God is liefde, maar is dit al?

Outeur: Proponent P Venter

Sosiale media gons die laaste paar weke oor mense wat hulle monde uitspoel oor die buitengewone algemene sinode van die NG-kerke wat plaasgevind het. Die sinode is opgeroep om die besluite aangaande selfdegeslag verhoudings en die rol daarvan in die kerk aan te spreek en die besluite van 2015 rondom dieselfde saak, te hersien. Skielik is elkeen 'n kenner op die gebied van kerkreg en kante word gekies - bykans dieselfde wyse as wat baie suid-afrikaners opgetree het tydens die amerikaanse verkiesing. Die slagoffer? Nie die mense wat direk deur die besluit geraak is nie. Nie die mense wat die besluit geneem het nie. Nie die kerk wat nou kwansuis leegloop weens mense wat hulle goed gaan vat en loop want "dis nou die laaste strooi" Nee, die slagoffer in hierdie voortdurende debat is die gesag van die Skrif.

God openbaar Homself deur Sy Woord soos wat ons saam bely in art. 2 van die Nederlandse geloofsbelydenis (NGB). Daarmee saam bely ons ook die genoegsaamheid van die Skrif in art. 7 van die NGB - Ons glo dat hierdie Heilige Skrif die wil van God volkome bevat en dat alles wat die mens vir sy saligheid moet glo, daarin voldoende geleer word." Die belydenis gee dus vir ons 'n duidelike antwoord en verduideliking van wat die Bybel werklik vir 'n gelowige beteken. Dan kom die argument na vore wat vinger wys na die belydenis skrifte as "mensgemaakte dokumente deur 'n klomp ou manne lank gelede". Tog het die belydenis skrifte gesag - gesag omdat dit ooreenstem met die Skrif. Die belydenis word dus afgelei van dit wat ons in die Skrif leer. Met ander woorde sodra ons die belydenis in twyfel begin trek, trek ons daarmee saam die Skrif in twyfel. Hiermee sê ek nie dat die belydenis en Skrif gelykstaan nie, maar dat ons nie die belydenis net moet afmaak as blote menslike dokumente nie.

Terug by die kern van die hierdie artikel - Art. 2 en 7 stel vir ons duidelik wat die doel en plek en gesag van die Skrif is, maar dit word egter nie so uitgeleef nie.

Ons poog om kerklike eenheid te bewerk, maar dan wil ons in dieselfde asem die drie formuliere van enigheid by die venster uitgooi

- die rede? Die gesag van die Skrif word in twyfel getrek. Hiermee sê ek nie dat die Bybel verwerp word nie, maar dat sekere elemente van die Skrif belangriker geag word as ander, en in sekere gevalle word selfs menslike emosies belangriker geag as die gesag van die Skrif. Op grond hiervan dan die titel van hierdie artikel - God is liefde, maar is dit al? Vanoggend lees ek weer 'n artikel wat op my Facebook-blad verskyn het - die titel "God is in beheer." Binne my Gereformeerde denkraamwerk klink die titel vir my geensins sleg op die oor nie. Heelaas het die inhoud nie dieselfde Gereformeerde denkwyse gedeel nie.

Die artikel fokus op die gedagte dat jy jou roeping moet uitleef in die amp waartoe jy geroep is ongeag wat die kerk daarvan dink, en dat geen sinode jou kan keer om hierdie roeping uit te leef nie. Hierdie hele gedagte is sterk emosioneel belaai en fokus op die plek van die mens en jou plekkie in die son. In die laaste paragrafie word 'n vers aangehaal net om te verseker dat die opinie wat gelig is effens Bybels gefundeerd is. Die versie? Joh. 3:16 - Want so lief het God die wêreld gehad dat Hy sy enigste Seun gegee het, sodat dié wat in Hom glo nie verlore sal gaan nie maar die ewige lewe sal hê! Een versie waarvan daar geen sprake is dat die konteks in ag geneem is nie. Volgens die skrywer is die klem van hierdie vers op die woord - wêreld. Dit beteken volgens skrywer X dat dit almal insluit. Die gedagte van geloof en die feit dat net gelowiges gered word, kom dus glad nie na vore nie. Dit kom by die krisis wat ons in die gesig staar by die gesag van die Skrif - God word beskryf as liefde. Dit is opsigself nie verkeerd nie. Die probleem kom egter na vore wanneer ons God reduseer tot net liefde. Dit is ongelukkig wat besig is om te gebeur.

God se regverdigheid, straf, oordeel, genade, lankmoedigheid en 'n lys ander eienskappe word op die agtergrond geplaas om die fokus op liefde te hou.

Dit veroorsaak dat ons die sonde kan miskyk en mekaar troos met die woorde - God is liefde. Die implikasies van so 'n skrifbeskouing is egter vreesaanjaend vir enige gelowige. Daar word dan verkeerdelik aangevoer dat God die sonde sal miskyk (Let wel - nie vergewe nie). Hy sal nie straf nie en die gevolg is dat 'n universialistiese God aanbid word. Dit is egter nie die God wat ek erken, bely en aanbid nie. Die God wat Hom aan ons openbaar is die God van die verbond - die Ek is. Hy is die God wat skep, onderhou, red, genade betoon maar ook straf en oordeel bring oor die wat nie glo nie.

Daar is dus twee kante - die een kant word gered en die ander nie. Tog word dit tans in baie kerke nie verkondig nie. Lidmate word gepaai met mooi troetelwoordjies maar word nie opgeroep teen die sonde nie. Die eksistensiele kwessies vir die mens staan op die voorgrond en die Skrif word agtertoe geskuif. Die gevolg is dat ons menslike gevoelens en emosies verkondig en bykans aanbid en poog om God op die agtergrond te skuif. Dit bring teweeg dat ons die genade van God verwerp en daarmee saam die hele leer van die verbond en die uitverkiesing. Daarom doen ek 'n beroep op elkeen - lees jou Bybel, die hele Bybel. Moenie net na versies soek wat jou eie agenda bevorder nie. Lees en luister biddend na die Woord van God.