God ken my smarte

Outeur: ds. GM Boersema

"En die HERE sê: Ek het duidelik gesien die ellende van my volk wat in Egipte is; en Ek het hulle jammerklagte oor hulle drywers gehoor, ja, Ek ken hulle smarte." (Eksodus 3:7)


Almal ken die verhaal van Moses wat deur God geroep word om Sy volk te bevry uit Egipteland. Die aangrypende verhaal waar God met Moses praat uit die brandende bos. Daar is iets baie kosbaar in vers 7, waar die Here vir Moses sê: “Ek ken hulle smarte”.

Smarte is intense verdriet; hartseer. As daar een ding is wat alle mense op aarde reeds ken en beleef of nog sal beleef, dan is dit smart. Jonk en oud, ryk en arm, wit of swart – ons almal ken hartseer. Ons gaan soms in moeilike tye so ver en dink die Here bly ver weg op ‘n afstand staan – “die Here het van ons vergeet”.

Maar, hoor hoe troos die Here: Hy sê Hy sien die ellende van Sy volk; Hy ken hulle smarte. Dit is die troos wat gelowiges het. Daar is ‘n gesegde wat sê: as jy lag, lag almal saam; maar as jy huil, huil jy alleen. Maar weet jy, daai gesegde is nie waar vir gelowiges nie, want God ken die gelowige se smarte. Die ongelowige huil regtig alleen. Die wat nie glo nie, huil alleen en dis hoekom hulle alewig maar net soek na iets om oor te lag; want hulle smarte is eensaam. Maar ware gelowiges, kinders van God huil nooit alleen nie.


Gelowiges huil nooit alleen nie.

Ek sê nie ons voel nooit eensaam nie! Beslis, dis hoe ons voel, maar dis nie hoe dit is nie. Nee, die Here sien, Hy hoor, Hy ken hulle pyn – en Hy is dáár! Die Here rig op, Hy vestig, Hy versterk – soos die volk van ouds, is dit die Here wat Sy volk verlos en altyd weer sal uitlei, en Hy doen dit op wonderlike maniere.

God ken Sy volk se smarte!