Press "Enter" to skip to content

Bly by wat jy geleer het!

Met Paasfees om die draai, word daar veral op die laaste week voor die kruisiging, Jesus se intense gebedsworsteling in Getsemane, die verhore voor Pilatus en Kajafas en die ander gebeure rondom die kruisiging gefokus.

Baie gemeentes rig die prediking rondom die Lydenstyd so in dat daar ook op Goeie Vrydag ‘n Nagmaalsviering is om die hoogtepunt van ons verlossing – die een, finale offer – in hierdie tyd konkreet te vier.

Terwyl dit nie verkeerd is om in te fokus op die lydenstyd en op die kruisiging nie; is daar ‘n besliste skuif om die gelowige se ‘ervaring’ van die Paastyd op die voorgrond te stel. Hier is maar net enkele voorbeelde:

• Sommige kerke beeld die ‘Via dolorosa’ met “Paasstasies” uit, wat elk ‘n ander aspek van Jesus se lyding voorstel, sodat die kruisiging vir hulle ‘meer werklik’ kan raak. Verskillende kleure en simbole word by die stasies ingespan om die kruisiging uit te beeld en mense kan aan ‘n stukkie hout of spyker voel en bepeins hoe dit gebruik is om Jesus tereg te stel. Jy kan aan ‘n doringkroon raak en dink hoe Hy bespot is.

• Skielik vier ons – selfs in gereformeerde kringe – elke aspek van die week voor Jesus se kruisiging. Opsigself sekerlik nie ‘n probleem nie, maar nou word allerhande versierings met palms en blomme en kerse deel van die erediens, en word op die simbole gefokus om ‘n meer konkrete ervaring van die Paasgebeure te gee.

Skole versprei in hierdie tyd allerhande “hulpmiddels” om kinders te verduidelik wat tydens Paasfees gebeur het. As teenvoeter vir die Paashaas wat Paaseiers in die tuin wegsteek, word “Paaskoekie-resepte” versprei waar elke stap van die voorbereidingsproses, sowel as die uiteindelike koekie, ‘n ander aspek van Jesus se lyding en bediening op aarde voorstel.

• In hierdie grendeltyd word gesinne aangemoedig om op kreatiewe en spesiale manier die Paastyd te vier. Idees wat geopper word, is om o.a. kartonkruise te maak en rooi en wit te verf. Op Paassondag moet elkeen sy kruis draai dat die wit kant voor is; om die oorwinning oor die dood te simboliseer en dan sit en gesels almal oor wat die opstanding vir hulle beteken. Eiers, wat lewe simboliseer kan weggesteek word. Vlinders, die simbool van Jesus se opstanding, moet geverf word. Dit word die simbool van die metamorfose wat God sy kinders laat ondergaan.

• In sommige lande – soos die Fillipyne – word daar jaarliks massa-kruisigings in Paastyd gehou, waar mense hulleself kan laat ‘kruisig’, deels om deur die pyn en swaarkry ‘n dieper begrip van Jesus se lyding te verkry, en deels as ‘n proses van selfkastyding en reiniging.

Dalk is dit belangrik om hier die punt duidelik te maak: Daar is as sodanig niks mee fout om ‘n besondere klem op die Paastyd te lê nie. Trouens getuig die hele Skrif van God se genade in Christus aan die kruis. Maar dan moet dit oor die verkondiging van die Woord gaan. Dit is immers die primêre taak van die kerk: Om deur die verkondiging van God se Woord, die gelowiges met die onvervalste evangelie te versterk en ongelowiges tot geloof te roep.

Maar wanneer daar allerhande tierlantyntjies, simbole en ervarings ter wille van ‘n sg. ‘dieper belewenis’ van die Lydensgebeure – buite dit wat die Skrif ons leer – aan hierdie tyd gevoeg word, is dit nie net dodelik gevaarlik nie, maar grens dit aan afgodery, en is dit beslis die hoogste vorm van eiewillige godsdiens wat deur God verbied word. Ja, selfs nie eers wanneer dit goed bedoel word, behoort hierdie praktyke deur gevoer te word nie, gedagtig aan wat met Ussa gebeur het toe hy baie goed bedoeld die ark van die Here op die wa probeer verstewig het (1 Kronieke 13:9-12).

