maar ons mag nie die ware kerk beperk en verskraal deur te sê dat nét die Gereformeerde Kerkverband die liggaam van Christus is nie. Daar is uitverkorenes in ander denominasies. Daar is gelowiges in ander kerke. Hierdie gelowiges staan egter onder die verpligting om vanuit die Woord te bepaal of die kerk waar hulle is, wel die ware kerk is.

“Binne die een kerk wat Christus oor die hele wêreld vergader, is daar ‘n gesonde veelvormigheid” (Kleijn, 2013).

Baie gelowiges bevind hulle ongelukkig ook baiekeer vir tyd en wyl in die plaaslike valse kerk. Die valse kerk sê “Here, Here!”, maar hulle sal nie “ingaan in die koninkryk van die hemele nie” (Matt 7:21). Daarom moet daar deeglik getoets en ondersoek ingestel word of die gemeente wel die “wil doen van...die Vader wat in die hemele is”. NGB Artikel 29 maak net onderskeid tussen die ware en die valse kerk - niks tussenin nie. “The church is either true, or false” (Ursinus, 1852:286).

Dit beteken dat die kerk óf die gesag van Christus erken of die gesag van Christus ontken. Die kerk is óf liggaam van Christus of die kerk vervolg die liggaam van Christus. Daar bestaan geen middeweg nie. In die praktyk, wanneer ons te make het met die plaaslike kerk, is dit wel vir ons moeilik om hierdie “swart-en-wit” onderskeid tussen ware en valse kerk te bepaal. Want, hoe gemaak met deformasie en dwaalleer wat uiting vind in die plaaslike kerk, wat na ons mening, ware kerk is?

Feenstra noem dat “ons nie op aarde moet soek na ‘n Kerk wat sonder enige vlek of rimpel is nie...

...daar is geen Kerk wat enkel uit gelowiges bestaan of wat nie moet stry teen die inwonende sonde nie” (1971:181).
Juis omdat die kerk uit sondegevalle mense bestaan, vind ons wel onsuiwerheid en deformasie in die kerk (Feenstra, 1971:181-182), ja selfs vir tyd en wyl in die ware kerk.

Onsuiwerheid in die kerk, is soos onkruid wat gedurig te voorskyn kom. Dit is die sonde wat dag-na-dag beveg en uitgetrek moet word. Deformasie of verbastering in die kerk, is wanneer ‘n kerk “openlik kant kies vir die verkeerde, vir die dwaling, sodat dit die dwaling offisieel vaslê” of wanneer ‘n kerk “die ampsdraers en lidmate vrylaat om te doen wat hulle wil: hulle kan die Woord suiwer bedien, maar hoef dit ook nie te doen nie” (Feenstra, 1971:181-182).

In beide hierdie gevalle is reformasie die enigste weg van herstel.

Indien die plaaslike kerk waar ons lidmate onbekeerlik verbaster of hardkoppig volhard in onsuiwerhede, mag ons nie langer deel wees van daardie gemeente nie.
Alhoewel ‘n gelowige dus in hart en wese ‘n uitverkore kind van God is, kan dit gebeur dat hy op aarde, op een of ander manier, deel raak van die valse plaaslike kerk. Die gelowige moet hom egter met alle dringendheid uit die valse kerk onttrek, omdat die valse kerk altyd vyandig is teenoor die ware kerk. “By referring to the church as false, we mean by it every assembly which arrogates unto itself the name of the Christian Chruch, but which, instead of following it, rather persecutes it” (Ursinus, 1852:286).

Eindelik kan ons die vraag vra: waar vind ons die ware kerk? Ons vind die ware kerk, enige plek op aarde, waar Christene wat Christus as Verlosser aangeneem het, die evangelie suiwer preek, die sakramente bedien soos Christus dit ingestel het en die tug gebruik om die sondes in naasteliefde te straf.

Die “soektog” na die ware kerk kan soms na ‘n ontmoedigende en uitmergelende proses klink. Artikel 29 van die NGB sê egter dat die ware en valse kerk “maklik uitgeken en van mekaar onderskei” kan word. Hierdie onderskeid is net vir hulle moontlik wat gehoor gee aan die eerste deel van die artikel. Onderskeid tussen die ware en valse kerk is slegs moontlik wanneer daar “sorgvuldig en met groot oplettendheid uit die Woord van God onderskei word”.

Om die ware kerk te vind behels dus sorgvuldige studie van die Woord en daarmee saam ook gehoorsaamheid aan die roeping om jouself by die ware kerk te voeg. Om die ware kerk te vind is maar een deel van die opdrag – om ons daarby te voeg, is die tweede deel van die roeping.

So word diegene wat hulle verdiep in die Skrif ook deur die Gees gedryf en gestuur na die ware kerk. Soos vroeër genoem is, is Woord en Gees die samebindende krag van die ware kerk. As ons nie moeite doen met die Skrif nie, kan ons ook nie verwag dat ons “outomaties” sal kan onderskei tussen die ware en valse kerk nie. Die Gees en Woord is onlosmaaklik verbind aanmekaar en daarom sal ‘n diepgaande studie in die Bybel ook gepaardgaan met die inwerking van die rigting-gewende Gees. Die Gees sal ons by die gemeente voeg waar ons waarlik algemeen en plaaslik deel sal wees van die ware kerk.

Het ek die ware kerk gevind?
Dit gebeur soms dat gelowiges erg ontnugter raak deur hulle eie sondes en die sondes van ander lidmate in die ware kerk. Hierdie ontnugterende tye laat gelowiges opnuut vra: ‘is ek dan wel in die ware kerk? Was ek nie dalk verkeerd toe ek hier lidmaat geword het nie? Dalk moet ek tog maar my attestaat aanvra na ‘n ander gemeente.’ Na ‘n lang soektog na die ware kerk, raak die sondes van lidmate in die nuutgevonde gemeente vinnig baie opvallend. ‘n Mens kan vinnig begin dink dat jy maar weer moet aanskuif, op soek na die ware kerk. Artikel 29 van die NGB waarsku egter ook hierteen:

“...ons sê nie dat daar nie nog groot swakheid in die lede van die ware kerk is nie; inteendeel, deur die Gees stry hulle juis al die dae van hulle lewe daarteen, terwyl hulle altyd weer hulle toevlug neem tot die bloed, die dood, die lyding en gehoorsaamheid van die Here Jesus Christus, in wie hulle deur die geloof in hom vergewing van hulle sondes het.”

Sondes sal daar dus altyd wees. Ons belydenis ontken dit nooit nie, inteendeel. Wat die ware kerk egter kenmerkend maak, is dat sy nooit vrede maak met die sondes nie, maar altyd daarteen stry. Juis omdat die ware kerk steeds oorlog moet voer teen die sonde, is die gebruik van die tug so noodsaaklik, en inderdaad ook ‘n merkteken van die ware kerk. ‘n Kerk wat die sonde laat vaar en nie meer “toevlug neem tot die bloed, die dood, die lyding en gehoorsaamheid van die Here” nie, is per implikasie nie die ware kerk nie. Sou ons ons plaaslik aansluit by die ware kerk en ons gewaar en beleef die sondes van lidmate, mag ons nie daarom die eerste beste geleentheid aangryp om weer te vertrek nie. Die behoud van die ware kerk lê juis in ons Geesgedrewe stryd teen die sondes en ons vermaning teen die sonde van ander.

Dit is belangrik om te sien, dat ‘n kenmerk van die ware kerk nie sondeloosheid is nie, maar sonde-haat. Die ware kerk is altyd strafbaar en moet haarself aan die tug van die Here Jesus onderwerp.
Ons, as lidmate van ‘n gemeente, moet altyd vra waar die plaaslike kerk haar gesag plaas. Lê die gesag in die Woord, of eien die gemeente aan homself meer gesag toe as die Woord van God? Die onderskeid tussen ware en valse kerk, lê in die onderwerping aan die gesag van Jesus Christus, aldan nie. Christus oefen sy gesag uit deur sy Woord. In die Gereformeerde Kerk het ons dan ook die Kerkorde wat reël hoe die gesag van Christus prakties in die gemeente uiting vind. Daarom kan ‘n mens sien, dat ‘n gemeente wat hom nie steur aan die kerkorde nie, haar ook nie steur aan die Woord, en daarom die gesag van Christus nie (du Plooy, 2012:1-8). Die wonder van die kerk is juis dat sy kan bestaan te midde van die sonde. Die sonde mag nie veroorsaak dat gelowiges kerklike betrokkenheid heeltemal prysgee nie. Dit is in wese roepingsversaking en ongehoorsaamheid en daarom in wese ook sonde. Nee, te midde van die sonde moet die ware kerk stry teen die Vader van die leuen – die dwaalleer van Satan en al sy magte.

Gelowiges wat hulle plaaslik voeg by die ware kerk moet ook volledig deel word daarvan. Hierdie deelname aan die kerk, noem ons die gemeenskap van die heiliges. Die gemeenskap van die heiliges, bely ons in Sondag 21 Vraag & Antwoord 55, is tweeledig. Dit beteken eerstens dat die gelowiges “almal saam en elkeen afsonderlik aan al die skatte en gawes van die Here Christus deel het.” Hierdie gemeenskap is dus eerstens iets wat ons reeds in Christus het. Ons is reeds as geheiligdes in Christus deel van sy liggaam; ingelyf as deel van die algemene, universele, ware kerk. Die tweede deel van Antwoord 55 verwoord dan ook ons plaaslike verpligting ten opsigte van ons gemeenskaplike verhouding met ander geheiligdes. “Elkeen is verplig om sy gawes gewillig en met vreugde tot nut en saligheid van die ander lede aan te wend”. Dit alles bely ons ten spyte van die sonde en ter wille van ons behoud as liggaam van Christus.

Die ware kerk kan nooit ‘n dooie, individualistiese of liefdelose “klub” wees nie. Die ware kerk is daar waar die gemeenskap van die heiliges beoefen word. “Eindelijk is de kerk christelijk: zij behoort Christus toe, Christus is er de Verlosser en de Koning van. Christus neemt dus in de kerk de eerste plaats in. Als de kerk daar werkelijk mee rekent, echt christelijk is, dan ademt in de kerk ook alles Christus, en is dit gevoelen in aller leven hetwelk ook in het Hoofd Christus Jezus was, dat een ieder niet ziet op het zijne, maar ziet op hetgeen des anderen is, en dat een ieder de ander uitnemender acht dan zichzelf” (Veldkamp, 1975:202).

Dit is so, dat ons dikwels ontnugter en mismoedig raak wanneer ons die sonde in al sy wreedheid in ons eie gemeente beleef. Dit is egter steeds nie te sê dat dit nie die ware kerk is nie. Die ware kerk word nie gekenmerk aan haar sondeloosheid nie, maar haar haat vir die sonde. Laastens moet ons onsself ook weer herinner aan ons belydenis van Sondag 21 Vraag en Antwoord 54: dat die “Seun van God..vir Hom ‘n gemeente wat tot die ewige lewe uitverkies is...vergader, beskerm en onderhou en dat ek daarvan ‘n lewende lid is en ewig sal bly.” Die Seun van God vergader, beskerm en onderhou nie net die ander lidmate nie, maar ook vir my. Ek is ‘n lewende lid van sy gemeente en ek sal dit ewig bly. Hoewel ek dus die verpligting het om die ware kerk te vind, my daarby te voeg en aktief die gemeenskap aldaar te beoefen, is my lidmaatskap van die ewige, algemene, ware kerk in Christus vas en seker. Dit gee ons moed en vasberadenheid om te midde van die sonde in die kerk, steeds die eenheid van die plaaslike kerk en die eer van God daar te soek. Dit gee ons ook die krag om op te staan teen die sonde, want niks en niemand kan my naam uit die ‘lidmaatregister’ van die ware kerk uitkrap nie.

Die kerk is strydend op aarde, maar alreeds triomferend in ons Here Jesus.
“De strijdende Kerk is de vergadering van de geloovigen op de aarde en de triumfeerende Kerk is de vergadering van de geloovigen in den hemel” (Feenstra, 1966:288). Die strydende kerk triomfeer daagliks, maar die onsigbare, hemelse, triomferende kerk is steeds besig met die aardse, plaaslike stryd (Feenstra, 1966:288). Dit is in hierdie “reeds, maar nog nie bedeling" waarin ons onsself bevind, terwyl ons die Satan en al sy magte in die geloof trotseer.

In hierdie stryd weet en bely ons: Christus, die Hoof, sal nooit sonder ‘n liggaam wees nie; en sy liggaam sal nooit sonder Hom, sy Hoof, wees nie.

-Outeur: ds. GM Boersema