Vergewe, maar moet liefs nie vergeet nie!

Outeur: ds. JL Lee

Die afgelope paar weke is Jacaranda FM pal in die nuus. Oor die verkeerde redes. Martin Bester se konserte word gekanselleer en Tumi Murake is ‘n sensasie wat enersyds aangeval word vir haar uitlatings, maar andersyds geprys word vir haar dapperheid.

So is daar ‘n rassespanning in die land wat elke nou en dan opvlam, maar nes dinge tot bedaring kom, is daar weer die kleinste kooltjie wat die veldbrand van voor af aansteek. En dan is dit derms uitryg van vooraf – erger as die vorige keer. Van die doodskis-saak in Middelburg, tot die SPUR sage wat voortsleep, tot ‘n boikot van Jacaranda…

Verstaan my mooi, ek maak dit nie af as niks nie. Ek wil nie maak asof die land se geskiedenis nie gebeur het nie, en ek wil glad nie maak asof ek die ins en outs van elkeen se verhaal ken en verstaan nie.

Maar ek is moeg. Moeg bekommer oor die politieke strominge in die land, betogings en boikotte en naakte haat. Moeg vir die ras-kaart om elke nou en dan gespeel te word. Moeg om te moet wonder oor wanneer my herkoms teen my gebruik gaan word. Moeg om te wonder of ek en my kinders ‘n toekoms in die land het. 

My vraag- en vergewe my as ek dan nou ‘n besondere komplekse saak oorvereenvoudig – Watter plek beklee vergifnis in die Suid-Afrikaanse samelewing? Ons sê ons vergewe, maar die houvas van die verlede op ons denke en dade is van dié aard dat ons dit net NOOIT afgeskud kan kry nie, maar eerder op ons kinders oordra.   

Ek weet nie baie nie; soos my relaas tot dusver getuig – maar wat ek wel weet is dat geen samelewing op die trant kan aangaan nie.  ‘n Drukkoker kan net vir só lank druk opbou totdat die deksel afskiet… 

Jesus Christus leer ons daarteenoor van vergifnis, vergifnis van dié aard dat dit selfs onmoontlik lyk om gehoor te gee aan sy bevel. Oor en oor en oor. In Matteus 18 vra Petrus ‘n vraag wat in daardie dae redelik belangrik was:

“Here, hoeveel keer moet ek my broer vergewe as hy iets verkeerds teen my doen? Selfs sewe keer?” (Matteus 18:21).

Die godsdienstige leiers van die dag het geleer dat dit genoeg is om jou naaste tot soveel keer as drie maal te vergewe.  Petrus se voorstel is reeds, volgens die destydse opvatting – baie meer genadig. 

Selfs sewe maal.

Jesus se antwoord sou beslis, in die lig hiervan – ‘n groot skok veroorsaak het. Sewentig MAAL sewe.  Die punt is dan nou nie dat ‘n mens gaan boekhou van elke klein oortreding en fout van jou naaste en tot by 490 kom en dan ophou vergewe nie.

Sy punt word duidelik wanneer Hy dan die beeld gebruik van ‘n k(K)oning wat sy boeke nagaan en agterkom dat ‘n amptenaar hom ‘n geweldige bedrag skuld. Uiteraard is Matteus 18 se teks nie bedoel om eksegetiese gimnastiek mee gespeel te word nie – maar om die groter gedagte van ‘n onnoembare skuld en ‘n geweldige genadige vergifnis te teken.

Nietemin – letterlik staan daar in Matteus 18 dat die man die koning 10 000 talente geskuld het.  Dit kom neer op geld wat ‘n gewone dagloner soos hy 60 miljoen dae sou vat om te verdien.

Dít is sy skuld.  En sy pleidooi om vergifnis, sy versoek om uitstel dat hy alles sal betaal is lagwekkend.  Hy sal nooit kan nie. Tog skeld die koning uit loutere genade hom kwyt van die skuld. 

Wanneer die amptenaar dan sy mede-amptenaar vir skuld van 600 000 keer KLEINER nie wil vergewe nie; word hy in die tronk gegooi om gemartel te word tot hy sy skuld betaal het.

Die betekenis is eenvoudig: Ons staan voor ‘n Almagtige God, wat met sy oë die fynste besonderhede van ons lewens ken.  Wat ons korrupte harte daagliks deursoek, wat weet wat ons dink – wat ons selfs vir mekaar wegsteek.  Wat na regte ons in die verdoemenis en oordeel waarin ons onsself gewerp het, moet laat.  Maar Hy het nie. Hy sal nie.

En nou staan dinge- weliswaar groot verskille- tussen mense. Tussen kulture, en dit bring skeiding en agterdog en pyn. Wanneer gaan ons omdraai en besef dat NIKS, ja inderdaad nie eers die sg. nalatenskap van apartheid genoegsame rede is om haat te bly aanblaas en koester nie. Dan kan ons nie luister na stemme wat sê dat daar eers restitusie in die vorm van die onderdrukking van die blanke moet wees voor alles nou OK is nie. 

Dan kan ons nie die haat en rassisme en agterdog wat soos ‘n onkeerbare plaag deur ons samelewing spoel, langer verduur nie.Dit is nie wat praktiese Christenskap beteken nie. Vergifnis beteken nie dat die geskiedenis nie gebeur het nie.

Dit beteken dat om Christus te omarm, ek van my gewaande reg tot vergelding sal afstand doen. Dit beteken dat ek geënt in Christus- die strydbyl begrawe en besef dat alles wat ek het, genade is. Dat dit in ‘n oogwink van my weggeneem kan word.

Vergewe. Vergeet. Punt.

Deel die artikel met jou vriende!