"Leer ons om te bid"

Outeur: ds. GM Boersema

Ek dink die Here gee ons in hierdie tyd ‘n geleentheid om meer en meer oor die onderwerp van “gebed” te gesels en dit te ondersoek. Veral na aanleiding van al die gesprekke rondom Angus Buchan se gebedsdag (Lees meer hieroor: "My 2 sent oor Angus Buchan se 1 miljoen").

Ons hoor gereeld hoe ons nie mag bid nie. Ons hoor watter tipe gebedsgeleenthede verkeerd en verwronge is, weens hierdie en daardie redes.

Daar is baie idees en baie verskille oor gebed:

  • hoe om te bid,
  • wat om te bid,
  • wanneer om te bid,
  • hoeveel moet of mag saambid ensovoorts.

Meeste mense kan aan redes dink hoekom iets van of in gebed nie reg is nie. Maar om heeltyd te sê wat verkeerd is, bring ons nog nêrens nie. Ek dink dit is ‘n baie slinkse strategie van Satan. Hy bevorder “net twisvrae…meer as stigting van God wat in die geloof is” (1 Tim. 1:4).

So, alhoewel dit uiters belangrik is dat ons die verkeerde moet uitwys en die gelowiges moet waarsku teen dwaalleer, is dit ewe-belangrik dat ons nie ongeballanseerde gesprekke voer nie.

Gesprekke waar ons bv. net fokus op die verkeerde maniere van bid. Dit is goed om te weet wat die verkeerde maniere is, maar dink en praat ook oor die regte maniere van bid.

Wat moet ons wél doen? Hoe moet ons wél bid?

En dit is graag wat ek hier wil doen. Ek wil ‘n paar gedagtes en riglyne noem oor die inhoud en vorm van ons gebede.

Hierdie artikel sê beslis nie alles wat gesê moet word nie, maar dit is ‘n poging om ons gesprekke rondom gebed en gebedsdae te ballanseer.

1. Gebed is onnatuurlik

Ek dink die rede waarom ons so sukkel met verskeie vrae rondom gebed, is omdat dit so uiters onnatuurlik vir die mens is. Dit is iets wat ons moet aanleer. Die dissipels vra tog vir Jesus: “Here, leer ons bid” (Luk. 11:1).

Ons moet leer om te bid. En, ons moet by Jesus leer om te bid.

Is gebed dan nie iets wat net natuurlik uit jou hart moet vloei nie?

Nee, want dan sou dit mos nie nodig wees vir Jesus om vir ons gebed te leer nie?

2. Leer wat gebed nie is nie

Jeremia 17:9 sê: “die hart is bedriegliker as enigiets anders, hy is ongeneeslik”.

‘n “Hartsgesprek” is nodig en het sy plek tydens ons gebed, maar eers nadat die Here my hart met Sy Gees versadig het.

Om net te sê en te bid wat natuurlik uit my hart vloei, is lewensgevaarlik. Dan verwar ons ons eie menslike wense, hoop en klagtes met gebed.

Om net te sê wat in jou hart is, is nog nie gebed nie. Gebed is ‘n gesprek met God, of my hart vol of leeg is. Geen mens kan dit op sy eie verrig nie. Hiervoor het ons Jesus Christus nodig, wat my in staat stel om te bid deur Sy Gees!

Gebed is nie nét die bekendmaak van alles in my hart nie.

3. Leer wat gebed wel is

‘n Kind leer praat, want haar pa praat met haar. Later praat sy ván haar pa en mét haar pa.

Net so leer ons om te praat, omdat God met ons gepraat het en steeds praat. Hy leer ons hoe om met Hom te praat en wat ons van Hom moet sê.

Soos ‘n kind stadig die woorde agter sy pa aansê; die uitspraak leer, die spelling oefen, net so praat ons agter ons hemelse Vader aan. Ons herhaal God se woorde. Ons leer die uitspraak van hemelse gebed.

Die Heilige Gees oefen ons harte in die skoon en suiwer taal van God self.

Die woorde van hierdie skoon en suiwer taal, wat ons so agter God aansê, vind ons in die Skrif. Die woorde wat van God af kom, word die woorde wat ons tot God bid.

Net deur die woorde van die Woord, is ons woorde waarlik gebed. So bid ons nie alleen nie, maar inderdaad saam met Jesus. Hy leer my bid. Ek praat agter Hom aan.

Deur die kragtige werk van die Gees, kan ek as kind van God, agter God self aanpraat. Die rykdom van God se Woord bepaal die woorde van my gebed, nie die armoede van my hart nie.

Die Onse Vader-gebed wat ons in Mattheus 6 vind, is vir ons die “model-gebed”. Met hierdie gebed leer Jesus ons om te bid. (Die Onse Vader is nie al wat ons mag bid nie, maar dit leer ons hoe die inhoud van ons gebede moet lyk).

Christus leer vir ons ‘n patroon, wat ons in gedagte moet hou wanneer ons bid. Ek noem dit sommer die VVDV-patroon:

  • Verheerliking
  • Vergifnis
  • Dank
  • Vra

Hierdie verskillende fases van die gebed, vul ons in met die woorde wat ons in die Skrif vind.

Dit kan daarom baie sinvol en verrykend wees om te bid nadat jy ‘n gedeelte uit die Bybel gelees en bestudeer het. As ‘n voorbeeld gebruik ek graag 1 Korinthiërs 6.

Skryf vir jouself neer:

  • Wat leer ek in (bv.) 1 Kor. 6 oor God? Wie is Hy? Wat doen Hy?
  • Watter gebreke in my lewe wys hierdie Skrifgedeelte uit? Wat moet in my lewe verander?
  • Is daar iets in die Skrifgedeelte waarvoor ek God kan en wil dank?
  • Wat wil die Here hê moet ek van Hom vra, in hierdie teksgedeelte?

So lei die Skrif ons in ons gebede in en so lê die Heilige Gees Sy woorde in ons hart en mond.

Kom ons kyk na ‘n voorbeeld-gebed, nadat jy argumentsonthalwe 1 Korinthiërs 6 bestudeer het:

3.1. Verheerliking

Ons begin ons gebede deur Hom te verheerlik. Wat is daar wat Hy in Sy Woord vir jou uitgewys het, waarvoor jy Hom wil loof en prys?

As ek klaar 1 Korinthiërs 6 gelees het, kan ek in my gebed, die Here loof en prys en Hom verheerlik, omdat Hy Regter is oor alles en almal – Hy sal oordeel (6:1-3).

3.2. Vergifnis

1 Korinthiërs 6 lei my om te sien dat ek as gelowige eerder die onreg teenoor my moet verdra. Mede-gelowiges sleep mekaar nie voor die hof nie.

Die strydlustige gedagtes wat ek teenoor sekere mense en mede-gelowiges het, is verkeerd. God sal hulle oordeel volgens Sy goeie wil en wete (6:9).

In my gebed kan ek die Here vra om my te vergewe hiervoor.

3.3. Dank

1 Korinthiërs 6 is propvol beloftes en trooswoorde waarvoor ek die Here wil dank! In my gebed kan ek Hom dank vir:

  • die heerlike toekoms wat vir my as gelowige wag – ek sal saam met Christus regeer (6:2,3)!
  • dat Hy my opgewek het in ‘n nuwe lewe en dat my siel en liggaam aan Hom behoort (6:14).

Verder kan jy in jou gebed die Here ook dank vir Sy verhoring van vorige gebede, of Sy werking in jou lewe van elke dag.

3.4. Vra

As ek deur 1 Korinthiërs 6 lees en my gedagtes neerskryf, wil ek die Here vra vir:

  • geduld, sodat ek nie te gou oordeel en so in Sy gesagsveld probeer indring nie (6:1-3).
  • om my vergewingsgesind te maak (6:1-11).
  • hulp, bystand en bewaring van seksuele onreinheid (6:12-20), ensovoorts.

Hier kan jy ook in jou gebede jou eie persoonlike vrae, begeertes, nood en vreugdes aan die Here opdra. Hy luister!

Onthou Filippense 4:6: “Wees oor niks besorg nie, maar laat julle begeertes in alles deur gebed en smeking met danksegging bekend word by God.”

4. Die Heilige Gees, die Bybel en gebed

Wat vir ons duidelik moet word, is die feit dat gebed nie die natuurlike gedagtes van ons hart mag wees nie.

Gebed is iets wat die Heilige Gees ons aanleer.  Op die manier word ons ook verseker dat God luister en dat Jesus Christus vir ons intree.

Ons moet ons harte versadig met Sy Woord, sodat ons gebede ook versadig is met Sy Woord. Onthou, Hy oefen ons in die hemelse taal – jy kan dit nie vanself praat nie.

Ons is geneig om in ons gebede vas te steek by vrae en versoeke – ‘n lys van al ons begeertes. Daar is definitief ‘n plek daarvoor tydens gebed, maar Jesus leer ons dat selfs ons vrae versadig moet wees met dit wat Hy wil hê ons moet vra.

Gebed is ‘n gesprek tussen my en my hemelse Vader. In hierdie gesprek praat ek agter Jesus aan, met die woorde van Sy Woord. Deur Sy Heilige Gees leer Hy my om te bid met elke gebed.

In die lig van alles hierbo, kan ons nou ook ons gesprekke oor gebed voort sit en vra: wat is die inhoud van gebede op publieke massa-gebedsdae? Is dit 'n "agter-God-aanpraat" geleentheid?