Press "Enter" to skip to content

Meneer Ramaphosa, u is ‘n dienaar van God tot ons beswil!

Lees Romeine 13:1-7

Waar ons in ‘n vorige artikel stilgestaan het by gelowiges se verantwoordelikheid teenoor die regering, gaan ons in hierdie artikel stilstaan by die regering se verantwoordelikheid teenoor God en die mense van die land.

Hierdie artikel gaan in die vorm van ‘n brief aan Suid-Afrika se president geskryf word.

Geagte mnr. Matamela Cyril Ramaphosa,

Ek is seker daar is baie mense wat vir u sê hoe u u werk moet doen. U het sekerlik ook u eie idees daaroor. Tussen ‘n politieke party se mandaat, u eie idees en al die stemme wat uit die samelewing opgaan oor wat u werk nou eintlik is, sal dit goed wees om stil te staan by dit wat die Almagtige God wat oor almal en alles – ook oor presidente en regerings – regeer van u verwag.

Ek is nie seker of u in Hom glo of nie. Ek is nie seker of u Jesus Christus as u Verlosser bely nie. Of u nou in God glo of nie, dit ontneem Hom nie van sy heerskappy oor u nie. Dit ontneem u ook nie van die plig wat Hy u opgelê het waaroor u aan Hom verantwoordbaar is nie.

Wat verwag God van regeerders? Dwarsdeur God se Woord maak Hy dit op verskillende plekke en verskillende manier duidelik wat die taak van regeerders is. Een so ‘n deel is Romeine 13:1-7.

In hierdie gedeelte noem God ‘n paar belangrike punte oor u werk as president. Die eerste belangrike punt word in vers 1 genoem: “Daar is immers geen gesag wat nie van God kom nie, en die owerhede wat daar is, is daar deur die beskikking van God.” God stel regerings in plek. U is nie president omdat mense vir u gestem het nie, maar omdat God dit so beskik het. In Daniël 2:21 word hierdie punt onderstreep: “Hy wat tye en omstandighede verander, wat konings afsit en konings aanstel…”

Juis omdat God dit beskik het dat u ons president is, onderwerp ons as gelowiges ons aan u in alles wat van ons verwag word wat nie in stryd met God se Woord is nie.

Mnr. Ramaphosa, omdat God beskik het dat u ons president is, moet u mooi besef dat Hy die sê het oor hoe u u werk as president doen. Dat u nie ter wille van uself regeer nie, maar omdat God u gebruik. Daarom maak God dit baie duidelik dat u die wat goed doen moet prys. Anders gestel, die mense wat goed doen, moet u goedkeuring wegdra.

U werk as president is om dit vir mense wat goed doen, met ander woorde mense wat God bo alles liefhet en hul naaste soos hulleself, maklik te maak om in vrede in Suid-Afrika te lewe tot eer van God. Die Here sê dit ook in 1 Timoteus 2:2: “sodat ons ‘n rustige en stil lewe kan lei in volkome toewyding aan God en in alle eerbaarheid.”

Die manier hoe u regeer en die wette wat u instel moenie mense wat goed doen onnodig beperk of dit vir hul moeilik maak om hul roepings uit te leef nie. Die mense wat goed doen moenie moedeloos gemaak word deur wette wat teen hulle diskrimineer nie. U mag nooit toelaat dat die mense wat goed doen eenkant toe gestoot word terwyl die mense wat die slegte doen, geprys word nie.

God het u nie net aangestel as president nie, u is ook sy dienaar. In Romeine 13:4 sê die Here: “Die owerheid is ‘n dienaar van God tot jou beswil.” As president is u nie ‘n dienaar van uself nie, maar van God. Daarom mag u nie regeer om uself te dien nie. Daarom mag u nie regeer om u eie koninkryk te probeer bou nie. Daarom mag u nie regeer om u en die mense om u te verryk ten koste van die mense van die land nie.

As dienaar van God moet u Hom dien. Die woord wat met dienaar vertaal is, is die woord wat vir “diaken” gebruik word. Iemand in die Here se kerk wat moet sorg dat die gemeente mekaar daadwerklik liefhet. U werk as president is daarom om die mense van die land daadwerklik lief te hê. God verwag van u om met liefde vir Hom en liefde vir die mense waaroor Hy u gestel het, te regeer. God verwag van u om net die beste vir die mense van Suid-Afrika te wil hê en nie om die mense te vertrap nie. U is nie ‘n god nie. U het nie die sê oor lewe en dood nie. U is ‘n dienaar van die Enige God.

As God ons leer dat u ‘n dienaar tot ons beswil is, beteken dit dat God u gebruik. Hy gebruik u om sy doel te bereik. Hy gebruik u terwyl Hy besig is om die wêreldgeskiedenis te stuur na die wederkoms van Jesus Christus.

Waar God van u verwag om mense wat goed doen, goed te keur, verwag Hy ook van u om mense wat die slegte doen, te straf. God vereis van u om die mense wat die kwaad doen, te straf. As president moet u die mense wat eerder op ander trap, die mense wat hulpeloses in die samelewing uitbuit, die mense wat korrupsie pleeg, die mense wat moord pleeg, die mense wat steel, die mense wat op enige manier verkeerd doen, straf. God verwag nie van u om self te bepaal wat reg en verkeerd is nie. Hy is baie duidelik in sy Woord oor wat reg en verkeerd is.

Deur die kwaaddoener te straf, laat u reg en geregtigheid geskied. Deur die kwaaddoener te straf, skrik u ook ander af wat kwaad wil doen.

In ‘n land waar misdaad en korrupsie hoogty vier, waar baie mense hul glad nie aan wet en orde steur nie en waar baie wat in belangrike posisies is eerder kwaad as goed doen, mag u as president nie die kwaad oorsien nie. Dit moet gestraf word.

Vers 6 en 7 van Romeine 13 gaan oor belasting. God verwag van ons om belasting te betaal sodat die regering hul werk as dienaars van God kan doen. As president het u die verantwoordelikheid om te sorg dat die belastinggeld reg aangewend word. Die vrae wat u as president moet antwoord, is: Word die vreeslike hoë belastings wat elke jaar net meer word, reg aangewend? Gebruik die regering dit om hul taak as dienaars van God uit te voer? Hoeveel van die geld verdwyn nie weens korrupsie en bedrog nie? Word die mense wat bedrog en korrupsie pleeg gestraf?

Soos u besef, is dit ‘n groot en ernstige taak wat God aan u as president gegee het. U mag nie van dit wat God van u verwag afwyk nie. Waar u sou afwyk daarvan – dalk ter wille van persoonlike rykdom of gewildheid – sal God van u rekenskap eis. Ek sê dit nie om u te dreig nie, maar om u bewus te maak daarvan. Jesus Christus, die Koning van die konings, gaan eendag weer kom en Hy gaan van u rekenskap eis. Vir Hom beteken baie geld, groot huise en blink motors niks nie. Hy gaan omgee of jy jou taak as dienaar van God uitgevoer het.

Mag u in Jesus Christus as u Verlosser en Koning glo, mag u besef dat u ‘n dienaar van God en nie uself is nie en mag God u wysheid gee om president te wees volgens sy bepalings en nie u eie of enige politieke groep se agenda nie.

Ek skryf nie hierdie brief om my eie mening te gee nie, maar om aan u duidelik te maak wat God van u verwag. Die kerk se profetiese stem teenoor die regering mag nooit stil wees nie.

Die mense van Suid-Afrika het ‘n president nodig wat God gehoorsaam en dien. Mag u so ‘n president wees.

Ds. Gerhard van Rhyn

Predikant van die Gereformeerde Kerk Komatipoort

7 Comments

  1. Gerrie van Rhyn Gerrie van Rhyn

    Goeiedag Roel, baie dankie vir jou insette. Ek het nou-nou probeer kommentaar lewer, maar toe verdwyn my plasing. So as ek myself herhaal (of van my vorige plasing verskil) sê my asb. want ek kan daardie plasing nie sien nie.

    Ek hou baie van die die manier waarop jy dit stel: God het dit toegelaat, nie passief nie, maar aktief. Ek dink in God se gebruik van heidense regerings kom ons weereens voor sy soewereiniteit te staan.

    Ons moet beslis uit die geskiedenis leer en ek leer graag oor hoe ons as Gereformeerdes se verset teen regerings behoort te lyk. Ons kerkgeskiedenis professor het vir ons gesê: As daar een ding is wat mens uit die geskiedenis leer, is dit dat die mens nie uit die geskiedenis leer nie.

    Groete

  2. Gerrie van Rhyn Gerrie van Rhyn

    Roel, baie dankie vir jou insette! Soos jy sê is God nie die beskikker van die kwaad nie. En soos jy sê: Hy gebruik selfs heidense regerings. Ek dink jy stel dit mooi wanneer jy sê: “God het dit toegelaat, nie aktief nie, maar passief.”

    Ons kan en moet beslis uit ons geskiedenis leer. My kerkgeskiedenis professor het vir ons gesê: As daar een ding is wat ons uit die geskiedenis leer, is dit dat die mens nie uit die geskiedenis leer nie.

    Ek leer graag saam oor hoe ons as gereformeerdes se verset moet/kan lyk.

    Groete

  3. CB CB

    Ds Gerhard, ja saam met vele is ons dankbaar dat die pen in jou hand vaardig geskryf het. Ons bely egter dat dit alleen deur Hom is wat vaardig maak en wat jou skerp (bekwaam) gemaak het.

    Hierdie skrywe het sekerlik ‘n wyer doel as net tot ons land en sy regering by name President Ramaphosa. Die evangelie hierin vervat (glo ek) het die doel om alle volke nasies en tale in ons land te bereik. Daarom my mening dat die Woord wat bedien is (skrywe) vertaal behoort te word vir algemene onderrig en verspreiding in ons hele land. Dit kan (mag/moet?) so vertaal word dat Zimbabwe en ander Afrika leiers daarvan kennis behoort te neem.

    Ook op hierdie wyse word die Woord uitgedra om harte te bekeer, wie nog die evangelie moet hoor en tot bekering kom.

    Groete en ryke seën op die arbeids veld

    CB Pretorius

    • Gerrie van Rhyn Gerrie van Rhyn

      CB, baie dankie vir jou kommentaar. Ek stem heelhartig saam oor die vertaling van die brief en maak werk daarvan hierdie week.

      Groete en sterkte!

  4. Hannes van Heerden Hannes van Heerden

    Ek stem saam met Roel dat Gereformeerdes hulle soms mag en moet verset teen die burgerlike owerheid. Ek is selfs van opinie dat ons ons in soortgelyke situasie bevind.

    Die argument dat geen geweld gebruik mag word nie, kan nie waar wees as na die Geuse, die Voortrekkers of die Europese geskiedenis geskiedenis verwys word as voorbeelde nie. Dit was juis lang uitgerekte gewapende stryd teen die tiranne.

    Die wyse waarop die owerheid tot stand gekom het, kan ook nie die deurslag gee nie. Daar is geen Bybelse voorskrif vir die wyse van oorneem van die owerheid nie. Dit moet gaan oor die aard van die owerheid, die mag wat dit vir homself opeis en die aard van die onderwerping.

    Groete
    Hannes van Heerden

    • Gerrie van Rhyn Gerrie van Rhyn

      Hannes, baie dankie vir jou insette! Ek waardeer dit opreg. Dit is beslis ‘n komplekse situasie, juis daarom glo ek dat ons steeds aan die Bybelse beginsels moet vashou.

      Dankie na die verwysing na die Geuse, die Voortrekkers en die Europese geskiedenis.

      Ek dink ons sal ook baie kan leer by hoe Guido de Bres (die opsteller van die Nederlandse Geloofsbelydenis) teenoor Koning Philip II opgetree het.

      Groete

  5. Roel Stolper Roel Stolper

    Geagte Gerhard, Dankie vir jou skrywe oor die owerheid en jou brief aan die president. Inderdaad staan dit so in die Bybel en ek bely dit van ganse harte. Tog is die saak van die bely dat ‘n owerheid deur God beskik (aangestel) is komplekser as net ‘n aanhaling uit Rom. 13.

    Byvoorbeeld: God is geen beskikker van die kwaad nie, selfs nie deur derde persone of owerhede nie. As daar kwaad in die wêreld is is dit deur toedoen van die mens self.

    In die tyd van die OT lees ons hoe God die mag Babel gebruik om Sy verbondsvolk te straf. Ons lees nie dat God Nebukadnesar aangestel het nie. Wel dat dit ‘n mag is wat God gebruik om die wêreld naar Sy plan te lei.

    As ons dink aan die miljoene en miljoene massa moorde wat maghebbers soos Nero, Lenin, Stalin, Mao Tsetoeng, Hitler en nog vele andere aangerig het dan kan dit nie van God wees nie. Hierdie leiers het nie mag ontvang nie maar op ‘n rewolusionêre wyse die mag gegryp. God het dit toegelaat, nie passief nie maar aktief.

    In die geskiedenis het Gereformeerde gelowiges hulle wel verset teen bose owerhede, dink aan die Nederlandse Geuse wat hulle verset het teen die koning van Spanje, die Voortrekkers wat hulle aan die Engelse gesag in die Kaap onttrek het, aan die versetbewegings in Europa wat hulle verset het teen die Duitse oorheersing.

    Die argument om verset te regverdig is dat dit onwettig selfaangestelde owerhede is. Daar was een reël wat die gereformeerdes in die verset gebruik het, daar mag geen geweld gebruik word nie. Dus stille burgerlijke ongehoorsaamheid.

    Kortom dit is ‘n komplekse saak en inderdaad Christene sal die owerheid gehoorsaam moet wees solank dit nie teen God Sy gebooie ingaan nie.

    Met vriendelike groete
    Roel Stolper

Lewer Kommentaar

This site uses Akismet to reduce spam. Learn how your comment data is processed.