Oordrewe klem op emosie


Vir baie wat hierdie diepere ervaring van die Paastyd wil hê, is daar ‘n ‘kortsluiting’ tussen geloof en gevoel. Anders gestel: Mense voel dat kennis ‘n kop-ding is, en geloof ‘n hart-ding, dat geloof eers eg is, wanneer jy dit ‘voel’.
Daarom moet ‘n mens deur middel van simbole soos kerse of spykers of hout ‘n gevoel skep en oordink wat daardie besondere element in die groter prentjie van Paasfees verteenwoordig.

Dit is eers deur die gevoel, die bepeinsing – of meditering – van die betrokke element wat dit tot die mens deurdring dat wat op Golgota gebeur het. Dit is eers wanneer jy self kan ervaar en deur jou sintuie deel kan kry aan die lyding van Jesus, dat jy werklik die volle diepte van die Paasverhaal kan begryp. Heel moontlik probeer die mens homself “in die skoene van Jesus te plaas” as sou dit enigsins moontlik wees.

Hierdie gedagte sluit aan by ‘n al groter wordende pleidooi deur mense in die kerklike sfeer om weg te doen met die tradisionele predikingsmodel en ‘n meer dialogiese, sirkulêre – tipe eredienservaring aan te bied.

Tot op die been-af ontleed: Hierdie oordrewe klem op emosie en ervaring is niks anders nie as ‘n aanval op die preekstoel – en daarom op die wyse waarop God sy kinders wil leer en geloof in ons wil werk.

Die verkondiging van die Woord deur die geroepe dienskneg van God is niks anders nie as die proklamasie van die Koning van alle konings. Die effektiwiteit van die boodskap hang nie van die verkondiger af nie, maar rus in Hom wat die boodskapper stuur. Deur die verkondiging van die deurbraak van God se koninkryk bring God sy kinders tot geloof. Dit is die woord van die kruis wat die krag van God is vir die wat gered word ( 1 Korintiërs 1:18). Boonop het God gekies om deur die ‘dwaasheid van die prediking (1 Korintiërs 2) geloof te wek; en daarom glo en bely ons die gesag en genoegsaamheid van die woord (NGB artikels 5 en 7).

Die gedagte eggo in Romeine 10, waar ons leer dat God verkondigers van die blye boodskap stuur (vers 14-15); en dat sonder die prediking van die Woord – daar nie geloof kan wees nie.

Geloof is dus ‘n kop én hart-ding, kennis en vertroue (Heidelbergse Kategismus, Sondag 7). Die gevoel staan nie voorop nie, maar word getrek en versterk deur die kennis wat ons in die Woord kry. Dit is juis wanneer ek vanuit die Skrif van my doemwaardigheid, God se genade en die verlossing van my sondes oortuig word, waar die diepste emosie van dankbaarheid en blydskap my oorweldig (Psalm 16:9 e.a).

Het ons weer boeke van die leke ‘nodig’?


Wanneer die Heidelbergse Kategismus die tweede gebod in Sondag 35 behandel, word ‘n belangrike vraag gevra:

“Vraag 98: Mag ons beelde as “boeke van die leke” in die kerkgeboue toelaat?”

Die praktyk van die boeke van die leke kom uit ‘n donker tyd in die kerk se geskiedenis, toe die Woord as te kompleks, te moeilik, te verhewe beskou is – en dat ‘gewone mense’, oftewel, die ‘leke’ hulle nie daarmee moet (of kan!) bemoei nie.
Vir hierdie mense moet daar beelde wees; soos wat ‘n mens vir kindertjies prente maak.

Dit het die donker onderrok van die Rooms-Katolieke kerk laat uithang: daar is ‘n klasverskil tussen gelowiges; en sommiges is beter as ander. Die ‘geestelikes’ kan begryp wat die ‘leke’ nie kan nie; en daarom word hulle anders hanteer – hulle is weer minderjariges onder voogde (Galasiërs 4).

Daarom die reguit antwoord van ons belydenis: “[ons mag nie boeke van die leke toelaat nie] want ons moet nie wyser as God wil wees nie. Hy wil sy Christene nie deur stom beelde nie, maar deur die lewende verkondiging van sy Woord onderrig.

Skielik wil ons deur simbole en illustrasies, van buite die Skrif, probeer om dinge wat reeds pragtig deur die Skrif geopenbaar en verduidelik word, beter verduidelik.

• So asof die vryf van ‘n kroon uit dorings gevleg, my ‘n beter begrip van Christus se intense lyding aan die kruis gaan gee.
• So asof ‘n vlinder-prentjie die krag van die opstanding en die bekering deur die Gees enigsins kan omvat.
• So asof die bak van ‘n koekie met ‘n hol binnekant, vir my op ‘n kognitiewe vlak die leegheid van die graf beter kan illustreer as die wyse waarop Matteus, Markus en Lukas dit deur die Heilige Gees gedoen het.
• So asof die aansteek van ‘n kers ‘n simbool kan wees van die deurbraak van die lig aan die kruis.

Nie net vervlak hierdie tipe praktyke die boodskap nie; maar dit skep ‘n karikatuur van God se heilsplan wat Skriftuurlik onhoudbaar is. Dit skep ‘n kunsmatige gevoel van emosionele oorweldiging, wat my op die oomblik selfs tot trane kan dryf – maar telkens herhaal moet word om dieselfde gevoel te veroorsaak.

Belangrik om op te merk is die feit dat die boeke van die leke, en dit is my nederige opinie dat hierdie praktyke daarop neerkom, die sg. ‘gewone gelowige’ gering ag en as te dom beskou om werklik die vaste spys van die Woord te verteer.

Dit is dalk juis omdat predikante slimmer as God probeer wees met allerhande simbole en tierlantyntjies – en ons primêre taak geabdikeer het – dat lidmate op strepe sulke emosionele ervarings soek. Dit is wanneer die suiwere, eenvoudige bediening van die Woord nie meer genoeg is nie; dat mense die ‘quick fix’ van emosie soek (Hebreërs 5:12-14).

Opvoedkundige middeweg?


Die gebruik van hierdie simbole, die bak van paasfees-koekies waarin elke element op ‘n manier by die Paasgebeure uitgebring word is, die maak van vlinders en hartjies en kruisies is bestempel as ‘opvoedkundige hulpmiddel’. Die teorie daaragter is dat veral jong kinders nie abstrakte konsepte – soos dood en die opstanding – kan snap nie, en dat hulle konkreet leer.

Daarom is ‘n koekie-resep uitgewerk en letterlik elke tree van die weg op een of ander manier aan geestelike inhoud gekoppel ‘om die Paasgebeure te verduidelik’.

Om enkele voorbeelde te noem vanuit hierdie betrokke resep:

• “Stap 2: Plaas die pekanneut helftes in die ‘ziplock’ sakkie. Slaan die neute in die sakkie met ‘n houtlepel om die neute stukkend te breek. Die Romeinse soldate het Jesus geslaan net nadat hy gevange geneem is. Lees Johannes 19:1-3”
• “Stap 4: Voeg die eierwitte by die asyn. Eiers stel lewe voor! Jesus het sy lewe gegee sodat ons die ewige lewe kon kry…Lees Johannes 10:10-11”
• “Stap 5: Gooi ‘n bietjie sout in jou hand. Proe daaraan. Plaas nou ‘n knippie sout in die bak. Die sout stel die trane voor wat Jesus se volgelinge gehuil het. Dit moet jou ook laat dink aan die bitterheid van ons sonde. Lees Lukas 23:27”.

En so kan ‘n mens aangaan. Dit is opvallend hoedat die bestanddele en die resep by nabaat kunsmatig ingetrek word by die Paasverhaal, en dat daar nie sprake is van ‘n geïntegreerde Godsbegrip nie.

Hierteenoor stel die Skrif ‘n uitnemender weg as God ons in Deuteronomium 6 beveel om die waarheid van die Woord in te skerp, wanneer God ons deur Psalm 78 leer wat die metode van ons onderrig is: VERTEL hulle, getuig oor God se waarheid ‘sodat die volgende geslag dit kan weet’, en 2 Timoteus 3 ons leer dat ons moet bly by dit wat ons geleer het. Dit kom in wese neer of ons glo dat die Skrif regtig God se Woord is, en dat dit genoeg is.

Ja, kinders leer soms stadig, en vorm nie dadelik ‘n begrip van dit wat hulle geleer word nie; en daarom is onderrig, veral onderrig in die Woord ‘n konstante, aanhoudende, ja – lewenslange! proses. Dit is immers wat die doopsformulier ons leer: om selfs al begryp hulle nog nie die inhoud nie, ons hulle sal onderrig en laat onderrig.

Dit is natuurlik verder te debatteer of die kinders met hierdie metode werklik ‘n begrip sal vorm van die paasgebeure, en of hulle dalk eerder as beter bakkers uit die proses gaan uitstap. Vorm en inhoud kan nie geskei word nie; en omdat die vorm van onderrig hier ‘n resep en koekbaksessie is, is dit heel waarskynlik al wat hulle gaan onthou – beslis nie die betekenis wat oppervlakkig en kunsmatig by nabaat aan die koekie geheg is nie.

Natuurlik het ons dit nie teen illustrasies en verduidelikings nie. Kategese – die heen en weer ‘bons’ of ‘gooi’ van vrae en antwoorde, kan natuurlik en moet beslis verduidelik word op bevatlike en eenvoudige maniere, waarop kinders sal verstaan. Maar dit beteken dalk eerder dat ‘n mens ‘n prentjie van ‘n graf, soos die grotte wat as grafte in die tyd van Jesus gebruik is, sal soek. Die prentjie van ‘n graf sal heel moontlik beter begryp word as ‘n watertand-koekie waarvoor ek lus is.
En dan: onthou die kind die koekie – of die graf?

Skep ons nie ‘n sakrament nie?


Uiteindelik kom al hierdie dinge neer op ‘n pleidooi van mense om beter te begryp en te verstaan. Om nader aan God te kom.
Opsigself ‘n aanprysenswaardige gedagte.

Maar hoor wat ons bely oor hoe God ons wanbegrip van die evangelie maar al te goed ken:

“[Die sakramente] … is sigbare, heilige tekens en seels wat God ingestel het om deur die gebruik daarvan die belofte van die evangelie nog beter te laat verstaan en dit te beseel” HK Sondag 25, V/A 66]

Voeg daarby artikel 33 van die NGB:
“… Hy het dit by die Woord van die evangelie gevoeg om vir ons uitwendige sintuie des te beter voor te stel wat Hy aan ons deur sy Woord te kenne gee en wat Hy inwendig in ons hart doen. So bekragtig Hy in ons die heil wat Hy aan ons meedeel. Dit is immers sigbare tekens en seels van ‘n inwendige en onsigbare saak, en deur middel daarvan werk God in ons deur die krag van die Heilige Gees. Die tekens is nie sonder sin en sonder inhoud om ons te bedrieg of te mislei nie; hulle waarheid is juis gelee in Jesus Christus, sonder wie hulle geheel en al betekenisloos sou wees. VERDER IS ONS TEVREDE MET DIE AANTAL SAKRAMENTE WAT CHRISTUS, ONS MEESTER, VIR ONS INGESTEL HET EN WAT SLEGS TWEE IS…”

Wanneer ons Paasstasies inrig, koekies bak, by hemelvaart ‘n teesakkie of balon die lug laat invaar – dan probeer ons uitwendig iets illustreer en inwendig ‘n gevoel daarmee skep. Dit word ‘n ‘nuwe teken’ wat na die evangelie toe dui, dit word ‘n sakrament. Want is die doel van hierdie tekens of simbole nie juis om my geloof sterker te maak, my aan God te bind, my die evangelie te laat begryp nie?

Nou die vraag: Kan iets wat ek uitdink, my ‘n beter begrip van die evangelie gee as dit wat God vir my gee?

Ja, einde ten laaste moet ons tot ‘n belangrike gevolgtrekking kom:

Niks anders as die eenvoudige, suiwere evangelie wat deur die gereëlde bediening van GOD SE SAKRAMENTE versterk word is vir my nodig nie. In hierdie Paastyd, in hierdie tyd van inperking, het ons des te meer die geleentheid om ons in die Woord te verdiep, om vanuit die Skrif oortuig te word van God se genade.

Ons God wil ons nie met stom beelde nie, maar die lewende verkondiging van die Woord onderrig.

Be First to Comment

Lewer kommentaar

This site uses Akismet to reduce spam. Learn how your comment data is processed.

WhatsApp WhatsApp
%d bloggers like this: