Press "Enter" to skip to content

Openbare Geloofsbelydenis

GELOWIGES DOEN OPENBARE ‘BELYDENIS-AFLEGGING’.

Die vraag word deesdae al meer gevra: Waarom doen gelowiges openbare geloofsbelydenis (of belydenis-aflegging soos dit bekendstaan)? ʼn Kort antwoord hiervoor, is: Want die Heilige Gees werk dit in gelowiges om hulle geloof te bely. Maar waar kom die gebruik van openbare belydenis vandaan, en is dit ʼn Bybelse opdrag? Mense sal byvoorbeeld vra: Is dit werklik vir gelowiges nodig om hulle geloof openlik te bely voordat hulle deel kan wees van die kerk? Aan hierdie vrae wil die artikel kortliks aandag gee.

Bybelse begronding vir openbare geloofsbelydenis

Openbare belydenis van geloof gaan oor eenheid in die geloof. Dit het alles te doen met die eenheid tussen God en die gelowiges deur die verbond (ooreenkoms) wat Hy met hulle oprig. Vandat God die gelowiges roep om as deel van sy volk in verhouding met Hom te leef, word hierdie eenheid veronderstel. Binne hierdie verbond wat God met sy volk oprig, stel Hy sekere eise oor hoe Hy gedien wil word, en verwag Hy ʼn instemming (belydenis van geloof) van die volk se kant af.

Die boek Deuteronomium is ʼn goeie bewys hiervan. Die HERE het sy volk uit Egipte gered en hulle vir Homself geneem. Omdat die volk nou aan Hom behoort, eis die HERE dat sy volk Hom moet vrees, dat hulle in sy weë moet wandel, en dat hulle Hom moet liefhê. In kort moet hulle Hom met hul hele hart en siel dien deur sy gebooie te hou, sodat dit met hulle goed mag gaan (vgl. Deut. 6:1-9; 10:12-13).

Nadat God die verbondseise aan hulle stel (in kort, die Tien gebooie in Deut. 5), verwag Hy ʼn belydenis van geloof (verbondsluiting) van die volk se kant af. So bevestig die volk dat hulle instem met die verbond wat God met hulle gesluit het (Deut. 29-30; vgl. Jos. 24). Selfs die profete eis rekenskap van gelowiges (bv. Hosea, Sagaria, Maleagi e.a.).

Dit is ook nie vreemd dat Nuwe Testamentiese gelowiges hulle geloof in God se genadeverbond bely nie: “Die Gees self getuig saam met ons gees dat ons kinders van God is; en as ons kinders is, dan ook erfgename, erfgename van God en mede erfgename van Christus.” (Rom. 8:16-17; vgl. Gal. 3:7). Trouens, dit is nie vreemd dat gelowiges hulle geloof in die openbaar bely nie. Paulus skryf aan Timotheus: “Stry die goeie stryd van die geloof, gryp na die ewige lewe, waartoe jy ook geroep is en die goeie belydenis voor baie getuies afgelê het” (1 Tim. 6:12).

Net voor hierdie uitspraak van Paulus, gee hy die rede waarom gelowiges openbare geloofsbelydenis doen. Hy sê: “As iemand iets anders leer en nie instem met die gesonde woorde van onse Here Jesus Christus en met die leer wat volgens die godsaligheid is nie, dié is verwaand en verstaan niks nie” (1 Tim. 6:3-4). Hy kom dan tot die gevolgtrekking dat as daar nie eenheid in geloof is nie, ontstaan daar twisvrae, woordestryd, agterdogtigheid, stryery, en uit die aard van die saak verdeeldheid in die gemeente.

Oorsigtelike geskiedenis van openbare geloofsbelydenis

So het die vroeë Christelike kerk voortgegaan op die Bybelse beginsels van die Nuwe Testamentiese kerk om die leer in die kerk suiwer te hou (vgl. 1 Tim. 1:3-7; Jud. 1:3-4, 17-23). Daarom is dit ook die taak van leraars en ouderlinge om as herders toe te sien dat almal hulle geloof volgens die gesonde leer sal bely en hulle lewe daarvolgens inrig, sodat hulle nie in die gevaar van dwaalleer kom nie (2 Tim. 4:1-4; Hand. 20:25-31; Tit. 1:7-2:1). In die verband word ook gemeentelede gewaarsku teen dwaalleer wat ingaan teen die gesonde Christelike belydenis (1 Joh. 4:1-6).

Daarom was die onderrig en aanleer van God se Woord (kategetiese onderrig) reeds by die vroeë Christelike kerk van groot belang vir elke nuwe gelowige wat gedoop is en deel van die genadeverbond geword het. Voordat hierdie nuwe bekeerlinge (gewoonlik volwassenes) in die kerk opgeneem kon word, moes hulle eers die kernaspekte van die Christelike leer aanleer en deur die geloof hulle eie maak.

Hierdie verhouding tussen die doop en die kategetiese onderrig word duidelik raakgesien in die ‘Groot opdrag’ (Mat. 28:16-20). In hierdie gedeelte gee Jesus spesifiek die opdrag om dissipels te maak van ander nasies. Die wyse waarop dissipels gemaak word is deur hulle te doop en hulle voortdurend te onderrig in die gesonde leer.

Tydens die Middeleeue het kinderdoop egter die praktyk van volwasse-doop ingeneem. So het hierdie gebruik steeds praktyk gebly tydens die Reformasie van die 16de eeu. Die Reformatore het egter gou besef dat hierdie dooplidmate (kinders) se kennis oor die Christelike leer agterweë gelaat sal word as kinders nie ook onderrig in die gesonde leer ontvang nie. Daarom het onder andere Martin Luther, maar veral Ulrich Zwingli, kategetiese onderrig vanaf ongeveer 1525 n.C. amptelik vir kinders ingestel.

Op dieselfde spoor het Johannes Calvyn die openbare geloofsbelydenis se plek in die genadeverbond herstel, sodat die geloofsbelydenis weer die koppeling kan wees tussen die doop en die nagmaal. By die doop word God se beloftes dus vasgemaak en ontvang die gemeente die dopeling volledig as lidmaat van die kerk. Dit is egter eers wanneer die dopeling deur kategetiese onderrig ʼn bevredigende begrip van die gesonde leer het, dat die gelowige met goeie gewete aan die heilige nagmaal deelneem (vgl. 1 Kor. 11:27-34).

Die inhoud van belydenis aflegging

Openbare belydenis is dus nie ʼn voorwaarde om verlos te word nie. Inteendeel, die besef dat ek deel geword het van die verlossing wat Jesus Christus bewerk het, wek by my ʼn borrelende gevoel op om hierdie goeie nuus in die midde van die geloofsgemeenskap te deel. Net so is belydenis aflegging in hierdie opsig ook nie ʼn voorwaarde om deel van kerk te wees nie. Reeds by die doop word mens deel van God se genadeverbond en daarom ook lid van Christus se liggaam. Dit is egter by die belydenis aflegging van die gesonde leer dat die eenheid in geloof volkome bevestig word.

Die besef dat ek deel geword het van die verlossing wat Jesus Christus bewerk het, wek by my ʼn borrelende gevoel op om hierdie goeie nuus in die midde van die geloofsgemeenskap te deel. Click To Tweet

Wanneer ek dus hierdie gesonde leer van die evangelie goed begryp, doen ek ʼn openbare geloofsbelydenis. Dit behels dat ek die enigste Verlosser Jesus Christus aangeneem het, daarna die sonde ontvlug, dat ek die geregtigheid najaag, dat ek die ware God en my naaste liefhet, en dat ek my sondige natuur met sy werke sal kruisig terwyl ek nie na links of regs afwyk van God se Woord nie (so bely gereformeerdes dit in die Nederlandse Geloofsbelydenis Art. 29). In kort beteken dit dat die 12 Artikels van die Christelike geloof reg bely sal word.

So ʼn godvresende en heilige lewe is net moontlik wanneer die Heilige Gees dit in mens werk. Slegs deur die geloof kan ‘n mens saam met die kerk bely dat die Bybel God se Woord is, en dat alles wat in hierdie heilige Skrifte staan, volkome genoegsaam is tot saligheid deur die geloof in Christus Jesus, en dat dit nuttig is sodat gelowiges volkome toegerus kan wees vir hulle dienswerk in God se koninkryk (2 Tim. 3:14-17).

Be First to Comment

Lewer kommentaar

This site uses Akismet to reduce spam. Learn how your comment data is processed.

WhatsApp WhatsApp
%d bloggers like this: