Press "Enter" to skip to content

Die gawes van die Heilige Gees

Die gawes van die Heilige Gees

Daar is baie verwarring vandag oor die gawes van die Heilige Gees. Dit het ook baie
misleiding en misbruik tot gevolg. In hierdie artikel kyk ons onder andere na wat die gawes
presies is, wat dit nie is nie, watter gawes wedergebore Christene ontvang, en laastens hoe
ons ons gawes kan aanwend tot eer van God, en tot opbou van die gemeente. Ons gaan
eerste kyk na wat bedoel word met ‘gawes van die Heilige Gees’. Tweedens, wat word bedoel met die apostoliese en spesiale gawes, soos waarvan ons in Handelinge lees? En laastens, het elke
gelowige gawes, hoe weet ons wat dit is, en wat doen gelowiges met daardie gawes?

‘n Gereformeerde begrip van die gawes

Die oomblik as ons praat van gawes, trap baie mense in dieselfde strik as die Korintiërs.
Die meeste mense dink dit gaan oor buitengewone dinge wat ons doen om die fokus op
onsself te plaas. Gawes is egter geskenke wat die Heilige Gees aan die Kerk van die HERE
soewerein gee met ‘n baie spesifieke doel (1 Kor. 12:11). Die doel is om die Kerk op te bou
en gelowiges toe te rus vir die dienswerk van Christus (Ef. 4:12-16). As ons dus praat van
gawes in die Gereformeerde begrip van die Skrif, dan verwys ons na die weldade van
Christus (HK, Sondag 20). Dit is daardie gawes wat Hy aan gelowiges skenk deur die
wedergeboorte, en in daardie sin is dit uitsonderlik. Dit is nie net die tale, drome en visioene
wat mens in Handelinge sien nie.

Ons is geneig om die gawes van administrasie, diensbaarheid of lering as minderwaardig te
sien teenoor, byvoorbeeld, die gawe om iemand uit die dood op te wek. Daar is eintlik ‘n
stuk afgodery in ons hart oor wat ons as besonder beskou, en wat nie. Daar moet dus ‘n
regstelling kom in ons begrip aangaande wonderwerke en die bonatuurlike. Die grootste
gawe is wedergeboorte wat ook die grootste wonderwerk is. Mense staan verwonderd teenoor iemand wat in tale praat, terwyl wedergeboorte as alledaags beskou word. Daarom
moet ons definisie van wonderwerke die kleinste tot die grootse werke van God insluit.
Dan sal ons anders begin dink oor die sogenaamde “gewone gawes” soos administrasie of
gasvryheid. Dit was juis die versoeking waarvoor die Korintiërs geval het: “Wie is die
belangrikste? Hoe kan ek bo ander uitstaan?” Gawes gaan nie oor my nie, maar oor Christus
en Sy kerk.

Die apostoliese gawes is nie normatief vir vandag nie

Nog iets wat ons moet weet is dat die “besondere gawes” nie normatief is oor alle tye nie.
Dit was gegee om die amp en boodskap van die apostels te bevestig, asook om die nuwe
era van die kerk in te lei. Dit was ook gegee in ‘n tyd toe God nog besig was om die Skrif te
openbaar. Maar dit beteken nie God doen vandag nie meer wonderwerke nie. Hy doen
beslis nog, maar die apostoliese gawes was beperk tot die apostoliese era. Dit het gaandeweg
opgehou met die voltooiing van die Kanon, en die sterwe van die laaste apostel. As mens na
‘n tydlyn van die Bybel kyk, sien jy sporadiese tye van God se besonderse werke. Dit was
nie normatief deur die hele Bybel nie. ‘n Voorbeeld hiervan is Moses. God het besonderse
gawes aan Moses gegee om sy boodskap en roeping te bevestig. Net so was daar sekere
profete soos Elija wat besonderse gawes gehad het vir ‘n spesifieke taak.

In die Nuwe Testament sien ons dieselfde met die apostels. Hoe sou Israel die boodskap van
die apostels geglo het sonder bevestiging deur besonderse gawes? Daarom het God die
apostoliese gawes gegee, sodat mense kon weet hulle praat nie uit hulself nie. So was die
bewys dat iemand ‘n apostel is, die gawe van tekens en wonders (2 Kor. 12:12). Jesus het
ook gesê die werke wat Hy doen getuig van Hom as gestuurde deur die Vader (Joh. 10:25-
26; 37-38). Net so bevestig die apostoliese gawes die egtheid van die apostels se roeping en
hul boodskap. Daarom sou die apostoliese gawes net voortduur tot hul taak voltooi was—
die volledige openbaring van die Heilige Skrif. In die verband sien mens al in die Nuwe
Testament hoe die besonderse gawes minder geword het met die verloop van tyd. In die
begin van Handelinge was elke persoon wat na die apostels gebring is genees (Hand. 5:16). Later in die Nuwe Testament kon Paulus nie vir Timoteus en Epafrodítus genees nie (1 Tim.
5:23; Filip. 2:25-27). Ons kan dus nie tot die gevolgtrekking kom dat die besonderse gawes
normatief is vir vandag nie.

Daar is nie meer vandag nuwe openbarings nie

‘n Verdere vraag is dan of God nog steeds besig is om nuwe openbaring te gee? Vanuit die
Skrif kan ons sê dat dit wat God wou openbaar, Hy klaar gedoen het deur die Bybel (Heb.
1:1-2; 2 Pet. 1:19-21). Dit beteken egter nie dat God nou afwesig en stil is nie. Nee, Hy
openbaar homself in die algemeen deur die natuur (Ps. 19:1-2; Rom. 1:20), en op ‘n
besonderse manier deur die Skrif (Joh. 17:17; 2 Tim. 3:16-17). Maar God gee nie meer nuwe
direkte openbaring aan mense soos aan die profete en apostels nie. Die Skrif is nou die
volledige profetiese Woord wat self meer seker is as besonderse gebeurtenisse soos die
transfigurasie van Jesus op die berg (Matt. 17:1-5; 2 Pet 1:16-21). Justin Peters het gesê, “As
jy God wil hoor, lees jou Bybel. As jy God hoorbaar wil hoor, lees jou Bybel hardop.” So
sien ons vandag hoe baie gelowiges die Woord van God verruil vir sogenaamde profesieë
wat deur feilbare mense uitgespreek word. Inteendeel, die Bybel is God aan die woord.

Ons moet ook die aard van die nuwe verbond verstaan. Jeremiah het gesê in die nuwe
verbond sal dit nie meer nodig wees dat ons na ‘n profeet moet gaan wat ons van God
sal leer nie (Jer. 31:34). Elkeen, van klein tot groot, sal God hoor deur Sy woord. Waarom
sal God dan direk met ons praat terwyl ons Sy foutlose Woord in ons hande het? Sou dit so
wees, beteken dit God het dubbele standaarde. Hy praat met een persoon direk en met die
ander nie. Dit is hoekom God ons een objektiewe waarheid gegee het waardeur Hy met al
Sy kinders op dieselfde manier praat. Dit skep eenheid en skakel verwarring uit. Daar is
deesdae ‘n geneigdheid om buite die Skrif stemme, drome en visioene te wil hoor en sien.
Dit is nie versoenbaar met die gesag en algenoegsaamheid van God se Woord deur die werk
van die Gees nie.

Hierteenoor sien mens in die Skrif dat die klem eerder op die gawes van geloof, hoop en
liefde geplaas word. Gelowiges deel deur die geloof in die verlossing van Christus terwyl
hulle met hoop hier op aarde lewe en die evangelie uitdra. Liefde is die groot fokus wat
baie mense mis in hul soeke na die besonderse gawes. Maar nou dink baie mense
gereformeerdes sê daar is geen gawes vandag nie. Inteendeel, ons sê die apostoliese gawes,
wat gedien het tot die spesiale openbaring van die Skrif, het gestop terwyl al die ander, soos
byvoorbeeld in Romeine 12, nog voortgaan. Ons moet dus besef waar in die
heilsgeskiedenis die kerk haar vandag bevind en daarvolgens lewe. Ons moet fokus op die
prediking en die lering van die Woord in die kerk en na buite. En dit is geensins
minderwaardig teenoor die apostoliese gawes nie. Inteendeel, dit is die apostoliese gawes
in aksie in ons tyd, want ons bou op die fondasie van die apostels en profete (Ef. 2:20).

Die kerk is ‘n liggaam met verskillende lede en gawes

As dit waar is dat die besonderse gawes gestop het, watter gawes het ons dan nog vandag?
Het elke gelowige een of meer gawes? Ja, volgens 1 Korintiërs 12 funksioneer die kerk soos
‘n liggaam met verskillende ledemate wat interafhanklik is van mekaar. Elke gelowige het
‘n funksie met dienooreenkomstige gawes. En die doel is weereens nie om die fokus op
onsself te plaas nie, maar om die kerk te dien en Christus te verheerlik. Die vrugte van die
Gees gaan ook saam hiermee. As die Heilige Gees in ons woon, dan is die vrugte van die
Gees ook deel van die weldade wat Christus aan ons skenk. Daarom kan geen gelowige sê
dat hy nie gawes het nie. Elkeen het ‘n besondere plek in die liggaam, met die nodige vrugte
en gawes om die kerk en mekaar te kan dien.

Die idee dat sommige lidmate voel hulle het nie gawes nie, spruit eerder uit ‘n verkeerde
begrip van gawes en kerkwees. Sommige kerke leer byvoorbeeld dat indien jy nie in tale praat nie, jy nie ‘n gelowige is nie. Ander kerke koppel weer die gawes aan die ampte. Met ander woorde,
as jy nie in ‘n amp staan nie, het jy nie ‘n rol in die gemeente nie. Ons kan nooit sê gawes is net beperk tot predikante, ouderlinge of diakens nie. Verder is daar kerke waar alles deur ‘n paar persone gedoen en gereël word. Die kerk van Jesus Christus is nie ‘n pouslike organisasie nie. Jesus het gesê gelowiges moet nie oor mekaar heers soos die heidene nie (Lukas 22:25-26). In die liggaam van Christus is die kleinste die grootste, en die oënskynlike minder aantreklike gawes die belangrikste, sodat daar gelykheid en eenheid sal wees. Jesus het vir ons ‘n voorbeeld gestel deur Sy dissipels, uit verskillende agtergronde, se voete te was, sodat ons dieselfde moet doen (Joh. 13:12-17).

Hoe weet ek wat is my gawes?

Hoe gaan ons nou te werk om ons gawes te ontdek? Eerste moet ons weet dit is nie iets wat
ons “ontdek” deur vraelyste in te vul, of ‘n kursus by te woon nie. Mense kan so bewus en
behep raak van hul gawes, dat hulle niks anders wil doen nie. Die ander gevaar is dat die
kursusse idees in mense se gedagtes plant wat nooit daar was nie. Dit is eerder iets organies
wat in ons en die gemeente gewerk word deur die Gees. Dit begin met die oortuiging dat
jy gawes het, en dan tot die HERE te bid om jou deur Sy voorsienigheid daarin te lei. Die
HERE gee gelowiges die begeertes en bemagtiging in ‘n spesifieke area. Die Bybel sê dit is goed om te begeer om in die amp van ouderling te dien (1 Tim. 3:1). Stel jouself
beskikbaar, en doen wat jou hand goed vind om te doen. As jy nuut is by ‘n gemeente, raak
orals betrokke, en bid dat die HERE jou sal lei in wat jou gawes is. En soos jy dien, word dit
duidelik wat jou gawes is. Die gemeente sien dit, en gee ook dienooreenkomstig terugvoer.

Ons moet egter onthou, een persoon het nie al die gawes nie. Die liggaam bestaan uit
interafhanklike ledemate wat saam een liggaam vorm. Die opdrag om die kerk van Christus
te bou, is nie net aan een persoon gegee nie. 1 Petrus 2 wys ons daarop dat die kerk ‘n
geestelike huis is, wat gebou word uit lewende stene. Lidmate van die gemeente bou en
werk saam as ‘n heilige priesterdom, tot eer van God en lig vir die nasies. Daarmee saam
kom die groot klem op verhoudings in die gemeente. Die HERE gebruik medegelowiges
om aan ons uit te wys watter gawes ons het. As ons dan besef dat die HERE gawes gee aan
verskillende lidmate om die liggaam te dien, hou dit ons nederig en afhanklik van mekaar.
Dit verhoed dat ons dink ons spesifieke gawes is beter en meer belangrik as ander.

Is gawes en talente dieselfde?

Daar is soms ook ‘n verwarring tussen gawes en talente. Talente is dinge wat die HERE my
gee deur natuurlike geboorte — dinge waarmee ek goed is soos musiek, sing, handewerk,
syfers, skryf, taal ensovoorts. Terwyl gawes van die Heilige Gees deur die Gees self tydens wedergeboorte geskenk word. Dit is bemagtiging bo en behalwe my natuurlike talente. Dit kan wel soms gebeur dat talente en gawes oorvleuel, soos die gawe van administrasie en om goed te wees met geld en organisasie. Of die gawe van gasvryheid en iemand wat lekker kos kan maak. Maar dit is
nie altyd so nie. Gawes is juis iets wat bonatuurlik aan gelowiges geskenk word deur die Gees. Soms
word ons talente buite die kerk uitgeleef, terwyl gawes iets is wat die kerk dien, maar beide
kan ook in diens van die kerk staan. Talente word ook deur God in Sy algemene genade aan
ongelowiges gegee, terwyl gawes slegs aan gelowiges geskenk word deur God se spesiale
genade. Ongelowiges het al groot bydraes gemaak in die geskiedenis van die wêreld tot
voordeel van die mensdom, en op ‘n besonderse manier tot die kerk. Alles werk saam tot die
uitvoering van God se raadsplan.

Ten slotte

Gawes is geskenke van Christus se rykdom deur die Gees. Elke gelowige ontvang gawes en
dit is meer as genoegsaam om sy/haar spesifieke roeping te vervul. Elke gelowige het ‘n
noodsaaklike funksie om te vervul in die liggaam. Die kerk is een liggaam met baie
verskillende lidmate. Die een is nie mooier en belangriker as die ander nie. Daar is nie
passiewe lidmate nie, maar almal werk saam tot die gesondheid van die liggaam. Ons kan
nie net Sondagoggend lidmate wees wat die banke warm sit nie. Daar bestaan eintlik nie so
persoon in die kerk van Christus nie. Die gawes van die Gees is ‘n direkte gevolg van
Christus se oorwinning aan die kruis. As gelowiges dan werk en bou in die kerk, is hulle
besig om die skatte van Christus se triomftog te geniet en uit te deel aan ander.

Alle eer aan ons HERE Jesus Christus wat sondige mense soos ons gebruik in Sy diens!
Scriptura is ‘n groeiende biblioteek van Gereformeerde artikels, dokumente en podsendings
met 2 Tim. 3:16,17 as fokus- en vertrekpunt.

Scriptura: Jaco de Beer, Marnix Boersema, en Jan-Louis Lee.

Be First to Comment

Lewer Kommentaar

This site uses Akismet to reduce spam. Learn how your comment data is processed.

WhatsApp WhatsApp
%d bloggers like this: