Geestelike depressie by gelowiges

Outeur: ds. GM Boersema

“Waarom is ek so in vertwyfeling en waarom kerm ek so?” (Psalm 42)

Depressie onder gelowiges is nie ‘n vreemde verskynsel nie. Inteendeel, vandag se leefstyl vereis so baie van ‘n mens, dat depressie al hoe meer in die lewe van gelowiges figureer. Baie belangrik: hierdie opstel gaan nie oor kliniese depressie bespreek nie, maar eerder die diep teneergedruktheid of “geestelike depressie” van ‘n gelowige wat perspektief verloor het as gevolg van die een of ander kortsigtige en kleingelowige benadering.

Wat is die geestelike depressie wat gelowiges beleef?
Miskien sou ‘n mens eerstens vra: kan gelowiges depressief raak? Die antwoord daarop is ongetwyfeld: Ja! Die Skrif gee vir ons talle voorbeelde van gelowiges wat geestelik depressief geraak het. Dink maar aan Job en die digter wat in Psalm 42:1 skryf: “Soos ‘n hert wat smag na waterstrome, so smag my siel na U, o God!”. Of Psalm 25:16: “Sien my in genade aan, Here, want ek is eensaam en verstote”. Of, nog duideliker, Prediker 2:17: “Daarom het ek die lewe gehaat, want die werk wat onder die son gedoen word, het my mishaag, omdat alles tevergeefs is en ‘n gejaag na wind”. Ja, gelowiges raak depressief (soms dikwels in hul lewe).

Met hierdie geestelike depressie wat gelowiges beleef, word nie kliniese depressie bedoel nie. Die depressie wat gelowiges so dikwels beleef is eerder ‘n teneergedruktheid, bitterheid of uitsigloosheid wat gelowiges beleef. Dikwels sê ‘n mens dan in sulke tye: “ek het perspektief verloor”. Hierdie gevoel gaan dikwels gepaard met ‘n hartseer en ontmoedige gevoel en ‘n magteloosheid en gewoonlik verloor ‘n mens self entoesiasme en lus vir die lewe. Die Bybel verskaf verskeie redes waarom depressie ‘n gelowige kan oorweldig (Manser, 2009): Omstandighede; vrees vir ander; vrees vir mislukking; ernstige skuldgevoelens oor sonde; ‘n gevoel van nutteloosheid of ‘n verlange na God se teenwoordigheid ensovoorts. Hoe moet gelowiges hierdie geestelike depressie hanteer? Hoe kan gelowiges weer uit die gat van geestelike depressie klim? Om hierdie vrae te beantwoord, word Psalm 42 nou bespreek.

Die geestelike depressie van die Koragiet
Die opskrif in die ‘33/’53 vertaling is heel gepas: heimwee na God. Die digter van hierdie Psalm was ‘n Koragiet (sien die oorsig oor die Psalm in Addendum A). Dit wil sê hy was lid van die koor wat in die tabernakel moes sing (2 Kron 20:19). Verder is daar nie meer inligitng oor die digter nie. Al wat verder duidelik word, is dat die Koragiet verlang na die Here. Hy smag na God (42:2). Die Psalm is ook ‘n “onderwysing”. Dit wil sê, die lied was bedoel om iets aan die hoorders te leer, terwyl dit daar in die tabernakel gesing word. Die Koragiet sukkel om die Here te vertrou te midde van al die moeites wat hy beleef (42:10). Hy wil voor God verskyn en sy smart aan God bekend maak, want Hy voel die Here is nie meer met hom nie. Daarom vra hy dat God hom nie vergeet nie (v9,10).

Die geestelike depressie van die Koragiet kan dus soos volg beskryf word: hy voel alleen in sy hartseer en onderdrukking van ander.

Die Koragiet se hantering van sy eie geestelike depressie
Soos wat ‘n mens deur die Psalm lees, beleef ‘n mens hoe die Koragiet met sy alleenheid en depressie worstel. In sy onderwysing by wyse van hierdie Psalm leer ‘n mens hoe die digter sy geestelike depressie hanteer:

Hy vra: “Hoekom?”
Is dit nie maar die natuurlike reaksie van enige mens in tye van swaarkry nie? Hy vra: “Hoekom?” So ook die Koragiet (‘n mens vergeet so dikwels dat die mense van die Bybel ook maar net mense was!).

Selfs gelowgies vra in tye van depressie: “Hoekom ek?” of, soos in die woorde van v10: “Waarom vergeet U my?” en “Waarom gaan ek in die rou deur die vyand se verdrukking?”

Dit is tog belangrik om raak te sien, dat die Koragiet deurentyd in gesprek is met God. Hy worstel met God ja, hy het allerlei vrae vir die Here, ja, maar hy keer nie sy rug op Hom nie! Hy dors na die Here, en weet dit is net die Here wat sy dors sal les.

Dit is normaal vir gelowiges om vir die Here te vra: “Hoekom?”, maar gelowiges moet onthou – God is goed! Daarom bevestig die digter ook God se goedheid vir homself: Hy bevestig vir homself God se goedheid In v8 druk die Psalmdigter sy swaarkry uit: dit voel vir hom asof die een golf na die ander oor hom slaan. Maar dan moet hy homself in hierdie tyd van depressie herinner: God is goed! Daarom volg v9 met ‘n maar. “Maar die HERE sal oordag sy goedertierenheid gebied”. In hierdie tyd van depressie leer die Koragiet: slegte omstandighede maak nie van God ‘n slegte God nie. “Die Here sal weer op ‘n dag sy trou laat blyk” (’83 vertaling). Hy onthou die goeie ou dae Die Koragiet kan getuig van God se goedheid, want hy herinner homself aan die “goeie ou dae”. V5 sê: “Hieraan wil ek dink en my siel uitstort in my: hoe ek gewoond was om voort te trek met die skare, hulle gelei het na die huis van God, met die stem van jubel en lof – ‘n feesvierende menigte!” In hierdie tyd van depressie dwing die digter homself om terug te dink aan die dae waar hy gelukkig was in die diens van die HERE.

Hy sing en bid
Tog erken hy dat dit nou nie meer goed gaan met hom nie. Dit voel vir hom asof sy siel binne-in homself omvou. Hier in v6, 12, vind ons ‘n goeie beskrywing van die gevoel van depressie en neerslagtigheid. Dit voel asof ‘n mens se siel neergebuig is; in jouself omgevou is en jy is onrustig. Daarom soek die digter weer hoop en rustigheid; hy wil nie meer kerm en kla nie! Al waar hy rustigheid vind is in die nag, wanneer hy sing en bid (v9). Hy sing en en roep om hulp. Hy dra sy gedagtes en smarte aan die Here op. Steeds is dit duidelik: die Koragiet draai nie kwaad sy rug op God nie, maar verlang na Hom en soek na Hom. Die Koragiet dors na die Heer (v1). ‘n Mens kry amper die gedagte dat die digter onophoudelik by die Here kerm!

Hy weet, die enigste plek waar hy rustig kan wees, is by die Here.

Selfs in die nag, wanneer alles om hom die stilste en die alleenste is, dan sing hy en bid tot die Here, die God van sy lewe.

Hy spreek tot sy eie siel
In die refrein van die Psalm vind ons elke keer hierdie gedagte: die Koragiet praat met homself (v6,12). Hy herhaal dit twee keer: hy preek vir homself! “Wat buig jy jou neer, o my siel, en is onrustig in my? Hoop op God…” Die Koragiet gooi nie sy hande omhoog en laat sy gedagtes maar die oorhand kry nie. Nee, voortdurend is hy in gesprek met homself: waarom is jy teneergedruk? Waarom kerm jy? Waarom is jy bitter? Wees stil! Hoop op God! Dit is asof die digter hier met sy sondige menslike natuur in gesprek tree, en aktief beheer daaroor neem.

Sy sondige mense-aard maak hom teneergedruk en depressief – hy wil alles laat vaar. Tog, neem hy beheer van sy siel – hy verkondig die verlossing van God aan homself!

Gelowiges van vandag se hantering van geestelike depressie
Psalm 42 leer dat die geestelike depressie wat gelowiges vandag beleef dikwels te danke is aan ‘n tekort aan hoop. Dikwels hoop ons nie meer op God nie. ‘n Mens raak verstrengel deur skuldgevoelens, vrese, omstandighede of vrees vir ander. Ons raak selfs hopeloos wanneer ander heeltyd jou geloof of jou God probeer aftakel (“Waar is jou God?” v4). Die Koragiet leer met Psalm 42 dat dit deel is van die mense-natuur, om te vra: “hoekom?”. Maar ‘n mens moet steeds met die Here in gesprek bly oor die dinge wat jou kwel. Dikwels luister jy te veel na jou sondegevalle self en praat te min met jouself. Jy heers nie oor jou gedagtes nie. Die Koragiet leer dat jy die verlossing van Christus aan jouself moet verkondig. Ons moet heers oor ons menslike natuur. Ons moet beheer neem van die geestelike depressie. Herinner jouself daaraan dat God waarlik goed is – dink aan die “goeie ou dae”. Bly in gesprek met God – sing en bid tot die Here; soek Hom op. Dors na die Here en smag na Hom!

Wanneer jy in ‘n tyd van geestelike depressie verkeer, kan jy maar ondersoek instel: jy het heelmoontlik jouself laat verval in ‘n toestand van hopeloosheid. Omstandighede maak jou hopeloos. Mislukking maak dat jy moed opgee oor die toekoms. Ernstige skuldgevoelens oor sonde maak dat jy vergeet dat Christus jou enigste hoop is – die “verlossing van jou aangesig” (42:12). Ja, dit gebeur soms, dit is deel van ons gevalle natuur en daarom moet ons in sulke tye ons “neergebuigde siel” aanspreek: waarom is jy depressief/teneergedruk/bitter? Hoop op God. My slegte situasie maak nie van God ‘n slegte God nie. Christus is die “verlossing van my aangesig en Hy is my God!” (42:12).